Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 31—Die Werk van Bose Geeste

    DIE verbinding tussen die sigbare en die onsigbare wêreld, die bediening van die engele van God, en die werk van bose geeste, word duidelik in die Skrifte geopenbaar as iets wat onafskeidelik saamgeweef is met die menslike geskiedenis. Daar is ‘n toenemende neiging om geen geloof te heg nie aan die bestaan van bose geeste, terwyl die engele “wat vir diens uitgestuur word terwille van die wat die saligheid sal beërwe” (Heb. 1: 14), deur vele beskou word as die geeste van die afgestorwenes. Dog die Skrifte leer nie alleen die bestaan van engele, goeie en bose nie, maar gee ook onweerlegbare bewys dat hulle nie die geeste is van afgestorwe mense nie.GS 581.1

    Voor die skepping van die mens het daar engele bestaan; want by die grondlegging van die aarde het “die moresterre saam gejubel en al die seuns van God [het] gejuig.” Job 38: 7. Na die sondeval is engele gestuur om die boom van die lewe te bewaak; en dit het geskied vóórdat daar mense op die aarde gesterf het. Wat hulle natuur betref, staan die engele hoër as mense; want van die mens sê die Psalmis “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese.” Ps. 8: 6. (Die Engelse vertaling lui: “U het hom ‘n weinig laer gemaak as die engele.”)GS 581.2

    In die Skrifte kan ons lees aangaande die getal, die mag en heerlikheid van die hemelse wesens, hulle verhouding tot die regering van God, asook hulle verhouding tot die verlossingswerk. “Die Here het Sy troon in die hemel gevestig, en Sy koninkryk heers oor alles.” Ps. 103: 19. “Ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon.” Openb. 5: 11. Voor die troon van die Koning van die konings dien die engele —-“kragtige helde wat Sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van Sy woord.” Ps. 103: 19, 20. Die profeet Daniel het tienduisendmaal tienduisend en duisende van duisende engele gesien. (Dan. 7: 10.) Die apostel Paulus praat van “tienduisende van engele.” Heb. 12: 22. As Gods boodskappers gaan hulle uit “in aansien soos ‘n bliksemstraal”— so verblindend is hulle heerlikheid en so vinnig vlieg hulle. (Eseg. 1: 14.) Die engel wat by die Heiland se graf verskyn het se “gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu, en uit vrees vir hom het die wagters gebewe en soos dooies geword.” Matt. 28: 3, 4. Toe Sanherib, die trotse Assiriër, God gesmaad en gelaster en Israel met vernietiging bedreig het, het daar “in dieselfde nag die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd vyf en tagtig duisend verslaan.” “En dié het al die dappere helde en bevelhebbers en die owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met ‘n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het.” 2 Kon. 19: 35; 2 Kron. 32: 21.GS 582.1

    Engele word gestuur na die kinders van God op sendings van genade. Tot Abraham het hulle gekom met beloftes van seëninge; aan die poorte van Sodom het hulle verskyn om regverdige Lot van die verwoestende vuur te red; aan Elia het hulle voedsel gebring toe hy wou omkom van vermoeienis en honger in die woestyn; na Elisa het hulle gekom met wjaens en perde van vuur waar hy in die dorpie omsingel was deur sy vyande; aan Daniel het hulle verskyn toe hy aan die hof van ‘n heidense koning om wysheid gebid het, en toe hy in die leeukuil gegooi is; hulle het na Petrus gekom toe hy op die dood gewag het in die tronk van Herodes; hulle het verskyn aan die gevangenes te Filippi; aan Paulus en sy metgeselle in die storm op see; hulle het gekom om die verstand van Cornelius te open om die evangelie te ontvang; hulle het Petrus gestuur met die boodskap van verlossing na die heidense vreemdeling; ja, deur die eeue heen het die engele die volk van God gedien.GS 582.2

    Elke navolger van Christus het ‘n beskermengel. Hierdie hemelse wagters beskerm die regverdiges teen die mag van die bose. Satan self het dit besef toe hy gesê het, “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie Self hom en sy huis en alles wat hy het aan alle kante rondom beskut nie?” Job. 1: 9, 10. Die wyse waarop God Sy volk beskerm, is geopenbaar in die woorde van die psalmis, “Die engel van die Here trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” Ps. 34: 8. Van diegene wat in Hom geglo het, het die Heiland gesê, “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van My Vader wat in die hemele is.” Matt. 18: 10. Die gedienstige engele van die kinders van God het ten alle tye toegang tot Sy teenwoordigheid.GS 583.1

    Gods volk wat blootgestel is aan die verleidende krag en boosheid van die vors van duisternis, en wat die stryd moet voer teen al die bose magte, kan dus verseker wees van die onophoudelike beskerming van die hemelse engele. En hierdie versekering word nie sonder rede gegee nie. As God aan Sy kinders beloftes gegee het van genade en beskerming, is dit omdat daar magtige bose werktuie is — ontelbare en gedetermineerde werktuie en wesens wat nooit moeg word nie, waarmee gestry moet word en wie se kwaadaardigheid en mag deur niemand met veiligheid veronagsaam kan word nie.GS 583.2

    Bose geeste, wat in die begin sondeloos geskape was, was wat hulle natuur, krag, en heerlikheid betref, gelyk aan die heilige wesens wat nou as Gods boodskappers optree. Maar gevalle deur die sonde, werk hulle nou saam vir die ontering van God en die vernietiging van die mens. Saam met Satan in sy rebellie en saam met hom uit die hemel gewerp, het hulle deur die eeue heen met hom saamgestaan in sy oorlog teen die goddelike gesag. In die Skrifte lees ons van hulle sameswering en regering, van hulle verskillende ordes, van hulle intelligensie en listigheid, en van hulle kwaadwillige planne teen die vrede en die geluk van die mens.GS 583.3

    In die Ou Testament word daar af en toe melding gemaak van hulle bestaan en hulle werk; maar dit was tydens Christus se verblyf op aarde dat die bose geeste hulle mag op so ‘n treffende wyse geopenbaar het. Christus het gekom om die verlossingswerk vir die mens te begin, en Satan was vasbeslote om sy reg van heerskappy in hierdie wêreld te handhaaf. Hy het daarin geslaag om afgodediens in te stel in elke deel van die aarde behalwe in Palestina. Na die enigste land wat nie ten voile oorgegee was aan die heerskappy van die versoeker nie, het Christus gekom om die lig van die hemel te laat skyn op die mense. Hier het twee strydende magte aanspraak gemaak op opperheerskappy. Jesus het Sy arms van liefde uitgestrek en ‘n uitnodiging aan almal gegee wat graag vergifnis en vrede in Hom wou hê. Die bose leërskare het gesien dat hulle nie onbeperkte heerskappy gehad het nie, en hulle het besef dat as Christus se sending suksesvol sou wees, hulle regering gou ten einde sou loop. Satan het tekeregegaan soos ‘n vasgekettingde leeu, en uitdagend het hy sy mag getoon oor die liggame sowel as die siele van die mense.GS 584.1

    Die feit dat mense deur duiwels besete was, word duidelik verklaar in die Nuwe Testament. Die mense wat op hierdie manier besete was, het nie slegs aan siekte gely wat natuurlike oorsake gehad het nie. Christus het ten voile verstaan waarmee Hy te doen gehad het, en Hy het die regstreekse teenwoordigheid en werk van bose geeste gesien.GS 584.2

    ‘n Treffende voorbeeld van hulle getal, hulle mag, en kwaadwilligheid, asook van die mag en genade van Christus, word gegee in die beskrywing van die genesing van die duiwelbesetenes van Gadara. Hierdie ellendige besetenes wat alle bedwang veronagsaam het, en wat rasende en skuimende hulleself geweld aangedoen het en probeer het om almal aan te rand wat naby hulle gekom het, het die lug laat weergalm met hulle geskree. Hulle bebloede en verwonde liggame en hulle kranksinnigheid was ‘n skouspel waarmee die vors van duisternis hoogs tevrede was. Een van die demone het verklaar, “Legio is my naam, want ons is baie.” Mark. 5:9. In die Romeinse leër het ‘n legioen bestaan uit van drie-tot-vyfduisend man. Satan se leërskare was ook in groepe aangemonster, en die groep waaraan hierdie demone behoort het, was nie minder as ‘n legioen nie.GS 584.3

    Op bevel van Jesus het die bose geeste hulle slagoffers verlaat, en hulle agtergelaat, sittende aan die Heiland se voete, kalm, bedaard, intelligent, sagmoedig. Maar die demone was toegelaat om in ‘n trop varke in te vaar en hulle in die see te jaag. Vir die inwoners van Gadara was die verlies van die varke meer as die seen wat Christus gegee het, en die goddelike Geneesheer is versoek om die plek te verlaat. Dit was juis die uitwerking wat Satan begeer het om te sien. Deur Jesus te blameer vir hulle verlies het hy die selfsugtige vrees van die volk opgewek, sodat hulle verhinder is om na Sy woorde te luister. Satan beskuldig steeds Christene daarvan dat hulle die oorsaak is van verlies, ongeluk, en lyding, in stede van die werklike skuldiges aan te wys — naamlik homself en sy werktuie.GS 585.1

    Maar die planne van Christus sou nie gedwarsboom word nie. Hy het die bose geeste toegelaat om die trop varke te vernietig as ‘n bestraffing vir daardie Jode wat hierdie onreine diere geteel het om wins. As Christus die demone nie belet het nie, sou hulle nie alleen die varke nie, maar ook die wagters en eienaars in die see laat stort het. Die bewaring van sowel die wagters en die eienaars was alleen aan Sy krag te danke, wat Hy genadiglik vir hulle verlossing gebruik het. En wat meer is, hierdie voorval is toegelaat sodat die dissipels die wrede mag van Satan kon sien op beide mens en dier. Die Heiland wou hê dat Sy navolgers ‘n kennis sou hê van die vyand waarmee hulle te doen het, sodat hulle nie deur hom bedrieg en oorwin mag word nie. Dit was ook Sy wil dat die volk van daardie streek Sy krag sou sien om die slawerny van Satan te verbreek en Sy gevangenes vry te stel. En hoewel Jesus self daar weg is, het die manne wat so wonderbaarlik verlos is, agtergebly om te getuig van die genade van hulle Weldoener.GS 585.2

    Ander voorvalle van dieselfde aard is opgeteken in die Skrifte. Jesus het deur Sy magwoord ‘n duiwel uitgewerp wat die dogter van ‘n Siro-Feniciese vrou vreeslik geteister het. (Mark. 7: 26-30.) Hy het die duiwel uitgewerp van ‘n “duiwelbesetene wat blind en stom was.” Matt. 12: 22. Hy het die duiwel uit-gewerp uit ‘n seun wat maansiek was, en wat besete was deur ‘n stomme gees wat hom “in die vuur en in die water gegooi het om hom dood te maak.” Mark. 9: 17-27. Hy het ‘n man bevry wat besete was deur ‘n “gees van ‘n onreine duiwel,” wat die Sabbatstilte in die sinagoge te Kapernaum verstoor het — al hierdie mense is deur ‘n ontfermende Heiland genees. In byna elke geval het Christus die demon aangespreek as ‘n intelligente wese, en hom beveel om sy slagoffer te verlaat en hom nie meer te pynig nie. Die aanbidders op Kapernaum wat die openbaring van Sy mag gesien het, was verbaas en het vir mekaar gesê: “Wat vir ‘n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit!” Lukas 4: 33-36.GS 586.1

    Volgens die beskrywing van diegene wat deur duiwels besete was, blyk dit dat hulle baie gely het; maar daar was ook uitsonderings. Ten einde bonatuurlike krag te verkry het sommige die sataniese invloed verwelkom; hulle, natuurlik, het geen stryd met die demone gehad nie. In hierdie klas was diegene wat waarsêende geeste gehad het soos die towenaars Simon en Elimas, en die slavin wat Paulus en Silas te Filippi agtervolg het.GS 586.2

    Niemand verkeer in groter gevaar van die invloed van bose geeste nie as diegene wat, nieteenstaande die duidelike getuienis van die Skrifte, die bestaan en werk van die duiwel en sy engele ontken. Solank as ons onkundig is aangaande hulle listige planne, het hulle die allergrootste voordeel; baie mense luister na hulle influisterings onder die waan dat hulle die wysheid van hulle eie verstand navolg. Dit is die rede waarom Satan, namate ons die einde nader, met die grootste krag sal werk om te bedrieg en te verwoes, want orals laat hy die idee ontstaan dat daar nie ‘n duiwel is nie. Dit is sy beleid om homself en sy manier van werk te bedek.GS 586.3

    Daar is niks wat die groot bedrieër so vrees nie as dat mense sy bedrog sal agterkom, en ten einde sy ware karakter en doel te bedek, het hy mense daartoe gelei om sy bestaan voor te stel as iets belagliks. Hy gee glad nie om nie om beskryf te word as ‘n belaglike, afskuwelike gedrog, wanskapig, half dier en half mens. Dit behaag hom om sy naam te hoor gebruik in ‘n spottende sin deur diegene wat meen dat hulle intelligent en belese is.GS 587.1

    Dit is omdat hy hom so goed vermom het dat die vraag orals gevra word, “Is daar regtig so iets as ‘n duiwel?” Dit is ‘n bewys van sy sukses dat teorieë wat die duidelike verklaring van die Skrifte loën so algemeen in die godsdienstige wêreld aangeneem word. Dit is omdat Satan so maklik die verstand kan beheers van diegene wat nie bewus is van sy invloed, dat die woord van God ons so baie voorbeelde gee van sy kwaadaardige werk, sy geheime magte aan ons openbaar, en ons dus op ons hoede bring vir sy aanvalle.GS 587.2

    As dit nie was dat ons veiligheid en verlossing kan vind in ons Verlosser wat sterker is nie, sou ons met reg die krag en kwaadwilligheid van Satan kon vrees. Baie sorgvuldig sluit ons ons huise sodat diewe nie ons goed steel en bose mense ons lewens in gevaar bring nie; maar hoe selde dink ons aan die bose engele wat gedurig trag om tot ons in te kom, en teen wie ons in ons eie krag geen beskerming het nie. As hulle toegelaat sou word, sou hulle ons kranksinnig maak, ons liggame teister, en ons goed en ons lewens vernietig. Hulle skep behae alleen in ellende en verwoesting. Vreeslik is die toestand van diegene wat die goddelike aansprake weerstaan en hulleself aan Satan se versoekings oorgee tot God hulle eindelik oorlaat aan die beheer van bose geeste. Maar diegene wat Christus navolg is altyd veilig onder Sy wakende oog. Magtige engele word van die hemel gestuur om hulle te beskerm. Die duiwel kan nie deur die mag breek wat God rondom Sy volk opgestel het nie.GS 587.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents