Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 19—Lig in die Duisterni

    DIE werk van God op aarde vertoon deur die eeue heen ‘n treffende gelykvormigheid in alle groot hervormings of godsdienstige bewegings. Die beginsels van Gods handelinge met die mens bly maar altyd dieselfde. Die belangrike bewegings van die teenwoordige tyd vind hulle teenbeeld in die van die verlede, en die ervaring van die kerk in vorige tye bevat belangrike lesse vir ons tyd.GS 393.1

    Geen waarheid word duideliker in die Bybel geleer as dat God deur Sy Heilige Gees gewis Sy diensknegte op die aarde lei in die groot bewegings vir die bevordering van die verlossingswerk. Mense is werktuie in die hand van God, deur Hom gebruik om Sy doelwitte van genade en barmhartigheid te verwesenlik. Elkeen het sy rol om te speel; aan elkeen is daar ‘n mate van lig gegee, volgens die behoeftes van sy tyd, genoeg om hom in staat te stel om die werk te doen wat God aan hom gegee het. Maar geen man, hoe geëerd hy ook al mag wees deur die Hemel, het nog ooit die verlossingsplan ten voile begryp nie, of selfs die goddelike doel met die werk vir sy eie tyd volkome verstaan nie. Mense verstaan nooit ten voile wat God wil bewerkstellig deur die werk wat Hy aan hulle gee om te doen nie; hulle begryp nie die boodskap in al sy vertakkings wat hulle in Sy naam moet verkondig nie.GS 393.2

    “Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?” “Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë, en My gedagtes as julle gedagtes.” “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie.” Job 11:7; Jes. 55: 8, 9; 46: 9, 10.GS 394.1

    Selfs die profete wat begunstig was met spesiale verligting van die Gees, het nie die belangrikheid van die openbarings wat aan hulle gegee is, ten voile begryp nie. Die betekenis sou van eeu tot eeu geopenbaar word, namate die volk van God behoefte sou hê aan die onderrig wat daarin vervat is.GS 394.2

    Petrus, skrywende van die verlossing wat deur die evangelie geopenbaar is, sê: dat die profete wat geprofeteer het oor die genade “Ondersoek en nagevors het, terwyl hulle nagespeur het op wat ter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan wie geopenbaar is dat hulle nie vir hulleselfnie, maar vir ons die dinge bedien het.” 1 Pet. 1: 10-12.GS 394.3

    Maar hoewel dit nie aan profete gegee is om die dinge ten voile te verstaan wat aan hulle geopenbaar is, het hulle nogtans getrag om al die lig te ontvang wat dit God behaag het om te gee. Hulle het “ondersoek en nagevors, terwyl hulle nagespeur het op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het.” Wat ‘n les is dit nie vir die volk van God in die Christelike bedeling, vir wie se voordeel hierdie profesieë deur Sy diensknegte gegee is! “Aan wie geopenbaar is dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons die dinge bedien het.” Aanskou hierdie heilige manne van God waar hulle, “ondersoek en nagevors” het aangaande die openbarings wat aan hulle gegee is vir geslagte wat nog nie gebore was nie. Vergelyk hulle heilige ywer met die lustelose onverskilligheid waarmee die begunstigdes van later tye hierdie lig uit die hemel bejeën het. Wat ‘n bestraffing is dit vir die gemaksugtige, die wêreldliewende onverskilligheid wat tevrede is met die verklaring dat die profesieë nie verstaan kan word nie!GS 394.4

    Hoewel die beperkte menslike verstand nie in staat is om die raadsbesluite van die Ewige God te verstaan nie, of die uitwerking van Sy doel ten voile te begryp nie, is dit nogtans dikwels te wyte aan dwaalleer of nalatigheid van hulle kant dat hulle so ‘n vae begrip het van die boodskappe uit die Hemel. Dikwels gebeur dit dat die verstand van die mense, en selfs van die diensknegte van God, benewel is deur menslike opinies, die tradisies en valse leer van mense, sodat hulle in staat is om die groot dinge wat Hy in Sy woord geopenbaar het maar net gedeeltelik te begryp. So was dit met die dissipels van Christus selfs toe die Heiland in eie persoon by hulle was. Hulle was behep met die algemene opvattlng van die Messias as ‘n tydelike vors, wat Israel sou verhef tot die troon van ‘n wêreldryk, en hulle kon nie die betekenis van Sy woorde verstaan wat Sy lyding en dood voorspel het nie.GS 395.1

    Christus Self het hulle gestuur met die boodskap: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” Hierdie boodskap is op Daniel 9 gebaseer. Die nege-en-sestig weke het die engel gesê, sou reik “tot ‘n gesalfde, ‘n vors,” en met groot hoop en blye verwagting het die dissipels vooruitgesien na die oprigting van die Messias se koninkryk in Jerusalem om oor die hele aarde te regeer.GS 395.2

    Hulle het die boodskap verkondig wat Christus aan hulle gegee het, alhoewel hulle dit self verkeerd verstaan het. Hoewel hulle boodskap gebaseer was op Daniel 9:25, het hulle nie gesien dat daar in die volgende vers gemeld is, dat die Messias uitgeroei sou word nie. Van kindsbeen af het hulle met verwagting uitgesien na die aanstaande heerlikheid van ‘n aardse ryk, en dit het hulle harte verblind vir die profesie en die woorde van Christus.GS 395.3

    Hulle het hulle plig gedoen deur aan die Joodse volk die boodskap van genade te verkondig, en toe, juis op die tyd toe hulle verwag het om hulle Heiland die troon van David te sien bestyg, het hulle gesien hoedat Hy soos ‘n misdadiger gevang, gegesel, bespot, veroordeel, en aan die kruis van Golgota genael is. Watter angs en wanhoop het die harte van die dissipels vervul in daardie dae toe hulle Heiland in die graf geslaap het!GS 396.1

    Christus het verskyn op die juiste tyd en op die wyse soos in die profesie voorspel is. In Sy bediening is die Skrifte in alle besonderhede vervul. Hy het die boodskap van verlossing verkondig en “Sy woorde was met krag.” In hulle harte was Sy hoorders oortuig dat dit van die Hemel was. Die woord en die Gees van God het die goddelike opdrag van Sy Seun bevestig.GS 396.2

    Met onsterflike liefde het die dissipels steeds hulle geliefde Meester aangehang. Maar nogtans was hulle harte vervul met twyfel en onsekerheid. In hulle angs het hulle nie gedink aan die woorde van Christus wat Sy lyding en dood voorspel het nie. As Jesus van Nasaret die ware Messias was, sou hulle dan in hierdie groot droefheid en teleurstelling gedompel gewees het? Dit was die vraag wat in hulle siele gebrand het terwyl die Heiland gedurende daardie ure van die Sabbat in Sy graf gelê het — die tyd tussen Sy dood en Sy opstanding.GS 396.3

    Terwyl die donker nag van droefheid daardie navolgers van Jesus omhul het, was hulle nogtans nie verlate nie. Die profeet het geskryf: “Al sit ek in duisternis, die Here is ‘n lig vir my. . . . Hy sal my uitlei in die lig; en ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.” “Dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.” God het gesê: “Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis.” “Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.” Mig. 7:8, 9; Ps. 139:12; 112:4; Jes. 42:16.GS 396.4

    Die boodskap wat die dissipels in die naam van die Here verkondig het, was in alle opsigte juis, en die gebeurtenisse waarna verwys is, het toe reeds plaasgevind. Hulle boodskap was, “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom.’ Toe die tyd verloop het, naamlik die nege-en-sestig weke van Daniel, wat sou reik tot by die Messias, “die Gesalfde” — toe is Christus met die Heilige Gees gesalf tydens Sy doop deur Johannes in die Jordaan. En “die koninkryk van God” wat hulle verkondig het, is opgerig toe Christus gesterf het. Hierdie koninkryk was nie, soos hulle geglo het, ‘n aardse ryk nie. Ook was dit nie die aanstaande, ewige koninkryk wat opgerig sal word wanneer “die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee [sal word] aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste” nie; naamlik daardie ewige ryk waarin al die heerskappye Hom sal vereer en gehoorsaam wees. (Dan. 7: 27.) Die woorde “konink ryk van God” word in die Bybel gebruik om die koninkryk van genade sowel as die koninkryk van heerlikheid voor te stel. In sy Sendbrief aan die Hebreërs skryf Paulus van die koninkryk van genade. Nadat hy op Christus gewys het as die barmhartige middelaar “wat ‘met ons swakhede kan medelyde hê,” sê die apostel, “laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind.” Heb. 4: IS, 16. Die troon van genade veronderstel ‘n koninkryk van genade; want die bestaan van ‘n troon veronderstel die bestaan van ‘n koninkryk. Om die werk van goddelike genade in menslike harte voor te stel, het Christus in baie van Sy gelykenisse gepraat van “die koninkryk van die hemele.”GS 397.1

    So ook veronderstel die troon van heerlikheid ‘n koninkryk van heerlikheid; en na hierdie koninkryk word verwys in die Heiland se woorde: “Wanneer die Seun van die mens kom in Sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit, en voor Hom sal al die nasies bymekaar gebring word.” Matt. 25: 31, 32. Hierdie koninkryk is nog in die toekoms. Dit sal opgerig word eers na die tweede koms van Christus.GS 397.2

    Die koninkryk van genade is opgerig onmiddellik na die sondeval, toe daar ‘n plan ontwerp is vir die verlossing van die skuldige geslag. Dit het reeds bestaan in die raadsbesluit en belofte van God; en deur die geloof kon mense onderdane daarvan word. Maar dit was werklik opgerig eers by die dood van Christus. Selfs nadat Hy Sy aardse bediening begin het, kon die Heiland, ontmoedig deur die halsstarrigheid en ondankbaarheid van die mense, Hom nog onttrek het van die groot opoffering op Golgota. In Getsemane het Hy teruggedeins vir die bittere kelk. Hy kon die bloedsweet van Sy aangesig afgevee het en die sondige mensdom aan hulle lot oorgelaat het. As Hy dit gedoen het, sou daar geen verlossing vir die mens gewees het nie. Maar toe die Heiland Sy lewe oorgegee het, en met Sy laaste asem uitgeroep het, “Dit is volbring,” toe is die vervulling van die verlossingplan verseker. Die belofte van verlossing wat aan die sondige paar in Eden gemaak is, is bekragtig. Die koninkryk van genade, wat voorheen net bestaan het in die belofte van God, is toe bevestig.GS 398.1

    Die dood van Christus — daardie gebeurtenis wat die dissipels beskou het as die uiteindelike verplettering van hulle hoop — was juis die gebeurtenis wat hulle hoop vir ewig verseker het. Hoewel dit ‘n bittere teleurstelling vir hulle was, was dit nogtans die toppunt in die bewys dat hulle geloof reg was. Die gebeurtenis wat hulle met droefheid en wanhoop vervul het, was juis die een wat die deur van hoop oopgemaak het vir elke Adamskind, en waarop die toekomstige lewe in ewige geluksaligheid van al Gods getroue kinders in alle eeue gegrondves is.GS 398.2

    Selfs in die bittere teleurstelling van die dissipels, het raadsbesluite van ewige genade in vervulling getree. Terwyl hulle harte gewin is deur die goddelike genade en krag van die leer van Hom van wie gesê is “nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie man” nie, was die louter goud van hulle liefde vir Jesus nogtans vermeng met die skuim van wêreldse trots en selfsugtige strewe. Selfs in die saal waar die Pasga geëet is, en in daardie plegtige uur toe hulle Meester reeds op weg was na Getsemane, was daar “twis onder hulle oor wie van hulle die grootste geag moet wees.” Lukas 22: 24. Hulle gesig was verblind deur die troon, die kroon, en die heerlikheid, terwyl die skande en lyding van die tuin, die geregsaal, en die kruis van Golgota, net voor hulle was. Dit was hulle hoogmoed, hulle dors na wêreldse heerlikheid wat hulle gelei het om so vas te klem aan die valse leerstelling van hulle tyd, en om die Heiland se woorde te veronagsaam wat die ware aard van Sy koninkryk verduidelik het en wat vooruitgewys het na Sy lyding en dood. Hierdie dwalings het beproewing—swaar, maar nodige beproewing—as volg gehad wat toegelaat is vir hulle teregwysing. Hoewel die dissipels die betekenis van hulle boodskap nie verstaan het nie, en hulle verwagtings nie verwesenlik gesien het nie, het hulle nogtans die boodskap verkondig wat God aan hulle gegee het, en die Here sou hulle geloof beloon en hulle gehoorsaamheid vereer. Aan hulle sou die werk toevertrou word om die heerlike evangelie van hulle verrese Heiland aan alle volke te verkondig. Dit was om hulle vir hierdie werk te berei dat hulle daardie bitter teleurstelling moes deurmaak.GS 398.3

    Na Sy opstanding het Jesus aan twee van Sy dissipels verskyn wat op weg was na Emmaus, en “Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” Lukas 24: 27. Hulle harte was ontroerd. Hulle geloof het opgevlam. Daar het weer ‘n lewende hoop in hulle ontstaan, selfs voor Jesus Hom nog aan hulle geopenbaar het. Dit was Sy doel om hulle verstand te verlig. en om hulle geloof vas te anker aan die vaste profetiese woord. Hy wou die waarheid laat wortelskiet in hulle harte, nie slegs omdat dit deur Sy persoonlike getuienis bevestig is nie, maar weens die onweerlegbare getuienis gelewer deur die sinnebeelde en skaduwees van die seremoniële stelsel, en die profesieë van die Ou Testament. Dit was nodig vir die navolgers van Christus om ‘n intelligente geloof te hê, nie alleen vir hulleself nie, maar sodat hulle die kennis van Christus aan die hele wêreld kon bring. En as eerste stap om hierdie kennis aan hulle te gee, het Jesus Sy dissipels verwys na Moses en al die profete. So het die verrese Heiland getuig vir die waarde en belangrikheid van die Ou Testamentiese geskrifte.GS 399.1

    Watter verandering het daar in die harte van die dissipels gekom toe hulle weereens kon kyk op die geliefde aangesig van hulle Meester! (Lukas 24: 32.) In ‘n voller sin as ooit tevore het hulle ..hom gevind van wie Moses in die wet, en al die profete geskryf het.” Die onsekerheid, die angs, en die wanhoop, het plek gemaak vir volkome versekering en vir ‘n onbenewelde geloof. Geen wonder dat hulle na Sy hemelvaart “gedurig in die tempel was en God geprys en gedank het nie.” Die mense wat maar net geweet het van die Heiland se skanddood. het verwag om in hulle gesigte ‘n uitdrukking van droefheid, verwarring en wanhoop te sien; maar hulle het daar blydskap en oorwinning gesien. Wat ‘n voorbereiding het hierdie dissipels gekry vir hulle werk! Hulle het deur die grootste beproewing gegaan wat dit moontlik was vir hulle om te ondervind, en hulle het gesien hoedat die woord van God, selfs toe alle menslike hoop verdwyn het, heerlik vervul is. Wat sou in die toekoms hulle geloof kon verdof of hulle liefde kon verkoel? In hulle grootste droefheid het hulle ‘n kragtige bemoediging gehad, ‘n hoop wat vir hulle was soos “‘n anker van die siel wat veilig en vas is.” Heb. 6: 18, 19. Hulle was getuies van die wysheid en krag van God, en hulle was oortuig dat “geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel,” hulle kon skei “van die liefde van God wat daar in Jesus Christus onse Here Is nie.” “In al hierdie dinge,” het hulle gesê, “is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.” Rom. 8: 38, 39, 37. “Die woord van die Here bly tot in ewigheid.” 1 Petrus 1:25. “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Rom. 8: 34.GS 399.2

    Die Here het gesê: ,.My volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.” Joël 2: 26. “Saans vernag die geween, maar smorens is daar gejuig.” Ps. 30: 6. Toe die dissipels hulle Heiland op Sy opstandingsmore ontmoet het, en hulle harte binne-in hulle brandend was toe hulle na Sy woorde geluister het, toe hulle Sy hande en voete aanskou het wat vir hulle verwond was; en toe Hy, voor Sy hemelvaart, hulle na Betanié gelei het, en Sy hande opgehef het en hulle seënende gebied het, “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie,” en bygevoeg het, “en kyk, Ek is met julle al die dae” (Markus 16: IS; Matt. 28: 20); toe die beloofde Trooster op Pinksterdag uitgestort is, en die krag van omhoog gegee is, en die harte van die gelowiges gejuig het in die werklike teenwoordigheid van hulle opgevaarde Heiland — sou hulle toe, al het hulle weg, net soos Syne, gelei tot opoffering en die marteldood, die bediening van die evangelie van Sy genade, saam met die kroon van geregtigheid wat hulle sou ontvang by Sy wederkoms, verruil het vir die heerlikheid van ‘n aardse troon waarop hulle gehoop het aan die begin van hulle dissipelskap? Hy wat, “mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink,” het aan hulle, saam met die gemeenskap aan Sy lyde, ook gemeenskap aan Sy vreugde gegee — die vreugde om baie seuns tot heerlikheid te bring, onuitspreeklike vreugde, ‘n “alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid,” waarvan Paulus sê, dat ons “ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is nie vergelyk kan word nie.”GS 401.1

    Die ondervinding van die dissipels wat die evangelie van die koninkryk verkondig het tydens die eerste koms van Christus, het sy teenbeeld in die ondervinding van diegene wat Sy tweede koms verkondig. Net soos die dissipels gepreek het, “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom,” so het Miller en sy medewerkers verkondig dat die langste en laaste tydprofesie in die Bybel byna vervul is, dat die oordeelsuur aangebreek het, en dat die ewige koninkryk van God opgerig sou word. Die prediking van die dissipels wat tyd betref, was gebaseer op die sewentig weke van Daniël 9. Die boodskap van William Miller en sy medew’erkers het die einde van die 2,300 dae van Daniel 8: 14 aangekondig, waarvan die sewentig weke ‘n deel uitgemaak het. Aan albei kante was die prediking gebaseer op ‘n vervulling van ‘n verskillende deel van dieselfde groot tydprofesie.GS 402.1

    Net soos die eerste dissipels, het William Miller en sy medewerkers die boodskap wat hulle verkondig het, nie heeltemal verstaan nie. Dwalings wat lankal in die kerk bestaan het, het hulle verhinder om ‘n belangrike punt in die profesie reg te verklaar. Daarom, hoewel hulle die boodskap verkondig het wat God aan hulle vir die wêreld gegee het, moes hulle nogtans, deur misverstand, teleurstelling ondervind.GS 402.2

    In sy verklaring van Daniel 8: 14, “Twee duisend drie honderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word,” het Miller van die stelling uitgegaan dat die aarde die heiligdom was, en hy het gemeen dat die reiniging van die heiligdom die reiniging van die aarde deur vuur voorgestel het by die wederkoms van die Here. Toe hy dus ontdek het dat die einde van die 2300 dae definitief bepaal was, het hy besluit dat dit die tyd geopenbaar het vir die tweede koms. Sy fout het ontstaan as gevolg van sy aanname van die algemene sienswyse omtrent die heiligdom.GS 403.1

    In die sinnebeeldige stelsel wat ‘n skaduwee was van die soendood en priesterskap van Christus, was die reiniging van die heiligdom die laaste diens wat die hoëpriester verrig het in sy jaarlikse bediening. Dit was die laaste werk op die versoendag — die verwydering van die sondes van Israel. Dit was ‘n beeld van die slotwerk in die bediening van ons Hoëpriester in die hemel, waardeur Hy die sondes van Sy volk in die hemelse boeke uitdelg. Hierdie werk sluit in ‘n ondersoek, ‘n oordeelswerk; en dit gaan die koms van Christus op die wolke van die hemel onmiddellik vooraf; want wanneer Hy kom, is die lot van elke mens alreeds beslis. Jesus het gesê, “My loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” Openb. 22: 12. Dit is hierdie werk, wat die wederkoms onmiddellik voorafgaan, wat aangekondig is in die eerste engel se boodskap van Openb. 14: 7, “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.”GS 403.2

    Diegene wat die waarskuwing verkondig het, het die regte boodskap op die regte tyd verkondig. Maar net soos die eerste dissipels verkondig het, “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom,” en nie besef het dat die dood van die Messias in daardie selfde skriftuur voorspel was nie — hulle boodskap was gebaseer op die profesie van Daniël 9 — so ook het Miller en sy medewerkers die boodskap gebaseer op Daniel 8: 14 en Openbaring 14: 7 verkondig, maar hulle het nie besef nie dat Openbaring 14 nog ander boodskappe bevat het wat moes verkondig word voor die wederkoms van die Here. Net soos die dissipels ‘n fout begaan het in verband met die koninkryk wat sou opgerig word aan die einde van die sewentig weke, so het die Adventiste ook ‘n fout begaan met betrekking tot die gebeurtenis wat sou plaasvind aan die einde van die 2,300 dae. In albei gevalle was daar ‘n aanname van, of liewer ‘n vasklemming aan algemene foute wat die hart verbind het vir die waarheid. Albei klasse het die wil van God vervul met die verkondiging van die boodskap wat Hy wou hê dat hulle moes gee, en albei is deur ‘n verkeerde begrip van hulle boodskap teleurgestel.GS 403.3

    Maar nogtans het God Sy eie goeie doel bereik deur toe te laat dat die waarskuwing aangaande die oordeel verkondig sou word soos dit was. Die groot dag was naby, en in Sy voorsienigheid is die volk getoets deur die vasstelling van ‘n bepaalde tyd ten einde te openbaar wat in hulle harte was. Die boodskap was bedoel vir die toetsing en reiniging van die kerk. Hulle moes daartoe gebring word om te sien of hulle hart op hierdie wêreld was, of op Christus en die hemel. Hulle het voorgegee dat hulle die Heiland liefhet; nou moes hulle daardie liefde bewys. Was hulle gereed om hulle wêreldse hoop en strewe op te gee, en om die koms van hulle Here met vreugde te verwelkom? Die boodskap was bedoel om hulle in staat te stel om hulle ware geestelike toestand te besef; en dit is in genade gestuur om hulle wakker te skud om die Here in ootmoed en bekering te soek.GS 404.1

    Alhoewel die teleurstelling gekom het as gevolg van hulle eie verkeerde begrip van die boodskap wat hulle verkondig het, het God dit laat meewerk ten goede. Dit sou die harte toets van diegene wat voorgegee het dat hulle die boodskap glo. Sou hulle, as gevolg van hulle teleurstelling, hulle geestelike lewe opgee en vertroue in Gods woord versaak; of sou hulle, in ootmoed en gebed soek om te sien waar hulle die fout gemaak het wat betref die uitleg van die profesie? Hoeveel van hulle was deur vrees beweeg of het sommer gehandel uit opgewondenheid? Hoeveel van hulle was halfhartig en ongelowig? Menigtes het voorgegee om die koms van die Here lief te hê. Sou hulle nou, waar hulle die bespotting en verwyt van die wêreld moes verduur en ook die teleurstelling, hulle geloof opgee? Sou hulle, omdat hulle nie dadelik Gods handelinge met hulle verstaan het nie, al die waarhede verwerp wat duidelik deur Gods woord bewys is?GS 404.2

    Hierdie toets sou die krag openbaar van diegene wat in ware geloof gehoor gegee het aan wat hulle geglo het as die leer van die woord en Gees van God. Dit sou hulle die gevaar leer, soos so ‘n ervaring dit alleen kon doen, om die verklarings en teorieë van mense aan te neem pleks om toe te laat dat die Bybel homself verklaar. Vir die kinders van geloof sou die verleentheid en droefheid wat ontstaan het as gevolg van hulle fout, daardie fout openbaar en regmaak. Hulle sou tot ‘n narstige ondersoek van die profetiese woord gelei word. Hulle sou daartoe gebring word om die fondament van hulle geloof deegliker te ondersoek, en om alles te verwerp, hoewel dit aangeneem is deur die Christelike wêreld, wat nie die Skrifte van Waarheid as grondslag het nie.GS 405.1

    Vir hierdie gelowiges, net soos in die geval van die eerste dissipels, sou die dinge wat in hulle beproewingsuur donker en onverstaanbaar blyk. later verduidelik word. Wanneer hulle die “einde van die Here” sien, sou hulle weet dat Sy doel van liefde teenoor hulle. nieteenstaande hulle beproewing as gevolg van hulle dwaling, stadigaan vervul word. Deur ‘n geseënde ervaring sou hulle leer dat Hy “vol medelyde en ontferming is;” en dat Sy weë ,.goedertierenheid en trou | is | vir die wat Sy verbond en Sy getuienisse bewaar.”GS 405.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents