Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 4—Die Waldense

    IN die duistemis wat oor die aarde gekom het gedurende die lang tydperk van pouslike opperheerskappy, kon die lig van die waarheid nie heeltemal uitgedoof word nie. In elke eeu was daar getuies vir God — manne wat in Christus geglo het as die enigste middelaar tussen God en mens, wat die Bybel beskou het as die enigste maatstaf van die lewe, en wat die ware Sabbat geheilig het. Hoeveel die wêreld aan hierdie manne verskuldig is, sal die nageslag nooit weet nie. Hulle is bestempel as ketters, hulle motiewe is verdink, hulle karakters beklad, en hulle geskrifte onderdruk, vals voorgestel, en vernietig; maar nogtans het hulle pal gestaan; en van eeu tot eeu het hulle hulle geloof in sy reinheid gehandhaaf as ‘n heilige erfdeel aan die nageslag.GS 69.1

    Die geskiedenis van Gods volk gedurende die donker eeue wat gevolg het op Rome se opperheerskappy, is in die hemel beskrywe; daar kom min daarvan voor in menslike geskrifte. Behalwe in die beskuldigings van hulle vervolgers, kan daar min spoor van hulle bestaan gevind word. Dit was die beleid van Rome om alle spore van afkeur van sy leerstellings of dekrete, uit te wis. Alles wat ketters was, of dit mense of geskrifte was, het Rome probeer vernietig. Die openbaring van twyfel, of enige vrae aangaande die gesag van die pouslike leerstellings, kon maklik die lewe kos van ryk of arm, hoog of laag. Ook het Rome getrag om alle bewys van sy wreedheid teenoor andersdinkendes, te vernietig. Pouslike dekrete het beveel dat boeke en geskrifte waarin sulke bewyse voorkom, verbrand moes word. Voor die ontdekking van die drukkuns was daar maar min boeke, en hulle was in ‘n onbestendige vorm; daarom kon die Roomsgesindes maklik hulle doel bereik.GS 69.2

    Geen kerk onder die jurisdiksie van Rome is lank ongehinderd gelaat om vryheid van gewete te geniet nie. Sodra die pousdom mag verkry het, het hy almal verpletter wat geweier het om sy opperheerskappy te erken; en die een na die ander moes die kerke buig onder sy heerskappy.GS 70.1

    Die Christelike geloof het baie vroeg in Engeland wortelgeskiet. Die evangelie wat aan die Britte in die eerste eeue verkondig is, was toe nog onbesoedel deur die Roomse afval. Yervolging deur heidense keisers, wat selfs tot daardie ver lande deurgedring het, was die enigste gawe wat die eerste kerke van die Britse Eilande van Rome ontvang het. Baie van die Christene wat weens vervolging uit Engeland moes vlug, het skuiling gevind in Skotland; daarvandaan is die waarheid geneem na Ierland, en in al hierdie lande is dit met blydskap aangeneem.GS 70.2

    Toe die Saksers Engeland binnegedring het, het die heidendom die oorhand gekry. Die veroweraars het minagtend geweier om deur hulle slawe geleer te word, en die Christene moes in die berge en die heiveld gaan skuil. Maar die lig, vir ‘n tyd verberg, het aangehou skyn. ‘n Eeu later, in Skotland, het dit helder opgevlam en tot verre lande geskyn. Uit Ierland het die vrome Columba en sy medewerkers gekom; en nadat hulle die verstrooide gelowiges op die eensame eiland Iona vergader het, het hulle dit die middelpunt van hulle sendingwerk gemaak. Onder hierdie evangeliste was daar een wat die Bybelse Sabbat gehou het, en hierdie waarheid is dus aan die mense bekendgemaak. Op Iona is daar ‘n skool gestig vanwaar sendelinge uitgestuur is, nie alleen na Skotland en Engeland nie, maar ook na Duitsland, Switserland, en Italië.GS 70.3

    Maar Rome het sy oë op Brittanje gehad, en het besluit om daardie land te onderwerp. In die sesde eeu het sy sendelinge onderneem om die heidense Saksers te bekeer. Hulle is welwillend ontvang deur die trotse barbare, en hulle het duisende oorgehaal om die Roomse geloof te bely. Xamate die werk vooruitgegaan het, het die pouslike leiers en hulle bekeerlinge in aanraking gekom met die eerste Christene. Die teenstelling was opvallend. Laasgenoemdes was eenvoudig, en nederig; en hulle karakter, leer, en gewoontes was volgens die Skrifte, terwyl eersgenoemdes die bygeloof, prag, en verwaandheid van die pousdom geopenbaar het. Die afgesant van Rome het geëis dat hierdie Christelike kerk die gesag moes erken van die opperpriester. Hierop het die Britte gedwee geantwoord dat hulle graag alle mense wou liefhê, maar dat die Pous nie geregtig was op opperheerskappy in die kerk nie, en dat hulle aan hom slegs die onderwerping kon gee waarop elke navolger van Christus geregtig was. Herhaaldelike pogings is gemaak om hulle gehoorsaamheid aan Rome te verkry; maar hierdie sagmoedige Christene, verbaas oor die hoogmoed van die afgesante, het volgehou dat hulle geen ander meester geken het behalwe Christus nie. Toe is die ware gees van die pousdom geopenbaar. Die Roomse leier het gesê: “As julle nie broeders wil ontvang wat vrede aan julle bring nie, sal julle vyande ontvang wat oorlog bring. As julle nie met ons wil saamwerk om die weg van die lewe aan die Saksers te openbaar nie, sal julle van hulle die doodslag ontvang.”— D’Aubigne, “History of the Reformation oj the Sixteenth Century,” b. 17, hoolstuk 2. Dit was nie sommer ydele bedreigings nie. Oorlog, lis, en bedrog is gebruik teen hierdie getuies vir ‘n Bybelse geloof, totdat die kerke in Engeland vernietig of gedwing is om hulle te onderwerp aan die gesag van die Pous.GS 71.1

    In lande buite die jurisdiksie van Rome het daar vir baie eeue groepe Christene bestaan wat byna geheel vry was van pouslike verdorwenheid. Hulle was omring deur heidene. en met verloop van die eeue het hulle van die dwaalleer oorgeneem; maar hulle het volgehou om die Bybel te beskou as die enigste maatstaf van geloof, en hulle het vasgehou aan baie van die waarhede daarvan. Hierdie Christene het geglo aan die ewigdurendheid van die wet van God, en hulle het die Sabbat van die vierde gebod gehou. Kerke wat hierdie geloof en praktyk gehandhaaf het, het bestaan in Abessinië en onder die Armeniërs in Asië.GS 71.2

    Onder diegene wat die uitbreiding van die pouslike mag weerstaan het, het die Waldense vooraan gestaan. In elke land waar die pousdom sy setel gevestig het, was valsheid en korrupsie op standvastige wyse weerstaan. Yir eeue het die kerke van Piedmont hulle onafhanklikheid gehandhaaf; maar eindelik het die tyd aangebreek toe Rome aangedring het op hulle onderwerping. Na vrugtelose pogings teen sy tirannie, het die leiers van hierdie kerke onwillig die oppergesag van die mag erken waaraan die hele wêreld geskyn het om hulde te betoon. Daar was sommige, egter, wat geweier het om te buig onder die gesag van pous of prelaat. Hulle was vasberade om hulle getrouheid aan God te handhaaf, en om die reinheid en eenvoud van hulle geloof te bewaar. Daar het ‘n skeiding plaasgevind. Diegene wat vasgehou het aan die ou geloof het hulle nou onttrek; sommige, het vaarwel gesê aan hulle geboorteland in die Alpe, en hulle het die banier van die waarheid in vreemde lande opgehef; ander het gaan skuiling soek in afgeleë valleie en rotsvestings in die berge, en daar het hulle hulle vryheid gehandhaaf om God te dien.GS 72.1

    Die geloof wat vir baie eeue deur die Waldensiese Christene bewaar en geleer is, het ‘n groot teenstelling gevorm met die valse leerstellings deur Rome verkondig. Hulle geloof was gegrond op die geskrewe woord van God, en die ware stelsel van die Christendom. Maar hierdie nederige landbouers, daar in hulle verborge skuilhoeke, afgesluit van die wêreld, besig met hulle daelikse werk, met hulle kuddes en hulle wingerde, het nie vanself tot die waarheid gekom wat die dogmas en ketterye van die afvallige kerk weerlê het nie. Hulle geloof was nie iets wat hulle nuut ontvang het nie; dit was ‘n erfdeel van hulle vaders. Hulle het gestry vir die geloof van die apostoliese kerk, naamlik ..die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” Judas 3. “Die kerk in die woestyn,” en nie die trotse hiërargie wat op die troon in die hoofstad van die wêreld gesit het nie, was die ware kerk van Christus, die bewaarders van die skatte van die waarheid wat God toevertrou het aan Sy volk om aan die wêreld te gee.GS 72.2

    Onder die vernaamste oorsake wat gelei het tot die skeiding tussen die ware kerk en die kerk van Rome, was die haat wat laasgenoemde gekoester het teenoor die Sabbat van die Bybel. Soos in die profesie voorspel is, het die pouslike mag die waarheid neergewerp; die wet van God is in die stof vertrap, terwyl die oorlewerings en gebruike van mense verhef is. Die kerke wat onder die heerskappy van die pousdom gestaan het, is vroeg gedwing om Sondag as heilige dag te vereer. In die dwaling en bygeloof van daardie tyd, het vele, selfs onder die getroue volk van God, so verward geraak dat hulle, terwyl hulle die Sabbat gevier het, nie op Sondag gewerk het nie. Maar dit het die pouslike leiers nie tevrede gestel nie. Hulle het geëis dat Sondag nie alleen geheilig moet word nie, maar dat die Sabbat verontheilig moes word; en in die sterkste taal het hulle diegene veroordeel wat dit gedurf het om die Sabbat te eerbiedig. Dit was alleen deur weg te vlug van die mag van Rome dat hulle Gods wet in vrede kon gehoorsaam.GS 73.1

    Die Waldense was onder die eerste volke van Europa wat in besit was van ‘n vertaling van die Heilige Skrifte. (Sien Aanhangsei.) Eeue voor die Reformasie het hulle ‘n handskrif van die Bybel gehad in hulle eie taal. Hulle het die onvervalste waarheid gehad, en dit het hulle die spesiale voorwerp gemaak van haat en vervolging. Hulle het verklaar dat die kerk van Rome die afvallige Babilon van Openbaring was, en met lewensgevaar het hulle sy verdorwenheid weerstaan. Hoewel sommige, onderdruk deur lang vervolging, hulle geloof gekompromitteer het, en bietjiesgewyse die onderskeidende beginsels daarvan versaak het, het ander vasgehou aan die waarheid. Gedurende die eeue van duistemis en afval, was daar sommige onder die Waldense wat die oppermag van Rome geloën het, wat afgodeen beeldediens verwerp het, en wat die ware Sabbat gehou het. Onder die kwaaiste storms van teenstand het hulle hulle geloof gehandhaaf. Ofskoon hulle deur die spies van die Savojaarde deursteek is, en deur die Roomse brandstapel verbrand is, het hulle onwrikbaar gestaan vir Gods woord en Sy eer.GS 73.2

    Agter die skanse van hoë berge — in al die eeue die toevlugsoord van die vervolgdes en verdruktes — het die Waldense ‘n wegkruipplek gevind. Hier is die lig van die waarheid te midde van die duistemis van die middeleeue brandende gehou. Hier, vir ‘n duisend jaar, het getuies vir die waarheid hulle outydse geloof bewaar.GS 75.1

    God het vir Sy volk ‘n ontsagwekkende heiligdom voorsien wat gepas het by die magtige waarhede wat Hy aan hulle toevertrou het. Vir hierdie getroue bannelinge was die berge ‘n sinnebeeld van die onveranderlike geregtigheid van Jehova. Hulle het hulle kinders gewys op die hoë bergtoppe in hulle onveranderlike majesteit, en van Hom gepraat by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie, en wie se woord net so ewigdurend as die ewige berge is. God het die berge gegrondves, en hulle met krag omgord; geen arm, behalwe die van die Ewige, kan hulle uit hulle plekke versit nie. Op dieselfde wyse het Hy Sy wet bevestig. die grondslag van Sy regering in die hemel en op die aarde. Die arm van die mens mag sy medemens bykom en hom vernietig; maar net so min as hulle die berge kan losskeur en in die see werp, kan hulle een gebod van die wet van Jehova verander of een van Sy beloftes kragteloos maak aan diegene wat Sy wil doen. In hulle getrouheid aan Sy wet, moet Gods diensknegte net so onwrikbaar wees as die onveranderlike berge.GS 75.2

    Die berge wat hulle valleie omgord het, het gedurig aan hulle getuig van Gods skeppende krag, en dit het hulle steeds verseker van Sy bewarende sorg. Daardie pelgrims het geleer om hierdie stille sinnebeelde van Jehova se teenwoordigheid lief te hê. Hulle het nie gekla oor die hardheid van hulle lot nie; daar, in die eensaamheid van die berge, was hulle nooit eensaam nie. Hulle het God gedank omdat Hy vir hulle ‘n toevlugsoord voorsien het van die wraak en die wreedheid van die mens. Hulle het hulle verbly in hulle vryheid om Hom te aanbid. Dikwels, wanneer hulle deur hulle vyande vervolg is, was die berge vir hulle n veilige beskutting. Van menige hoë krans het hulle God geloof, en die leers van Rome kon nie hulle dankliedere stilmaak nie.GS 75.3

    Rein, eenvoudig, en vurig was die vroomheid van hierdie navolgers van Christus. Hulle het die beginsels van die waarheid gewaardeer meer as huise en lande, vriende, bloedverwante, en selfs as die lewe. Hulle het emstige pogings gemaak om hierdie beginsels op die harte van die jeug te druk. Van hulle vroegste jeug af is die kinders onderrig in die Skrifte, en geleer aangaande die heilige aansprake van Gods wet. Daar was maar min eksemplare van die Bybel; daarom het hulle die kosbare woorde uit die hoof geleer. Baie van hulle was in staat om groot gedeeltes van sowel die Nuwe as die Ou Testament op te sê. Die verhewe natuurtonele, asook die seëninge van die alledaagse lewe het hulle aan God laat dink. Kinders is geleer om met dankbaarheid aan God te dink as die gewer van elke guns en elke gerief.GS 76.1

    Ouers, teer en liefdevol soos hulle was, het hulle kinders te verstandig liefgehad om hulle gewoond te maak aan ‘n lewe van selfbevrediging. Voor hulle was ‘n lewe van beproewing en ontbering — miskien ‘n martelaarsdood. Van kindsbeen is hulle geleer om swaar te kry en onderdanig te wees, maar om nogtans vir hulleself te dink en te handel. Baie vroeg is hulle geleer om verantwoordelikheid te dra, om versigtig te wees in hulle woorde, en om die wysheid van stilswye te besef. Net een onverstandige woord gespreek in die teenwoordigheid van hulle vyande, mag nie alleen die lewe van die spreker in gevaar bring nie, maar ook die lewens van honderde van sy broeders; want net soos wolwe wat op hulle prooi jagmaak, het die vyande van die waarheid diegene agtervolg wat gedurf het om aanspraak te maak op geloofsvryheid.GS 76.2

    Die Waldense het hulle wêreldlike voorspoed opgeoffer vir die waarheid, en met volhardende geduld het hulle vir hulle daelikse brood gewerk. Elke stukkie beboubare grond tussen die berge is sorgvuldig bewerk; die valleie, en die mindervrugbare berghellings moes hulle oeste oplewer. Spaarsaamheid en strenge selfverloëning was deel van die opvoeding wat die kinders as hulle enigste erfdeel ontvang het. Hulle is geleer dat dit Gods plan was dat daar dissipline in die lewe moet wees, en dat hulle alleen deur persoonlike arbeid. bedagsaamheid, sorgsaamheid, en geloof kon voorsien in die behoeftes van die lewe. Die proses was swaar en vermoeiend, maar dit was heilsaam, en net wat die mens in sy gevalle toestand nodig gehad het, het die skool van God vir hom voorsien in sy opvoeding en ontwikkeling. Terwyl die jeug gewendgemaak is aan werk en swaarheid, was die ontwikkeling van die verstand nie verwaarloos nie. Hulle is geleer dat hulle kragte aan God behoort en dat alles ontwikkel en verbeter moes word vir Sy diens.GS 76.3

    Die gemeentes van die Vaudois, in hulle eenvoud en reinheid. was soos die kerk in apostoliese tye. Die oppergesag van pous en prelaat verwerpende, het hulle aan die Bybel vasgehou as die hoogste en onfeilbare gesag. Hulle leraars, anders as die trotse priesters van Rome, het die voorbeeld van hulle Meester gevolg, wat gekom het, “nie om gedien te word nie, maar om te dien.” Hulle het die kudde van God gevoed, en hulle gelei na die grasige weivelde en lewende fonteine van Sy heilige woord. Ver weg van menslike prag en hoogmoed, het die mense vergader, nie in pragtige kerke of grootse katedrale nie, maar in die skaduwees onder die berge, in die Alpe-valleie, of, in tye van gevaar, in die een of ander rotsvesting om te luister na die woorde van waarheid verkondig deur die diensknegte van Christus. Nie alleen het die leraars die evangelie verkondig nie, maar hulle het die siekes besoek, die kinders gekatkiseer, die dwalendes vermaan, en hulle het hulle beywer om geskille op te los en eensgesindheid en broederliefde te bevorder. In tye van vrede is hulle onderhou deur die vrywillige offergawes van die volk, maar, soos Paulus die tentmaker, het elkeen die een of ander ambag of beroep geleer waardeur hy, indien nodig, ‘n eie bestaan kon maak.GS 77.1

    Die jongmense is onderrig deur hulle leraars. Terwyl daar aandag geskenk is aan ‘n algemene opvoeding, is die Bybel veral gestudeer. Die Evangelies van Mattheus en Johannes is uit die hoof geleer, asook baie van die Sendbriewe. Ook is hulle gebruik om afskrifte van die Skrifte te maak. Sommige van die handskrifte het die hele Bybel bevat, terwyl ander net sekere dele bevat het, waarby eenvoudige verklarings van die teks gevoeg is deur diegene wat bekwaam was om die Skrifte uit te lê. Op hierdie manier is die skatte van die waarheid wat solank bedek was deur diegene wat hulleself bo God wou verhef het, te voorskyn gebring.GS 77.2

    Deur geduldige, onvermoeide arbeid, soms in die diep, donker spelonke van die aarde, by die lig van fakkels, is die Heilige Skrifte uitgeskryf, teks vir teks, hoofstuk vir hoofstuk. Op hierdie manier het die werk voortgegaan en het die geopenbaarde wil van God geblink soos louter goud; en hoeveel helderder, duideliker, en heerliker dit geblink het weens die beproewings wat vir die ontwil daarvan gely is, het alleen diegene besef wat die werk gedoen het. Engele uit die hemel het by hierdie getroue werkers gestaan.GS 78.1

    Satan het die Roomse priesters en prelate aangehits om die Woord van waarheid te bedek onder die vuilis van dwaalleer, kettery, en bygeloof; maar op die wonderbaarlikste manier is dit onbesoedeld bewaar in die donker eeue. Dit het die stempel gedra, nie van die mens nie, maar van God. Mense was onvermoeid in hulle pogings om die duidelike, eenvoudige betekenis van die Skrifte te verduister, en om hulle hulle eie getuienis te laat weerspreek; maar soos die ark op die onstuimige waters, het die woord van God die storms wat getrag het om dit te vernietig, getrotseer. Soos ‘n myn ryk goud en silwer are het wat onder die oppervlakte bedek is, sodat mens moet indelf as jy die skatte wil ontbloot, net so ook het die Heilige Skrifte skatte van waarheid wat geopenbaar sal word alleen aan die ernstige, nederige, biddende soeker. God het die Bybel bestem as ‘n lesboek vir die hele mensheid in sy kinderjare, jeug, en manlike jare, en om gedurig ondersoek te word. Hy het Sy woord aan mense gegee as ‘n openbaring van Homself. Elke nuwe waarheid wat gesien word, is ‘n nuwe openbaring van die karakter van die Skrywer. Die ondersoek van die Skrifte is die deur God ingestelde middel om die mens in nouer aanraking met Sy Skepper te bring, en om hom ‘n duideliker begrip van Sy wil te gee. Dit is die omgangsmedium tussen God en mens.GS 78.2

    Hoewel die Waldense die vrees van die Here beskou het as die beginsel van wysheid, was hulle nie blind vir die belangrikheid van aanraking met die wêreld en ‘n kennis van mense en die lewe om die verstand te ontwikkel en die begripsvermoë te versterk nie. Van hulle skole in die berge is sommige van die jongmense gestuur na die opvoedingsinrigtings van Frankryk of Italië, waar daar beter geriewe was vir studie, bepeinsing, en waarneming, as in hulle geboorteland in die Alpe. Die jongmense wat op hierdie manier uitgestuur is, is blootgestel aan versoeking; hulle het sonde en losbandigheid gesien, en hulle het in aanraking met Satan se listige werktuie gekom wat aan hulle die listigste ketterye en die gevaarlikste bedrog opgedring het. Maar hulle opvoeding in hulle kinderjare was van so ‘n aard dat hulle hierteen gewaarsku is.GS 78.3

    In die skole waarheen hulle gestuur is, moes hulle niemand in hulle vertroue neem nie. In hulle klere was die bêreplek vir hulle grootste skat, naamlik die kosbare afskrifte van die Skrifte. Hierdie afskrifte, die vrug van maande en jare se werk, het hulle saam met hulle gedra, en orals waar hulle dit kon doen sonder om agterdog te verwek, het hulle versigtig ‘n deel daarvan in die weg geplaas van harte wat oop was om die waarheid te ontvang. Van kindsbeen af is die Waldensiese jeug opgelei met hierdie doel voor oë; hulle het hulle werk verstaan en getrou gedoen. In hierdie opvoedingsinrigtings is daar bekeerlinge tot die waarheid gewen, en dikwels is daar bevind dat die beginsels van die waarheid die hele skool deurtrek het; en die pouslike leiers kon nie, selfs deur die sorgvuldigste ondersoek, die bron van die sogenaamde verderflike kettery opspoor nie.GS 79.1

    Die Gees van Christus is ‘n sendinggees. Die eerste begeerte van ‘n wedergebore hart is om ook ander tot die Heiland te bring. Dit was die gees van die Vaudois Christene. Hulle het gevoel dat God meer van hulle verwag het as om net die waarheid rein te bewaar in hulle eie kerke, en dat daar ‘n plegtige verantwoordelikheid op hulle gerus het om hulle lig te laat skyn op diegene wat in duistemis was. Deur die groot krag van Gods woord het hulle getrag om die slawerny te verbreek wat Rome ingestel het.GS 79.2

    Die Yaudois predikante is opgelei as sendelinge; enigeen wat predikant wou word, moes eers ondervinding opdoen as evangelis. Elkeen moes drie jaar in die sendingveld dien voordat hy ‘n gemeente tuis kon bedien. Hierdie diens, wat sommer uit die staanspoor opoffering en selfverloëning gekos het, was ‘n geskikte voorbereiding vir die herderslewe in daardie dae van beproewing. Die jongmense wat tot die heilige amp georden is, het ‘n lewe tegemoetgegaan, nie van aardse rykdom en heerlikheid nie, maar van arbeid, gevaar, en moontlik ‘n marteldood. Die sendelinge het twee-twee uitgegaan, net soos Jesus Sy dissipels uitgestuur het. Elke jongman was vergesel van ‘n ouer man met ondervinding; die jongman het onder leiding gestaan van sy metgesel wat verantwoordelik was vir sy opleiding, en aan wie hy gehoorsaamheid verskuldig was. Hierdie medewerkers was nie altyd saam nie, maar hulle het dikwels saamgekom vir gebed en raadpleging, en sodoende het hulle mekaar se geloof versterk.GS 79.3

    Om die doel van hulle sending bekend te maak, sou mislukking beteken het; daarom het hulle die ware aard van hulle werk sorgvuldig bedek. Elke predikant is opgelei in die een of ander amp of beroep, en die sendelinge het hulle werk voortgesit onder die dekmantel van hulle aardse beroep. Gewoonlik het hulle uitgegaan as handelaars of smouse. “Hulle het sy, juweliersware en ander artikels — dinge wat nie maklik verkrybaar was nie — verkoop; waar hulle as sendelinge verag sou gewees het, is hulle as handelaars verwelkom.”—Wylie, b. 1, hoofstuk 7. Maar al die tyd was hulle harte tot God opgehef om wysheid hoe om ‘n skat veel kosteliker as goud en edelgesteentes aan die mense voor te stel. Hulle het heimelik eksemplare van die Bybel saamgedra —of dele daarvan; en waar die geleentheid hom voorgedoen het, het hulle hierdie geskrifte aan die mense voorgestel. Op hierdie manier is daar dikwels belangstelling opgewek om Gods woord te lees, en aan diegene wat dit wou hê, is daar geredelik ‘n deel van die Skrifte gegee.GS 80.1

    Die werk van hierdie sendelinge het in die vlaktes aan die voet van hulle eie berge begin, waarvandaan dit ver uitgebrei het. Kaalvoet en met klere van growwe materiaal net soos die van hulle Meester, het hulle deur die groot stede gereis en verre lande binnegedring. Orals het hulle die kosbare saad gesaai. Kerke het in hulle pad verrys, en die bloed van martelare het getuig vir die waarheid. In die dag van die Here sal ‘n ryk oes van siele ingesamel word as gevolg van die arbeid van hierdie getroue manne. Stil en bedek, het die woord van God voortgegaan, en dit is met blydskap ontvang in die huise en harte van die mense.GS 80.2

    Vir die Waldense was die Skrifte nie slegs ‘n beskrywing van Gods handelinge met die mense in die verlede en ‘n openbaring van pligte vir die hede nie, maar dit was ook ‘n openbaring van die gevare en heerlikhede van die toekoms. Hulle het geglo dat die einde van alle dinge nie meer ver was nie; en namate hulle die Bybel biddend en met trane ondersoek het, het hulle nog meer onder die indruk gekom van sy kosbare gesegdes, en van hulle plig om die reddende waarhede daarvan aan ander bekend te maak. In die heilige bladsye het hulle die verlossingsplan duidelik gesien, en hulle het vertroosting, hoop, en vrede gevind deur geloof in Jesus. Namate die lig hulle verstand verlig en hulle harte bly gemaak het, het hulle verlang om die strale daarvan te laat skyn op diegene wat in die duistemis van pouslike dwaalleer verkeer het.GS 81.1

    Hulle het gesien dat menigtes tevergeefs probeer het om onder leiding van pous en priesters vergifnis te verkry, deur hulle liggame te pynig vir die sondes van hulle siele. Geleer om op hulle goeie werke te vertrou om hulle te red, was hulle oë gedurig op hulleself gevestig en het hulle aan hulle sondige toestand gedink; hulle het hulleself gesien, oorgegee aan die wraak van God; hulle het siel en liggaam gekwel maar geen verligting verkry nie. Op hierdie manier is ernstige siele gebind deur die leerstellings van Rome. Duisende het vriende en bloedverwante verlaat en hulle lewens in kloosterselle deurgebring. Deur gedurig te vas, deur wrede pynigings, deur middernagtelike gebede en vir ure op die koue, klam stene van hulle treurige verblyfplek te lê, deur lang bedevaarte, deur vernederende boetedoening en verskriklike marteling, het duisende tevergeefs getrag om gewetensvrede te verkry. Temeergedruk deur ‘n besef van sonde, en agtervolg deur ‘n vrees van Gods vergeldende wraak, het vele voortgely totdat hulle uitgeputte liggame beswyk het, en sonder een ligstraal en met geen hoop het hulle weggesink in die graf.GS 81.2

    Die Waldense het verlang om aan hierdie hongerige siele die brood van die lewe te gee, om aan hulle die boodskappe van vrede en die beloftes van God te openbaar, en om hulle op Christus te wys as hulle enigste hoop op verlossing. Hulle het die leerstelling as vals beskou dat mens deur goeie werke versoening kon doen vir die oortreding van Gods wet. Vertroue op menslike verdienste bedek die oneindige liefde van Christus. Jesus het as slagoffer vir die mens gesterf omdat die gevalle mensdom niks kon doen om hulle by God aan te beveel nie. Die verdienste van ‘n gekruisigde en verrese Heiland is die grondslag van die Christen se geloof. Die siel se afhanklikheid van Christus is net so werklik, en sy verbinding met Hom moet net so innig wees as die van ‘n ledemaat aan die liggaam of ‘n rank aan die wynstok.GS 81.3

    Die leerstellings van pouse en priesters het die mense daartoe gebring om die karakter van God, en selfs van Christus, te beskou as stroef, duister, en afstotend. Die Heiland is voorgestel as iemand wat so min medelyde met die mens in sy gevalle toestand het, dat die tussenkoms van priesters en heiliges ingeroep moet word. Diegene wie se harte verlig is deur die woord van God het verlang om hierdie siele op Jesus te wys as hulle ontfermende, liefdevolle Verlosser, wat met uitgestrekte arms staan en almal uitnooi om na Hom toe te kom met hulle sondelas, hulle sorge en vermoeienis. Hulle het verlang om die struikelblokke uit die weg te ruim wat Satan opgehoop het om te belet dat mense die beloftes sou sien om regstreeks na God te kom, hulle sondes te bely, en om vergifnis en vrede te ontvang.GS 82.1

    Met gretigheid het die Vaudois-sendeling die kosbare waarhede van die evangelie geopenbaar aan soekende siele. Versigtig het hy die geskrewe dele van die Skrifte te voorskyn gehaal. Dit was sy grootste vreugde om hoop te bring aan die emstige, sondige siel, wat slegs ‘n God van wraak gesien het, wagtende om geregtigheid te laat geskied. Met bewende lippe en betraande oë het hy, dikwels op sy knieë, aan sy broeders die heerlike beloftes gewys wat die sondaar se enigste hoop openbaar. Op hierdie manier het die lig van die waarheid deurgedring tot menige donker hart, en die wolk van duistemis is verdryf, totdat die Son van Geregtigheid in daardie hart geskyn het met genesing in sy strale. Dit het dikwels gebeur dat ‘n sekere skrifgedeelte oor en oor gelees is, omdat die hoorder dit begeer het om homself te verseker dat hy reg gehoor het. Veral moes die volgende woorde herhaal word: “Die bloed van Jesus Christus, Sy Seun, reinig ons van alle sonde.” 1 Joh. 1: 7. “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Joh. 3: 14, 15.GS 82.2

    Baie se oë is geopen ten opsigte van die aansprake van Rome. Hulle het gesien hoe nutteloos die middelaarskap van mense of engele is ten behoewe van die sondaar. Namate die ware lig in hulle harte opgegaan het, het hulle in vreugde uitgeroep: “Christus is my priester; Sy bloed is my offerande; Sy altaar is my biegstoel.” Hulle het hulleself heeltemal op die verdienstes van Jesus verlaat, en die woorde herhaal, “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.” Heb. 11:6. “Want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Hand. 4: 12.GS 83.1

    Die versekering van die Heiland se liefde was te veel vir sommige van hierdie arme, geteisterde siele om te besef. So groot was die verligting wat dit gebring het, so ‘n vloed van lig het op hulle geskyn, dat dit geskyn het asof hulle na die hemel gevoer is. Vertrouelik is hulle hande in die hand van Christus gelê; en hulle voete gevestig op die Rots van die Eeue. Alle vrees vir die dood was weg. Nou kon hulle die gevangenis en die brandstapel begeer as hulle daardeur die naam van hulle Verlosser kon vereer.GS 83.2

    Op hierdie manier is die woord van God in geheime plekke tevoorskyn gehaal en gelees, soms aan ‘n enkele siel, en soms aan ‘n groep wat verlang het na lig en waarheid. Dikwels is die hele nag op hierdie manier deurgebring. So groot was die verbasing en verwondering van die hoorders soms, dat die boodskapper van genade dikwels verplig is om op te hou lees totdat die verstand die boodskap van verlossing kon vat. Dikwels is die volgende vrae gestel: “Sal God regtig my offerande aanneem? Sal Hy teenoor my glimlag? Sal Hy my vergewe?” Op hierdie vrae is die volgende antwoorde gelees: “Kom na My toe. almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Matt. 11: 28.GS 83.3

    Geloof het die belofte aangeneem, en die volgende blye woorde is gehoor: “Nie meer lang bedevaarte om te maak nie; nie meer vermoeiende reise na heilige grafte nie. Ek kan na Jesus kom net soos ek is, sondig en onheilig, en Hy sal nie die boetvaardige gebed verag nie. Jou sondes is vergewe.’ Myne, ja ook myne, kan vergeef word!”GS 83.4

    ‘n Gloed van heilige vreugde het die hart vervul, en die naam van Jesus is grootgemaak deur lof en danksegging. Daardie gelukkige siele is na hulle huise terug om die lig te versprei; en om so goed as hulle kon hulle nuwe ervaring aan ander te vertel, naamlik dat hulle die ware en lewende Weg gevind het. Daar was ‘n wonderlike en plegtige krag in die woord van die Skrif wat regstreeks tot die harte gespreek het van diegene wat na die waarheid verlang het. Dit was die stem van God, en dit het diegene wat dit gehoor het, oortuig.GS 84.1

    Die boodskapper van waarheid het sy weg verder voortgesit, maar sy nederige voorkoms, sy opregtheid, sy erns en sy vurigheid, is dinge wat dikwels oor gepraat is. In baie gevalle het sy hoorders hom nooit gevra vanwaar hy gekom het en waarheen sy reis was nie. Hulle was so oorweldig, ten eerste met verbasing, en later met vreugde en dankbaarheid, dat hulle nooit daaraan gedink het om hom te ondervra nie. Toe hy gevra is om hulle te vergesel na hulle huise, het hy geantwoord dat hy die verlore skape van die kudde moes opsoek. Sou hy ‘n engel van die hemel wees? het hulle gevra.GS 84.2

    In baie gevalle is die boodskapper van waarheid nie meer gesien nie. Hy het na ander lande gegaan, of hy het sy lewe geslyt in die een of ander onbekende gevangenis, of miskien het sy gebeente gelê waar hy getuig het vir die waarheid. Maar die woorde wat hy agtergelaat het, kon nie vernietig word nie. Hulle het hulle werk in die harte van mense voortgesit; en hulle geseënde uitwerking sal in die oordeelsdag eers ten voile bekend word.GS 84.3

    Die Waldensiese sendelinge het die koninkryk van Satan binnegedring, en die magte van duistemis is opgewek tot groter waaksaamheid. Elke poging ter bevordering van die waarheid is deur die vors van boosheid gadegeslaan, en hy het die vrees van sy werktuie opgewek. Die pouslike leiers het ‘n teken van gevaar vir hulle saak gesien in die werk van hierdie nederige rondreisers. As hulle die lig van die waarheid sou toelaat om onverhinderd te skyn, sou dit die dik wolke van dwalleer wat die volk omhul het, verdryf; dit sou die harte van mense vestig op God alleen, en dit sou eindelik die oppermagtigheid van Rome vernietig.GS 84.4

    Die bestaan van hierdie mense, wat vasgehou het aan die geloof van die vroeë kerk, was ‘n gedurige getuienis teen Rome se afval. en daarom het dit die bitterste haat en felste vervolging verwek. Hulle weiering om die Skrifte op te gee was ook ‘n misdaad wat Rome nie kon gedoog nie. Hy het besluit om hulle van die aarde te verdelg. Nou het die vreeslikste kruistogte begin teen Gods volk in hulle bergwonings. Inkwisiteurs is op hulle spoor gesit, en die moordtoneel van die onskuldige Abel deur die moorddadige Kain is dikwels herhaal.GS 85.1

    Keer op keer is hulle vrugbare lande verwoes, en hulle woonhuise en kerke vernietig, sodat waar daar eers vrugbare landerye en die wonings van die onskuldige, hardwerkende mense gesien is, daar net ‘n woesteny oorgebly het. Soos ‘n verskeurende dier wat steeds wreder word as hy bloed proe, is die woede van pousgesindes steeds aangevuur deur die lyding van hulle slagoffers. Baie van hierdie getuies vir die reine geloof is oor die berge verjaag en in die valleie agtervolg waar hulle weggekruip het, of in die bosse of tussen die rotse.GS 85.2

    Geen beskuldiging kon ingebring word nie teen die sedelike karakter van hierdie mense wat voëlvry verklaar is. Selfs hulle vyande het verklaar dat hulle vredeliewend, stil, en vroom mense was. Hulle groot misdaad was dat hulle geweier het om God te aanbid volgens die wil van die Pous. Vir hierdie misdaad, is elke vernedering, belediging, en marteling wat deur mense of duiwels kon uitgedink word, op hulle gehoop.GS 86.1

    Toe Rome eentyd besluit het om hierdie gehate sekte te verdelg, het die Pous ‘n bul uitgevaardig wat hulle veroordeel het as ketters, en hulle aan slagting oorgelewer het. (Sien Aanhangsei.) Hulle is nie beskuldig dat hulle lui, oneerlik, of wanordelik was nie; maar daar is aangevoer dat hulle ‘n skyn van vroomheid en heiligheid gehad het, wat “die skape van die ware kudde” verlei het. Daarom het die Pous beveel dat “hierdie kwaadwillige en afskuwelike sekte van kwaaddoeners,” as hulle “weier om hulle geloof af te sweer, vergruis moes word soos giftige slange.”— Wylie, b. 16, hoojstuk 1. Het hierdie trotse potentaat verwag om hierdie woorde ooit weer te hoor? Het hy geweet dat hulle in die boeke van die hemel opgeskryf is, om voor hom gebring te word in die oordeel? “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My” het Jesus gesê, “het julle dit aan My gedoen.” Matt. 25: 40.GS 86.2

    Hierdie bul het ‘n beroep gedoen op al die lede van die kerk om deel te neem aan ‘n kruistog teen die ketters. As aansporing vir die mense om aan hierdie wrede werk deel te neem, het die bul “almal vrygespreek van kerklike straf en marteling, spesiaal of algemeen; dit het almal wat aangesluit het by die kruistog vrygestel van enige eed wat hulle geneem het; dit het hulle die wettige eienaars gemaak van alle goed wat hulle op onwettige wyse verkry het; en dit het die kwytskelding van alle sondes belowe aan diegene wat enige ketter doodmaak. Dit het alle kontrakte wat aangegaan is ten gunste van die Yaudois nietig verklaar; hulle diensknegte is gelas om hulle te verlaat, alle mense is belet om hulle enige bystand te verleen, en alle persone is gemagtig om hulle besittings af te neem.”—Wylie, b. 16, hoofstuk 1. Hierdie dokument het die gees agter alles duidelik geopenbaar. Dit was die gebrul van die draak, en nie die stem van Christus, wat daarin gehoor is nie.GS 86.3

    Die pouslike leiers wou nie hulle karakters in ooreenstemming bring met die maatstaf van Gods wet nie, maar hulle het hulle eie maatstaf opgestel, en hulle was vasbeslote om almal te dwing om daarvolgens te lewe omdat Rome dit so gewil het. Die verskriklikste tragedies is afgespeel. Yerdorwe en godslasterende priesters en pouse het die werk gedoen wat Satan aan hulle gegee het. Genade het geen plek in hulle natuur gehad nie. Dieselfde gees wat Christus gekruisig en Sy apostels om die lewe gebring het; dieselfde gees wat die bloeddorstige Nero besiel het in sy tyd, was nou aan die werk om diegene uit te roei wat God liefgehad het.GS 87.1

    Die vervolgings wat hierdie godvresende volk vir baie eeue geteister het, is deur hullé verduur met ‘n geduld en onwrikbaarheid wat hulle Verlosser vereer het. Nieteenstaande die kruistogte teen hulle, en die onmenslike slagting waaraan hulle onderwerp is, het hulle steeds hulle sendelinge uitgestuur om die kosbare waarheid te versprei. Daar is jag gemaak op hulle tot die dood toe; maar hulle bloed het die saad benat en dit het nie opgehou om vrugte voort te bring nie. Op hierdie manier het die Waldense vir Christus getuig eeue voor die geboorte van Luther. Verstrooi in baie lande, het hulle die saad van die Hervorming geplant wat begin het in die tyd van Wycliffe, wat opgewas en diep wortel geskiet het in die dae van Luther, en wat voortgesit moet word tot die einde toe deur diegene wat gewillig is om ook alle dinge te ly vir “die woord van God en die getuienis van Jesus Christus.” Openb. 1: 9.GS 87.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents