Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 14—Later Engelse Hervormers

    TERWYL Luther besig was om die geslote Bybel vir die Duitse volk te open, is Tyndale deur die Gees van God gelei om dieselfde vir Engeland te doen. Wycliffe se Bybel is uit die Vulgata vertaal wat baie foute bevat het. Dit het nooit in druk verskyn nie, en die prys van die handskrifeksemplare was so hoog dat maar min behalwe die rykes en die edelliede dit kon bekostig; en wat meer is, omdat dit deur die kerk verbied is, was die omloop daarvan baie klein. In die jaar 1516, sowat ‘n jaar voor die verskyning van Luther se stellings, het Erasmus se Griekse en Latynse Nuwe Testament verskyn. Nou, vir die eerste keer, is die woord van God in die oorspronklike taal uitgegee. In hierdie werk is baie van die foute van die vorige uitgawes verwyder, en die betekenis is duideliker geopenbaar. Aan vele onder die geleerde klasse het dit ‘n beter kennis van die waarheid gegee, en dit het ook die Hervorming ‘n stoot vorentoe gegee. Maar die gewone mense was nog in ‘n groot mate afgesny van Gods vvoord. Tyndale sou die werk van Wycliffe voltooi deur die Bybel aan sy landgenote te gee.GS 281.1

    ‘n Ywerige student en ‘n ernstige soeker na waarheid, het hy die evangelie geleer uit die Griekse Testament van Erasmus. Onbevrees het hy sy oortuigings verkondig, en daarop aangedring dat alle leerstellings aan die Skrifte getoets moes word, ‘n Antwoord op die bewering van die Katolieke dat die kerk die Bybel gegee het en dat die kerk alleen dit kon verklaar, het Tyndale gesê: “Weet u wie die arende geleer het om hulle prooi te vind? Wel, dieselfde God leer Sy hongerige kinders om hulle Vader in Sy woord te vind. Yerre daarvandaan dat u die Skrifte aan ons gegee het, is dit u wat hulle vir ons verberg het; dit is julle wat diegene verbrand wat die Skrifte verduidelik, en as julle dit kon doen, sou julle die Skrifte self verbrand.”—D’Aubigne, boek XVIII, hoojstuk 4.GS 282.1

    Tyndale se prediking het groot belangstelling opgewek, en baie het die waarheid aangeneem. Maar die priesters was wakker, en nog skaars het hy die plek verlaat of hulle het deur hulle dreigemente en wanvoorstellings probeer om sy werk te vernietig. Maar te dikwels het hulle daarin geslaag. “Wat sal ons doen?” het hy uitgeroep. Terwyl ek op die een plek saai, beskadig die vyand die land wat ek net klaar bewerk het. Ek kan nie orals wees nie. O! as Christene maar net die Heilige Skrifte in hulle eie taal kon hê, sou hulle self hierdie drogredenaars kon weerstaan. Sonder die Bybel is dit onmoontlik om die leke in die waarheid te bevestig.”— D’Aubigne, boek XVIII, hoojstuk 4.GS 282.2

    Hy het ‘n nuwe plan gekry. “Dit was in die taal van Israel,” het hy gesê, “dat die Psalms in die tempel van Jehova gesing is; en sal die evangelie nie in die taal van Engeland tot ons spreek nie? . . . Sou die kerk op sy middag minder lig hê as tydens die dagbreek? . . . Christene moet die Nuwe Testament lees in hulle moedertaal.” Die doktore en leraars van die kerk het onder mekaar verskil. Slegs deur die Bybel kan mense tot die waarheid kom. “Die een hang hierdie doktor aan, en die ander daardie doktor. . . . En hulle weerspreek almal mekaar. Hoe dan kan ons onderskei tussen die een wat reg is en die een wat verkeerd is? . . . Hoe? . . . Ongetwyfeld deur die woord van God.”— D’Aubigne, boek XVIII, hoofstuk 4.GS 282.3

    Dit was nie lank daarna nie dat ‘n geleerde Katolieke doktor in ‘n redetwis met hom uitgeroep het, “ons sou beter daaraan toe wees sonder Gods wette as die van die Pous.” Tyndale het geantwoord, “ek verwerp die Pous en al sy wette; en as God my lewe spaar, sal ek binnekort dit so bewerk dat die seun agter die ploeg meer van die Skrifte sal weet as jy.”—Anderson, “Annals oj the English Bible,” bl. 19. Hersiende druk, 1862.GS 283.1

    Die plan wat hy gekoester het om die Nuwe Testamentiese Skrifte aan die volke in hulle eie taal te gee, is nou verwesenlik, en hy het dadelik aan die werk gespring. Deur vervolging van sy huis verjaag, het hy na Londen gegaan waar hy vir ‘n tyd ongehinderd gewerk het. Maar weer is hy deur die geweld van die Roomsgesindes verplig om te vlug. Dit het geskyn of die hele Engeland vir hom gesluit was, en hy het besluit om in Duitsland skuiling te gaan soek. Hier het hy begin met die druk van die Engelse Nuwe Testament. Tweemaal is die werk stopgesit; maar waar hy in die een stad verbied is om te werk, het hy na ‘n ander gevlug. Eindelik het hy na Worms gegaan, die plek waar Luther ‘n paar jaar vantevore die evangelie voor die Ryksdag verdedig het. Daar was baie vriende van die Hervorming in daardie stad, en Tyndale kon sy werk ongehinderd voortsit. Gou is daar drieduisend eksemplare van die Nuwe Testament gedruk, en die volgende jaar het daar ‘n nuwe oplaag gevolg.GS 283.2

    Met groot erns en volharding het hy sy werk voortgesit. Hoewel die Engelse owerheid die hawes baie goed dopgehou het, is die woord van God langs verskillende weë heimlik na Londen gevoer, en vandaar is dit oor die land versprei. Die pousgesindes het probeer om die waarheid te onderdruk, maar tevergeefs. Die biskop van Durham het eentyd van ‘n boekhandelaar, ‘n vriend van Tyndale, sy hele voorraad Bybels gekoop, met die doel om hulle te vernietig om die werk te verhinder soos hy gemeen het. Maar inteendeel, die geld wat vir die Bybels verkry is, is gebruik om materiaal te koop vir ‘n nuwe en beter uitgawe, wat andersins nie sou gedoen kon gewees het nie. Toe Tyndale later gevange geneem is, is daar aangebied om hom vry te stel op voorwaarde dat hy die name verklap van almal wat hom gehelp het met die onkoste en druk van sy Bybels. Hy het geantwoord dat die biskop van Durham in hierdie opsig meer as enige ander persoon gedoen het; want deur die ou voorraad teen ‘n groot prys op te koop, is hy (Tyndale) in staat gestel om sy werk voort te sit.GS 283.3

    Deur verraad het Tyndale in die hande van sy vyande geval, en eentyd was hy vir baie maande in die tronk. Eindelik het hy die marteldood gesterf vir sy geloof. Maar die wapens wat hy berei het, het ander stryders deur die eeue heen in staat gestel om die stryd voort te sit.GS 284.1

    Van die kansel het Latimer betoog dat die Bybel in die volkstaal behoort gelees te word. Die bron van die Heilige Skrifte, het hy gesê, is God Self; en die Skrifte deel in die krag en ewigheid van die Bron. “Daar is geen koning, keiser, of magistraat of regeerder ... of hulle is verplig om Sy heilige woord te gehoorsaam.” “Laat ons nie uitdraaipaadjies volg nie, maar laat die woord van God ons lei: laat ons nie agter ons voorvaders aanloop nie, of spreek soos hulle gespreek het nie, maar laat ons maak soos hulle moes gemaak het.”— Latimer, “First Sermon Preached Before King Edward VI.” (ed. Parker Society.)GS 284.2

    Barnes en Frith, die getroue vriende van Tyndale, het opgestaan om die waarheid te verdedig. Die Ridleys en Cranmer het gevolg. Hierdie leiers in die Engelse Hervorming was manne van geleerdheid, en die meeste van hulle was baie hoog aangeskryf vir hulle ywer en vroomheid onder die Katolieke. Hulle teenstand teen die pousdom was die gevolg van hulle kennis van die dwalings van die “heilige stoel.” Hulle bekendheid met die verborgenhede van Babilon het groter krag gegee aan hulle getuienis teen haar.GS 284.3

    “Nou wil ek ‘n vreemde vraag stel,” het Latimer gesê. “Weet julle wie die ywerigste biskop en prelaat in die hele Engeland is?GS 284.4

    . . .Ek sien julle luister en wag dat ek sy naam moet noem.GS 284.5

    . . .Ek sal julle sê: dit is die duiwel. . . . Hy is nooit sonder ‘n gemeente nie, . . . besoek hom maar as julle wil, hy is altyd tuis; . . . hy is altyd agter sy ploeg. . . . Ek waarborg dat julle hom nooit ledig sal aantref nie. . . . Waar die duiwel woon, daar moet die boeke wyk en die kerse moet opgesteek word; weg met die Bybels, en bring die krale; weg met die lig van die evangelie, en laat die lig van kerse skyn; ja, selfs op die middag; . . . weg met die kruis van Christus, en laat die vaevuur-goudief kom; . . . weg met die bekleding van die naaktes, die armes, en die magtelose, maar laat die beelde bedek, en stokke en stene versier word; verhef die tradisies en wette van mense, en vertrap die tradisies van God en Sy heilige woord. . . . O, mag ons prelate net so ywerig wees om die koring van gesonde leer te saai as Satan is om die onkruid te saai!”— Latimer, “Sermon oj the Plough.”GS 284.6

    Die groot beginsel wat deur hierdie Hervormers gehandhaaf is—-dieselfde wat deur die Waldense, Wycliffe, Johannes Huss, Luther, Zwingli, en diegene wat by hulle aangesluit het, gehuldig is — was aanname van die onfeilbare gesag van die Heilige Skrifte as maatstaf van geloof en lewe. Hulle het die reg ontken van pouse, konsilies, kerkvaders, en van konings, om die gewete in godsdienssake te beheers. Die Bybel was hulle enigste gesag, en aan die leer daarvan het hulle alle leerstellings en aansprake getoets. Dit was geloof in God en Sy woord wat hierdie manne opgebeur het waar hulle hulle lewens op die brandstapel opgeoffer het. “Wees goedsmoeds,” het Latimer gesê aan ‘n medemartelaar net voordat die vlamme hulle stilgemaak het, “deur die genade van God sal ons in Engeland ‘n lig opsteek wat nooit weer uitgedoof sal kan word nie.”—“ Works oj Hugh Latimer,” Deel I, bl. 13. (ed. Parker Society.)GS 285.1

    In Skotland is die saad van waarheid wat deur Columba en sy medewerkers gesaai is, nooit heeltemal vernietig nie. Vir honderde jare na die kerke van Engeland hulle aan Rome onderwerp het, het dié in Skotland hulle vryheid gehandhaaf. In die twaalfde eeu, egter, is die pousdom daar bevestig, en in geen land het dit groter heerskappy gevoer nie. Nêrens was die duis-ternis groter nie. Maar nogtans het daar ligstrale gekom deur die duisternis as ‘n belofte van die koms van die dag. Die Lollarde, wat uit Engeland gekom het met die Bybel en die leer van Wycliffe, het baie gedoen om die kennis van die evangelie te bewaar, en elke eeu het sy getuies en martelaars gehad.GS 285.2

    Met die begin van die Groot Hervorming het die geskrifte van Luther gekom, cn daarna Tyndale se Engelse Nuwe Testament. Ongemerk deur die hiërargie, het hierdie boodskappers stil oor berge en dale gegaan, en die fakkel van waarheid wat so byna uitgedoof was in Skotland, het weer begin opflikker en die werk begin afbreek wat Rome tydens die vier eeue van onderdrukking gedoen het.GS 286.1

    Toe het die bloed van die martelare die beweging ‘n groot stoot vorentoe gegee. Die pouslike leiers, toe hulle skielik wrakkerskrik vir die gevaar wat hulle saak bedreig het, het sommige van die edelste en geëerdste seuns van Skotland na die brandstapel gebring. Maar dit het gedien as ‘n kansel vanwaar die woorde van hierdie sterwende getuies oor die hele land gehoor is, en wat die volksiel met ‘n onwrikbare voorneme vervul het om die boeie van Rome af te werp.GS 286.2

    Hamilton en Wishart, prinse van karakter sowel as van geboorte, met nog ‘n hele aantal eenvoudiger dissipels, het hulle lewens op die brandstapel opgeoffer. Maar van die brandstapel van Wishart het daar een gekom wat die vlamme nie kon stilmaak nie, iemand wat onder leiding van God die doodslag aan die pousdom in Skotland sou gee.GS 286.3

    John Knox het die tradisies en die mistisisme van die kerk verwerp om op die waarhede van Gods woord te teer. Die leer van Wishart het hom bevestig in sy besluit om die kerk van Rome te verlaat, en homself te voeg by die vervolgde Hervormers.GS 287.1

    Toe sy vriende by hom aangedring het dat hy die predikantsamp moes opneem, het hy met bewing teruggedeins vir die verantwoordelikheid, en dit was eers na dae van afsondering en innerlike stryd dat hy ingestem het. Maar toe hy eenmaal die werk opgeneem het, het hy voortgegaan met onwrikbare vasberadenheid en moed solank as daar lewe was. Hierdie opregte Hervormer was nie vir die mens bang nie. Die martelaarsvure wat rondom hom gebrand het, het slegs gedien om sy ywer groter te maak. Met die byl van die tiran dreigend na sy hoof gemik, het hy palgestaan en links en regs het hy magtige slae uitgedeel om afgodediens te verpletter.GS 287.2

    Toe hy van aangesig tot aangesig voor die koningin van Skotland verskyn het, in wie se teenwoordigheid die ywer van rnenige leier van Protestantisme verdof het, het John Knox onwrikbaar getuig vir die waarheid. Liefkosings kon hom nie oorhaal nie; vir dreigemente het hy nie gesidder nie. Die koningin het hom beskuldig van kettery. Hy het die volk geleer om ‘n godsdiens aan te neem wat deur die staat verbied is, het sy gesê, en dus het hy Gods gebod oortree wat die volk beveel om hulle prinse te gehoorsaam. Yasberade het Knox geantwoord:GS 287.3

    “Daar ware godsdiens nie oorspronklike krag of gesag van wêreldlike vorste verkry het nie, maar van die ewige God alleen, is die onderdane nie verplig om hulle godsdiens te reel volgens die smaak van hulle prinse nie. Want dikwels is dit die geval dat prinse die onkundigste van almal is in die ware godsdiens van God . . . as al die afstammelinge van Abraham die godsdiens van die Farao’s bely het, wie se onderdane hulle vir ‘n lang tyd was, dan vra ek u, mevrou, watter soort godsdiens sou daar in die wêreld gewees het? Of as alle mense in die dae van die apostels die godsdiens van die Roomse keisers bely het, watter soort godsdiens sou daar op die aarde gewees het? . . . En so, mevrou, sal u kan sien dat die onderdane nie gebonde is deur die godsdiens van hulle prinse nie, alhoewel hulle beveel is om hulle te gehoorsaam.”GS 287.4

    Maria het geantwoord, “Jy verklaar die Skrifte op een manier, en hulle (die Rooms-Katolieke leraars) verklaar dit op ‘n ander manier; wie moet ek glo, en wie sal oordeel?”GS 288.1

    “U moet God glo, wat duidelik in Sy woord spreek,“ het dieGS 288.2

    Hervormer geantwoord; “en verder as wat die woord leer, moet u nog die een nog die ander glo. Die woord van God is op sigself duidelik; en as daar onduidelikheid op die een plek is, verklaar die Heilige Gees, wat Homself nooit weerspreek nie, daardie gedeelte duideliker op ander plekke, sodat daar geen twyfel kan bestaan behalwe in die geval van diegene wat moedswillig onkundig wil bly nie.”— Laing, “Works oj John Knox,” Deel II, bis. 281, 284 (ed. 1895.)GS 288.3

    Dit was die waarhede wat die onverskrokke Hervormer, in lswensgevaar voor die koningin verkondig het. Met dieselfde heldemoed het hy doelbewus voortgegaan; hy het gebid, en die stryd van die Here gestry totdat Skotland van die pousdom bevry is.GS 288.4

    In Engeland het die bevestiging van Protestantisme as ‘n nasionale godsdiens vervolging laat afneem, maar dit is nie heeltemal stopgesit nie. Terwyl baie van die leerstellings van Rome versaak is, is baie van die vorms behou. Die oppermagtigheid van die Pous is verwerp, maar in sy plek is die koning verhef tot hoof van die kerk. In die kerkdienste was daar nog ‘n groot afwyking van die reinheid en eenvoud van die evangelie. Die groot beginsel van godsdiensvryheid was nog nie heeltemal verstaan nie. Hoewel die vreeslike wreedhede wat Rome teen ketters gepleeg het maar selde deur Protestantse heersers toegepas is, is die reg van elke mens om God te dien volgens die inspraak van sy gewete, nogtans nie erken nie. Van almal is geverg dat hulle die leerstellings moes aanneem en die vorms moes gebruik wat deur die kerk voorgeskryf is. Andersdinkendes is vervolg vir ‘n tydperk van ‘n honderd jaar en meer.GS 288.5

    In die sewentiende eeu is duisende predikante van hulle ampte onthef. Op dreigement van swaar boetes, gevangenisstraf, en verbanning, is die volk verbied om enige godsdienstige byeenkomste by te woon behalwe die wat deur die kerk goedgekeur is. Daardie getroue siele wat gedwonge gevoel het om God te aanbid, is verplig om in donker systraatjies, verborge solders, en in sommige gevalle snags in die bosse byeen te kom. In die beskutting van die bosse, ‘n tempel deur God self gebou, het die verstrooide, vervolgde kinders van God vergader om te bid en God te loof. Maar ten spyte van al hulle voorsorgsmaatreëls, moes baie vir hulle geloof ly. Die tronke was tot oorlopenstoe vol. Gesinne is verbreek. Baie is na vreemde lande verban. Maar God was met Sy volk, en vervolging kon hulle nie stilmaak nie. Baie is oor die see verdryf na Amerika, en daar het hulle die hoeksteen gelê van burgerlike en godsdiensvryheid wat nog steeds die bolwerk en eer van daardie land is.GS 288.6

    Weer, net soos in die dae van die apostels, het vervolging gedien tot uitbreiding van die evangelie. In ‘n afskuwelike kerker, vol diewe en verlaagdes, het John Bunyan die atmosfeer van die hemel ingeasem; en daar het hy sy bekende allegorie van die “Pelgrim se Reis na die Ewigheid” geskrywe. Vir meer as tweehonderd jaar al spreek daardie stem van die Bedfordse tronk met opwekkende krag tot die harte van mense. Bunyan se “Pilgrim’s Progress” en “Grace Abounding to the Chief of Sinners” het baie voete in die lewensweg gerig.GS 289.1

    Baxter, Flavel, en Alliene, en nog ander manne van talent, opvoeding, en Christelike ervaring, het opgestaan in heldhaftige verdediging van die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Die werk van hierdie manne, verban en verbied deur die heersers van hierdie wêreld, kan nooit vergaan nie. Flavel se “Fountain of Life,” en “Method of Grace” het duisende geleer hoe om hulle siele vir bewaring aan Christus te gee. Baxter se “Reformed Pastor” was ‘n groot seen vir vele wat ‘n herlewing in die werk van God begeer het, en sy “Saints’ Everlasting Rest” het sy werk gedoen om siele te lei na die rus wat oorbly vir die volk van God.GS 290.1

    ‘n Honderd jaar later, in ‘n tyd van groot geestelike duisternis, het Whitefield en die Wesleys verskyn as ligdraers vir God. Onder die wette van die gevestigde kerk, het die mense van Engeland verval in ‘n toestand van godsdienstige agteruitgang wat skaars onderskei kon word van die heidendom. Natuurlike godsdiens was die geliefkoosde studie van die geestelikes, en dit het al hulle teologie ingesluit. Die hoër klasse het vroomheid versmaad, en hulle daarop beroem dat hulle hoër gestaan het as wat hulle fanatisme genoem het. Die laer klasse was baie onkundig, en oorgegee aan ontug, terwyl die kerk geen moed of geloof meer gehad het om die vertrapte saak van waarheid te ondersteun nie.GS 290.2

    Die groot leerstelling van regverdigmaking deur geloof, wat so duidelik deur Luther geleer is, is byna vergeet; en die Roomse beginsel van vertroue op goeie werke vir die saligheid het die plek daarvan ingeneem. Whitefield en die Wesleys, lede van die gevestigde kerk, was opregte soekers na die guns van God en dit kon verkry word, soos hulle geleer is, deur ‘n deugsame lewe en die nakoming van die insettings van die godsdiens.GS 290.3

    Toe Charles Wesley eenmaal siek was, en daar gevrees is vir sy lewe, is aan hom gevra waarop hy sy hoop op die ewige lewe gebou het. Sy antwoord was, “Ek het my beste pogings aangewend om God te dien.” Toe dit geskyn het of die vriend wat die vraag gestel het nie heeltemal met die antwoord tevrede was nie, het Wesley gedink, “Wat! is my pogings nie voldoende grond vir hoop nie? Sou hy my wil beroof van my goeie werke? Ek het niks anders om op te vertrou nie.”—Whitehead, John, “Lije of the Rev. Charles Wesley,” bl. 102 (2de Am. ed. 1845).So dig was die duisternis wat die kerk omhul het, wat die versoening bedek het, wat Christus van sy heerlikheid beroof het, en wat die harte van die mense afgewend het van hulle enigste hoop op die saligheid, naamlik die bloed van die gekruisigde Verlosser.GS 291.1

    Wesley en sy medewerkers is daartoe gebring om te sien dat ware godsdiens sy setel in die hart het, en dat Gods wet te doen het met die gedagtes sowel as met woorde en dade. Oortuig van die nodigheid van hartheiligheid, sowel as ‘n onbesproke uiterlike gedrag, het hulle in alle erns ‘n nuwe lewensweg begin. Met alle ywer en gebed het hulle probeer om die boosheid van die natuurlike hart in bedwang te bring. Hulle het ‘n lewe van selfverloëning, liefdadigheid, en nederigheid gelei, en met die grootste nougesetheid alles gedoen wat volgens hulle mening kon help om wat hulle die meeste begeer het aan hulle te besorg — naamlik daardie heiligheid wat vir hulle die guns van God sou verkry. Maar hulle het nie gekry wat hulle gesoek het nie. Hulle pogings om hulleself te bevry van die veroordeling van die sonde en die mag daarvan te verbreek, was tevergeefs. Dit was dieselfde stryd wat Luther ondervind het in sy sel te Erfurt. Dit was dieselfde vraag wat sy siel gemartel het —“Hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?” Job 9: 2.GS 291.2

    Die vure van goddelike waarheid, wat byna uitgedoof is op die altaar van Protestantisme, is weer aangesteek deur die ou fakkel wat deur die Boheemse Christene van eeu tot eeu oorhandig is. Na die Hervorming, is Protestantisme in Boheme deur die hordes van Rome vertrap. Almal wat geweier het om die waarheid te versaak, is gedwing om te vlug. Sommige van hulle wat skuiling in Sakse gevind het, het die outydse geloof daar gehandhaaf. Dit was van die afstammelinge van hierdie Christene wat Wesley en sy medewerkers die lig ontvang het.GS 291.3

    John en Charles Wesley, na hulle ordening, is vir sendingwerk na Amerika gestuur. Aan boord van die skip waarmee hulle gereis het, was ‘n geselskap Morawiërs. Heftige storms is op see teëgekom, en John Wesley, wat deur die dood in die aangesig gestaar is, het gevoel dat hy geen versekering van vrede by God gehad het nie. Die Duitsers, egter, het ‘n kalmte en vertroue aan die dag gelê wat hy nie geken het nie.GS 292.1

    “Lank tevore al,” het hy gesê, “het ek hulle ernstige gedrag opgemerk. Deur dienste vir die ander passasiers te verrig, wat die Engelse nooit sou onderneem het nie, het hulle steeds bewys gelewer van hulle nederigheid; hulle wou geen betaling vir die werk aanneem nie, en het gesê dat dit goed vir trotse harte was, en dat hulle liefdevolle Heiland meer vir hulle gedoen het. Elke dag het hulle bewys gelewer van ‘n sagmoedigheid wat deur geen kwaad kon aangetas word nie. As hulle gestamp, geslaan, of neergegooi is, het hulle weer opgestaan en weggestap; maar nooit het hulle gekla nie. Nou was daar geleentheid om hulle op die proef te stel om te sien of hulle verlos was van die gees van vrees sowel as van hoogmoed, woede, en wraak. Terwyl hulle besig was om ‘n psalm te sing aan die begin van hulle diens, het ‘n brander oor die skip geslaan, die groot seil stukkend geslaan en oor die dekke gestroom asof die groot see ons alreeds opgeswelg het. Die Engelse het verskriklik begin gil, maar die Duitsers het kalm voorgegaan met hulle lied. Later het ek een van hulle gevra, ,Was julle nie bang nie?’ Hy het geantwoord, “Ek dank God, nee.’ Weer het ek gevra, ,maar was julle vrouens en kinders nie bang nie?’ Weer het sy sagmoedig geantwoord, Nee; ons vrouens en kinders is nie bang vir die dood nie.’ “— Whitehead, “Life of the Rev. John Wesley,” bl. 10 {Am. ed. 1845. GS 292.2

    By hulle aankoms in Savannah, het Wesley vir ‘n rukkie by die Morawiërs gebly, en hulle Christelike lewe het ‘n diep indruk op hom gemaak. Van een van hulle dienste, wat baie afgesteek het by die lewenlose formalisme van Engeland, het hy geskryf: “Die groot eenvoud sowel as die plegtigheid van die hele diens het my die sewentienhonderd jaar wat verloop het, byna laat vergeet, en ek het my verbeel dat ek in een van daardie vergaderings was waarin vorm of staat nie bestaan het nie; en waarin Paulus, die tentmaker, of Petrus, die visser, as voorganger opgetree het in die Gees en in krag.”— Whitehead, “Lije oj the Rev. John Wesley,” bls. 11, 12 (Am. ed. 1845).GS 292.3

    By sy terugkoms in Engeland, het Wesley, onderrig deur ‘n Morawiese prediker, ‘n duideliker begrip van die Bybelse geloof verkry. Hy is oortuig dat hy alle vertroue op sy eie werke vir die saligheid moes versaak, en alleen moes vertrou op die “Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Op ‘n vergadering van die Morawiese Genootskap in Londen, is daar ‘n verklaring van Luther gelees, waarin die verandering beskryf word wat deur die Gees van God in die hart van die gelowige bewerk word. Terwyl Wesley geluister het, is die vlam van geloof in sy siel aangesteek. “Ek het gevoel hoedat my hart op vreemde wyse verwarm word,” het hy gesê. “Ek het gevoel dat ek op Christus, en op Christus alleen, vertrou het vir die saligheid: en daar is ‘n versekering aan my gegee dat Hy my sondes, ja, my sondes weggeneem het, en my verlos het van die wet van sonde en die dood.”—Id., bl. 52.GS 293.1

    Deur lang jare van vermoeiende en troostelose strewe, jare van harde selfverloëning, van verwyt en vernedering, het Wesley volhard in sy een doel, naamlik om God te soek. Nou het hy Hom gevind; en hy het gevind dat die genade wat hy getrag het om deur vas en gebed, deur aalmoes en selfvernedering te win, ‘n gawe was, “sonder geld en sonder prys.”GS 293.2

    Eenmaal bevestig in die geloof van Christus, was sy hele siel brandende met ‘n begeerte om die kennis van die heerlike evangelie van Gods vrye genade orals te versprei. “Ek beskou die hele wêreld as my arbeidsveld,” het hy gesê; “in watter deel ek my ookal mag bevind, beskou ek dit nodig en reg en as my aangewese plig om aan almal wat gewillig is om te luister, die blye tyding van verlossing te verkondig.”—Id., bl. 74.GS 293.3

    Hy het sy streng en selfverloënende lewe voortgesit, nie nou as grond nie, maar as gevolg van sy geloof; nie as die wortel nie, maar as die vrug van heiligheid. Die genade van God in Christus is die grondslag van die Christen se geloof, en daardie genade sal gehoorsaamheid as gevolg hê. Wesley het sy lewe gewy aan die verkondiging van die groot waarhede wat hy ontvang het, naamlik regverdigmaking deur geloof in die versoenende bloed van Christus en die vernuwende krag van die Heilige Gees in die hart, wat vrugte sal afwerp in ‘n lewe ooreenkomstig die voorbeeld van Christus.GS 293.4

    Whitefield en die Wesleys is vir hulle werk berei deur besliste persoonlike oortuigings van hulle eie verlore toestand; en ten einde hulle in staat te stel om beproewing te verduur soos goeie soldate, is hulle blootgestel aan smaad, bespotting, en vervolging beide op die universiteit en in hulle bediening. Hulle, en ‘n paar ander wat met hulle gesimpatiseer het, is veragtelik genoem Metodiste deur hulle goddelose medestudente —‘n naam wat vandag as ‘n erenaam beskou word deur een van die grootste genootskappe in Engeland en Amerika.GS 294.1

    As lede van die Kerk van Engeland was hulle getrek deur die vorms van daardie kerk, maar die Here het in Sy woord ‘n hoër standard aan hulle voorgehou. Die Heilige Gees het hulle gedwing om Christus te verkondig as die gekruisigde. Die krag van die Allerhoogste is in hulle werk geopenbaar. Duisende is oortuig en waarlik bekeer. Dit was nodig om hierdie skape te beskerm teen verskeurende wolwe. Wesley het nie ‘n plan gehad om ‘n nuwe genootskap te stig nie, maar hy het hulle georganiseer in wat bekend was as die Metodistiese Vereniging.GS 294.2

    Vreemd en heftig was die teenstand wat hierdie predikers aan die kant van die gevestigde kerk ondervind het; maar in Sy wysheid het God tussenbei getree sodat die Hervorming binne die kerk self begin het. As dit heeltemal van buite gekom het, sou dit nie kon indring waar dit so nodig was nie. Maar daar die opwekkingspredikers kerkmanne was, en binne die kerk gewerk het soos die geleentheid voorgedoen het, het die waarheid ingang gevind waar die deure andersins gesluit sou gebly het. Sommige van die geestelikes is opgewek uit hulle geestelike slaap, en hulle het ywerige predikers geword in hulle eie gemeentes. Kerke wat reeds versteen was deur formalisme het weer lewendig geword.GS 294.3

    In die tyd van Wesley, soos in alle eeue van die kerk se geskiedenis, het manne met verskillende gawes hulle aangewes; werk gedoen. Hulle het nie op alle punte van die leer ooreengestem nie, maar almal is deur die Gees van God gelei, en hulle het saamgewerk met die een hoofdoel, naamlik om siele vir Christus te win. Die verskille tussen Whitefield en die Wesleys het een tyd gedreig om vervreemding te bring; maar namate hulle nederigheid geleer het in die skool van Christus, het wedersyde verdraagsaamheid en liefde hulle versoen. Hulle het geen tyd gehad vir twiste terwyl dwaalleer en sonde orals geheers het en sondaars verlore gegaan het nie.GS 294.4

    Die diensknegte van God het ‘n ruwe pad betree. Manne van invloed en geleerdheid het hulle kragte teen hulle gebruik. Na ‘n tyd het baie van die geestelikes bepaalde onvriendelikheid vertoon, en die kerkdeure is gesluit teen ‘n reine geloof en diegene wat dit verkondig het. Die optrede van die geestelikes deur hulle uit die kansel aan te val, het die elemente van duisternis, onkunde, en boosheid opgewek. Keer op keer het John Wesley deur ‘n wonderwerk van Gods genade die dood ontvlug. Wanneer die woede van die gepeupel teen hom opgewek is, en dit geskyn het of daar geen kans was om te ontsnap nie, het ‘n engel in menslike gedaante aan sy sy kom staan; die gepeupel het teruggeval en die dienskneg van Christus het die plek van gevaar veilig verlaat.GS 295.1

    Van een van die tye toe hy verlos is van die verwoede gepeupel, het Wesley geskryf: “Baie van hulle het probeer om my teen die grond te gooi terwyl ons met ‘n glibberige heuwelpad na die dorp is; want hulle het gemeen dat as ek eenmaal op die grond beland het, ek nie in staat sou wees om weer op te staan nie. Maar ek het nie eenmaal gestruikel of gegly nie totdat ek veilig uit hulle hande was. . . . Hoewel baie van hulle probeer het om my aan die hals of klere beet te kry en my grond-toe te trek, kon hulle my nie vasvat nie: net een van hulle het my onderbaadjiepant beetgekry, maar die stuk het gou in sy hand agtergebly; die ander pant, in die sak waarvan ‘n banknoot was, is halfpad afgeskeur. . . . ‘n Frisgeboude kêrel net agter my het verskeie keer na my geslaan met ‘n groot eikehoutstok; as hy my eenmaal daarmee raakgeslaan het agter my kop, sou ‘n tweede skoot nie nodig wees nie. Maar elke skoot het hy misgeslaan, ek weet nie hoe nie; want ek kon nie regs of links koets nie. . . . ‘n Andereen het deur die gedrang aangestorm gekom; hy het sy arm opgelig om te slaan, maar hy het dit skielik vveer laat sak en my kop gestreel terwyl hy gesê het, ,hoe sag is sy hare!’ . . . Die heel eerste wie se harte in die dorp aangeraak is, was die helde van die dorp, die leiers van die gepeupel by alle geleenthede; een van hulle was die baasvuisvegter. . . .GS 295.2

    “Hoe geleidelik berei God ons voor om Sy wil te doen! Twee jaar gelede het ‘n stuk baksteen my skrams op die skouer getref. ‘n Jaar daarna is ek met ‘n klip tussen die oë gegooi. Verlede maand is ek eenmaal raakgeslaan, en vanaand tweemaal; die eerste maal net voordat ek in die dorp gekom het en die laaste maal na ek daar weg is; maar dit was albei niks: want hoewel een man my met alle mag op die bors geslaan het, en die ander hou op my mond was, sodat die bloed sommer dadelik gevloei het, het ek net so min pyn van die slae gevoel asof hulle my met ‘n strooitjie geslaan het.”—“Wesley’s Works,” Deel 111, bis. 297, 298 (ed. 1831).GS 296.1

    Die Metodiste van daardie vroeë dae — leke sowel as predikers — moes bespotting en vervolging verduur beide van kerklede en van die ongodsdienstiges wat deur hulle wanvoorstellings opgehits is. Hulle is voor geregshowe gebring — geregshowe maar net in naam, want daar was maar min geregtigheid in die howe van daardie tyd. Dikwels moes hulle geweld verduur van hulle vervolgers. Die gepeupel het van huis tot huis gegaan, huisraad en besittings vernietig, geplunder soos hulle wil, en mans, vrouens, en kinders op wrede wyse mishandel. In sommige gevalle is daar openbare kennisgewings aangeplak waarin diegene wat graag wou help om die vensterruite van Metodiste stukkend te gooi en hulle huise te beroof, versoek is om op bepaalde tye en plekke bymekaar te kom. Hierdie openlike verbreking van beide mens-like en goddelike wette is gepleeg sonder bestraffing. Daar is oorgegaan tot ‘n stelselmatige vervolging van die mense wie se enigste fout was dat hulle gesoek het om die voete van sondaars te rig van die pad van die verdoemenis in die pad van heiligheid.GS 296.2

    Met verwysing na die beskuldigings teen hom en sy medewerkers, het John Wesley gesê: “Sommige beweer dat die leerstellings van hierdie manne vals, verkeerd, en dweepsugtig is; dat hulle nuut en tot onlangs toe onbekend was; dat hulle kwakery, fanatisme en Rooms is. Al hierdie voorwendsels is reeds aan die kaak gestel, want daar is algemeen bewys dat elkeen van hierdie leerstellings skriftuurlik is soos deur ons eie kerk uitgelê. Hulle kan dus nog vals nog verkeerd wees as die Skrifte waar is.” “Ander beweer, ,hulle leer is te streng; hulle maak die pad na die hemel te nou.’ En dit is inderwaarheid die oorspronklike beswaar (vir ‘n tyd was dit byna die enigste beswaar), en dit lê ten grondslag van ‘n duisend ander wat in verskillende vorms voorkom. Maar maak hulle die pad na die hemel nouer as wat onse Here en Sy apostels dit gemaak het? Is ons leer strenger as die van die Bybel? Dink maar aan ‘n paar duidelike tekste: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag.’ ,Elke ydel woord wat die mense praat, daar moet hulle rekenskap van gee in die oordeelsdag.’GS 296.3

    “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.’ “As hulle leer strenger is as dit, dan is dit hulle skuld; maar u weet in u hart dat dit nie so is nie. En wie kan minder streng wees sonder om die woord van God te verdraai? Kan enige rentmeester van die verborgenhede van God getrou wees as hy enige deel van daardie heilige uitsprake verander? Nee. Hy kan niks daarvan afdoen en hy kan niks versag nie; hy is onder verpligting om aan alle mense te verklaar, ,ek mag nie die Skrifte verlaag om in julle smaak te pas nie. Julle moet tot die hoogte van die Skrifte kom of vir ewig vergaan.’ Dit is die ware grond van daardie ander beskuldiging aangaande die ,liefdeloosheid van hierdie mense.’ Is hulle liefdeloos? In watter opsig? Voed hulle nie die hongeriges en kleed hulle nie die naaktes nie? ,Nee; dit is nie die vraag nie: hulle skiet nie in hierdie dinge kort nie: maar hulle is so liefdeloos in hulle oordeel! Hulle meen dat niemand gered kan word behalwe diegene wat hulle pad bewandel nie.’ “—“Wesley’s Works,” Deel III, bis. 152, 153.GS 297.1

    Die geestelike agteruitgang wat in Engeland geheers het net voor die tyd van Wesley, was in ‘n groot mate die gevolg van die Antinomiaanse leer. Dit is deur vele voorgehou dat Christus die sedewet afgeskaf het en dat Christene derhalwe nie onder verpligting is om dit na te kom nie; en dat gelowiges bevry is van die “slawerny van goeie werke.” Ander, hoewel hulle die ewigdurendheid van die wet erken het, het verklaar dat dit nie vir predikante nodig was om die volk te vermaan tot gehoorsaamheid nie, aangesien diegene wat deur God uitverkies is tot die saligheid “deur ‘n onweerstaanbare drang van goddelike genade gelei sou word tot ‘n lewe van vroomheid en deug,” terwyl diegene wat vir die verdoemenis bestem is, “geen krag het om die goddelike wet te gehoorsaam nie.”GS 297.2

    Ander, wat ook die mening toegedaan was dat “die uitverkorenes nie van die genade kon verval of die goddelike guns kon verbeur nie,” het tot ‘n nog gruweliker gevolgtrekking gekom naamlik “dat die goddelose dade wat hulle pleeg nie werklik sonde is nie, of kan beskou word as ‘n verkragting van die goddelike wet nie, en dat daar derhalwe vir hulle geen nodigheid was of om hulle sondes te bely of hulle te versaak deur bekering nie.”— “McClintock and Strong’s Cyclopedia, art. Antinomians (ed. 1871).Hulle het daarom verklaar dat selfs een van die afskuwelikste sondes, “een wat algemeen erken is as ‘n verkragting van die goddelike wet, nie ‘n sonde was in die oë van God,” as dit deur een van die uitverkorenes gepleeg is nie, “omdat dit een van die vernaamste en kenmerkende karaktertrekke van die uitverkorenes is dat hulle niks kan doen wat God mishaag of deur die wet verbied is nie.”GS 298.1

    Hierdie ontsettende leerstellings is in wese dieselfde as die latere leerstellings van die populêre opvoeders en teoloë, naamlik dat daar nie ‘n onveranderlike goddelike wet as maatstaf van geregtigheid bestaan nie, maar dat die maatstaf van sedelikheid deur die samelewing self bepaal word, en dat dit gevolglik aan verandering onderhewig is. Al hierdie idees kom van dieselfde meestergees — van hom. wat selfs onder die sondelose bewoners van die hemel sy werk begin het om die regverdige beperkings van Gods wet tersyde te stel.GS 298.2

    Die leerstelling dat goddelike dekrete die karakter van mense onveranderlik vasstel, het vele gebring tot ‘n feitlike verwerping van Gods wet. Wesley het die dwalings van die Antinomiaanse leraars hardnekkig bestry, en daarop gewys dat hierdie leer wat tot Antinomianisme lei, teenstrydig met die Skrifte was. “Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.” “Dit is goed en aangenaam voor God, onse Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom, want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat homself gegee het as ‘n losprys vir almal.” (Titus 2: 11; 1 Tim. 2: 3-6.) Die Gees van God word vryelik gegee, om elke mens in staat te stel om die saligheid aan te neem. Christus, “die waaragtige lig wat elke mens verlig was aan kom in die wêreld.” Joh. 1: 9. Die mens mis die saligheid deur sy eie moedswillige weiering van die gawe van die lewe.GS 298.3

    In antwoord op die bewering dat die Dekaloog saam met die seremoniële wet deur Christus afgeskaf is, het Wesley gesê: “Die sedewet, vervat in die Tien Gebooie en beveel deur die profete, het hy nie weggeneem nie. Dit was nie die doel van Sy koms om enige deel hiervan af te skaf nie. Dit is ‘n wet wat nooit verbreek kan word nie, wat ,vasstaan as die getroue getuie in die hemel.’ . . . Dit het bestaan van die begin van die wêreld, ,geskrywe nie op kliptafels nie,’ maar op die harte van alle mensekinders, toe hulle van die hand van die Skepper gekom het. En hoe die letters wat eenmaal deur die vinger van God geskryf is vandag ookal deur die sonde uitgewis is, kan hulle nogtans nie heeltemal verdelg word nie solank ons nog enige besef het van goed en kwaad. Elke deel van hierdie wet moet van krag bly op die hele mensheid, en in alle eeue; want hulle is nie afhanklik van tyd of plek nie, of van enige ander omstandigheid wat aan verandering onderworpe is nie, maar van die natuur van God, en van die natuur van die mens, en hulle onveranderlike verhouding tot mekaar.GS 299.1

    “ ,Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.’ . . . Sonder twyfel is sy bedoeling op hierdie plek (dit is ooreenkomstig alles wat voorafgaan en later volg)—Ek het gekom om die wet in sy volheid te bevestig ten spyte van al die byvoegsels van mense: Ek het gekom om alles ten voile duidelik te stel wat duister en verborge daarin is: Ek het gekom om die ware en voile betekenis van elke deel te verklaar; om te wys op die lengte en breedte, die hele omvang van elke gebod daarin, en op die hoogte en diepte, die onbegryplike reinheid en geestelikheid daarvan in al sy vertakkings.”—“Wesley’s Works,” Preek 25.GS 299.2

    Wesley het gewys op die volkome ooreenstemming van die wet en die evangelie. “Daar is dus die nouste verband moontlik tussen die wet en die evangelie. Aan die eenkant maak die wet gedurig plek vir, en wys ons op, die evangelie; aan die anderkant lei die evangelie ons steeds tot ‘n nougesetter vervulling van die wet. Die wet, byvoorbeeld, vereis dat ons God moet liefhê, ons naaste moet liefhê, dat ons sagmoedig, nederig, en heilig moet wees. Ons voel dat ons nie hierdie dinge kan bereik nie; ja, dat dit vir die mens onmoontlik is; maar ons sien ‘n belofte van God wat ons daardie liefde sal gee, en wat ons nederig, sagmoedig, en heilig sal maak: ons neem hierdie evangelie of hierdie blye tyding aan; dit geskied aan ons volgens ons geloof; en ,die geregtigheid van die wet word in ons vervul,’ deur die geloof in Christus Jesus. . . .GS 300.1

    “Vooraanstaande onder die vyande van die evangelie van Christus,” het Wesley gesê, “is diegene wat openlik en duidelik ,die wet oordeel,’ ,en kwaad spreek van die wet;’ wat die mense leer, om nie net een, of dit nou die grootste of die kleinste gebod is, maar al die gebooie tegelyk te verbreek (d.i. te verwater, los te maak, of die verpligtings daarvan op te hef). . . . Die verbasendste van alle omstandighede wat met hierdie sterke selfbedrog gepaard gaan, is dat diegene wat daaraan oorgegee is, werklik glo dat hulle Christus vereer deur die verwerping van Sy wet, en dat hulle Sy amp verheerlik, terwyl hulle Sy leer vernietig! Ja, hulle vereer Hom net soos Judas toe hy gesê het, ,Gegroet, Rabbi!’ en Hom gesoen het. En Hy kan met alle reg aan elkeen van hulle sê, ,Verraai jy die Seun van die mens met ‘n kus?’ Om van Sy bloed te praat en Sy kroon weg te neem, is niks anders as om Hom met ‘n kus te verraai nie; en dieselfde geld ook as ‘n deel van Sy wet geminag word onder voorwendsel van die bevordering van Sy evangelie. En enigeen wat geloof verkondig op so ‘n wyse dat dit regstreeks of onregstreeks enige deel van gehoorsaamheid afskaf, kan nie hierdie beskuldiging ontduik nie; of wat Christus verkondig sodat dit een van die minste van die gebooie van God tot niet maak of enigsins verswak.” —“Wesley’s Works,” Preek 35.GS 300.2

    Aan diegene wat voorgehou het dat “die prediking van die evangelie voldoen aan die eise van die wet,” het Wesley gesê: “Dit ontken ons heeltemal. Dit voldoen nie aan die eerste vereistes van die wet nie, naamlik om mense van sonde te oortuig en diegene wakker te skud wat op die randjie van die hel slaap.” Die apostel Paulus verklaar, “deur die wet is die kennis van die sonde;” “nie aleer ‘n mens van sonde oortuig is sal hy waarlik behoefte voel aan die versoenende bloed van Christus nie . . . ,die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is,’ soos die Here gesê het. Dit is dus belaglik om die geneesheer te neem na diegene wat gesond is, of diegene wat meen dat hulle nie siek is nie. Jy moet hulle eers oortuig dat hulle siek is; anders sal hulle jou nie bedank vir jou werk nie. Dit is net so belaglik om Christus te verkondig aan diegene wie se harte heel is, wie se harte nog nooit gebreek is nie.”—“Wesley’s Works,” Preek 35.GS 301.1

    Waar hy dus die evangelie van die genade van God verkondig het, het Wesley, net soos sy Meester, getrag om die wet te vergroot en te verheerlik. Getrou het hy die werk gedoen wat God aan hom gegee het, en heerlik was die vrugte wat hy toegelaat was om te sien. Aan die einde van sy lang lewe van meer as tagtig jaar — vyftig waarvan hy rondgereis het in sy bediening — het hy meer as ‘n halfmiljoen volgelinge gehad. Maar die menigte wat deur sy werk verhef is uit die verlaging van die sonde tot ‘n hoër en edeler lewe, en die aantal wat deur sy leer tot ‘n dieper en ryker ervaring gekom het, sal nooit bekend word aleer die hele gesin van verlostes in die koninkryk van God vergader is nie. Sy lewe bevat ‘n les van onskatbare waarde vir alle Christene. Mag die geloof en nederigheid, die onvermoeide ywer, die selfopoffering, en die toewyding van hierdie dienskneg van Christus in die kerke van vandag weerkaats word!GS 301.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents