Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 7—Luther se Afskeiding van Rome

    VOORAANSTAANDE onder diegene wat geroep was om die kerk uit die duisternis van die pousdom tot die lig van die reine geloof te lei, was Martin Luther. Vwerig, vurig, en toegewyd, kennende geen vrees behalwe die vrees van God nie, en erkennende geen grondslag vir die geloof behalwe die Heilige Skrifte nie, was Luther die man vir sy tyd; deur hom het God ‘n groot werk gedoen vir die hervorming van die kerk en die verligting van die wêreld.GS 137.1

    Soos die eerste voorlopers van die evangelie, is Luther uit ‘n armoedige gesin gebore. Sy eerste jare het hy deurgebring in die huis van ‘n Duitse arbeider. Deur swaar werk in die myne, het Luther se vader die middele vir sy opvoeding verdien. Hy moes vir regsgeleerde studeer, maar dit was die doel van God om van hom ‘n bouer te maak van die groot tempel wat stadig deur die eeue heen verrys het. Swaar werk. ontbering, en strenge tug, was die middels waardeur Ewige Wysheid Luther voorberei het vir die belangrike sending van sy lewe.GS 137.2

    Luther se vader was ‘n man met ‘n sterk, aktiewe verstand, van sterk karakter, eerlik, vasberade, en reguit. Hy was getrou aan sy pligsoortuigings, al het wat ook gebeur. Sy gesonde verstand het hom daartoe gebring om die monnikestelsel met agterdog te bejeën. Hy was baie ontevrede toe Martin, sonder sy toestemming, in ‘n klooster opgeneem is; en dit het twee jaar geneem voordat vader en seun versoen is — selfs toe het hy nie van sienswyse verander nie.GS 137.3

    Luther se ouers het groot sorg aan die opvoeding van hulle kinders bestee. Hulle het getrag om hulle te onderrig in die kennis van God en in die beoefening van Christelike deugde. Die vader het dikwels in die teenwoordigheid van sy seun gebid, sodat die kind die naam van die Here mag onthou, en eendag mag help in die bevordering van waarheid. Elke voordeel vir sedelike en intellektuele kultuur wat moontlik was in hulle lewe van arbeid, is gretig deur hierdie ouers aan hulle kinders meegedeel. Om hulle kinders vir ‘n lewe van vroomheid en bruikbaarheid op te voed, was hulle pogings ernstig en volhardend. Met hulle strengheid en sterk karakter was hulle soms te hard; maar die Hervormer self, alhoewel hy geweet het dat hulle in sommige opsigte foute begaan het, het meer in hulle dissipline gevind om goed te keur as om te veroordeel.GS 138.1

    In die skool waarna Luther reeds vroeg gestuur is, is hy met barsheid en soms selfs met geweld behandel. So arm was sy ouers, dat Luther, toe hy na ‘n skool op ‘n ander dorp gegaan het, vir ‘n tyd verplig was om van deur tot deur te sing vir sy voedsel; hy het dikwels honger gely. Die sombere, bygelowige idees aangaande die godsdiens wat destyds geheers het, het hom met vrees vervul. Saans het hy gaan slaap met ‘n droewige hart, en hy het die donker toekoms met bewing tegemoetgesien, in gedurige vrees aan die gedagte dat God ‘n harde, meedoënlose regter en ‘n wrede tiran was, liewer as ‘n liefdevolle Vader.GS 138.2

    Maar ten spyte van so baie, en sulke groot ontmoedigings, het Luther vasberade gestrewe na die hoë peil van sedelike en intellektuele voortreflikheid waartoe sy siel aangetrokke gevoel het. Hy het gedors na kennis, en die ernstige en praktiese gees wat hom besiel het, het ‘n begeerte by hom geskep vir die goeie en nuttige liewer as die vertonerige en uiterlike dinge.GS 138.3

    Toe hy op agtienjarige leeftyd na die Universiteit van Erfurt gegaan het, was sy posisie gunstiger en sy vooruitsigte beter as in sy vroeër jare. Deur hulle ywer en werksaamheid het sy ouers vermoë verwerf, sodat hulle in staat was om hom die nodige hulp te verleen. Deur die invloed van verstandige vriende is die ongunstige gevolge van sy vroeër opleiding enigsins verminder. Hy het hom toegelê op ‘n studie van die beste skrywers, hulle beste gedagtes het hy in sy hart opgeneem, en hy het die wysheid van die wyse sy eie gemaak. Selfs onder die harde tug van sy vorige leermeesters het hy vroeg reeds blyke gegee van onderskeiding; en onder die gunstige invloede het sy verstand vinnig ontwikkel. ‘n Goeie geheue, lewendige verbeelding, groot redeneerkrag, en onvermoeide ywer, het hom vooraan geplaas onder sy medestudente. ‘n Verstandelike dissipline het sy begripsvermoë versterk, en dit het hom ‘n skerpheid van gees en ‘n opvattigsvermoë gegee wat hom berei het vir die stryd van die lewe.GS 138.4

    Die vrees van die Here was in die hart van Luther, en dit het hom vasberade, en baie nederig voor God gemaak. Hy het ‘n diep besef gehad van sy afhanklikheid van goddelike hulp, en hy het nooit nagelaat om elke dag met gebed te begin nie, terwyl daar ‘n gedurige bede in sy hart was vir leiding en ondersteuning. “Om goed te kan bid,” het hy dikwels gesê, “is die beste deel van studie.”— D’Aubigne, “History of the Reformation of the Sixteenth Century,” boek II, hoojstuk 2.GS 139.1

    Onderwyl hy eendag besig was om boeke deur te kyk in die biblioteek van die Universiteit, het Luther ‘n Latynse Bybel ontdek. Nog nooit tevore het hy so ‘n boek gesien nie. Hy het nie eens geweet dat daar so ‘n boek bestaan nie. Hy het dele van die Evangelies en Sendbriewe gehoor voorlees vir die volk in hulle openbare dienste, en hy het gemeen dat dit die hele Bybel was. Nou, vir die eerste maal, het hy die hele woord van God voor hom gesien. Met eerbied en bewondering het hy die heilige bladsye omgeblaai; met ‘n vinnige pols en ‘n bonsende hart het hy vir homself die woorde van die lewe gelees, terwyl hy so kort-kort uitgeroep het, “0, dat God vir my so ‘n boek vir myself mag gee!”—Ibid. Engele van die hemel het by hom gestaan, en ligstrale van die troon van God het die skatte van die waarheid aan hom geopenbaar. Hy was altyd bang om God te mishaag, maar soos nooit tevore het hy nou diep onder die besef gekom van sy toestand as ‘n sondaar.GS 140.1

    ‘n Ernstige begeerte om van sonde bevry te wees en vrede by God te hê, het hom eindelik beweeg om na ‘n klooster te gaan en homself aan ‘n kloosterlewe te wy. Hy moes die laagste soort werk doen, en moes van huis tot huis bedel. Hy was juis in die ouderdom waarin hy gesmag het na respek en waardering, en hierdie gemene werk het sy gevoelens diep gekwes; maar hy het die vernedering geduldig verduur in die geloof dat dit weens sy sondes nodig was.GS 140.2

    Elke oomblik wat hy vry was van sy daelikse pligte het hy aan studie bestee; hy het homself van slaap beroof, en hom nie eens die tyd gegun wat hy aan sy skamele maaltye moes bestee nie. Bo alles het hy graag die woord van God ondersoek. In die klooster het hy ‘n Bybel ontdek wat aan die muur vasgeketting was, en hy het dikwels daarheen gegaan. Namate sy oortuiging van die sonde verdiep het, het hy getrag om deur sy eie werke vergifnis en vrede te verkry. Hy het ‘n baie swaar lewe gely, en hy het deur vaste, nagwake, en géseling getrag om die sondigheid van sy natuur te onderdruk — iets waarvan die kloosterlewe hom nie kon bevry nie. Geen opoffering was te groot vir hom as hy daardeur die reinheid van hart kon verkry wat hom sou in staat stel om die goedkeuring van God te bekom nie. “Ek was inderwaarheid ‘n vrome monnik,” het hy later gesê, “en ek het die reels van my orde nougesetter nagekom as wat ek ooit kan uitdruk. As ‘n monnik ooit die hemel kon verdien deur die werke van ‘n monnik, dan het ek dit seker verdien. ... As dit langer aangehou het, sou ek my selfkastyding tot die dood toe deurgevoer het.”—D’ Aubigne, boek II, hoojstuk 3. As gevolg van hierdie harde dissipline, het sy kragte afgeneem en hy het gely aan floutes, aan die gevolge waarvan hy later nooit heeltemal herstel het nie. Maar met al sy pogings het sy swaarbelaste siel geen verligting gevind nie. Eindelik is hy tot die randjie van wanhoop gebring.GS 140.3

    Toe dit vir Luther geskyn het dat alles verlore was, het God aan hom ‘n vriend en helper gegee. Die vrome Staupitz het die woord van God aan Luther verduidelik, en hom gebied om sy oë van homself af te neem, en nie gedurig te peins oor die oneindige straf op die oortreding van Gods wet nie, maar om sy oë op Jesus te vestig, die Heiland wat sy sondes vergewe. “Pleks om jouself te kasty oor jou sondes, werp jou in die Heiland se arms. Vertrou op Hom, op die geregtigheid van Sy lewe, op die versoening van Sy dood. . . . Luister na die Seun van God. Hy het mens geword om jou die versekering te gee van goddelike guns. Jy moet Hom liefhê wat jou eerste liefgehad het.”— D’Aubigne, boek II, hoojstuk 4.So het hierdie genadeboodskapper gepraat. Sy woorde het ‘n diep indruk op Luther gemaak. Na menige worsteling met sy lankgekoesterde dwalings, is hy eindelik in staat gestel om die waarheid te begryp, en vrede het in sy verontruste gemoed gekom.GS 141.1

    Luther is tot priester georden, en is as professor aangestel aan die Universiteit van Wittenberg. Hier het hy hom toegelê op ‘n studie van die Skrifte en die oorspronklike tale. Hy het begin lesings hou oor die Bybel; die Psalms, die Evangelies, en die Sendbriewe is aan skares van blye hoorders verduidelik. Staupitz, sy vriend en meerdere, het by hom aangedring om die kansel te bestyg en die woord van God te verkondig. Luther het geaarsel omdat hy onwaardig gevoel het om in die naam van Christus tot die volk te spreek. Eers na ‘n lang stryd het hy toegegee aan die versoeke van sy vriende. Hy was reeds magtig in die Skrifte, en die genade van God het op hom gerus. Sy welsprekendheid het sy hoorders geboei, die krag en duidelikheid waarmee hy die waarheid verkondig het, het hulle oortuig, en sy vurigheid het hulle harte aangeraak.GS 141.2

    Totnogtoe was Luther ‘n getroue seun van die Roomse Kerk, en hy het nooit daaraan gedink om iets anders te wees nie. In die voorsienigheid van God is hy gelei om Rome te besoek. Hy het die reis te voet afgelê, en onderweg by die kloosters tuisgegaan. In ‘n klooster in Italië is sy verbasing opgewek deur die rykdom, en die prag en weelde wat hy gesien het. Begiftig met ‘n prinslike inkomste, het die monnike in pragtige vertrekke gewoon, gekleed in die rykste en kosbaarste klere, en hulle spyse was van die beste. Met pynlike aandoening het Luther hierdie toneel vergelyk met die selfverloëning en ontbering van sy eie lewe. Hy was verbysterd.GS 142.1

    Eindelik het hy in die verte die stad op die sewe heuwels gesien. Met diep ontroering het hy op die grond neergeval en uitgeroep, “Heilige Rome, ek begroet jou!”—D’Aubigne, boek II, hoofstuk 6.Hy het die stad binnegegaan, die kerke besoek, en geluister na die wonderlike verhale van priesters en monnike, en hy het deelgeneem aan al die vereiste seremonies. Orals het hy tonele gesien wat hom met verbasing en afsku vervul het. Hy het gesien dat daar verdorwenheid geheers het onder alle klasse van die geestelikes. Hy het die prelate onkuise grappe hoor vertel, en hy was erg ontstel oor hulle vreeslike ongebondenheid selfs by die mis. Namate hy met die monnike en burgers omgegaan het. het hy orals losbandigheid en onmatigheid gesien. Waar hy ook gegaan het, het hy in die plek van heiligheid, bandeloosheid gesien. “Niemand kan hom verbeel nie,” het hy geskryf, “watter sondes en afskuwelike dinge daar in Rome gepleeg word nie; mens moet dit sien en hoor om dit te glo. Dit is so erg, dat die mense gewoond is om te sê, ,as daar ‘n hel is, is Rome daarop gebou; dit is ‘n afgrond waaruit allerhande sondes voortkom.’ —D’Aubigne, boek II, hoojstuk 6.GS 143.1

    Deur ‘n dekreet wat die Pous toe juis uitgevaardig het, is daar aflate belowe aan almal wat “Pilatus se trap” op hulle knieë sou bestyg — dit was die trap, het hulle gesê, waarmee die Here afgekom het toe hy die Romeinse geregsaal verlaat het; dit sou op wonderbaarlike wyse van Jerusalem na Rome vervoer gewees het. Eendag, toe Luther met voile toegewydheid besig was om hierdie trap op te gaan, het dit geskyn of daar skielik ‘n stem soos donder aan hom gesê het, “Die regverdige sal uit die geloof lewe.” Rom. 1: 17. Hy het opgespring, en die plek so vinnig moontlik in skaamte en afsku verlaat. Hy het daardie teks nooit vergeet nie. Van daardie tyd af het hy duideliker as ooit tevore die dwaling gesien om op menslike werke te vertrou vir verlossing, en hy het die noodsaaklikheid gesien van vertroue op die verdienstes van Christus. Sy oë is geopen, en hulle is nooit weer gesluit vir die dwalings van die pousdom nie. Toe hy sy aangesig van Rome afgewend het, het hy ook sy hart afgewend, en van daardie tyd af het die kloof steeds groter geword totdat hy alle verbinding met die Roomse kerk verbreek het.GS 143.2

    Na sy terugkoms van Rome het Luther van die Universiteit van Wittenberg die graad van Doktor in die Godgeleerdheid gekry. Nou was hy vry om hom nog meer te wy aan die Skrifte wat hy so liefgehad het. Hy het ‘n plegtige eed afgelê om solank as hy lewe die woord van God sorgvuldig te ondersoek en getrou te verkondig en nie die gesegdes en leerstellings van die pouse nie. Hy was nie langer meer ‘n gewone monnik of professor nie, maar die gesaghebbende boodskapper van die Bybel. Hy is as herder geroep om die kudde van God te voed wat hongerig en dorstig was vir die waarheid. Vasberade het hy verklaar dat Christene geen ander leerstellings moes aanneem as die wat berus op die gesag van die Heilige Skrifte nie. Hierdie woorde het die fondament van die pouslike oppergesag aangeraak; en hulle was die belangrikste beginsel van die Hervorming.GS 144.1

    Luther het die gevaar ingesien van die verheffing van menslike teorieë bokant die woord van God. Onbevrees het hy die spekulatiewe ongelowigheid van die geleerdes aangeval, en hy het die filosofie en teologie wat die volk so lank beheers het, teengewerk. Hy het sulke studies veroordeel, nie alleen as waardeloos nie, maar as verderflik, en hy het getrag om die harte van sy hoorders af te wend van die redenerings van die wysgere en teoloë, en te vestig op die ewige waarhede verkondig deur die profete en die apostels.GS 144.2

    Dierbaar was die boodskap wat hy verkondig het aan die gretige skare wat aan sy lippe gehang het. Nog nooit het hulle sulke onderwysing gehoor nie. Die blye tyding van ‘n Heiland se liefde, die versekering van vergifnis en vrede deur sy versoenende bloed, het hulle harte blygemaak en hulle besiel met ‘n onsterflike hoop. Op Wittenberg is daar ‘n lig aangesteek waarvan die strale sou reik tot die uiterstes van die aarde, en wat in helderheid sou toeneem tot die einde van tyd.GS 145.1

    Lig en duisternis kan nooit saamgaan nie. Tussen waarheid en dwaalleer is daar ‘n onvermydelike stryd. Om die een te handhaaf en te verdedig, beteken om die ander aan te val en omver te werp. Die Heiland self het gesê, “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” Matt. 10: 34. ‘n Paar jaar na die aanvang van die Hervorming, het Luther gesê: “God lei my nie, Hy stoot my vorentoe, Hy dra my weg. Ek is nie meester van myself nie. Ek sou graag in rus lewe; maar ek word te midde van oproer en omwentelings gewerp.”—D’Aubigne, boek V, hoojstuk 2. Hy het nou op die punt gestaan om in die stryd gewikkel te word.GS 145.2

    Die Roomse Kerk het die genade van God in handelsware verander. Die tafels van die geldwisselaars (Matt. 21: 12) het langs sy altare gestaan, en die geskree van die kopers en verkopers het deur die lug weergalm. Onder voorwendsel dat daar geld ingesamel word vir die bou van die St. Petrus Kerk te Rome, is aflate vir sonde in die openbaar te koop aangebied op gesag van die Pous. Met die prys van sonde sou ‘n tempel gebou word vir die aanbidding van God—die hoeksteen sou gelê word met die loon van ongeregtigheid! Maar juis die middels wat Rome gekies het vir sy eie verheerliking, het aanleiding gegee tot die swaarste slag vir sy mag en grootheid. Dit was daarmee wat die felste en suksesvolste vyande van die pousdom gemaak is, en dit het aanleiding gegee tot die stryd wat die pouslike troon geskud het en die drievoudige kroon van die Pous se hoof laat tuimel het.GS 145.3

    Die persoon wat amptelik aangestel is om in Duitsland die aflate te verkoop, naamlik Tetzel, was beskuldig van die vreeslikste misdade teen die samelewing en teen die wet van God. Maar nadat hy die straf op sy misdade ontduik het, is hy gebruik om die gewetenlose handelsplanne van die Pous uit te voer. Met die grootste skaamteloosheid het hy die skandelikste leuens verkondig, en hy het die wonderbaarlikste verhale vertel om die onkundige, liggelowige en bygelowige volk te bedrieg. As hulle die woord van God gehad het, sou hulle nie so mislei gewees het nie. Dit was om hulle onder die gesag van die pousdom te hou, sodat die mag en rykdom van sy eersugtige leiers nog verder uitgebrei kon word, dat die Bybel aan hulle onthou is. (Sien Gieseler, “Ecclesiastical History,” Tydperk IV, afd. 1, para. 5.)GS 146.1

    Waar Tetzel ‘n dorp binnegekom het, het ‘n boodskapper voor hom uitgegaan, met die aankondiging, “Die genade van God en van die heilige vader is voor julle poorte.” En die volk het hierdie godslasterende huigelaar verwelkom asof hy God Self was wat uit die hemel tot hulle neergedaal het. Hierdie gruwelike handel het in die kerk plaasgevind, en Tetzel het van die preekstoel af die aflate geprys as die kosbaarste gawe van God. Hy het verklaar dat enige sonde wat ‘n koper later mag pleeg vergewe sou word kragtens hierdie sertifikate van vergifnis, en dat “berou nie eens nodig was nie.”— D’Aubigne, boek III, hoojstuk 1.En wat meer is, hy het sy hoorders verseker dat die aflate nie alleen mag gehad het om die lewendes te red nie, maar ook die dode; en sodra die geld onder op die bodem van sy kis klink, sou die siel vir wie dit betaal is, uit die vaevuur ontsnap en sy weg na die hemel vind.(Sien Hagenbach, “History oj the Reformation,” Deel I, bl. 96.GS 146.2

    Toe Simon die Towernaar aangebied het om die mag om wonderwerke te verrig van die apostels te koop, het Petrus aan hom gesê, “Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.” Hand. 8: 20. Maar Tetzel se aanbod is deur duisende gretige siele aangeneem. Goud en silwer het in sy skatkis gevloei. ‘n Saligheid wat met geld kan gekoop word, word makliker verkry as een wat bekering, geloof, en ‘n ernstige poging om die sonde te weerstaan en te oorwin, vereis. Sien Aanhangsel.GS 146.3

    Die leerstelling aangaande aflate is deur vrome en geleerde manne in die Roomse Kerk teengestaan, en daar was baie wat geen geloof geheg het aan die voorwendsels wat so gebots het met verstand en die openbaring nie. Geen prelaat het gedurf om sy stem te verhef teen hierdie verderflike handel nie; maar die harte van die mense was ontsteld en onrustig, en vele het met besorgdheid gevra of God nie deur die een of ander werktuig sou optree vir die reiniging van Sy kerk nie.GS 147.1

    Luther, alhoewel hy nog ‘n strenge Katoliek was, is met afsku vervul as gevolg van die godslasterende aanmatigings van die aflaathandelaars. Baie van sy gemeentelede het vergifnissertifikate gekoop, en eerlank het hulle na hulle leraar gekom, hulle verskillende sondes bely, en kwytskeiding verwag, nie omdat hulle berou gehad en begeer het om te hervorm nie, maar op grond van die aflate. Luther het kwytskeiding aan hulle geweier, en hy het hulle gewaarsku dat hulle in hulle sondes sou vergaan, tensy hulle tot bekering kom en hulle lewens hervorm. Verslae het hulle na Tetzel gegaan en gekla dat hulle biegvader sy sertifikate geweier het; en sommige het hulle geld teruggeëis; hierdie monnik het woedend geword. Hy het vreeslik gevloek, en vure laat maak op die openbare pleine en hy het verklaar dat hy “bevele van die Pous gehad het om alle ketters te verbrand wat hulle sou aanmatig om sy allerheiligste aflate teen te werk.”-—D’Aubigne, boek III, hoojstuk 4.GS 147.2

    Luther het nou stoutmoedig opgetree as kampvegter vir die waarheid. Sy stem is van die kansel gehoor in ‘n ernstige, plegtige waarskuwing. Aan die mense het hy die walglike karakter van die sonde voorgehou, en hy het geleer dat dit onmoontlik vir ‘n mens is, om deur sy eie werke sy skuld te verminder of die straf te ontduik. Niks behalwe bekering tot God en geloof in Christus kon ‘n sondaar red nie. Die genade van Christus kan nie gekoop word nie; dit is ‘n vrye gawe. Hy het die mense aangeraai om nie aflate te koop nie, maar hulle geloof te vestig op die gekruisigde Heiland. Hy het van sy eie bittere ervaring gepraat toe hy tevergeefs getrag het om deur vernedering en boetedoening die saligheid te verkry; en hy het sy hoorders verseker dat hy vrede en vreugde gevind het deur sy oë van homself af te wend en in Christus te glo.GS 147.3

    Terwyl Tetzel sy handel en sy goddelose bedrog voortgesit het, het Luther besluit op ‘n doeltreffender protes teen hierdie gruwelike misbruike. Baie gou het hy geleentheid daartoe gekry. Die kasteelkerk van Wittenberg het baie relikwieë gehad wat op sekere heilige dae aan die volk getoon is, en voile vergifnis is toegestaan aan almal wat toe die kerk besoek en belydenis gedoen het. Gevolglik het die mense op hierdie dae in groot getalle daarheen gegaan. Een van die belangrikste van hierdie dae, naamlik “Die Fees van alle Heiliges” het genader. Op die vorige dag het Luther aangesluit by die skares wat reeds op weg was na die kerk, en op die deur daarvan het hy ‘n dokument gespyker wat vyf-en-negentig stellings bevat het teen die leer van aflate. Hy het sy bereidwilligheid verklaar om hierdie stellings die volgende dag by die Universiteit te verdedig teen enigeen wat dit sou goeddunk om hulle aan te val.GS 149.1

    Sy stellings het algemene aandag getrek. Hulle is gelees en herlees, en orals is hulle bespreek. Daar het groot opgewondenheid geheers in die universiteit sowel as in die stad. Deur hierdie stellings is daarop gewys dat die mag om sonde te vergewe, en die straf daarop kwyt te skeld, nooit aan die Pous of aan enige ander man gegee is nie. Die hele ding was ‘n gedrog —‘n slimstreek om geld af te pers deur gebruik te maak van die bygeloof van die volk —‘n listige plan van Satan om die siele te vernietig van almal wat sou vertrou op sy leuenagtige aanmatigings. Ook is duidelik daarop gewys dat die evangelie van Christus die kosbaarste skat van die kerk is, en dat die genade van God wat daarin geopenbaar is, vryelik gegee word aan almal wat dit soek deur bekering en geloof.GS 149.2

    Luther se stellings het bespreking uitgedaag; maar nie een het die uitdaging aangeneem nie. Die vrae wat hy geopper het, het binne ‘n paar dae deur die hele Duitsland versprei, en binne ‘n paar weke deur die ganse Christendom. Baie toegewyde Roomsgesindes, wat die vreeslike goddeloosheid wat in die kerk geheers het, gesien en betreur het, maar nie geweet het hoe om dit te bestry nie, het die stellings met groot vreugde gelees en daarin die stem van God verneem. Hulle het gevoel dat die Here genadiglik Sy hand uitgestrek het om die vinnigstygende vloedgolf van verderf wat van die stoel van Rome gevloei het, te stuit. Vorste en magistrate het hulle in die geheim verbly dat daar eindelik ‘n perk gestel sal word aan die aanmatigende mag wat die reg ontken het om appél aan te teken teen sy uitsprake.GS 149.3

    Maar die sondeliewende en bygelowige skares was verskrik toe die valse redenasies wat hulle aan die slaap gesus het, weggeveeg sou word. Listige geestelikes, verstoor in hulle werk om misdade toe te laat, en siende dat hulle inkomste in gevaar was, was woedend, en hulle het saamgespan om hulle aanmatigings te handhaaf. Die Hervormer sou teen bitter beskuldigers te staan kom. Sommige het hom beskuldig dat hy haastig en uit drif gehandel het. Ander het hom van aanmatiging beskuldig, en verklaar dat hy nie deur God gelei is nie, maar uit hoogmoed en voortvarendheid optree. “Wie weet nie,” het hy geantwoord, “dat ‘n mens maar selde nuwe idees verkondig sonder die skyn van ‘n mate van hoogmoed en sonder die beskuldiging dat hy twis uitlok? . . . Waarom is Christus en die martelare gedood? Omdat dit geskyn het of hulle trotse veragters van die wysheid van die tyd was, en omdat hulle nuwe dinge verkondig het sonder om eers nederig die orakels van die outydse menings te raadpleeg.”GS 150.1

    Weer het hy gesê, “Wat ek ook al doen, sal gedoen word, nie met menslike wysheid nie, maar deur die raad van God. En as dit die werk van God is, wie sal dit stopsit? As dit nie die werk van God is nie, wie kan dit voorthelp? Nie my wil nie, nóg hulle s‘n nóg ons’s’n, maar U wil O Heilige Vader, wat in die hemel is.”—D’Aubigne, boek 111, hoojstuk 6.GS 151.1

    Alhoewel Luther deur die Gees van die Here gelei is om sy werk te begin, sou hy dit nie voortsit sonder heftige stryd nie. Die verwyte van sy vyande, hulle wanvoorstelling van sy doel, en hulle onregverdige en kwaadwillige beskuldigings teen sy karakter en motiewe, het hom getref soos ‘n oorweldigende vloed; en hulle was nie sonder uitwerking nie. Hy het seker gevoel dat die leiers van die volk, beide van die kerk en die skole, gewillig met hom sou saamwerk in sy pogings vir Hervorming. Aanmoedigende woorde van hooggeplaasdes het hom besiel met vreugde en hoop. Reeds het hy byvoorbaat ‘n heerlike dag sien aanbreek vir die kerk. Maar aanmoediging het verander in verwyt en veroordeling. Baie waardigheidsbekleërs, beide van die kerk en die staat, was oortuig van die waarheid van sy stellings; maar hulle het gou ontdek dat ‘n aanname van hierdie waarhede groot veranderings sou verg. Om die mense te verlig en te hervorm sou neerkom op die ondermyning van die gesag van Rome, wat duisende strome sou wegkeer wat nou in sy skatkis gevloei het, en dit sou dus die spandabelheid en weelde van die pouslike leiers baie inkort. En wat meer is, om die volk te leer om te dink en te handel soos verantwoordelike wesens, siende op Christus alleen om verlossing, sou die pouslike troon omverwerp, en dit sou eindelik hulle eie gesag vernietig. Om hierdie rede het hulle die kennis wat God aan hulle gestuur het, geweier, en hulle self teen Christus en die waarheid geskaar deur hulle teenstand van die man wat Hy gestuur het om hulle te verlig.GS 151.2

    Luther het gebeef waar hy aan homself gedink het — een man teen die grootste magte op aarde. Soms het hy getwyfel of hy inderwaarheid deur God gelei is om hom teen die gesag van die kerk te verset. “Wie is ek,” het hy geskryf “om die majesteit van die Pous teen te staan voor wie ... die konings van die aarde en die hele wêreld sidder? . . . Niemand sal ooit weet wat ek gedurende daardie eerste twee jaar gely het, en hoe neerslagtig — ek mag wel sê wanhopig — ek was nie.”—D’Aubigne, boek 111, hoojstuk 6.Maar hy is nie alleen gelaat om heeltemal moedeloos te word nie. Toe menslike hulp hom in die steek gelaat het, het hy op God alleen gesien, en hy het geleer dat hy met die grootste veiligheid kon leun op daardie almagtige arm.GS 151.3

    Aan ‘n vriend van die Hervorming het Luther geskryf: “Ons kan nie die Skrifte verstaan deur studie of verstand nie. Jou eerste plig is om met gebed te begin. Smeek die Here om aan jou, deur Sy genade, ‘n ware begrip van Sy woord te gee. Daar is geen ander verklaarder van die woord van God as die Skrywer van daardie woorde nie, soos God Self gesê het, ,hulle sal almal deur God geleer word.’ Verwag niks van jou eie arbeid, van jou eie verstand nie; vertrou op God alleen, en op die invloed van Sy Gees. Neem dit aan van ‘n man wat die ondervinding deurgemaak het.”—D’Aubigne, boek III, hoojstuk 7.Hier is ‘n les van die allergrootste belang vir diegene wat voel dat God hulle geroep het om die plegtige waarhede vir hierdie tyd aan ander te verkondig. Hierdie waarhede sal die vyandigheid van Satan opwek, en van manne wat sy fabels liefhet. In die stryd met die bose magte, het ons behoefte aan iets meer as verstandelike krag en menslike wysheid.GS 152.1

    Wanneer sy vyande hulle beroep het op gebruike en tradisie, of op bewerings en gesag van die Pous, het Luther hulle geantwoord met die Bybel en die Bybel alleen. Hier was argumente wat hulle nie kon weerlê nie; daarom het die slawe van formalisme en bygeloof geskree om sy bloed, soos die Jode geskree het om die bloed van Christus. “Hy is ‘n ketter,” het die Roomse yweraars geskree. “Dit is hoogverraad teen die kerk om so ‘n nare ketter ‘n uur langer te laat lewe. Maak dadelik die galg klaar vir hom!”—D’Aubigne, boek III, hoojstuk 9.Maar Luther het nie die slagoffer van hulle woede geword nie. God het ‘n werk vir hom gehad, en engele van die hemel is gestuur om hom te beskerm. Baie, egter, wat die dierbare lig van Luther ontvang het, het die voorwerpe geword van Satan se wraak, en vir die ontwil van die waarheid het hulle onbevrees marteling en die dood verduur.GS 152.2

    Luther se leer het die aandag getrek van dinkende mense deur die hele Duitsland. Uit sy preke en geskrifte het daar ligstrale geskyn wat duisende wakker gemaak en verlig het. ‘n Lewende geloof het in die plek gekom van die dooie formalisme waarin die kerk so lank verkeer het. Die volk het daeliks vertroue verloor in die bygeloof van Romanisme. Die skeidsmure van vooroordeel het begin wyk. Die woord van God, waardeur Luther elke leerstelling en elke aanspraak getoets het, was soos ‘n tweesnydende swaard, wat sy weg gesny het tot die harte van die volk. Orals was daar ‘n begeerte vir geestelike vooruitgang. Orals was daar so ‘n honger en dors na geregtigheid soos wat vir geen eeue gesien is nie. Die oë van die volk, so lank gevestig op menslike rites en aardse middelaars, was nou met boetvaardigheid en geloof op Christus, die gekruisigde, gevestig.GS 153.1

    Hierdie algemene belangstelling het nog meer die vrees van die pouslike outoriteite opgewek. Luther is gelas om in Rome te verskyn op aanklag van kettery. Die bevel het sy vriende met vrees vervul. Hulle het die gevaar maar te goed besef wat hom in daardie bedorwe stad bedreig het, wat reeds dronk was met die bloed van die martelare van Jesus. Hulle het beswaar gemaak dat hy na Rome sou gaan en hulle het versoek dat hy in Duitsland moes verhoor word.GS 153.2

    Hierdie reeling is eindelik getref, en die Pous het ‘n afgesant aangestel om die saak te verhoor. In die bevele wat die Pous aan hierdie afgesant gegee het, is daar verklaar dat Luther alreeds as ketter veroordeel is. Daarom was dit aan die gesant opgedra “om hom te vervolg en sonder verwyl stil te maak.” In geval hy sou vasstaan, en die afgesant hom nie in die hande kon kry nie, is hy gemagtig om “hom in elke deel van Duitsland voëlvry te verklaar, te verban, te vervloek, en om almal in die ban te doen wat hom aanhang.”—D’Aubigne, boek IV, hoojstuk 2.Ten einde die verpestelike kettery wortel en tak uit te roei, het die Pous sy afgesant verder beveel, om almal te verban, ongeag hulle posisie in die kerk of die staat, behalwe die keiser, wat sou nalaat om Luther en sy aanhangers te gryp en hulle oor te lewer aan die wraak van Rome.GS 153.3

    Hier het ons die ware gees van die pousdom. Geen spoor van Christelike beginsel, of selfs van gewone regverdigheid, was in die hele dokument te vind nie. Luther was ‘n groot afstand van Rome; hy het geen geleentheid gehad om te verduidelik of homself te verdedig nie; en nogtans voordat sy saak ondersoek is, is hy summier as ketter verklaar, en daardie selfde dag vermaan, beskuldig, verhoor, en veroordeel; en dit alles deur die heilige vader soos die homself noem, die opperste onfeilbare gesag in kerk en staat!GS 154.1

    Gedurende hierdie tyd, toe Luther sulke groot behoefte aan die raad en medelyde van ‘n troue vriend gehad het, is Melanchthon deur die Voorsienigheid van God na Wittenberg gestuur. Jonk in jare, bedeesd in houding, het Melanchthon se gesonde oordeel, uitgebreide kennis, boeiende welsprekendheid, verbind met reinheid en opregtheid van karakter, vir hom algemene agting en bewondering gewin. Sy skitterende talente was nie meer opvallend as sy sagmoedigheid nie. Hy het baie gou ‘n ywerige dissipel van die evangelie geword, asook Luther se betroubaarste en beste ondersteuner. Sy sagmoedigheid, versigtigheid, en deeglikheid het gedien as aanvulling van Luther se moed en ywer. Hulle samewerking het krag aan die Hervorming verleen, en dit was ‘n bron van groot bemoediging vir Luther.GS 154.2

    Augsburg is aangewys as die plek waar die verhoor sou plaasvind, en die Hervormer is te voet daarheen. Daar was groot besorgdheid oor hom. Openlike dreigemente is gemaak dat hy op weg sou vermoor word, en sy vriende het hom gesmeek om nie te gaan nie. Hulle het hom selfs gesmeek om Wittenberg vir ‘n tyd te verlaat, en skuiling te gaan soek by diegene wat hom graag sou beskerm. Maar hy wou nie die plek verlaat waar God hom geplaas het nie. Hy het gevoel dat hy die waarheid getrou moes handhaaf, nieteenstaande die storms wat teen hom gewoed het nie. Hy het gesê: “Ek is soos Jeremia, ‘n man van stryd en twis; hoe meer dreigemente hulle maak, hoe blyer word ek. . .. Hulle het alreeds my eer en reputasie vernietig. Daar bly nog net een ding oor; dit is my veragtelike liggaam; laat hulle dit neem; desdoende kan hulle slegs my lewe met ‘n paar uur verkort. Maar wat my siel betref, dit kan hulle nie neem nie. Hy wat die woord van Christus aan die wêreld wil verkondig moet enige oomblik die dood verwag.”—D’Aubigne, boek IV, hoojstuk 4.GS 154.3

    Die berig van Luther se aankoms op Augsburg het groot tevredenheid verskaf aan die pouslike afgevaardigde. Hierdie lastige ketter wat die aandag van die hele wêreld getrek het, was nou in die mag van Rome soos dit geskyn het; en die afgevaardigde was vasbeslote dat hy nie sou ontsnap nie. Die Hervormer het nagelaat om ‘n vrygeleide te verkry. Sy vriende het by hom aangedring om nie voor die pouslike legaat te verskyn daarsonder nie, en hulle het dit derhalwe self van die keiser verkry. Die legaat was van plan om Luther te dwing, indien moontlik, om te herroep, of, as dit nie geluk nie, hom na Rome te vervoer om te deel in die lot van Huss en Hieronimus. Hy het dus deur sy handlangers probeer om Luther oor te haal om sonder ‘n vrygeleide te kom, op sy genade vertrouende. Die Hervormer het vasberade geweier om dit te doen. Nie alleer hy die dokument van die keiser se beskerming ontvang het nie, het hy voor die pouslike gesant verskyn.GS 155.1

    Versigtigheidshahve het die Katolieke besluit om te probeer om Luther deur ‘n skvn van sagmoedigheid te win. Die legaat, in sy gesprekke met hom het die grootste vriendelikheid betoon; maar hy het daarop aangedring dat Luther hom onvoorwaardelik aan die gesag van die kerk moes onderwerp, en elke punt moes toegee sonder argumente. Maar hy het die karakter van die man met wie hy te doen gehad het, onderskat. In sy antwoord het Luther sy agting vir die kerk betuig, sy begeerte vir die waarheid, sy gereedheid om alle besware te beantwoord teen sy leer, en om sy leerstellings te laat ondersoek deur sekere vooraanstaande universiteite. Terselfdertyd het hy beswaar gemaak teen die kardinaal se handelwyse om hom te versoek om te herroep sonder om sy dwaling te bewys.GS 155.2

    Al antwoord wai hy gekry het, was “Herroep, herroep!” Die Hervormer het daarop gewys dat sy stelling deur die Skrifte bewys is, en hy het vasberade verklaar dat hy nie die waarheid kon versaak nie. Die legaat, nie in staat om Luther se argumente te weerlê nie, het hom oorweldig met ‘n vloed van verwyte, bespotting, en vleiery, deurvleg met aanhalings uit die oorlewerings en gesegdes van die Vaders, sonder om die Hervormer kans te gee om te praat. Toe dit geblyk het dat die konferensie, as dit op hierdie manier voortgaan, heeltemal vrugteloos sou wees, het Luther eindelik die onwillige toestemming verkry om sy repliek skriftelik in te lewer.GS 155.3

    “Daardeur,” het hy gesê, in ‘n brief aan ‘n vriend, “is daar vir die verdrukte ‘n dubbele kans; eerstens, wat in skrif opgestel is, kan aan die oordeel van ander voorgelê word; en tweedens, het mens groter geleentheid om op die banghartigheid so nie op die gewete van ‘n aanmatigende, babbelende despoot te werk, wat mens andersins sou oorweldig met sy gebiedende taal.”-—Martyn, “The Life and Times of Luther,” bis. 271, 272.GS 156.1

    By die volgende onderhoud het Luther ‘n duidelike, bondige, en kragtige uiteensetting van sy sienswyse voorgelê, ten voile gestaaf deur ‘n menigte aanhalings uit die Skrifte. Hierdie dokument, nadat hy dit hardop gelees het, het hy aan die kardinaal oorhandig, wat dit egter veragtend opsy gegooi het, verklarende dat dit ‘n versameling ydele woorde en ontoepaslike aanhalings was. Luther, nou ten voile opgewek, het die trotse prelaat op sy eie grond ontmoet — naamlik die tradisies en die leer van die kerk, wat hy heeltemal omvergewerp het.GS 156.2

    Toe die prelaat sien dat Luther se argumente onweerlegbaar was, het hy alle selfbeheersing verloor, en woedend uitgeroep: “Herroep! of ek sal jou na Rome stuur om daar te verskyn voor die regters wat aangestel is om jou saak te ondersoek. Ek sal jou en al jou aanhangers in die ban doen, asook almal wat jou te eniger tyd gedoog, en ek sal hulle uit die kerk werp.” En eindelik het hy woedend daaraan toegevoeg, “Herroep of kom nooit weer terug nie.”— D’Aubigne, boek IV, hoojstuk 8. (Londense ed.)GS 156.3

    Die Hervormer het dadelik met sy vriende vertrek, wat ‘n duidelike verklaring was dat geen herroeping van hom kon verwag word nie. Dit was nie die bedoeling van die kardinaal gewees nie. Hy het homself gevlei dat hy Luther tot onderwerping kon dwing deur geweld. En nou, alleen agtergelaat met sy ondersteuners, het hy baie teleurgesteld van die een na die ander gekyk by die onverwagte mislukking van sy planne.GS 156.4

    Luther se pogings was met hierdie geleentheid nie sonder goeie gevolge nie. Die groot skare wat teenwoordig was, het kans gehad om die twee manne te vergelyk en die gees te oordeel wat deur hulle geopenbaar is, sowel as die krag en waarheid van hulle stellings. Hoe groot was die teenstelling nie! Die Her-vormer, eenvoudig, nederig, standvastig, het in die krag van God gestaan met die waarheid aan sy kant; die Pous se verteenwoordiger, belangrik in sy eie oë, oorheersend, trots, en onredelik, was sonder ‘n enkele argument uit die Skrifte, en tog het hy heftig uitgeroep, “Herroep, of jy sal na Rome gestuur word vir straf.”GS 158.1

    Nieteenstaande die feit dat Luther ‘n vrygeleide gehad het nie, het die Roomsgesindes nogtans planne gemaak om hom te gryp en in die gevangenis te werp. Sy vriende het by hom aangedring dat hy sonder verwyl na Wittenberg moes terugkeer en dat hy sy planne met die grootste versigtigheid bedek moes hou, want dit was nutteloos vir hom om nog langer daar te bly. Dientengevolge het hy een more vroeg, voor dagbreek, te perd van Augsburg vertrek, vergesel alleen deur ‘n gids wat deur die magistraat tot sy beskikking gestel is. Met allerhande voorgevoelens is hy stilletjies deur die stil, donker strate van die stad. Vyande, waaksaam en wreed, was daarop uit om hom te vernietig. Sou hy die strikke vryspring wat vir hom gestel is? Dit was oomblikke van angs en ernstige gebed. Hy het by ‘n klein hekkie in die stadsmuur gekom; dit was vir hom geopen en hy en sy gids is sonder hinder nis daardeur. Eenmaal buitekant die stad, het die vlugtelinge vinnig voortgegaan, en voordat die legaat verwittig is van Luther se vertrek, was laasgenoemde al buite die bereik van sy vervolgers. Satan en sy werktuie was verslaan. Die man wat hulle in hulle mag gehad het soos hulle gedink het, was weg — hy het ontsnap soos ‘n voëltjie uit die strikke van die voëlvanger.GS 158.2

    Toe hy verwittig is van Luther se ontsnapping. was die legaat oorweldig van verrassing en woede. Hy het verwag dat hy groot eer sou ontvang vir sy wysheid en standvastigheid in sy handeling met hierdie verstoorder van die kerk; maar sy hoop was verydel. Aan Frederick, die keurvors van Sakse, het hy in ‘n brief uitdrukking gegee aan sy woede, Luther bitter beskuldig, en van Frederick het hy geëis dat die Hervormer na Rome gestuur ofuit Sakse verban moes word.GS 158.3

    In sy verdediging het Luther daarop aangedring dat die legaat of die Pous sy dwalings uit die Skrifte moes bewys, en hy het die plegtigste belofte gemaak dat hy sy leerstellings sou herroep as daar kon bewys word dat hulle in stryd is met die woord van God. En hy het sy dankbaarheid aan God betuig dat hy waardig geag is om te ly vir so ‘n heilige saak.GS 159.1

    Destyds het die keurvors nie veel geweet van die hervormende leerstellings nie, maar die openhartigheid, krag, en duidelikheid van Luther se woorde het ‘n diep indruk op hom gemaak; en Frederick het besluit om as Luther se beskermer op te tree totdat dit sou bewys word dat hy verkeerd is. In antwoord op die legaat se versoek, hy het geskryf: “ ,Aangesien Doktor Martin voor jou verskyn het op Augsburg, behoort jy tevrede te wees. Ons het nie verwag dat jy sou probeer om hom te dwing om te herroep sonder om hom te oortuig van sy dwalings nie. Nie een van die geleerde manne in ons gebied het my meegedeel dat Martin se leerstellings duiwels, anti-Christelik, of ketters is nie.’ En wat meer is, die prins het geweier om Luther na Rome te stuur, of hom uit sy staat te verban.”—D’Aubigne, boek IV, hoojstuk 10.GS 159.2

    Die keurvors het besef dat daar ‘n algemene verslapping was van die bande van die maatskaplike lewe. Daar was behoefte aan ‘n groot hervormingswerk. Die ingewikkelde en duur inrigtings om misdaad te verhoed en te straf, sou onnodig wees as mense maar die eise van God erken, en gehoorsaam, asook die inspraak van ‘n verligte gewete. Hy het gesien dat Luther met hierdie doel voor oë gewerk het, en in die geheim was hy verheug dat daar ‘n beter invloed in die kerk aan die werk was.GS 159.3

    Ook het hy gesien dat Luther as professor aan die Universiteit baie suksesvol was. Nog skaars ‘n jaar het verloop vandat Luther sy stellings op die kasteelkerk geplak het, en alreeds was daar ‘n groot vermindering in die getal bedevaarders wat die kerk besoek het tydens die Fees van Alle Heiliges. Rome is beroof van aanbidders en offergawes, maar hulle plek is ingeneem deur ‘n ander klas, wat nou na Wittenberg gekom het, nie as bedevaarders om die relikwiëe te aanbid nie, maar as studente om sy sale van geleerdheid te vul. Die geskrifte van Luther het orals nuwe belangstelling in die Heilige Skrifte opgewek, en nie alleen uit alle dele van Duitsland nie, maar ook uit ander lande het studente toegestroom na die Universiteit. Jongmanne wat vir die eerste maal Wittenberg aanskou het, “het hulle hande opgehef na die hemel en God gedank omdat Hy toegelaat het dat die lig van die waarheid uit hierdie stad sou skyn soos uit Sion vanouds, en vanwaar dit versprei het tot die mees afgeleë lande.”—D’Aubigne, boek IV, hoojstuk 10.GS 159.4

    Luther was destyds nog nie heeltemal bekeer van al die dwalings van Rome nie. Maar waar hy die Heilige Skrifte vergelyk het met die pouslike dekrete en instellings, is hy met verbasing vervul. “Ek is besig om die dekrete van die pouse te lees,” het hy geskryf, “en ek weet nie of die Pous die anti-Chris self is of sy apostel nie. Christus word daarin so verkeerd voorgestel en selfs gekruisig.”— Idem, boek V, hoojstuk 1.Maar in hierdie tyd was Luther nog ‘n sterk ondersteuner van die Katolieke Kerk, en hy het geen plan gehad om homself ooit van sy gerneenskap af te skei nie.GS 160.1

    Die Hervormer se geskrifte en sy leerstellings is tot elke nasie in die Christendom versprei. Dit het versprei na Switzerland en Holland. Eksemplare van sy geskrifte het hulle weg gevind na Frankryk en Spanje. Sy geskrifte is in Engeland aangeneem as die woord van die lewe. Ook het die waarheid ver-sprei na België en Italië. Duisende is gewek uit hulle dodelike slaap tot die vreugde en hoop van ‘n geloofslewe.GS 160.2

    Rome het steeds woedender geword as gevolg van die aanvalle van Luther, en sommige van sy fanatieke teenstanders, selfs doktore in Katolieke universiteite het verklaar dat die een wat hierdie opstandige monnik om die lewe bring, sonder sonde sou wees. Eendag het ‘n vreemdeling, met ‘n pistool onder sy mantel weggesteek, die Hervormer genader en gevra waarom hy alleen rondgestap het. “Ek is in Gods hande,” het Luther geantwoord. “Hy is my sterkte en my skild. Wat kan ‘n mens aan my doen?”—D’Aubigne, boek VI, hoojstuk 2 . Toe hy hierdie w’oorde hoor het die vreemdeling bleek geword, en hy het gevlug soos iemand wat vlug uit die teenwoordigheid van hemelse engele.GS 160.3

    Rome was vasberade om Luther te vernietig; maar God was sy beskutting. Sy leerstellings is orals verkondig—“in huise en kloosters, ... in die kastele van die edelliede, in die universiteite, en in die paleise van konings;” en edele manne het orals opgestaan om hom te help in sy pogings.—Idem, boek VI, hooj-stuk 2.GS 161.1

    Dit was omtrent hierdie tyd dat Luther, die werke van Huss lesende, ontdek het dat die Boheemse Hervormer ook die groot waarheid van regverdigmaking deur geloof voorgehou het, naamlik die waarheid wat hyself voorgehou en geleer het. “Ons almal,” het hy gesê, “Paulus, Augustinus, en ek, is Hussiete sonder om dit te weet!” “God sal dit seker aan die wêreld besoek, naamlik dat die waarheid reeds ‘n eeu gelede verkondig is, maar verbrand is!”—Wylie, boek VI, hoojstuk 1.GS 161.2

    In ‘n beroep op die keiser en die edelliede van Duitsland ten behoewe van die hervorming van die Christelike geloof, het Luther aangaande die Pous geskryf: “Dit is ‘n vreeslike iets om die man wat homself noem Christus se plaasvervanger, ‘n prag te sien vertoon ongeëwenaard deur enige keiser. Is hierdie man soos die arme Jesus, of die nederige Petrus? Hy is, sê hulle, die heer van die wêreld! maar Christus, wie se plaasvervanger hy beweer om te wees, het gesê, “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.’ Kan die ryk van ‘n stedehouer verder strek as die van sy meerdere?”—D’Aubigne, boek VI, hoojstuk 3.GS 161.3

    Hy het as volg van die universiteite geskryf: “Ek is bevrees dat die universiteite die groot poorte van die hel sal word, tensy hulle ywerig werk om die Heilige Skrifte te leer en dit op die harte van die jeug te skryf. Ek raai niemand aan om sy kind te plaas waar die Skrifte nie die eerste plek kry nie. Elke inrigting waarin mense nie onophoudelik besig is met die studie van Gods woord nie moet aan verderf blootstaan.”—D’Aubigne, boek VI, hoojstuk 3.GS 161.4

    Hierdie oproep is vinnig oor die hele Duitsland versprei, en dit het ‘n magtige invloed uitgeoefen op die volk. Die hele volk is in beroering gebring, en menigtes is opgewek om hulle onder die banier van hervorming te skaar. Luther se vyande, brandende van wraaksug, het by die Pous aangedring om beslissende stappe teen hom te doen. Daar is ‘n dekreet uitgevaardig om sy leerstellings onmiddellik te veroordeel. Sestig dae is aan die Hervormer en sy aanhangers toegestaan; as hulle in daardie tyd nie wou afsweer nie, sou almal in die ban gedoen word.GS 161.5

    Dit was ‘n groot krisis vir die Hervorming. Vir eeue reeds het Rome se vonnis van ekskommunikasie magtige konings die skrik op die lyf gejaag; dit het magtige ryke met ellende en verwoesting vervul. Diegene wat daardeur getref is, is oor die algemeen met vrees en afsku beskou; hulle is afgeskei van gemeenskap met hulle medemens, en hulle is as voëlvry beskou om uitgeroei te word. Luther was nie blind vir die storm wat op die punt gestaan het om oor hom los te bars nie; maar hy het onwrikbaar gestaan, vertrouende op Christus as sy steun en skild. Met die geloof en moed van ‘n martelaar het hy geskryf: “Wat op die punt staan om te gebeur weet ek nie, ook wil ek nie weet nie. . . . Laat die slag val waar hy wil, ek is nie bevrees nie. Nie een blaartjie val, sonder die wil van ons Vader nie. Hoeveel meer sal Hy nie vir ons sorg nie! Dit is nie so vreeslik om vir die Woord te sterf nie, aangesien die Woord wat vlees geword het, self gesterf het. As ons met Hom sterf, sal ons met Hom lewe; en waar ons die weg betree wat Hy betree het voor ons, sal ons ook wees waar Hy is, en vir ewig by Hom woon.”— D’Aubigne“ boek VI, hoojstuk 9 (derde Londense ed., Walther,1840).GS 162.1

    Toe Luther die pouslike bul ontvang, het hy gesê: “Ek verag dit en val dit aan as duiwels, vals. . . . Dit is Christus Self wat daarin veroordeel word. . . . Ek verheug my om hierdie dinge te ly vir hierdie goeie saak. Alreeds voel ek groter vryheid in my hart; want nou weet ek dat die Pous die anti-Chris is, en dat sy troon die troon van Satan self is.”—D’Aubigne, boek VI, hoojstuk 9.GS 163.1

    Nogtans was die mandaat van Rome nie sonder uitwerking nie. Die gevangenis, marteling, en die swaard is wapens wat magtig is om gehoorsaamheid af te dwing. Die swakkes en bygelowiges het gesidder vir die dekreet van die Pous; en hoewel daar algemene medelyde met Luther was, het baie gevoel dat die lewe te kosbaar was om te waag vir die saak van hervorming. Dit het geskyn of alles daarop gewys het dat die Hervormer se werk binnekort sou afsluit.GS 163.2

    Maar Luther was nog onverskrokke. Rome het sy vervloekings teen hom geslinger, en die wêreld het gestaan en kyk, en nie getwyfel dat hy sou omkom of gedwing sou word om in te gee nie. Maar met verskriklike krag het hy die vonnis van veroordeling teen Rome teruggeslinger, en het hy in die openbaar sy besluit bekendgemaak om die kerk te verlaat. In teenwoordigheid van ‘n skare studente, doktore, en burgers van alle range, het Luther die pouslike bul verbrand saam met die kerkwette, die dekrete, en sekere geskrifte wat die pouslike gesag gehandhaaf het. Hy het gesê: “My vyande kon, deur my boeke te verbrand, die saak van die waarheid benadeel in die harte van die gewone mense, en kon hulle siele vernietig; daarom ook verbrand ek hulle boeke. ‘n Ernstige stryd het nou net begin. Totnogtoe het ek maar net met die Pous gespeel. Ek het hierdie werk in Gods naam begin; dit sal sonder my en deur Sy mag beëindig word.” —D’Aubigne, boek VI, hoojstuk 10.GS 163.3

    In antwoord op die beskuldigings van sy vyande wat hom die swakheid van sy saak verwyt het, het Luther gesê: “Wie weet of God my nie gekies en geroep het nie, en of hulle nie liewer hoef te vrees dat deur my te verag hulle miskien God self verag nie? Met die uittog uit Egipte het Moses alleen gestaan; tydens die regering van Koning Agab het Elia alleen gestaan; Jesaja het alleen gestaan in Jerusalem; Esegiël alleen in Babilon. . . . God kies nooit ‘n profeet of ‘n hoëpriester of enige ander groot persoonlikheid nie; gewoonlik kies Hy onaansienlike en veragte manne, en eenmaal selfs ‘n veewagter — Amos. In elke eeu moes die heiliges teen lewensgevaar, die grotes, konings, vorste, priesters, en wyse manne bestraf. . . . Ek sê nie dat ek ‘n profeet is nie; maar ek sê dat hulle behoort te vrees juis omdat ek alleen staan, en omdat hulle baie is. Hiervan is ek seker, naamlik dat die woord van God met my is en nie met hulle nie.”— D’Aubigne, boek VI, hoojstuk 10.GS 164.1

    Maar dit was nogtans nie sonder ‘n vreeslike stryd in sy eie hart dat Luther besluit het om homself eindelik af te skei van die kerk nie. Dit was in hierdie tyd dat hy geskryf het: “Daeliks voel ek meer en meer hoe moeilik dit is om ontslae te raak van die gewetensbesware wat mens van kindsbeen af ingeboesem is. O, hoeveel pyn het dit my nie veroorsaak nie, al het ek ook die Skrifte aan my kant, om myself daartoe te bring om alleen teen die Pous op te staan en hom voor te hou as die anti-Chris! Hoeveelmaal het ek myself nie met bitterheid daardie vraag gestel wat so dikwels op die lippe van die Roomsgesindes was: ,Is jy alleen wys? Is dit moontlik dat almal verkeerd is? Wat daarvan as jy self miskien verkeerd is en baie ander siele in jou dwaling meesleep wat eindelik vir ewig vervloek sal wees?’ So het die stryd in my hart en met Satan gewoed, totdat Christus, deur Sy eie onfeilbare woord, my hart versterk het teen hierdie twyfelinge.”—Martyn, “Lije and Times of Luther,” bis. 372, 373.GS 164.2

    Die Pous het Luther bedreig met ekskommunikasie as hy sou weier om af te sweer, en daardie dreigement is nou uitgevoer. ‘n Nuwe bul is uitgeskryf, waarin die Hervormer finaal uit die Roomse Kerk geban is, en waarin hy van die hemel vervloek is; in dieselfde bul ook is almal veroordeel wat sy leerstellings aangeneem het. Die groot stryd het nou in alle erns begin.GS 164.3

    Teenstand is die lot van almal wat God gebruik om waarhede te verkondig wat spesiaal van toepassing op hulle tyd is. Daar was ‘n teenwoordige waarheid in die dae van Luther—‘n Waarheid wat destyds van spesiale belang was; daar is ‘n spesiale waarheid vir die kerk vandag. God wat alle dinge doen volgens die raadsbesluite van Sy wil, plaas mense in verskillende omstandighede, en gee aan hulle pligte veral vir die tyd waarin hulle lewe en die toestande waarin hulle geplaas word. As hulle die gegewe lig op prys sou stel, sou hulle ‘n wyer blik op die waarheid kry. Maar die meerderheid begeer die waarheid vandag net so min as die pousgesindes wat Luther teengestaan het. Daar is dieselfde neiging om die teorieë en tradisies van mense te aanvaar in stede van die woord van God, net soos in vorige eeue. Diegene wat die waarheid vir hierdie tyd verkondig, moet nie verwag om met groter guns ontvang te word as die vorige hervormers nie. Die groot stryd tussen waarheid en dwaalleer, tussen Christus en Satan, sal heftiger word namate die einde van die wêreld se geskiedenis nader.GS 165.1

    Jesus het aan Sy dissipels gesê: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle julle woord ook bewaar.” Joh, 15: 19, 20. Maar aan die anderkant het die Here duidelik verklaar: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.” Lukas 6: 26. Die gees van die wêreld is vandag net so min in ooreenstemming met die gees van Christus as in vroeër tye; en diegene wat die woord van God in Sy reinheid verkondig, sal nie met groter guns ontvang word as toe nie. Die vorm van teenstand teen die waarheid mag verander, die vyandelikheid mag nie so openlik wees omdat dit listiger is; maar dieselfde vyandigheid bestaan nog, en sal aanhou bestaan tot die einde toe.GS 165.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents