Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 26—‘n Hervormingswerk

    DIE Sabbatshervorming wat in die laaste dae sal geskied, is voorspel in die profesie van Jesaja: “So sê die Here: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want My heil is naby om te kom en My geregtigheid om geopenbaar te word. Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie . . . en die uitlanders wat hulle by die Here aangesluit het om Horn te dien en om die Naam van die Here lief te hê deur Sy knegte te wees — elkeen wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie onheilig nie, en hulle wat vashou aan My verbond, hulle sal Ek bring na My heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in My huis van gebed.” Jes. 56: 1, 2, 6, 7.GS 515.1

    Hierdie woorde is van toepassing op die Christelike bedeling soos aangetoon is deur die teksverband: “Die Here HERE wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.” Jes. 56: 8. Hier het ons ‘n voorspelling van die versameling van die heidene deur die evangelie. Op diegene wat die Sabbat heilig, word daar ‘n seen uitgespreek. Die verpligting om die vierde gebod te hou reik dus tot anderkant die kruisiging, die opstanding, en die hemelvaart van Christus, tot die tyd wanneer Sy diensknegte die blye tyding sal verkondig aan alle volke.GS 515.2

    Deur dieselfde profeet beveel die Here, “Bind die getuienis toe; verseël die wet in die hart van My leerlinge.” Jes. 8: 16, 20. Die seël van Gods wet word in die vierde gebod aangetref. Van al die tien is dit hierdie gebod alleen wat die naam en die titel van die Wetgewer vermeld. Dit verklaar dat Hy die Skepper van die hemele en die aarde is, sodat Hy geregtig is op die eerbetoning en aanbidding bo alle ander gode. Behalwe hierdie gebod, is daar niks in die Dekaloog wat aantoon op wie se gesag die wet gegee is nie. Toe die Sabbat deur die pouslike mag verander is, is die seël van die wet weggeneem. Daar word ‘n beroep op die dissipels van Jesus gedoen om die seël te herstel deur die Sabbat van die vierde gebod tot sy regmatige plek te verhef as die Skepper se gedenkteken en die teken van Sy gesag.GS 516.1

    “Na die wet en na die getuienis.” Hoewel daar baie teenstrydige leerstellings en teorieë is, is die wet van God die een onfeilbare maatstaf waaraan alle menings, leerstellings, en teoriee getoets moet word. Die profeet sê, “As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie. is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie!” Jes. 8: 20.GS 516.2

    Weer kom die bevel, “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin en verkondig aan My volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.” Dit is nie die sondige wêreld nie, maar diegene wat die Here “My volk” noem, wat bestraf word vir hulle oortredings. Die Here sê verder, “En tog soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van My weë! Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van Sy God nie verlaat nie.” Jes. 58: 1, 2. Hier sien ons ‘n klas wat dink dat hulle regverdig is, en wat skynbaar groot belangstelling toon in die diens van God; maar die ernstige bestraffing van die Deursoeker van harte bewys dat hulle die goddelike gebooie vertrap.GS 516.3

    Die profeet toon die wet aan wat versaak is: “Die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Bouer van gebreekte mure, hersteller van paaie om bewoonbaar te maak. As jy jou voet terughou van die Sabbat — om nie jou besigheid op My heilige dag te doen nie, en as jy die Sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here eerwaardig; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou besigheid soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here.” Jes. 58: 12-14. Hierdie profesie is ook op ons tyd van toepassing. Die breuk is gemaak in die wet van God toe die Sabbat deur die Roomse mag verander is. Maar die tyd het aangebreek dat hierdie goddelike instelling herstel moet word. Die breuk moet toegemaak word, en die fondament van vorige geslagte moet opgerig word.GS 517.1

    Geheilig deur die Skepper se rus en seen, is die Sabbat deur Adam in sy onskuld in die heilige Eden gehou; en toe die gevalle, dog boetvaardige, Adam uit sy gelukkige tuiste verdryf is, het hy dit nog gevier. Dit is gevier deur al die patriarge van Abel af tot by regverdige N’oag en Abraham en Jakob. Toe die uitverkore volk in die Egiptiese slawerny was, het baie van hulle, te midde van die heersende afgodediens, hulle kennis van Gods wet verloor; maar toe die Here Israel verlos het, het Hy Sy wet in ontsagwekkende heerlikheid aan die skare verkondig, sodat hulle Sy wil mag ken en Hom vir ewig mag vrees en gehoorsaam.GS 517.2

    Van daardie dag af tot vandag toe, is die kennis van Gods wet op die aarde bewaar, en is die Sabbat volgens die vierde gebod gehou. Hoewel die “mens van sonde” daarin geslaag het om Gods heilige dag onder die voete te vertree, was daar nogtans, selfs in die tyd van sy opperheerskappy, getroue siele in verborge plekke wat die Sabbat geërbiedig het. Sedert die Hervorming was daar in elke geslag diegene wat dit gehou het. Hoewel dit dikwels te midde van verwyte en vervolging geskied het, is daar gedurig getuienis gelewer van die ewigdurendheid van Gods wet en van die heilige verpligting van die Sabbat by die skepping ingestel.GS 517.3

    Die Wet Van God

    Soos Deur Jehova Gegee Soos Deur die Mens Verander
    I I
    Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie. Ek is die Here jou God: jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.
    II
    Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.
    III II
    Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat Sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie
    IV III
    Dink aan die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen: maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God; dan mag jy geen werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig. Dink aan die Sabbatdag, dat jy dit heilig.
    V IV
    Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee. Eer jou vader en jou moeder.
    VI V
    Jy mag nie doodslaan nie. Jy mag nie doodslaan nie.
    VII VI
    Jy mag nie egbreek nie. Jy mag nie egbreek nie.
    VIII VII
    Jy mag nie steel nie. Jy mag nie steel nie.
    IX VIII
    Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
    X IX
    Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie. Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie.
    X
    Jy mag nie jou naaste se goed begeer nie.
    (Exod. 20:3-17.) (Butler se Kategismus, bis. 28.)

    Hierdie waarhede, soos voorgestel in Openbaring 14, in verband met die “ewige evangelie,” sal die kenmerke wees wat die kerk van Christus onderskei tydens Sy wederkoms. Want as gevolg van die verkondiging van die drievoudige boodskap, word daar verklaar, “Hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.” En hierdie boodskap is die laaste boodskap wat verkondig sal word voor die koms van die Here. Onmiddellik na die verkondiging daarvan het die profeet die Seun van die mens in heerlikheid sien kom om die oes van die aarde in te samel.GS 519.1

    Diegene wat die lig aangaande die heiligdom en die onveranderlikheid van Gods wet aangeneem het, was met vreugde en verbasing vervul toe hulle die heerlikheid en eenstemmigheid van die stelsel van waarheid gesien het wat aan hulle verstand geopen is. Dit was hulle begeerte dat die lig wat vir hulle so dierbaar was, aan alle Christene sou meegedeel word; en hulle kon nie anders as om te glo dat dit met blydskap sou aangeneem word nie. Maar waarhede wat hulle in botsing met die wêreld sou bring, was onwelkom vir baie wat voorgegee het om navolgers van Christus te wees. Gehoorsaamheid aan die vierde gebod het ‘n opoffering geverg waarvoor die meerderheid teruggedeins het.GS 519.2

    Toe die Sabbat aan hulle voorgehou is, het baie die standpunt van die wêreldling ingeneem. Hulle het gesê: “Ons het altyd Sondag gehou, ons vaders het dit gehou, en baie goeie en vrome mense het heeltemal gelukkig gesterf terwyl hulle dit gehou het. As hulle reg was, dan is ons ook reg. As ons hierdie nuwe Sabbat hou, sal dit ons in botsing bring met die wêreld en ons sou geen invloed op hulle hê nie. Wat kan ‘n klein klompie mense doen wat die sewende dag hou, teen die hele wêreld wat Sondag hou?” Die Jode het dergelike argumente aangevoer in ‘n poging om hulle verwerping van Christus te regverdig. Hulle vaders, wat slagoffers aan God gebring het, is deur Hom aangeneem, en waarom sou die kinders nie gered word as hulle dieselfde pad bewandel nie? So ook het die pousgesindes in die dae van Luther aangevoer dat baie opregte Christene in die Katolieke geloof gesterf het, en dat daardie geloof dus voldoende was vir die saligheid. Sulke argumente sou ‘n doeltreffende dwarsboom wees teen alle vooruitgang van die geloof en lewe.GS 519.3

    Baie het aangevoer dat Sondagviering ‘n gevestigde leerstelling en ‘n algemene gebruik van die kerk vir baie eeue was. Teen hierdie argument is daar aangevoer dat Sabbatviering baie ouer en algemener was, ja so oud as die wêreld self, en dat dit die goedkeuring van beide die engele en van God weggedra het. Toe die fondamente van die aarde gelê is, toe die moresterre saamgesing het, en toe al die seuns van God gejuig het van vreugde, toe is die fondament van die Sabbat gelê. (Job 38:6, 7; Geu. 2:1-3.) Hierdie instelling verdien wel ons eerbied: dit is nie deur ‘n mens ingestel nie, en dit berus nie op menslike tradisies nie; dit is deur die Oue van Dae ingestel, en dit word gebied in Sy ewige woord.GS 520.1

    Namate die aandag van die volk gevestig is op die onderwerp van Sabbathervorming, het meeste predikante die woord van God verdraai, en dit uitgelê om soekende harte tevrede te stel. En diegene wat nie self die Skrifte ondersoek het nie, was tevrede om gevolgtrekkings te aanvaar wat ooreengestem het met hulle begeertes. Deur argumente, drogredes, die tradisies van die Vaders, en die gesag van die kerk, het vele probeer om die waarheid omver te werp. Die voorstanders van die Sabbat is tot hulle Bybels gedryf om die bindende gesag van die vierde gebod te verdedig. Nederige manne, bewapen met die Woord van Waarheid alleen, het die aanvalle van geleerdes weerstaan, wat, met verbasing en woede ontdek het dat hulle welsprekende drogredes magteloos was teen die eenvoudige, reguit argumente van manne wat die Skrifte geken het liewer as bedrewenheid in die spitsvondighede van die skole.GS 520.2

    Sonder enige Bybelse bewys in hulle guns, het vele met onvermoeide volharding gevra — sonder om te dink hoedat die selfde argumente teen Christus en Sy apostels aangevoer is — “Waarom verstaan ons groot manne nie die Sabbatvraagstuk nie? Daar is maar min wat glo soos julle glo. Dit kan nie wees dat julle reg is, en dat al die geleerdes van die wêreld verkeerd is nie.”GS 520.3

    Om sulke argumente te weerlê, was dit slegs nodig om die Skrifte aan te haal en te verwys na die geskiedenis van die Here se handelinge met Sy volk in alle eeue. God werk deur middel van diegene wat Sy stem hoor en gehoorsaam; diegene wat, as dit nodig is, harde waarhede verkondig; diegene wat nie vrees om algemene sondes te bestraf nie. Die rede waarom Hy nie meer dikwels geleerde en vooraanstaande manne kies om die leiding te neem in hervormingsbewegings nie, is omdat hulle op hulle kerkleer, teorieë, en teologiese stelsels vertrou, en nie behoefte voel aan die onderrig van God nie. Alleen diegene wat ‘n persoonlike verbinding het met die Bron van alle wysheid kan die Skrifte verstaan en verklaar. Manne wat maar min van die geleerdheid van die skole het, word soms geroep om die waarheid te verkondig, nie omdat hulle ongeleerd is nie, maar omdat hulle nie te volleerd is om deur God onderrig te word nie. Hulle leer in die skool van Christus, en hulle nederigheid en gehoorsaamheid maak hulle groot. Deur die kennis van Sy waarheid aan hulle te gee, gee God aan hulle groot eer vergeleke waarmee aardse eer en menslike grootheid onbeduidend is.GS 521.1

    Die meerderheid van die Adventiste het die waarhede aangaande die heiligdom en die wet van God verwerp, en ook baie van hulle het hulle geloof in die Adventbeweging versaak en die onjuiste en teenstrydige verklarings van die profesieë in verband darmee aangeneem. Sommige het selfs die dwaling begaan om herhaaldelik ‘n bepaalde datum vas te stel vir die koms van Christus. Die lig wat nou op die onderwerp van die heiligdom geskyn het, sou hulle oortuig het dat geen profetiese tydperk tot by die wederkoms van Christus strek nie, en dat die juiste tyd vir hierdie gebeurtenis nie voorspel is nie; maar, deur hulle van die lig af te wend, het hulle keer op keer tye vasgestel vir die wederkoms van die Here, en elke keer is hulle teleurgestel.GS 521.2

    Toe die gemeente van Thessalonika verkeerde sienswyses aangeneem het aangaande die wederkoms van Christus, het die apostel Paulus hulle aangeraai om hulle hoop en verwagting noukeurig te toets aan die woord van God. Hy het profesieë aangehaal wat gebeurtenisse openbaar het wat sou plaasvind voor die koms van Christus, en hy het hulle daarop gewys dat daar geen grond bestaan het om die koms van die Here in hulle tyd te verwag nie. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie,” het hy hulle gewaarsku. (2 Thess. 2: 3.) As hulle dinge sou verwag wat nie deur die Skrifte gestaaf word nie, sou hulle ‘n verkeerde weg inslaan; teleurstelling sou hulle blootstel aan die bespotting van ongelowiges, en hulle sou gevaar loop om tot wanhoop te verval, en om die waarhede te betwyfel wat nodig is vir hulle saligheid. Die apostel se vermaning aan die Thessalonicense bevat ‘n belangrike les vir diegene wat in die laaste dae lewe. Baie Adventiste het gevoel dat hulle nie ywerig kan wees in die werk van voorbereiding as hulle nie ‘n bepaalde dag kan vasstel vir die koms van die Here nie. Maar waar hulle hoop van tyd tot tyd opgewek word om maar net weer teleurgestel te word, sou hulle geloof so ‘n skok kry dat dit vir hulle byna onmoontlik sou wees om onder die indruk te kom van die groot profetiese waarhede.GS 521.3

    Die verkondiging van ‘n bepaalde tyd vir die oordeel, soos in die eerste boodskap, is deur God beveel. Die berekening van die profetiese tydperke waarop daardie boodskap gebaseer was, en wat die einde van die 2,300 dae geplaas het in die herfs van 1844, staan onaantasbaar. Die herhaaldelike pogings om nuwe datums vas te stel vir die begin en einde van die profetiese tydperke, en die onjuiste argumente wat nodig is om sulke stellings te handhaaf, lei mense nie alleen weg van die teenwoordige waarheid nie, maar dit bring alle pogings om die profesieë te verklaar in veragting. Hoe meer daar ‘n bepaalde tyd vasgestel word vir die wederkoms, en hoe meer dit verkondig word, hoe beter pas dit in die planne van Satan. As die tyd verbygaan, verwek hy bespotting en veragting teenoor die voorstanders, en op daardie manier bring hy hoon en smaad op die groot Adventbeweging van 1843 en 1844. Diegene wat volhard in hierdie dwaling sal eindelik ‘n datum vasstel wat te ver in die toekoms is vir die koms van Christus. Op hierdie manier sal hulle gelei word om op ‘n valse veiligheid te vertrou, en baie sal eers wakkerskrik wanneer dit te laat is.GS 522.1

    Die geskiedenis van Israel vanouds is ‘n treffende voorbeeld van wat die Adventiste in die verlede deurgemaak het. In die Adventbeweging het die Here Sy volk gelei, net soos Hy Israel uit Egipte gelei het. Hulle geloof is deur ‘n bittere teleurstelling getoets net soos die van die Hebreërs by die Skelf See. As hulle nog vertrou het op die hand wat hulle in die verlede gelei het, sou hulle die redding van God gesien het. As almal saamgewerk het in 1844, die derde engel se boodskap aangeneem en verkondig het in die krag van die Heilige Gees, sou die Here op magtige wyse deur hulle gewerk het. ‘n Stroom van lig sou op die wêreld geskyn het. Die bewoners van die aarde sou jare reeds gewaarsku gewees het, die werk sou voltooi gewees het, en Christus sou gekom het om Sy volk te verlos.GS 523.1

    Dit was nie Gods wil dat Israel vir veertig jaar in die woestyn moes rondswerf nie; Hy wou hulle reguit na Kanaan gelei het, en hulle daar gevestig het as ‘n heilige, en gelukkige volk; maar “deur ongeloof kon hulle nie ingaan nie.” Heb. 3: 19. Weens hulle afval het hulle in die woestyn omgekom, en ander is opgerig om die Beloofde Land binne te gaan. Net so ook was dit nie die wil van God dat die koms van Christus solank uitgestel sou word nie, en dat Sy volk vir soveel jare in hierdie wêreld van sonde en ellende moet woon nie; maar ongeloof het hulle afgeskei van God. Waar hulle geweier het om die werk te doen wat Hy aan hulle gegee het, is ander opgewek om die boodskap te verkondig. In genade aan die wêreld, stel Jesus Sy koms uit, sodat sondaars ‘n geleentheid kan kry om die waarskuwing te hoor en om in Hom skuiling te vind voordat die grimmigheid van God uitgestort word.GS 523.2

    Nou, net soos in vorige eeue, sal die verkondiging van die waarheid wat die sondes en dwalings van die tye bestraf, teenstand uitlok. “Elkeen wat kwaaddoen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf kan word nie.” Joh. 3: 20. Waar mense sien dat hulle nie hulle stelling met die Skrifte kan verdedig nie, probeer hulle om ten alle koste hulle posisie te handhaaf, en met ‘n kwaadwillige gees val hulle die karakter en motiewe aan van diegene wat in die bresse tree vir onpopulêre waarheid. Dit is die beleid wat deur die eeue heen gevolg is. Elia is beskuldig as beroerder van Israel; Jeremia is bestempel as ‘n verraaier; en Paulus dat hy die tempel ontheilig het. Van daardie tyd af, tot vandag toe is diegene wat getrou was aan die waarheid veroordeel as oproermakers, ketters, en die veroorsakers van skeurings. Menigtes wat te min geloof het om die vaste profetiese woord aan te neem, sal met die grootste liggelowigheid die beskuldigings glo wat aangevoer word teen diegene wat algemene sondes durf bestraf. Hierdie gees sal meer en meer toeneem. Die Bybel leer duidelik dat die tyd naby is wanneer die staatswette so in botsing sal kom met die wet van God dat diegene wat al die goddelike gebooie wil gehoorsaam smaad en vervolging sal moet verduur soos boosdoeners.GS 523.3

    Wat is die plig van die boodskapper van waarheid met die oog hierop? Moet hy besluit dat die waarheid nie verkondig moet word nie aangesien die enigste uitwerking daarvan is dat dit mense opwek om die eise daarvan te weerstaan of te ontduik? Nee; hy het net so min rede om die getuienis van Gods woord te verswyg omdat dit teenstand verwek, as wat die vroeë Hervormers gehad het. Die geloofsbelydenis van heiliges en martelare is teboekgestel vir die lering van toekomstige geslagte. Daardie lewende voorbeelde van heiligheid en onwrikbare opregtheid is om diegene met moed te besiel wat nou geroep word om getuies vir God te wees. Hulle ontvang genade en waarheid, nie vir hulleself alleen nie, maar sodat die kennis van God die aarde deur hulle kan verlig. Het God lig gegee aan Sy diensknegte in hierdie geslag? Indien ja, dan moet hulle dit laat skyn in die wêreld?GS 524.1

    In die outyd het die Here van een gesê wat in Sy naam gespreek het, “Die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie;” dog nietemin het Hy gesê, “maar jy moet hulle My woorde aankondig, of hulle al luister of nie.” Eseg. 3: 7; 2:7. Die volgende bevel word in hierdie tyd aan die dienskneg van God gerig, “Verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan My volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.”GS 524.2

    Sover hulle geleentheid daartoe het, is elkeen wat die lig van die waarheid ontvang het onder dieselfde ernstige verpligting soos die profeet van Israel aan wie die volgende woorde van die Here gekom het: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit My mond hoor, moet jy hulle van My kant waarsku. As Ek vir die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.” Eseg. 33: 7-9.GS 524.3

    Die groot struikelblok wat sowel die aanname van die waarheid en die verkondiging daarvan betref, is die feit dat dit ongerief en verwyt bring. Dit is die enigste argument teen die waarheid wat die voorstanders daarvan nog nooit kon weerlê nie. Maar dit hou nie die ware navolgers van Christus terug nie. Hulle wag nie vir die waarheid om populêr te word nie. Oortuig van hulle plig, neem hulle hulle kruis op, en saam met die apostel Paulus reken hulle dat “ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, werk vir ons uit ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;” en hulle ag “die smaad van Christus groter rykdom ... as die skatte van Egipte.” 2 Kor. 4: 17; Heb. 11: 26.GS 525.1

    Wat hulle belydenis ook mag wees, is dit slegs diegene wat dienaars van die wêreld is wat ‘n beleid van gerief volg liewer as beginsel, in godsdienssake. Ons behoort reg te handel omdat dit reg is, en die gevolge aan God oor te laat. Vir die groot hervormings is die wêreld dank verskuldig aan die manne van beginsel en van geloof en durf. Dit is deur sulke manne dat die hervormingswerk vir hierdie tyd voortgesit moet word.GS 525.2

    So sê die Here: “Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart My wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie; want die mot sal hulle opeet soos ‘n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar My geregtigheid sal vir ewig bestaan en My heil van geslag tot geslag.” Jes. 51: 7, 8.GS 525.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents