Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 9—Die Switserse Hervormer

    IN die keuse van werktuie vir die hervorming van die kerk, sien ons dieselfde goddelike plan as toe die kerk gestig is. Die hemelse Leraar het die groot manne van die aarde, die rykes en getiteldes, diegene wat gewoond was om lof en eer te ontvang as leiers van die volk, verbygegaan. Hulle was so hoogmoedig en vol selfvertroue in hulle geroemde voortreflikheid dat hulle nie geleer kon word om medelyde te hê met hulle medemens, en medewerkers te word van die nederige Man van Nasaret nie. Aan die ongeleerde, swoegende vissers van Galilea het die roepstem gekom, “Kom hier agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Matt. 4: 19. Hierdie dissipels was nederig en onderwysbaar. Hoe minder hulle onder die invloed van die valse leerstellings van hulle tyd was, hoe beter kon Christus hulle leer en oplei vir Sy diens. So was dit ook in die dae van die Groot Hervorming. Die vooraanstaande Hervormers was nederige manne — manne wat vry was van die trots van stand, en van die invloed en dweepsug van die priesterskap. Dit is Gods doel om nederige werktuie te gebruik om groot resultate te verkry. Dan word die heerlikheid nie aan mense gegee nie, maar aan Hom wat deur hulle werk om te wil en Sy welbehae te doen.GS 195.1

    ‘n Paar weke na die geboorte van Luther in ‘n mynwerkershuisie in Sakse, is Ulrich Zwingli in ‘n herdershuisie in die Alpe gebore. Zwingli se omgewing in sy kindsdae en in sy vroeë opleiding, sou hom berei vir sy toekomstige sending. Waar hy groot geword het te midde van pragtige natuurtonele en ontsaglike verhewendheid, het hy vroeg onder die indruk gekom van die grootheid, die mag, en die majesteit van God. Die geskiedenis van heldhaftige dade op die berge van sy vaderland, het sy jeugdige lewe besiel. Aan die sy van sy vrome grootmoeder het hy geluister na die paar kosbare Bybelverhale wat sy gehaal het uit die legendes en tradisies van die kerk. Met groot belangstelling het hy geluister na die grootse dade van patriarge en profete, van skaapwagters by hulle kuddes op die berge van Palestina waar engele met hulle gepraat het, van die Kindjie van Betlehem, en die Man van Golgota.GS 196.1

    Net soos Johannes Luther, het Zwingli se vader ook ‘n opvoeding vir sy seun begeer, en reeds vroeg is die seun weggestuur uit die vallei waar hy gebore is. Sy verstand het vinnig ontwikkel, en gou het die vraag ontstaan waar om onderwysers te vind wat bekwaam sou wees om hom te onderrig. Op dertienjarige leeftyd is hy na Bern, waar die beste skool in Switserland destyds was. Hier, egter, was ‘n gevaar wat sy veelbelowende lewe bedreig het. Die monnike het ywerige pogings aangewend om hom na ‘n klooster te lok. Dominikaner en Franciskanermonnike het met mekaar gewedywer om die guns van die volk. Hulle het dit probeer verkry deur opsigtige versierings van hulle kerke, die prag van hulle seremonies, en die aantrekkingskrag van beroemde relikwieë en wonderwerkende beelde.GS 196.2

    Die Dominikaners van Bern het gesien dat as hulle hierdie talentvolle jong leerling kon win, dit vir hulle ‘n aanwins sowel as ‘n eer sou wees. Sy jeug, en natuurlike bekwaamheid as spreker en skrywer, sy aanleg vir musiek en die digkuns, sou doeltreffender wees as al hulle prag en vertoning, om die mense na hulle dienste te trek en om hulle inkomste te vermeerder. Deur bedrog en vleiery het hulle probeer om Zwingli oor te haal om na hulle klooster te kom. Luther, toe hy ‘n student op skool was, het hom in ‘n kloostersel gaan opsluit, en hy sou vir die wêreld verlore gegaan het as Gods voorsienigheid hom nie vrygestel het nie. Zwingli is nie aan dieselfde gevaar blootgestel nie. Gelukkig het sy vader kennis gekry van die voornemens van die monnike. Hy het geen plan gehad om sy seun toe te laat om die ledige en waardelose lewe van die monnike te deel nie. Hy het gesien dat die toekoms van sy kind in gevaar was, en hy het hom gelas om dadelik huis-toe te kom.GS 196.3

    Die bevel is gehoorsaam; maar die jongeling was nie lank tevrede in sy geboortevallei nie, en hy het gou weer sy studies voortgesit, maar hierdie keer het hy na Basel gegaan. Dit is hier waar Zwingli vir die eerste maal van Gods vrye genade gehoor het. Wittembach, ‘n leraar van ou tale, is terwyl hy Grieks en Hebreeus geleer het, tot die Heilige Skrifte gelei, en strale van goddelike lig het geskyn in die harte van die studente onder hom. Hy het verklaar dat daar ‘n waarheid was, baie ouer en van veel groter waarde as die teorieë wat deur die geleerdes en filosowe opgedis word. Hierdie ou waarheid was dat die dood van Christus alleen die sondaar vrygekoop het. Vir Zwingli was hierdie woorde soos die eerste ligstraal voor die dagbreek.GS 197.1

    Zwingli is gou van Basel beroep om sy lewenswerk te onderneem. Sy eerste arbeidsveld was in ‘n Alpegemeente nie ver van sy geboortevallei nie. Nadat hy as priester georden is, “het hy hom met hart en siel gewy aan ‘n soektog na die goddelike waarheid; want hy het goed geweet,” het ‘n medehervormer gesê, “hoeveel iemand moet weet aan wie ‘n kudde van Christus toevertrou is.”— Wylie, boek VIII, hoojstuk 5.Hoe meer hy die Skrifte ondersoek het, hoe duideliker was die teenstelling tussen hulle waarhede en die dwalings van Rome. Hy het hom onderwerp aan die Bybel as die woord van God en enigste onfeilbare maatstaf. Hy het gesien dat die woord sy eie verklaarder moet wees. Hy het dit nie gewaag om die Skrifte te verklaar om ‘n vooropgestelde teorie of leerstelling te bewys nie, maar hy het dit as sy plig beskou om die duidelike leer van die Skrifte te verstaan. Hy het getrag om gebruik te maak van alle hulp tot ‘n voile, korrekte verklaring van die Skrifte, en hy het die hulp van die Heilige Gees afgesmeek wat, soos hy gesê het, alles sou verklaar aan diegene wat in opregtheid en in gebed soek.GS 197.2

    “Die Skrifte,” het Zwingli gesê, “is van God afkomstig en nie van die mens nie, en dieselfde God wat die hart verlig, sal u help om die taal te verstaan wat van God kom. Die woord van God . . . kan nie faal nie; dit skyn helder, dit leer homself, dit openbaar homself, en dit verlig die siel met alle saligheid en genade, vertroos dit in God, verneder dit, sodat dit self vergeet en opoffer, en God omhels.”— Wylie, boek VIII, hoojstuk 6.Die waarheid van hierdie woorde het Zwingli self bewys. Sprekende van sy eie ervaring op hierdie tyd, het hy geskryf: “Toe . . . ek myself heeltemal aan ‘n studie van die Heilige Skrifte, oorgegee het, het filosofie en skolastiese teologie altyd stryd aan my voorgestel. Eindelik het ek tot die punt gekom waar ek besluit het, ,jy moet alles laat vaar, en die bedoeling van God alleen uit Sy eie eenvoudige woord leer.’ Toe het ek God om lig begin vra, en die Skrifte het vir my makliker geword.”— Wylie, boek VIII, hoojstuk 6.GS 198.1

    Die leerstellings wat Zwingli verkondig het, het hy nie van Luther ontvang nie. Dit was die leer van Christus. “As Luther Christus verkondig,” het die Switserse Hervormer gesê, “doen hy wat ek doen. Hy het meer tot Christus gebring as ek. Maar dit maak nie saak nie. Ek sal geen ander naam dra as die van Christus alleen nie, wie se gesant ek is, en wie my enigste hoof is. Nooit het ek ‘n enkele woord aan Luther geskryf nie, en ook nie Luther aan my nie. En waarom? . . . Dat dit kan aangetoon word hoe eenstemmig die Gees van God is, aangesien albei van ons, sonder enige geheime verstandhouding, presies ooreenkom met die leer van Christus.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 9.GS 198.2

    In die jaar 1516 is Zwingli beroep as prediker in die klooster van Einsiedeln. Hier sou hy ‘n nader blik kry op die dwalings van Rome, en van hom sou ‘n invloed uitgaan as Hervormer wat gevoel sou word baie verder as sy geboorteland. Onder die vernaamste aantreklikhede van Einsiedeln was ‘n beeld van die maagd Maria waarvan verklaar is dat dit wonderwerke kon doen. Bokant die kloosterpoort het die volgende opskrif gestaan: “Hier kan algehele kwytskeiding van sondes verkry word.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 5.Op alle tye het daar pelgrims na die beeld van die heilige maagd gekom, maar tydens die jaarlikse fees het menigtes uit alle dele van Switserland gekom, en selfs uit Frankryk en Duitsland. Zwingli, grootliks aangedaan deur die skouspel, het gebruik gemaak van die geleentheid om aan hierdie slawe van bygeloof vryheid deur die evangelie te verkondig.GS 198.3

    “Moet u nie verbeel nie,” het hy gesê, “dat God in hierdie tempel is meer as in enige ander deel van Sy skepping nie. In watter land u ook woon, God is rondom u en Hy hoor u. . . . Kan nuttelose werke, lang bedevaarte, offerandes, beelde, die aanroeping van die maagd of die heiliges, vir julle die genade van God verseker? . . . Wat baat die vloed van woorde as ons bid? Watter voordeel skuil daar in ‘n monnikekappie, ‘n geskeerde hoof, ‘n lang mantel, en met-goudborduurde pantoffels? . . . God sien die hart, en ons harte is nie ver van hom nie. Christus, wat eenmaal aan die kruis geoffer is, is die slagoffer wat voldoening gegee het vir die sondes van die gelowiges tot in alle ewigheid.” — D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 5.GS 199.1

    Vir baie hoorders was hierdie leer onwelkom. Dit was vir hulle ‘n bittere teleurstelling om te hoor dat hulle vermoeiende reis tevergeefs was. Hulle kon nie die vergifnis verstaan wat vryelik aan hulle aangebied word deur Christus nie. Hulle was tevrede met die ou pad na die hemel wat Rome vir hulle aangewys het. Hulle het teruggedeins vir die moeite om na iets beter te soek. Dit was vir hulle makliker om hulle saligheid aan die priesters en die Pous oor te laat as om na reinheid van hart te soek.GS 199.2

    Maar daar was ‘n ander klas wat die boodskap van verlossing deur Christus met blydsk?p aangeneem het. Die dinge wat Rome voorgaskryf het. het nie sielevrede gegee nie, en deur geloof het hulle die Heiland se bloed aangeneem as hulle versoening. Hierdie mense is terug huis-toe om die kosbare lig wat hulle ontvang het aan ander mee te deel. Op hierdie manier is die waarheid gedra van dorpie tot dorpie en van stad tot stad; en die aantal pelgrims na die heiligdom van die maagd het afgeneem. Ook was daar ‘n vermindering in die offergawes, met die gevolg dat Zwingli se salaris ook verminder het. Maar toe hy sien dat die mag van fanatisme en bygeloof verbreek word, het dit hom vreugde verskaf.GS 199.3

    Die owerhede van die kerk was nie blind vir die werk wat Zwingli besig was om te doen nie; maar hulle het nie dadelik stappe gedoen nie. Nog hopende om hom tot hulle kant te win, het hulle hom gevlei; maar in die tussentyd het die waarheid ‘n houvas gekry op die harte van die volk.GS 200.1

    Zwingli se werk op Einsiedeln het hom berei vir ‘n groter werk, en dit sou hy spoedig aanvaar. Na hy drie jaar daar gearbei het, is hy beroep as prediker in die katedraal van Zurich. Dit was destyds die belangrikste stad van die Switserse bondgenootskap, en die invloed wat daarvandaan uitgegaan het sou algemeen gevoel word. Die geestelikes wat verantwoordelik was vir sy beroep na Zurich, het, omdat hulle alle nuwighede wou vermy, hom duidelik ingelig aangaande sy pligte.GS 200.2

    “Jy moet jou beywer,” het hulle gesê, “om alle inkomste van die kapittel in te vorder, sonder om die minste oor die hoof te sien. Jy moet die gelowiges, uit die kansel en die biegstoel vermaan om alle tiendes en gelde te betaal, en om deur hulle offergawes hulle liefde vir die kerk te toon. Jy moet jou bes doen om die inkomste wat van die siekes en die misse verkry word, en oor die algemeen van alle geestelike verordeninge, te vermeerder.” “Wat betref die bediening van die sakramente, die preekdiens, en die versorging van die gemeente — dit is almal pligte van die kapelaan; maar hiervoor mag jy ‘n plaasvervanger gebruik, veral by die preekdiens. Jy moet die sakramente bedien alleen aan vooraanstaande persone. en dit alleen op versoek; jy word verbied om te handel sonder aansien van persone.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 6.GS 200.3

    Zwingli het in stilte geluister na hierdie opdrag, en in ant-woord, nadat hy sy dank betuig het vir die eer van die beroep na hierdie belangrike plek, het hy voortgegaan om te verduidelik watter weg hy van plan was om in te slaan. “Die lewe van Christus,” het hy gesê, “is te lank al verberg vir die volk. Ek sal oor die hele evangelie van Mattheus preek, . . . puttende alleen uit die fontein van die Skrifte, in die dieptes daarvan afdalende, teks met teks vergelykende, met onophoudelike gebed om hulle te verstaan. Ek sal my bediening wy aan die verheerliking van God, die lof van Sy eniggebore Seun, aan die redding van siele, en aan hulle opheffing in die ware geloof.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 6.Hoewel sommige van die geestelikes hierdie plan afgekeur en probeer het om hom daarvan af te raai, het Zwingli vasgestaan. Hy het verklaar dat hy nie ‘n nuwe metode sou inbring nie, maar die ou metode wat deur die kerk toegepas is in sy vroeër en reiner dae.GS 201.1

    Daar was reeds belangstelling opgewek in die waarhede wat hy verkondig het, en die volk het in groot getalle kom luister na sy prediking. Baie van diegene wat nie meer kerk-toe gekom het nie, was nou onder sy gehoor. Hy het sy bediening begin met die Evangelies deur aan sy hoorders die verhaal van die lewe. die leer, en die dood van Christus voor te lees en te verklaar. Hier, net soos op Einsiedeln, het hy die woord van God voorgehou as die enigste onfeilbare gesag, en die dood van Christus as die enigste voldoende versoening. “Dit is tot Christus,” het hy gesê, “wat ek begeer om julle te lei — tot Christus die ware bron van verlossing.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 6.Alle klasse het hulle rondom die prediker geskaar, staatsmanne en geleerdes, ambagsmanne en gewone arbeiders. Met groot belangstelling het hulle na sy woorde geluister. Nie alleen het hy die vrye saligheid verkondig nie, maar ook onverskrokke die euwels en die bederf van die tyd bestraf. Baie is van die katedraal huis-toe God verheerlikende. “Hierdie man,” het hulle gesê, “is ‘n prediker van die waarheid. Hy sal ons Moses wees, om ons uit die Egiptiese duisternis uit te lei.”— D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 6.GS 201.2

    Hoewel sy werk aan die begin met groot geesdrif bejeën is, het daar later teenstand ontstaan. Die monnike het onderneem om sy werk te verhinder en sy leer te veroordeel. Baie het hom gehoon en bespot; ander het hulle begewe tot onbeskoftheid en dreigemente. Maar Zwingli het alles geduldig verdra en gesê, “As ons die goddelose tot Jesus Christus wil win, moet ons ons oë sluit vir baie dinge.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 6.GS 202.1

    Omtrent hierdie tyd het daar ‘n nuwe werktuig verskyn om die hervormingswerk aan te help, ‘n Sekere Lucian is na Zurich gestuur met sommige van Luther se geskrifte, deur ‘n vriend van die hervormde geloof te Basel, wat gemeen het dat die verkoop van hierdie boeke ‘n kragtige middel sou wees vir die verspreiding van die lig. “Stel vas,” het hy aan Zwingli geskryf, “of hierdie man genoeg wysheid en verstand het; indien ja, laat hom dan van stad tot stad, van dorp tot dorp, en selfs van huis tot huis, die werke van Luther, veral sy verklaring van die ,Onse Vader’ vir die leke, onder die Switsers versprei. Hoe meer hulle bekend word, hoe meer sal hulle verkoop word.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 6. Op hierdie manier het die lig ingang gevind.GS 202.2

    Wanneer God die boeie van onkunde en bygeloof begin verbreek, dan is dit dat Satan met sy grootste krag werk om mense in duisternis te hul, en om die bande nog styvver te bind. Namate daar in verskillende lande manne opgestaan het om aan die volk vergifnis en regverdigmaking deur die bloed van Christus te verkondig, het Rome met nuwe krag vergifnis vir geld aangebied.GS 202.3

    Elke sonde het sy prys gehad, en mense kon vryheid verkry om misdade te pleeg, solank die skatkis van die kerk maar goed gevul word. So het die twee bewegings voortgegaan — die een wat vergifnis van die sonde vir geld aangebied het, en die ander wat vergifnis deur Christus voorgehou het; Rome wat vryheid geskenk het om sonde te doen en dit ‘n bron van inkomste gemaak het, en die Hervormers wat die sonde veroordeel het, het die mense op Christus gewys as die enigste versoening en verlosser.GS 202.4

    In Duitsland is die verkoop van aflate aan die Dominikaners toevertrou, en dit was voortgesit deur die skaamtelose Tetzel. In Switserland was hierdie handel in die hande van die Franciskaners, onder toesig van Samson, ‘n Italiaanse monnik. Samson het reeds goeie dienste vir die kerk gelewer deur groot somme geld in te samel van Duitsland en Switserland om die pouslike skatkis te vul. Hy was nou besig om Switserland te deurreis waar hy groot skares getrek het, die armes van hulle karige bestaan ontroof het, en ryke gifte van die gegoede klasse ontvang het. Maar die invloed van die hervorming het hom reeds laat geld in die vermindering van hierdie handel, al kon dit nie heeltemal stopgesit word nie. Zwingli was nog op Einsiedeln toe Samson, kort nadat hy Switserland binnegekom het, op ‘n naburige dorp aangekom het. Verwittig van sy sending, het die Hervormer dadelik daarheen gegaan om hom teen te staan. Die twee het mekaar nie ontmoet nie, maar Zwingli het die valse voorwendsels van die monnik so goed aan die kaak gestel dat hy verplig was om na elders te vertrek.GS 203.1

    Te Zurich het Zwingli ywerig gepreek teen die aflaatverkopers, en toe Samson daardie stad nader, is hy deur ‘n boodskapper van die stadsraad ontmoet, wat hom meegedeel het dat hy maar daar kon verbygaan. Hy het eindelik geslaag om die stad deur lis binne te kom, maar hy is weggestuur sonder om ‘n enkele aflaat te verkoop, en kort daarna het hy Switserland verlaat.GS 203.2

    Die hervorming het ‘n kragtige stoot vorentoe gekry deur die uitbreek van die pes, of die “swarte dood,” wat Switserland in die jaar 1519 geteister het. Toe die mense die dood in die gesig moes staar, het baie gevoel hoe nutteloos die aflate was wat hulle so pas gekoop het; en hulle het verlang na ‘n hegter fondament vir hulle geloof. Op Zurich het Zwingli die pes gekry, en hy was so op die randjie van die dood dat alle hoop opgegee was, en die gerug het die ronde gedoen dat hy dood was. In daardie beproewingsvuur was sy hoop en vertroue onwrikbaar. In geloof het hy op die kruis van Golgota gesien, vertrouende op die volkome versoening vir sy sonde. Toe hy by die poorte van die dood omdraai, was dit om die evangelie met nog groter ywer as ooit tevore te verkondig. En sy woorde het buitengewone krag gehad. Die volk het hulle geliefde leraar met vreugde verwelkom wat tot hulle teruggekom het van die randjie van die graf. Hulle self het gekom van hulle werk om die siekes en sterwendes te help, en meer as ooit tevore het hulle die waarde van die evangelie besef. Zwingli het die waarhede van die evangelie beter verstaan, en hy het in homself die vernuwende krag daarvan ondervind. Die val van die mens en die verlossingsplan was die onderwerpe waarby hy stilgestaan het. “In Adam,” het hy gesê, “is ons almal dood, versink in verderf en veroordeling. Christus . . . het vir ons ‘n ewige verlossing gekoop. . . . Sy dood is . . . ‘n ewige offerande wat tot in ewigheid kan genees; dit stel die goddelike regverdigheid vir ewig tevrede ten behoewe van almal wat daarop vertrou met ‘n onwrikbare geloof.”—Wylie, boek VIII, hoojstuk 9.“Waar daar geloof in God is, daar is God; en waar God woon, bestaan daar ‘n drang wat die mense opwek tot goeie werke.”— D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 9GS 203.3

    So groot was die belangstelling in Zwingli se preke dat die katedraal tot oorlopenstoe gevul is. Bietjiesgewyse, namate hulle dit kon verdra, het hy die waarheid aan sy hoorders geopen. Hy was versigtig, om nie in die begin punte aan te roer wat hulle kon afskrik of wat vooroordeel kon verwek nie. Sy werk was om harte vir die leer van Christus te win, om hulle deur Sy liefde te versag, en om Sy voorbeeld steeds voor hulle te hou; en namate hulle die beginsels van die evangelie aanneem, sou hulle bygeloof gewis vernietig word.GS 204.1

    Stap vir stap het die Hervorming voortgegaan in Zurich. Daardeur ontstel, is die vyande opgewek tot daadwerklike teenstand. ‘n Jaar tevore, het die monnik van Wittenberg “Nee” gesê aan die Pous en aan die keiser op Worms; en nou het dit geskyn of alles gewys het op ‘n dergelike teenstand van die pouslike aansprake op Zurich. Zwingli is herhaaldelik aangeval. In die pouslike provinsies is dissipels van die evangelie van tyd tot tyd tot die brandstapel gebring; maar dit was nie genoeg nie; die verkondiger van kettery moes stilgemaak word. Gevolglik het die biskop van Constans drie afgevaardigdes na die Konsilie van Zurich gestuur, wat Zwingli daarvan beskuldig het dat hy die volk geleer het om die wette van die kerk te oortree, en sodoende die vrede en goeie orde verstoor het. Daar is aangevoer dat as die gesag van die kerk verwerp word, algemene regeringloosheid sou ontstaan. Hierop het Zwingli geantwoord dat hy vier jaar reeds die evangelie in Zurich verkondig het, en “dat dit vreedsamer en stiller was as enige ander stad in die unie. Is die Christelike geloof dan nie,” het hy gesê, “die beste waarborg vir die algemene vrede nie?”— Wylie, boek VIII, hoojstuk 11.GS 204.2

    Die afgevaardigdes het die raadslede vermaan om in die kerk te bly, want daar is geen verlossing buite die kerk nie, het hulle gesê. Zwingli het geantwoord: “Moenie deur hierdie beskuldiging beweeg word nie. Die fondament van die kerk is dieselfde rots, dieselfde Christus, wat aan Petrus sy naam gegee het omdat hy Hom getrou bely het. Wie ookal van enige volk met sy hele hart in die Here Jesus glo, word deur God aangeneem. Hier, inderwaarheid, is die kerk waarbuite niemand gered kan word nie.”—D’Aubigne, boek VIII, hoojstuk 11.As gevolg van hierdie konferensie, het een van die biskoppe se plaasvervangers die hervormde geloof aangeneem.GS 205.1

    Die konsilie het geweier om stappe te doen teen Zwingli, en Rome het hom berei vir ‘n nuwe aanval. Toe die Hervormer verwittig is van die sameswerings van sy vyande, het hy uitgeroep; “Laat hulle maar kom; ek vrees hulle net so min as wat die uitstekende rots die gedonder van die bare aan sy voet vrees.” — Wylie, boek VIII, hoojstuk 11.Die pogings van die geestelikes het die saak wat hulle omver wou werp, slegs verder aangehelp. Die waarheid het steeds uitgebrei. Die aanhangers daarvan in Duitsland, wat ontmoedig is deur die verdwyning van Luther, het weer nuwe moed geskep toe hulle die vooruitgang van die evangelie in Switserland sien.GS 205.2

    Namate die Hervorming in Zurich gevestig is, is die vrugte daarvan duidelik gesien in die onderdrukking van losbandigheid en die bevordering van orde en eensgesindheid. “Vrede woon in ons dorp,” het Zwingli geskryf; “daar is geen twis, geen huigelary, geen nyd, en geen stryd nie. Vanwaar kan sulke eenheid kom as alleen van die Here, en van ons leer wat ons vervul met die vrugte van vrede en vroomheid?”— Wylie, boek VIII, hoojstuk 15.GS 205.3

    Die oorwinnings van die Hervorming het die Roomsgesindes opgewek tot groter vasberadenheid om dit omver te werp. Toe hulle sien hoe min uitgerig is deur die vervolging en onderdrukking van Luther se werk in Duitsland, het hulle besluit om die Hervorming met sy eie wapens te bestry. Hulle sou ‘n openbare disputasie met Zwingli hou, en daar die reeling van sake in hulle eie hande sou wees, sou hulle seker maak van die oorwinning deur nie alleen die plek te kies nie, maar ook die regters wat die uitspraak sou gee. As hulle Zwingli maar eenmaal in hulle mag kon kry sou hulle seker maak dat hy nie vry kom nie. As hulle die leier kon stilmaak, sou die beweging spoedig onderdruk kon word. Hierdie doel, egter, het hulle sorgvuldig bedek.GS 207.1

    Die disputasie sou op Baden plaasvind: maar Zwingli was nie teenwoordig nie. Die raad van Zurich, wat die planne van die pousgesindes vermoed het, en wat gewaarsku is deur die brandende houtstapels wat in die pousgesinde provinsies vir die belyers van die evangelie aan die brand gesteek is, het hulle leraar verbied om homself aan hierdie gevaar bloot te stel. Hy was gereed om al die aanhangers wat Rome mag stuur op Zurich te ontmoet; maar om na Baden te gaan, waar die bloed van die martelare vir die waarheid so pas gevloei het, sou die gewisse dood beteken. (Ecolampadius en Haller is gekies om die Hervormers te verteenwoordig, terwyl die beroemde Doktor Eck, bygestaan deur ‘n menigte geleerde doktore en prelate die saak van Rome sou verdedig.GS 207.2

    Hoewel Zwingli nie op die konferensie teenwoordig was nie, is sy invloed daar gevoel. Die sekretarisse is almal deur die pouslike party gekies, en alle ander is verbied om aantekenings te maak op straf van die dood. Maar nieteenstaande dit nie, het Zwingli daeliks ‘n getroue verslag gekry van wat daar op Baden gesê is. ‘n Student wat op die disputasie teenwoordig was, het elke aand ‘n opsomming gemaak van die argumente wat daardie dag aangevoer is. Hierdie dokumente is deur twee ander studente afgelewer aan Zwingli te Zurich, tesame met die daelikse briewe van Ecolampadius. Die Hervormer het geantwoord met raadgewing en wenke. Hy het sy briewe snags geskryf, en die studente het hulle die volgende more na Baden teruggeneem. Om die wagters by die stadspoorte te mislei, het hierdie boodskappers mandjies met pluimvee op hulle koppe gedra en hulle is toegelaat om die stad ongehinderd binne te gaan.GS 207.3

    Op hierdie manier het Zwingli die stryd voortgesit met sy slinkse teenstanders. “Hy het meer gewerk,” het Myconius gesê, “deur sy oorpeinsings, sy slaaplose nagte, en die advies wat hy na Baden gestuur het, as wat hy sou kon gedoen het as hy persoonlik die stryd met die vyande gevoer het.”—D’Aubigne, boek XI, hoojstuk 13.GS 208.1

    Die Roomsgesindes, geprikkel deur die vooruitsig van oorwinning, het na Baden gekom uitgedos in hulle pragtigste klere en glinsterende juwele. Hulle het weelderig gelewe, en hulle tafels was bedek met die lekkerste kos en die beste wyn. Hulle geestelike pligte is verlig deur vrolikheid en brasserye. Tussen hulle en die Hervormers, wat deur die volk beskou is as weinig beter as ‘n spul bedelaars, en wie se maaltye hulle maar net ‘n kort tydjie aan die tafel gehou het, was die kontras baie groot. Die gasheer van (Ecolampadius, wat hom in sy kamer dopgehou het, het hom altyd in studie en gebed gevind, en met groot verbasing het hy dit rugbaar gemaak dat die ketter ten minste baie vroom was.GS 208.2

    Op die konferensie, “het Eck trots ‘n kansel bestyg wat pragtig versier was, terwyl die nederige Ecolampadius, armoedig gekleed, verplig was om voor sy teenstander te sit op ‘n ruwe ou bankie.” —D’Aubigne, boek XI, hoojstuk 13.Eck se forse stem en sy sekerheid van homself het hom nooit in die steek gelaat nie. Sy ywer is aangespoor deur die hoop op goud sowel as beroemdheid; want die verdediger van die geloof sou met ‘n baie goeie fooitjie beloon word. Waar sy argumente kort geskiet het, het hy sy toevlug geneem tot belediging en skeldwoorde.GS 208.3

    (Ecolampadius, bedees en sonder vertroue in homself, het eers teruggedeins vir die stryd, maar dit nou aanvaar met die plegtige verklaring, “Ek erken geen ander maatstaf as die oordeel van Gods woord nie.”— D’Aubigne, boek XI, hoojstuk 13.Hoewel hy saggeaard en hoflik was, was hy bekwaam en onbevrees. Terwyl die Katolieke, volgens gewoonte, hulle beroep het op die gebruike van die kerk, het die Hervormer standvastig aan die Heilige Skrifte vasgehou. “Gewoonte,” het hy gesê, “het in Switserland geen krag nie, tensy dit volgens die konstitusie is; wat geloofsake betref is die Bybel ons konstitusie.”— D’Aubigne, boek XI, hoojstuk 13.GS 208.4

    Die teenstelling tussen die twee disputante was nie sonder uitwerking nie. Die kalm, duidelike redenasie van die Hervormer, so sagmoedig en bedees voorgestel, het ‘n indruk gemaak op diegene wat Eck se grootpratery en lawaaierige aanmatigings verafsku het.GS 209.1

    Die diskussie het agtien dae lank geduur. Na afsluiting daarvan, het die pouslike party met alle vertroue die oorwinning geëis. Die meeste van die afgevaardigdes het kantgekies vir Rome, en die Ryksdag het die Hervormers as verslaan verklaar, en hulle uitspraak was dat hulle, saam met hulle leier Zwingli, van die kerk afgesny was. Maar die vrugte van die konferensie het geopenbaar watter kant die voordeel behaal het. Die stryd het die Protestanse saak ‘n groot stoot vorentoe gegee, en kort daarna het die belangrike stede van Bern en Basel hulle ten gunste van die Hervorming verklaar.GS 209.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents