Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 5—John Wyeliff

    VOOR die Reformasie was daar tye dat daar maar min eksemplare van die Bybel bestaan het; maar God het nie toegelaat dat Sy woord heeltemal vernietig word nie. Die waarhede daarvan sou nie vir altyd bedek bly nie. Net so maklik as wat Hy gevangenisse en ysterpoorte kon opmaak, om Sy diensknegte vry te laat, kon Hy ook die woorde van die lewe in omloop bring. In die verskillende Europese lande is manne deur die Gees van God beweeg om na die waarheid te soek soos na verborge skatte. Deur die Voorsienigheid na die Heilige Skrifte gelei, het hulle die gewyde bladsye met die grootste belangstelling ondersoek. Hulle was gewillig om die lig aan te neem al sou dit hulle ook wat kos. Alhoewel hulle nie alles duidelik gesien het nie, is hulle in staat gestel om waarhede wat lank bedolwe was, te sien. Soos hemelse boodskappers het hulle voortgegaan, die kettings van dwaalleer en bygeloof verbreek, en diegene wat so lank verslaaf was, toegeroep om op te staan en hulle vryheid te handhaaf.GS 89.1

    Behalwe onder die Waldense, was die woord van God vir eeue opgesluit in tale wat alleen deur die geleerdes verstaan is; maar die tyd het aangebreek vir die Skrifte om vertaal en aan die mense van die verskillende lande gegee te word in hulle eie taal. Die middernag van die wêreld was verby. Die ure van duisternis het haas verbygegaan, en in baie lande is die tekens gesien van die dageraad.GS 90.1

    In die veertiende eeu het die “morester van die Hervorming” — John Wycliffe in Engeland — verrys. Hy was die boodskapper van hervorming, nie alleen vir Engeland nie, maar vir die hele Christendom. Die sterk protes teen Rome wat hy gemaak het, is nooit stilgemaak nie. Hierdie verset het die stryd aangebind wat as gevolg sou hê die vrystelling van indiwidue, van kerke, en van volke.GS 90.2

    Wycliffe het ‘n goeie opvoeding geniet, en by hom was die vrees van die Here die beginsel van wysheid. Op kollege was hy bekend vir sy vroomheid sowel as vir sy wonderbaarlike talente en vir sy deeglike studie. In sy dors na kennis het hy getrag om op hoogte te kom van alle takke van geleerdheid. Hy is onderrig in die skolastiese filosofie, in die kerkwette, in die burgerlike regte, veral van sy eie land. In sy later lewe het die waarde van sy vroeër opleiding duidelik geblyk. ‘n Deeglike kennis van die spekulatiewe filosofie van sy tyd het hom in staat gestel om die dwalinge daarvan aan die kaak te stel; en deur sy studie van burgerlike en kerkwette is hy voorberei vir die groot stryd vir burgerlike en godsdiensvryheid. Terwyl hy die wapens uit Gods woord verkry, kon gebruik, is hy ook verstandelik geoefen in die skole, en hy het die taktieke van die geleerdes verstaan. Die krag van sy genie en die uitgestrektheid en deeglikheid van sy kennis het die respek afgedwing van beide vriende en vyande. Sy navolgers het met tevredenheid gesien dat hulle kampvegter vooraan gestaan het onder die leiers van die volk; en sy vyande kon dus onmoontlik die saak van die hervorming in veragting bring deur te wys op die onkunde of swakheid van die voorstander daarvan.GS 90.3

    Terwyl Wycliffe nog op kollege was, het hy begin met ‘n ondersoek van die Skrifte. In daardie vroeë tye, toe die Bybel slegs in die ou tale bestaan het, kon die geleerdes hulle weg na die fontein van waarheid vind—‘n weg wat gesluit was vir die ongeleerde klasse. Toe reeds was die weg geopen vir Wycliffe se toekomstige werk as Hervormer. Geleerdes het die woord van God ondersoek en hulle het die groot waarheid van Sy vrye genade ontdek. In hulle leer het hulle die kennis van hierdie waarheid versprei, en hulle het ander gelei om na die lewende orakels te gaan.GS 90.4

    Toe Wycliffe se aandag op die Skrifte gevestig is, het hy hulle begin ondersoek met dieselfde deeglikheid as dié wat hom in staat gestel het om die ander vakke te bemagtig. Tot dusver het hy ‘n groot behoefte gevoel wat nóg sy skolastieke studies en nóg die leer van die kerk kon bevredig. In die woord van God het hy gevind wat hy so lank tevergeefs gesoek het. Hier het hy die verlossingsplan ontdek, en gesien dat Christus die enigste voorspraak van die mens is. Hy het homself oorgegee aan die diens van Christus, en hy het besluit om die waarhede wat hy ontdek het, te verkondig.GS 91.1

    Soos die Hervormers na hom, het Wycliffe nie aan die begin van sy werk gesien waarheen dit hom sou lei nie. Hy het homself nie met voorbedagte rade in opstand teen Rome verset nie. Maar getrouheid aan die waarheid kon nie anders as hom in botsing bring met valsheid nie. Hoe duideliker hy die dwalinge van die pousdom gesien het, hoe vuriger het hy die leer van die Bybel verkondig. Hy het gesien dat Rome die woord van God versaak het vir menslike oorlewering; onverskrokke het hy die priesters beskuldig dat hulle die Skrifte verban het, en hy het geëis dat die Bybel aan die volk moes herstel word en dat die gesag daarvan in die kerk moes gehandhaaf word. Hy was ‘n bekwame en ernstige onderwyser, asook ‘n vloeiende prediker, en sy daelikse lewe was ‘n demonstrasie van die waarhede wat hy verkondig het. Sy kennis van die Skrifte, die krag van sy argumente, die reinheid van sy lewe, en sy onwrikbare moed en opregtheid, het vir hom algemene agting en vertroue gewin. Baie van die mense, toe hulle die boosheid sien wat in die Roomse kerk geheers het, het ontevrede geword met hulle godsdiens, en hulle het met onbedekte vreugde die waarhede verwelkom wat deur Wycliffe geopenbaar is; maar toe die pouslike leiers sien dat hierdie Hervormer groter invloed as hulle verkry het, is hulle met woede vervul.GS 91.2

    Wycliffe was skerp om dwaalleer te ontdek, en hy het heftige slae toegedien aan die baie misbruike wat op gesag van Rome toegelaat is. Terwyl hy as kapelaan vir die koning opgetree het, het hy sterk opgetree teen die betaling van die belasting wat die Pous van die Engelse koning gevorder het, en hy het daarop gewys dat die pouslike aanmatiging van gesag oor wêreldlike heersers teenstrydig was met gesonde verstand en die Bybel. Die eise van die Pous het groot verontwaardiging uitgelok, en Wycliffe se leer het die vooraanstaandes onder die volk beïnvloed. Die koning en die edelliede het saamgestaan in hulle ontkenning van die Pous se aanspraak op wêreldlike gesag en in die weiering om die belasting te betaal. Op hierdie manier is die pouslike oppergesag in Engeland ‘n gevoelige slag toegedien.GS 93.1

    Nog ‘n euwel waarteen die Hervormer ‘n lang en vasberade stryd gevoer het, was die instelling van die orcde van bedelmonnike. Hierdie monnike het in swerms na Engeland gekom en skade aan die grootheid en voorspoed van die volk gedoen. Nywerheid, opvoeding, sedes — alles het die nadelige invloed gevoel. Die luie bedelaarslewe van die monnike het nie alleen die sakke van die volk leeggemaak nie, maar dit het nuttige arbeid in minagting gebring. Die jongmense het sedelik agteruitgegaan en versleg. Onder die invloed van die monnike is baie oorgehaal om hulle tot ‘n kloosterlewe te begewe; en dit nie alleen sonder die toestemming van hulle ouers nie, maar ook sonder hulle kennis en teen hulle bevele. Een van die ou vaders van die Roomse Kerk, wat die eise van die monnikelewe bo die liefde en plig van kinders teenoor hulle ouers gestel het, het verklaar: “A1 sou jou vader voor jou ween, en jou moeder haar liggaam aan jou toon waaruit jy gebore is en die borste wat jou gesoog het, vertrap hulle maar onder jou voete, en gaan voort op jou weg na Christus.” Deur sulke “monsteragtige onmenslikheid,” soos Luther dit later uitgedruk het, “wat meer soos die aard van die wolf en die tiran was as van die Christen en die mens,” is die harte van die kinders teen hulle ouers verhard.—Sears, Barnas, “Life oj Luther,” bls. 70, 69.Aldus het die pouslike leiers net soos die Fariseërs vanouds, die gebod van God tot niet gemaak deur hulle instelling. Op hierdie wyse is huise verwoes en ouers beroof van die geselskap van hulle seuns en dogters.GS 93.2

    Selfs die studente aan die universiteite is deur die valse voorstellings van die monnike verlei en beweeg om by hulle ordes aan te sluit. Vele het later berou gehad oor die stap wat hulle gedoen het, aangesien hulle hulle eie lewens verwoes en hulle ouers verdriet aangedoen het; maar as hulle eenmaal in die strik was, was dit vir hulle onmoontlik om weer hulle vryheid terug te kry. Vele ouers het, uit vrees vir die invloed van die monnike, geweier om hulle seuns na die hoërskole te stuur. By die groot sentrums van geleerdheid was daar ‘n aansienlike vermindering in die getal studente waargeneem. Die skole het gekwyn en onkunde het die oorhand gekry.GS 94.1

    Die Pous het aan hierdie monnike die mag gegee om die bieg af te neem en vergifnis van sonde te skenk. Dit het die bron van ‘n groot euwel geword. Daar hulle slegs aan hulle eie voordeel gedink het, was hierdie monnike so gereed om kwytskelding te gee dat misdadigers van alle soorte na hulle gekom het, met die natuurlike gevolg dat die ergste sondes vinnig toegeneem het. Die siekes en armes is aan hulle lot oorgelaat; terwyl die gifte wat in hulle behoeftes moes voorsien het, in die sakke van die monnike beland het, wat met dreigemente aalmoese van die mense geëis het en die slegtigheid veroordeel het van diegene wat dit gewaag het om nie aan hulle ordes te gee nie. Nieteenstaande hulle voorgegewe armoede het die rykdom van die monnike steeds toegeneem, en langs hulle pragtige geboue en goeie spyse het die aangroeiende armoede van die volk steeds meer en meer afgesteek. En terwyl hulle hulle tyd in weelde en genot deurgebring het, het hulle in hulle plek onkundige manne uitgestuur wat niks anders geken het as om wonderbaarlike verhale en legendes op te dis en grappe te maak om die volk te amuseer en hulle nog meer en meer onder die invloed van die monnike te bring. Steeds het die kloosterbroeders hulle houvas op die bygelowige skares gehandhaaf, en hulle daartoe gebring om te glo dat alle godsdienstige pligte inbegrepe was in die erkenning van die oppermag van die Pous, die aanbidding van heiliges, gifte aan die monnike, en dat hierdie dinge genoeg was om vir hulle ‘n plek in die hemel te verseker.GS 94.2

    Vroom en geleerde manne het tevergeefs getrag om ‘n hervorming te bewerkstellig in hierdie kloosterordes; maar Wycliffe, wat sake duideliker ingesien het, het die wortel van die kwaad aangepak en verklaar dat die stelsel self vals was en afgeskaf behoort te word. Daar het besprekings oor die saak ontstaan en die mense het begin navraag doen. Onderwyl die monnike die land deurreis het om pouslike aflate te verkoop, het baie mense begin twyfel aan die moontlikheid om vergifnis met geld te koop, en hulle het hulleself afgevra of dit nie beter sou wees om vergifnis by God te soek as by die Roomse opperpriesters nie. (Sien Aanhangsel.) Vele het onrustig geword oor die geldgierigheid van die kloosterbroeders wie se inhaligheid nooit bevredig kon word soos dit geskyn het nie. “Die Roomse priesters en monnike,” het hulle gesê, “verteer ons soos ‘n kanker. God moet ons verlos of ons sal vergaan.”—D’Aubigne, boek 17, hoojstuk 7. Om hulle geldgierigheid te bedek, het hierdie bedelmonnike voorgegee dat hulle die voorbeeld van die Heiland gevolg het, en het verklaar dat Jesus en Sy dissipels onderhou is deur die liefdegawes van die volk. Hierdie verklaring het hulle saak benadeel, omdat baie mense toe na die Bybel gegaan het om self ondersoek in te stel — iets wat deur Rome die minste van alles begeer was. Die harte van die mense is gevestig op die bron van alle waarheid, juis wat Rome hom ten doel gestel het om te verberg.GS 94.3

    Wycliffe het traktate geskryf en uitgegee teen die kloosterbroeders, nie soseer, egter, om ‘n redetwis met hulle te soek nie, as om die aandag van die volk te vestig op die leer van die Bybel en die Skrywer daarvan. Hy het verklaar dat die Pous die mag om sonde te vergeef of om mense in die kerkban te doen, in geen groter mate besit het as die priesters nie, en dat niemand werklik uit die kerk geban kan word tensy hy eers die oordeel van God op homself gebring het nie. Hy kon op geen kragdadiger wyse onderneem het om daardie kolossale weefsel van geestelike en wêreldlike oorheersing af te breek wat die Pous geweef het en waarin die siele en liggame van miljoene gevange gehou is nie.GS 95.1

    Weer is Wycliffe geroep om die regte van die Engelse kroon teen die aanmatigings van Rome te verdedig; hy is aangestel as die afgesant van die koning, en hy het twee jaar in Nederland deurgebring in onderhandeling met die afgesante van die Pous. Daar het hy in aanraking gekom met geestelikes uit Frankryk, Italië en Spanje, en hy het geleentheid gekry om agter die skerms te sien en kennis te verkry van baie dinge wat in Engeland vir hom verborge sou gebly het. Hy het baie geleer wat sy latere arbeid doeltreffend sou maak. In hierdie verteenwoordigers van die pouslike hof het hy die ware karakter en wensenlike oogmerke gelees van die hiërargie. Hy het na Engeland teruggekeer om sy vorige leerstellings meer in die openbaar en met groter ywer te herhaal, verklarende dat gierigheid, trotsheid, en bedrog die gode van Rome was.GS 95.2

    In een van sy traktate, sprekende oor die Pous en sy insamelaars, het hy gesê: “Hulle neem uit ons land die lewensbestaan van die arm man, asook duisende guide van die koning se geld vir sakramente en geestelike dinge; dit is die vervloekte kettery van simonie, en hy laat die hele Christendom instem en die kettery handhaaf. En voorwaar, al sou ons Ryk ‘n groot berg van goud besit, en niemand sou daarvan neem behalwe die insamelaar van hierdie trotse, wêreldlike priester nie, sou hierdie berg met verloop van tyd verdwyn; want hy hou nooit op om geld uit ons land te neem nie en hy stuur niks in die plek daarvan terug nie behalwe Gods vervloeking vir sy simonie.”— Lewis, Eerw. John, “History oj the Life and Sufferings of J. Wiclij,” bl. 37 (ed. 1820).GS 96.1

    Kort na sy aankoms in Engeland is Wycliffe deur die koning aangestel as predikant van Lutterworth. Dit was vir hom ‘n versekering dat die koning nie in die minste ontevrede was omdat hy so reguit gepraat het nie. Wycliffe se invloed is gesien in die wyse waarop die hof gehandel het, sowel as in die vorm wat die volksgeloof aangeneem het.GS 96.2

    Die pouslike donders het spoedig teen hom losgebars. Drie bulle is na Engeland gestuur — na die universiteit, die koning, en die prelate — in elkeen is daar geëis dat daar onmiddellike stappe gedoen moes word om die swye aan hierdie ketterse leraar op te lê. (Sien Aanhangsel.) Maar nog voor die aankoms van hierdie dokumente het die biskoppe in hulle ywer Wycliffe voor hulle gedaag om verantwoording te doen. Twee van die magtigste prinse in die ryk het hom na die regbank vergesel; maar die volk, wat die gebou omsingel en na binne gestroom het, het die regters so die skrik op die lyf gejaag, dat die verrigtings voorlopig gestaak en hy toegelaat is om in vrede te gaan. ‘n Bietjie later het Eduard III, wat die prelate in sy ouderdom teen die Hervormer wou beïnvloed, gesterf, en Wycliffe se vroeër beskermheer het regent van die koninkryk geword.GS 96.3

    Die aankoms van die pouslike bulle het aan die ganse Engeland ‘n bevel gegee om die ketter in hegtenis te neem en op te sluit. Hierdie maatreëls het onmiddellik na die brandstapel gewys. Dit was byna seker dat Wycliffe binne kort die prooi sou word van die wraak van Rome. Maar Hy, wat in die dae vanouds verklaar het, “Vrees nie, Ek is vir jou ‘n skild” (Gen. 15: 1), het nogeens Sy hand uitgestrek om Sy dienskneg te beskerm. Die dood het gekom, dog nie die Hervormer nie, maar die opperpriester, wat gelas het dat Wycliffe uit die weggeruim moes word, is daardeur getref. Gregorius XI, het gesterf, en die geestlikes wat vir die verhoor van Wycliffe saamgekom het, is uiteen.GS 97.1

    Die voorsienigheid van God het die gebeurtenisse nog verder bestier om die hervorming geleentheid te gee om uit te brei. Die dood van Gregorius is gevolg deur die verkiesing van twee wedywerende pouse. Twee teenstrydige magte, albei waarvan voorgegee het dat hulle onfeilbaar was, het toe gehoorsaamheid geëis. (Sien Aanhangsel.) Elkeen van hulle het die getroues opgeroep om hom te help om oorlog te maak op die ander, en hy het sy bevele bekragtig met vreeslike vervloekings op sy teenparty en beloftes van hemelse loon aan sy ondersteuners. Hierdie voorval het die mag van die pousdom baie verswak. Die teenstrydige partye het hulle hande vol gehad om mekaar aan te val, en vir ‘n tyd het Wycliffe rus gehad. Vervloekings en teenbeskuldigings is deur die een pous teen die hoof van die ander geslinger, en die teenstanders het strome bloed vergiet om hulle eise te verdedig. Misdade en skandale het die kerk soos ‘n vloed binnegestroom. In die tussentyd was die Hervormer, in die stille afsondering van sy pastorie te Lutterworth, ywerig aan die werk om die mense se aandag van die strydende pouse op Jesus, die Vredevors te vestig.GS 97.2

    Die skeuring, met al die stryd en korrupsie wat dit veroorsaak het, het die weg berei vir die Reformasie, daar dit die mense in staat gestel het om te sien wat die pousdom werklik was. In een traktaat wat hy uitgegee het oor “die skeuring tussen pouse,” het Wycliffe die volk opgeroep om te oorweeg of die twee priesters nie die waarheid praat wanneer hulle mekaar die antichris noem nie. “God,” het hy gesê, “wil die duiwel nie langer in één priester laat regeer nie, maar ... het die skeuring tussen die twee laat ontstaan sodat die mense, in die naam van Christus, hulle gemakliker kan oorwin.”—Neander, “History oj the Christian Religion and Church,” tydperk 6, ajd. 2, Deel I, para. 8.GS 97.3

    Soos sy Meester, het Wycliffe die evangelie aan die armes verkondig. Nie tevrede om die lig te versprei in hulle eie nederige wonings in sy gemeente van Lutterworth nie, het hy besluit dat dit na elke deel van Engeland geneem moes word. Om hierdie doel te verwesenlik het hy ‘n aantal predikers georganiseer, eenvoudige, toegewyde, manne wat die waarheid liefgehad het en niks meer begeer het as om dit te versprei nie. Hierdie manne het orals gegaan, lerende op die markte, op die strate van die groot stede, en op die platteland. Hulle het die siekes, die oue van dae, en armes opgesoek en aan hulle die blye tyding van die genade van God gebring.GS 98.1

    As hoogleraar in die teologie by Oxford, het Wycliffe die woord van God verkondig in die sale van die universiteit. So getrou het hy die waarheid aan die studente verkondig dat hulle aan hom die titel gegee het van “Die Evangelie-Doktor.” Maar die grootste werk van sy lewe wat hy sou onderneem, was die vertaling van die Skrifte in Engels. In ‘n werk getitel “On the Truth and Meaning of Scripture,” het hy so voorneme tekenne gegee om die Bybel te vertaal, sodat elke persoon in Engeland die wonderbare werke van God in sy eie moedertaal kon lees.GS 98.2

    Plotseling moes hy sy werk staak. Hoewel hy nog nie sestig jaar oud was nie, het aanhoudende werk, studie, en die aanvalle van sy vyande, sy krag aangetas en hom voor sy tyd oud gemaak. Hy is deur ‘n gevaarlike siekte aangetas. Hierdie tyding het groot vreugde laat ontstaan onder die monnike. Nou, het hulle gedink, sal hy bitter berou hê oor die kwaad wat hy die kerk aangedoen het, en hulle het na sy siekekamer gehaas om sy belydenis aan te hoor. Verteenwoordigers van die vier geestelike ordes, vergesel van vier burgelike beamptes, het hulle om die sterwende man geskaar. “Jy is op sterwe,” het hulle gesê; “wees jammer oor jou foute en herroep in ons teenwoordigheid alles wat jy tot ons skade gesê het.” Die Hervormer het in stilte geluister; toe het hy sy oppasser gevra om hom in sy bed op te lig, en met sy oë op hulle gerig terwyl hulle daar gestaan het, wagtende op sy herroeping, het hy met ‘n ferme, sterk stem wat hulle so dikwels laat beef het, gesê: “Ek sal nie sterf nie, maar leef; en weer sal ek die bose dade van die monnike verkondig.” — D’Aubigne, boek 17, hoojstuk 7. Verbaas en verslae het die monnike die kamer vinnig verlaat.GS 98.3

    Wycliffe se woorde is vervul. Hy het gelewe om die sterkste van alle wapens teen Rome in die hande van sy landgenote te plaas, naamlik die Bybel, die hemelse werktuig tot bevryding, verligting, en evangelisasie van die mense. Om hierdie werk uit te voer, moes daar baie en groot struikelblokke uit die weg geruim word. Wycliffe het gely aan liggaamlike gebreke; hy het geweet dat daar vir hom nog net ‘n paar jaar oorgebly het om in werk; hy het die teenstand gesien wat hy sou teëkom; maar, bemoedig deur die beloftes van Gods woord, het hy onverskrokke voortgegaan. Met voile verstandelike kragte, verryk deur ervaring, is hy deur die voorsienigheid van God bewaar en gespaar vir sy grootste werk. Terwyl die hele Christenheid in oproer verkeer het, het die Hervormer hom in sy pastorie op Lutterworth, sonder om hom aan die storm te steur wat buite gewoed het, aan sy gekose taak gewy.GS 99.1

    Eindelik was die werk voltooi, naamlik die eerste vertaling van die Bybel in Engels. Die woord van God is aan Engeland geopen. Die Hervormer het nou nie meer die gevangenis of die brandstapel gevrees nie. Hy het aan die Engelse volk ‘n lig gegee wat nooit uitgedoof sou word nie. Deur die Bybel aan sy landgenote te gee, het hy meer gedoen om die bande van onkunde en sonde te verbreek en om sy land te bevry en te verhef, as daar ooit deur die skitterendste oorwinnings op die slagveld teweeggebring is.GS 99.2

    Die drukkuns was nog onbekend, en dit was slegs deur langsame en vermoeiende arbeid dat afskrifte van die Bybel gemaak kon word. So graag wou die mense die boek hê, dat baie gewillig die werk onderneem het om dit af te skryf; maar dit het moeilik gegaan vir die skrywers om in die aanvraag te voorsien. Sommige van die ryker kopers wou graag die hele Bybel hê. Ander het gedeeltes daarvan gekoop. In baie gevalle het verskillende gesinne saam ‘n afskrif gekoop. Op hierdie manier het Wycliffe se Bybel spoedig sy weg gevind tot die huise van die volk.GS 99.3

    Die beroep op die redelike verstand van die mense het hulle gewek uit hulle lydelike onderwerping aan die pouslike leerstellings. Wycliffe het nou die kenmerkende leerstellings van Protestantisme verkondig, naamlik verlossing deur geloof in Christus, en die onfeilbaarheid van die Skrifte. Die predikers wat hy uitgestuur het, het die Bybel asook die geskrifte van die Hervormer met sulke groot sukses versprei dat die nuwe geloof deur byna die helfte van die bevolking van Engeland aangeneem is.GS 100.1

    Die verskyning van die Skrifte het ontsteltenis laat ontstaan by die owerstes van die kerk. Nou het hulle te kampe gehad met ‘n werktuig magtiger as Wycliffe -—‘n werktuig waarteen hulle wapens tevergeefs sou wees. Daar was destyds in Engeland geen wet om die verspreiding van die Bybel te belet nie, want die Bybel is nog nooit in die volkstaal uitgegee nie. Sulke wette is later gemaak en streng toegepas. In die tussentyd was daar geleentheid vir die verspreiding van Gods woord, ondanks die pogings van die priesters.GS 100.2

    Weer het die pouslike leiers planne gesmee om die Hervormer se stem stil te maak. Hy is voor drie geregshowe gedaag, maar dit het niks gehelp nie. Eerstens het ‘n sinode van biskoppe verklaar dat sy geskrifte ketters was, en nadat hulle die jong koning, Richard II, aan hulle kant gekry het, het hulle ‘n koninklike bevel verkry wat almal tot gevangenisstraf veroordeel het wat Wycliffe se leerstellings geglo het.GS 100.3

    Wycliffe het hom op die parlement beroep; onbevrees het hy die hiërargie voor die volksverteenwoordiging gedaag, en ‘n hervorming geëis van die verskriklike wangebruike wat deur die kerk goedgekeur word. Met oortuigende krag het hy die aanmatigings en korrupsie van die pouslike setel geskilder. Dit het sy vyande in verwarring gebring. Die vriende en ondersteuners van Wycliffe was tot onderwerping gedwing, en daar is verwag dat die Hervormer self, op sy ou dag, alleen en sonder vriende, sou buig voor die gesag van die kroon en die myter. Maar in stede hiervan het die pousgesindes gevind dat hulle verslaan is. Die parlement, wakker geskud deur Wycliffe se hartroerende beroep, het die bevel tot vervolging herroep, en weer was die Hervormer vry.GS 100.4

    Vir ‘n derde maal is hy verhoor, en hierdie keer voor die noogste geestelike regbank in die ryk. Hier kon geen genade verleen word aan kettery nie. Hier, eindelik, sou Rome seëvier en die Hervormer se werk stopgesit word. So het die pousgesindes gedink. As hulle maar hulle doel kan bereik, sou Wycliffe geforseer word om sy leerstellings af te sweer, of hy sou die hof verlaat net om verbrand te word. Maar Wycliffe het niks herroep nie; hy sou nie huigel nie. Sonder vrees het hy sy leerstellings verdedig, en die beskuldigings van sy vervolgers weerlê. Hy het homself, sy posisie, en die okkasie vergeet, en hy het sy hoorders voor die regterstoel van die hemel gedaag; hy het hulle drogredes en hulle misleidende leerstellings in die weegskaal van ewige waarheid geweeg. Die kiag van die Heilige Gees is in die raadsaal gevoel. ‘n Krag van God was op die hoorders. Dit het geskyn of hulle geen mag gehad het om die plek te verlaat nie. Die pyle uit die Here se pylkoker, naamlik die Hervormer se woorde, het hulle harte getref. Die beskuldiging van kettery wat hulle teen hom ingebring het, het hy met oortuigende krag op hulle teruggewerp. Waarom, het hy gevra, versprei hulle hulle dwaalleer? Terwille van winsbejag het hulle handel gedryf met die genade van God.GS 101.1

    “Teen wie, dink julle,” het hy ten slotte gevra, “stry julle? Teen ‘n ou man op die randjie van die graf? Nee! teen Waarheid — Waarheid is sterker as julle en sal julle oorwin.”—Wylie, boek 2, hoofstuk 13. Met hierdie woorde het hy die vergadering verlaat, en nie een van die teenstanders het ‘n poging gemaak om hom te belet nie.GS 101.2

    Wycliffe se werk was byna afgedaan; die banier van die waarheid wat hy so lank omhoog gehou het, sou eerlank uit sy hand val; maar nogeens sou hy getuig vir die evangelie. Die waarheid sou verkondig word uit die vesting self van die koninkryk van dwaling. Wycliffe is gedaag om voor die pouslike geregshof in Rome te verskyn, waar die bloed van die heiliges so dikwels vergiet is. Hy was nie blind vir die gevaar wat hom bedreig het nie, maar nogtans sou hy gegaan het as dit nie was dat ‘n aanval van beroerte dit vir hom onmoontlik gemaak het om die reis te onderneem nie. Maar hoewel sy stem nie in Rome sou gehoor word nie, kon hy nog deur middel van ‘n brief spreek, en dit het hy ook besluit om te doen. Van sy pastorie het die Hervormer ‘n brief aan die Pous geskryf, wat, hoewel dit hoflik en in ‘n Christelike gees was, tog ‘n bestraffing was van die prag en praal van die pouslike stoel.GS 101.3

    “Ek verheug my inderwaarheid,” het hy gesê, “om aan alle mense die geloof wat ek huldig, te open en te verklaar, veral aan die biskop van Rome wat, omdat ek meen dat hy waaragtig en gesond van leer is, glo maar te gewillig sou wees om my geloof te bevestig, of as ek sou dwaal, om dit te verbeter.GS 102.1

    “Ten eerste neem ek aan dat die evangelie van Christus die hele wet van God omvat . . . ek glo dat die biskop van Rome, aangesien hy die plaasvervanger van Christus op aarde is, meer as alle mense gebonde is aan die wet van die evangelie. Want die grootheid onder die dissipels van Christus het nie bestaan uit wêreldse waardigheid of eer nie, maar uit ‘n nougesette navolging van Christus in Sy lewe en handelwyse. . . . Christus, tydens sy pelgrimstog hier, was ‘n baie arm man, wat alle wêreldse magsoefening en eer van die hand gewys het. . . .GS 102.2

    “Geen gelowige behoort óf die Pous self óf enige van die heilige mense na te volg behalwe op die punte waarin hulle die Here Jesus Christus navolg nie; want Petrus en die seuns van Sebedeus, deur wêreldse eer te begeer, in stryd met die voorbeeld van Christus, het aanstoot gegee, en daarom moet hulle nie in daardie dwalings nagevolg word nie. . . .GS 102.3

    “Die Pous behoort alle tydelike heerskappy en magsoefening aan die aardse magte oor te laat, en daartoe behoort hy ook al sy geestelikes te beweeg en te vermaan; want so het Christus gedoen veral deur Sy apostels. As ek op enige van hierdie punte dwaal, wil ek myself nederig onderwerp aan teregwysing, of selfs die dood as dit absoluut nodig is; en as ek kon handel volgens my wil en begeerte sou ek myself sekerlik in eie persoon voor die biskop van Rome gestel het; maar die Here het my andersins besoek en het my geleer om God eerder te gehoorsaam as die mens.”GS 102.4

    Ten besluite het hy gesê: “Laat ons tot God bid dat hy ons Pous Urbanus VI, sal opwek soos Hy begin het, dat hy met sy geestelikes die Here Jesus Christus in lewe en sedes mag navolg; dat hulle die volk kragdadig mag onderwys, sodat laasgenoemdes hulle ook getrou daarin mag navolg.”—Foxe, “Acts and Monuments” (geredigeer deur Eerw. J. Pratt), Deel III, bls. 49, 50.GS 103.1

    Op hierdie manier het Wycliffe aan die Pous en sy kardinale die nederigheid en sagmoedigheid van Christus voorgehou; en nie alleen aan hulle nie, maar aan die hele Christendom die teenstelling laat blyk tussen hulle en die Meester van wie hulle voorgee om verteenwoordigers te wees.GS 103.2

    Wycliffe het stellig verwag dat hy met sy lewe sou moes boet vir sy getrouheid. Die koning, die Pous, en die biskoppe het saamgespan om sy ondergang te bewerk, en dit het gelyk of dit ‘n uitgemaakte saak was dat hy binne ‘n paar maande na die brandstapel sou gaan. Maar hy was onwrikbaar. “Waarom dink julle om die martelaarskroon daar ver te gaan soek?” het hy gesê. “Verkondig die evangelie van Christus aan trotse prelate, en die marteldood sal gewis wees. Wat! Moet ek lewe en stilbly? . . . Nooit nie! Laat die slag kom, ek wag dit af.”— D’Aubigne, boek 17, hoojstuk 8. GS 103.3

    Maar Gods voorsienigheid het nog Sy dienskneg beskerm. Die man wat vir sy hele leeftyd die waarheid onverskrokke verdedig het, in daelikse gevaar van sy lewe, sou nie die slagoffer word van die haat van sy vyande nie. Wycliffe het nooit getrag om homself te beskerm nie, maar die Here was sy beskermer; en nou, toe sy vyande seker was van hulle prooi, het Gods hand hom buite hulle bereik gestel. In sy kerk op Lutterworth, terwyl hy besig was om die avondmaal te bedien, het hy ‘n aanval van beroerte gekry, en nie lank daarna nie is hy dood.GS 104.1

    Wycliffe se werk was deur God aangewys. Hy het die woord van Waarheid in sy mond gelê, en Hy het hom bewaar sodat hy die woord aan die volk kon verkondig. Sy lewe is beskerm, en sy werktyd verleng, totdat die grondslag gelê is vir die groot werk van Hervorming.GS 104.2

    Wycliffe het uit die duisternis van die Donker Eeue gekom. Daar was niemand voor hom uit wie se werk hy kon put vir sy stelsel van Hervorming nie. Net soos Johannes die Doper verwek is om ‘n spesiale werk te doen, was hy die voorloper van ‘n nuwe tydperk. In die stelsel van waarheid wat hy verkondig het, was daar ‘n eenheid en volledigheid wat nie oortref is deur dié van die Hervormers wat hom opgevolg het nie, en wat sommige selfs ‘n honderd jaar later nie eens bereik het nie. So breed en diep was die fondament wat hy gelê het, so heg en waar was die raamwerk daarvan, dat diegene wat na hom gekom het nie nodig gehad het om die werk oor te doen nie.GS 104.3

    Die groot beweging wat deur Wycliffe op tou gesit is, wat die gewete en verstand sou vrymaak, en die volke sou bevry wat so lank gebind was aan die segewa van Rome, het sy bron in die Bybel gehad. Hier was die bron van daardie stroom van seën, wat, soos die water van die lewe, sedert die veertiende eeu steeds gevloei het. Wycliffe het die Heilige Skrifte met ‘n onwrikbare geloof aangeneem as die openbaring van Gods wil, as ‘n onfeilbare maatstaf van geloof en lewe. Hy is opgevoed om die Kerk van Rome te beskou as die onfeilbare gesag van God, en om die leerstellings en gebruike van ‘n duisend jaar aan te neem met onvoorwaardelike eerbied; maar van al hierdie dinge het hy hom afgewend om te luister na Gods heilige woord. Dit was die gesag wat hy die volk aangeraai het om te erken. Hy het verklaar dat die enigste ware gesag die stem van God was wat deur Sy woord spreek, en nie die van die kerk deur die Pous nie. Verder het hy geleer dat die Bybel nie alleen ‘n volmaakte openbaring van Gods wil was nie, maar dat die Heilige Gees die enigste uitlegger daarvan is, en dat elke persoon deur ‘n ondersoek van sy leerstellings sy eie plig vir homself moes leer. Op hierdie manier het hy die aandag van die mense van die Pous en die Kerk van Rome afgetrek en op die woord van God gevestig.GS 104.4

    Wycliffe was een van die grootste Hervormers. In verstand, helderheid van gedagte, standvastigheid in die handhawing van die waarheid en stoutmoedigheid in die verdediging daarvan, het hy maar min gelykes gehad in diegene wat na hom gekom het. Reinheid van lewe, onvermoeide ywer in studie en werk, onomkoopbare opregtheid, Christelike liefde en getrouheid in diens, dit was die karaktertrekke van hierdie eerste Hervormer — en dit nieteenstaande die verstandelike duisternis en sedelike verwording van sy tyd nie.GS 105.1

    Die karakter van Wycliffe is ‘n getuienis vir die opvoedende, veranderende krag van die Heilige Skrifte. Dit is die Bybel wat hom gemaak het wat hy was. Die inspanning om die groot waarhede te verstaan wat die Bybel openbaar, verkwik en versterk al die verstandelike vermoëns. Dit verdiep die verstand. verskerp die waarnemingsvermoë, en gee rypheid van oordeel. n Ondersoek van die Bybel sal elke gedagte veredel, asook die gevoelens en strewes, soos geen ander studies dit kan doen nie. Dit gee vasberadenheid, geduld, moed, en volharding; dit verfyn die karakter, en heilig die siel. ‘n Ernstige, eerbiedige ondersoek van die Skrifte, wat die verstand van die student regstreeks in aanraking bring met die goddelike verstand, sal aan die wêreld manne gee van groter en sterker intellek, en van edeler beginsels as wat daar geproduseer kan word deur die beste opvoeding wat menslike filosofie kan aanbied. “Die opening van U woorde gee lig”; sê die psalmis, “dit maak die eenvoudiges verstandig.” Ps. 119: 130.GS 105.2

    Die leerstellings van Wycliffe is vir ‘n tyd versprei; sy navolgers, bekend as Wycliffiete en Lollarde, het nie alleen Engeland deurreis nie, maar ook ander lande waar hulle ‘n kennis van die evangelie gebring het. Maar noudat hulle leier dood was, het die predikers met nog groter ywer as ooit tevore gewerk, en groot skares het na hulle preke kom luister. Sommige van die edelliede, waaronder ook die koningin, was onder die bekeerlinge. Op baie plekke het daar ‘n opmerklike verandering gekom in die gewoontes van die mense, en die afgodiese sinnebeeld van Romanisme is uit die kerke verwyder. Maar baie gou het die meedoënlose storm van vervolging losgebars op diegene wat gedurf het om die Bybel aan te neem as hulle gids. Die Engelse konings, gretig om hulle mag te versterk deur die bystand van Rome, het nie geaarsel om die Hervormers op te offer nie. Vir die eerste maal in die geskiedenis van Engeland is die dissipels van die evangelie tot die brandstapel veroordeel. Die marteldood was aan die orde van die dag. Die voorstanders van die waarheid, verban en gemartel, kon slegs roep tot die Here van die leërskare. Vervolg as vyande van die kerk en verraaiers van die staat, het hulle in verborge plekke aangehou preek en so goed as hulle kon, skuiling gevind in die eenvoudige wonings van die armes, en dikwels moes hulle wegkruip in holle en spelonke.GS 106.1

    Nieteenstaande die woede van die vervolging, is daar vir eeue op stille, ernstige, geduldige, en vrome wyse geprotesteer teen die heersende verdorwenheid van die godsdiens. Die Christene van daardie vroeë tyd het slegs ‘n gedeeltelike kennis van die waarheid gehad, maar hulle het geleer om Gods woord te gehoorsaam en lief te hê, en hulle het geduldig daarvoor gely. Soos die dissipels in die tyd van die apostels, het baie hulle wêreldse besittings opgeoffer vir die saak van Christus. Diegene wat nog in hulle huise kon woon, het blymoedig herberg verleen aan hulle verbande broeders; en waar hulle self verjaag is, het hulle sonder klagte die lot van ‘n verworpeling aanvaar. Wel was daar duisende, afgeskrik deur die woede van hulle vervolgers, wat hulle vryheid gekoop het ten koste van hulle geloof; en wat uit die gevangenisse vrygelaat is en in boetelingsklere die versaking van hulle geloof bekend gemaak het. Maar daar was ‘n groot aantal, waaronder ook edelliede, wat onverskrokke getuig het vir die waarheid in kerkers, die Lollardetorings, in marteling en in die vlamme, juigende dat hulle waardig geag was om te deel “in Sy lyde.”GS 106.2

    Die pousgesindes kon nie hulle sin kry met Wycliffe gedurende sy leeftyd nie, en hulle wraaksugtigheid kon nie tevrede gestel word solank as sy liggaam rustig in die graf gerus het nie. Kragtens ‘n dekreet van die Konsilie van Constans, is sy bene sowat veertig jaar na sy dood opgegrawe en in die openbaar verbrand, en die as is in ‘n riviertjie in die buurt gegooi. “Hierdie stroompie,” het ‘n ou skrywer gesê, “het die as na die Avon gevoer, die Avon na die Severn, die Severn in die enge see, en die weer na die groot oseaan. En so het die as van Wycliffe ‘n sinnebeeld van sy leer geword wat nou in die hele wêreld versprei is.”—Fuller T., “Church History oj Britain,” boek 4, ajd. 2, para. 54.Min het sy vyande die betekenis van hulle kwaadwillige daad besef.GS 107.1

    Dit is deur die geskrifte van Wycliffe dat Johannes Huss van Boheme, gelei is om die baie dwalings van Romanisme op te gee en die werk van hervorming aan te pak. Op hierdie wyse is die saad gesaai in hierdie twee lande wat sover van mekaar verwyder is. Van Boheme het die werk uitgebrei tot ander lande. Die aandag van die mense is gevestig op die woord van God wat so lank vergeet was. ‘n Goddelike hand was besig om die weg te berei vir die Groot Hervorming.GS 107.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents