Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 20—‘n Groot Godsdienstige Opwekking

    IN Openbaring 14 word daar ‘n groot godsdienstige opwekking voorspel tydens die verkondiging van die spoedige wederkoms van Christus. Die apostel het ‘n engel “in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” “Met ‘n groot stem” verkondig hy die boodskap, “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Openb. 14: 6, 7.GS 407.1

    Die feit dat daar gesê word dat ‘n engel hierdie boodskap verkondig, is merkwaardig. Dit het goddelike wysheid behaag om die verhewe karakter van die werk wat deur hierdie boodskap gedoen word, en die krag en heerlikheid waarmee dit gepaard gaan, voor te stel deur die reinheid en heerlikheid en krag van die hemelse boodskapper. In die vlug van die engel “in die middel van die lug,” en “die groot stem” waarmee die waarskuwing gegee word, en die verkondiging daarvan aan almal wat op die aarde woon — naamlik “aan alle nasies, stamme en tale en volke”— is bewys van die spoed en wêreldwye omvang van die beweging.GS 407.2

    Die boodskap self werp lig op die tyd wanneer hierdie beweging sal begin. Dit word verklaar om deel te wees van die “ewige evangelie”; en dit kondig die aanvang van die oordeel aan. Die boodskap van saligheid is in alle eeue verkondig; maar hierdie boodskap is deel van die evangelie wat alleen in die laaste dae kan verkondig word, want alleen dan sou dit waar wees dat die uur van Sy oordeel gekom het. Die profesieë stel ‘n reeks gebeurtenisse voor wat ons tot die begin van die oordeelsuur bring. Dit is veral waar van die boek van Daniel. Maar daardie deel van sy profesie wat betrekking het op die laaste dae, moes Daniel verseël “tot die tyd van die einde.” Nie voor ons hierdie tyd bereik kan die boodskap van die oordeel, wat gebaseer is op die vervulling van hierdie profesieë, verkondig word nie. Maar in die tyd van die einde, sê die profeet, sal “baie dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.” Dan. 12: 4.GS 408.1

    Die apostel Paulus het die kerk gewaarsku om nie die wederkoms van Christus in sy tyd te verwag nie; “Eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word,” voordat daardie dag kan kom. (2 Thess. 2:3.) Eers na die groot afval en die lang tydperk van die regering van die mens van sonde, kan ons die wederkoms van ons Here verwag. Die “mens van sonde,” wat ook genoem word “die verborgenheid van ongeregtigheid,” die “seun van die verderf,” en “die ongeregtige,” stel die pousdom voor, wat soos in die profesie voorspel is, vir 1260 jaar heerskappy sou voer. Daardie tydperk het in die jaar 1798 geëindig. Die wederkoms van Christus kon nie voor daardie tyd geskied nie. Paulus maan die hele Christelike bedeling tot by die jaar 1798 tot versigtigheid. Dit is na daardie tyd dat die boodskap van die wederkoms van Christus sou verkondig word.GS 408.2

    Geen dergelike boodskap is ooit in die verlede gegee nie. Paulus, soos ons gesien het, het dit nie gepreek nie; hy het die aandag van sy broeders op die verre toekoms gevestig vir die wederkoms van die Here. Die Hervormers het dit nie verkondig nie. Martyn Luther het in sy tyd gesê dat die oordeelsdtg nog omtrent driehonderd jaar in die toekoms was. Maar sedert die jaar 1798 is die boek van Daniel geopen, kennis van die profesieë het toegeneem, en vele het die plegtige boodskap verkondig dat die oordeelsuur naby was.GS 408.3

    Net soos die groot Hervorming van die sestiende eeu, het die Adventbeweging in verskillende lande op dieselfde tyd begin. In beide Europa en Amerika is manne van geloof en gebed gelei om die profesieë te ondersoek; en waar hulle die ingegewe oorkondes nagegaan het. het hulle die oortuigende bewys gevind dat die einde van alle dinge op hande was. In verskillende lande was daar algesonderde groepe Christene wat uit ‘n blote ondersoek van die Skrifte beweeg is om te glo dat die Heiland se wederkoms naby was.GS 409.1

    In die jaar 1821, drie jaar nadat Miller deur sy ondersoek van die profesieë die tyd van die oordeel vasgestel het, het Dr. Joseph Wolff, ,.wêreldsendeling.” die spoedige wederkoms van die Here begin verkondig. Wolff is van Joodse ouers in Duitsland gebore; sy vader was ‘n Joodse Rabbi. Toe hy nog baie jonk was, is hy oortuig van die waarheid van die Christelike geloof. Daar hy van ‘n aktiewe. ondersoekende geaardheid was, het hy baie fyn geluister na die gesprekke wat in sy vader se huis plaasgevind het, waar toegewyde Jode daeliks saamgekom het om te praat oor die hoop en verwagting van hulle volk, die heerlikheid van die komende Messias, en die herstelling van Israel. Eendag, toe die naam van Jesus van Xasaret genoem is, wou die seun weet wie Hy was. “Een van die talentvolste Jode,” was die antwoord; “maar omdat Hy voorgegee het dat Hy die Messias was, het die Joodse hof Hom tot die dood veroordeel.” “Hoekom,” het die seun gevra, “is Jerusalem verwoes en waarom is ons in ballingskap?” “Helaas, helaas!” het sy vader geantwoord, “omdat die Jode die profete om die lewe gebring het.” Dadelik het die gedagte by die kind opgekom: “Miskien was Jesus ook ‘n profeet en het die Jode Hom onskuldig om die lewe gebring.” —“Travels and Adventures oj the Rev. Joseph Wolff,” Deel I, bl. 6 (ed. 1860).So sterk was hy onder die indruk hiervan dat hy, alhoewel hy verbied was om ‘n Christelike kerk binne te gaan, dikwels buitekant na die preek gestaan en luister het.GS 409.2

    Toe hy maar nog sewe jaar oud was, en hy teenoor ‘n bejaarde Christelike buurman gespog het met die toekomstige oorwinning van Israel by die wederkoms van die Messias, het die ou man hom vriendelik gesê, “Liewe kind, ek sal jou sê wie die ware Messias was: Hy was Jesus van Nasaret . . . wat deur julle voorvaders gekruisig is net soos ook die profete vanouds. Gaan huis-toe en lees die drie-en-vyftigste hoofstuk van Jesaja, en jy sal oortuig wees dat Jesus Christus die Seun van God is.” —“Travels and Adventures oj the Rev. Joseph Wolff,” Deel I, bl. 7.Sy oortuiging het dadelik sterker geword. Hy is huis-toe en het die skrifgedeelte gelees; hy wTas verbaas om te sien hoe volkome dit deur Jesus van Nasaret vervul is. Was die woorde van hierdie Christen waar? Die seun het sy vader gevra om ‘n verklaring van hierdie profesie, maar hy is met so ‘n strenge stilswyse begroet dat hy nooit weer gewaag het om die onderwerp aan te roer nie. Dit, egter, het sy begeerte net groter gemaak om meer te weet van die Christelike godsdiens.GS 410.1

    Die kennis waarna hy gesoek het, is sorgvuldig in sy Joodse huis van hom af weggehou; maar toe hy elf jaar oud was, het hy sy vader se huis verlaat en is hy die wêreld in om self ‘n opvoeding te verkry, om sy godsdiens te kies en sy lewenswerk. Vir ‘n tyd het hy by ‘n rasgenoot ingewoon, maar is gou daar weggejaag as ‘n ketter; alleen, en sonder geld, moes hy sy bestaan soek onder vreemdelinge. Hy is van plek tot plek en het homself onderhou deur Hebreeuse lesse te gee, terwyl hy self ywerig gestudeer het. Onder invloed van ‘n Katolieke leraar is hy beweeg om die Roomse leer aan te neem, met die voorneme om as sendeling vir sy eie mense te dien. Met hierdie doel voor oë is hy later na die “College of the Propaganda” te Rome om sy studies voort te sit. Hier het sy onafhanklike gedagtegang en sy manier om vryuit te praat hom die beskuldiging van ketter op die hals gehaal. Hy het openlik die misbruike van die kerk aangeval en gewys op die noodsaaklikheid van hervorming. Hoewel hy in die begin die guns van die Roomse waardigheidsbekleërs geniet het, is hy later van Rome weggestuur. Onder toesig van die kerk is hy van plek tot plek, maar dit het spoedig duidelik geword dat hy nooit sou toestem tot die slawerny van die Roomse kerk nie. Hy is as onverbeterlik verklaar, en hulle het hom toe vrygestel om te gaan waar hy wou. Hy is toe na Engeland en het by die Kerk van Engeland aangesluit. Na twee jaar se studie het hy in die jaar 1821 met sy sending begin.GS 410.2

    Hoewel Wolff die groot waarheid van Christus se eerste koms as ‘n “Man van smarte en bekend met krankheid,” aangeneem let, het hy gesien dat die profesieë net so duidelik ook die wederkoms van Christus in krag en heerlikheid, geleer het. En waar hy getrag het om sy eie mense tot Jesus van Nasaret as die Beloofde Een, te bring, en hulle te wys op Sy eerste koms en nederigheid en as soenoffer vir die sondes van die mensheid, het hy ook Sy wederkoms as Koning en Verlosser voorgehou.GS 411.1

    “Jesus van Nasaret, die ware Messias,” het hy gesê, “Wie se hande en voete deurboor is, wat as Lam na die slagting gebring is, die Man van smarte en bekend met krankheid, wat, ná die septer van Juda weggeneem is en die wetgewer van tussen sy voete, en wat die eerste maal gekom het, sal die tweede maal kom op die wolke van die hemel en met die basuin van die Aartsengel.”— Wolf}, “Researches and Missionary Labours,” bl. 62 (ed. 1835).“En Hy sal op die Olyfberg staan; en die heerskappy, wat eenmaal aan Adam oor die skepping gegee is, en deur hom verbeur is (Gen. 1: 26; 3: 17), sal aan Jesus gegee word. Hy sal Koning wees oor die ganse aarde. Die gekreun en geweeklag van die skepping sal ophou, maar die lofen dankliedere sal gehoor word . . . wanneer Jesus kom in die heerlikheid van Sy Vader, met Sy heilige engele ... sal die gelowiges eerste opstaan. (1 Thess. 4: 16; 1 Kor. 15: 23). Dit is wat ons Christene die eerste opstanding noem. Dan sal die diereryk sy aard verander (Jes. 11: 6-9), en hulle sal aan Jesus onderworpe wees. (Ps. 8.) Daar sal algemene vrede heers.” “Weer sal die Here die aarde aanskou en sê, ,Dit is baie goed.’ “—“Journal of the Rev. Joseph Wolff, bis. 378, 379, 294 {ed. 1839.GS 411.2

    Wolff het geglo dat die wederkoms van die Here naby was, en sy verklaring van die profesieë het daardie groot gebeurtenis binne ‘n paar jaar gebring van die datum wat deur Miller vasgestel is. Diegene wat volgens die Skrifte aangevoer het dat niemand die uur of die dag kan vasstel nie, en dat mens niks kan weet van die nabyheid van daardie gebeurtenis nie, het Wolff as volg geantwoord: “Het die Here gesê dat daardie dag en uur nooit kan aangewys word nie? Het Hy ons nie die tekens van die tye gegee sodat ons ten minste kan weet dat Sy koms nader, net soos mens kan weet dat die somer naby is wanneer die vyeboom bot nie? (Matt. 24: 32.) Kan ons dan nooit daardie datum vasstel nie, daar die Here Self ons vermaan het om nie alleen die profesie van Daniel te lees nie, maar om dit ook te verstaan — daardie selfde Daniel waar ons lees dat die woorde verseël is tot die tyd van die einde (wat die geval in sy tyd was), en dat baie dit sal ,deursoek’ (‘n Hebreeuse uitdrukking om ‘n datum te ondersoek en te bepeins), en dat ,die kennis’ (aangaande daardie tyd) ,vermeerder’ sal word nie? (Dan. 12: 4.) En wat meer is, die Here sê nie dat ons die koms van daardie tyd nie sal sien nie, maar dat niemand die juiste ,dag en uur’ sal weet nie. Genoeg sal gesien word, het hy gesê, volgens die tekens van die tye, om ons te beweeg om klaar te maak vir Sy koms, net soos Noag die ark klaargemaak het.”— Wolff, “Researches and Missionary Labours,” bis. 404, 405.GS 411.3

    Aangaande die algemene metode om die Skrifte te verklaar, of verkeerd te verklaar, het Wolff geskryf: “Die grootste gedeelte van die Christelike kerk het afgedwaal van die duidelike betekenis van die Skrifte, en hulle het hulle gewend tot die stelsel van die Boeddhiste wat glo dat die toekomstige geluksaligheid van die mensheid sal bestaan in rondswewe in die lug, en wat veronderstel dat as hulle Jode lees hulle heidene moet verstaan; en wanneer hulle Jerusalem lees, hulle die kerk moet verstaan; en dat die aarde, die lug beteken; en as hulle lees van die koms van die Here hulle die vooruitgang van die sendinggenootskappe moet verstaan; en dat die gaan na die berg van die huis van die Here, ‘n groot vergadering van Metodiste beteken.” —,Journal oj Rev. Joseph Wolff,” bl. 96.GS 412.1

    Gedurende die vier-en-twintig jaar van 1821-1845 het Wolff baie rondgereis. Hy het Afrika, Egipte, Abessinië, Palestina, Sirië, Persië, Bokhara, en Indië besoek. Ook het hy die Yerenigde State besoek, en op sy reis daarheen het hy op die eiland van St. Helena gepreek. Hy het in Augustus 1837 in New York aangekom; en na hy in daardie stad gepraat het, het hy op Phfladelphia en Baltimore, en eindelik op Washington gepreek. Hier, sê hy, “is daar op ‘n voorstel van die gewese president John Quincy Adams, in een van die kongreshuise, eenparig besluit om die gebruik van die kongressaal aan my af te staan vir ‘n lesing, wat ek op ‘n Saterdag gegee het, en wat vereer was deur die teenwoordigheid van al die kongreslede, die biskop van Virginia, en die geestelikes en burgers van Washington. Dieselfde eer is aan my gegee deur die lede van die regering van New Jersey en Pennsylvania, in wie se teenwoordigheid ek lesings gegee het oor my navorsingswerk in Asië, en oor die persoonlike regering van Jesus Christus.”—“Journal of Rev. Joseph Wolff,” bls. 398, 399.GS 412.2

    Dr. Wolff het in meeste van die heidenlande gereis sonder die beskerming van enige Europese owerheid; hy het baie ontberings verduur en het in baie gevare verkeer. Hy is met stokke geslaan, uitgehonger, as slaaf verkoop, en driemaal tot die dood veroordeel. Hy is deur rowers aangeval, en soms het hy byna van dors omgekom. Hy is beroof van alles wat hy gehad het, en moes honderde myle te voet oor die berge aflê met die sneeu in sy gesig en sy kaal voete dood van die koue op die bevrore grond.GS 413.1

    Toe hy gewaarsku is om nie ongewapend onder die vyandige stamme in te gaan nie, het hy geantwoord dat hy wel van wapens voorsien was —“van gebed, ywer vir Christus, en vertroue op Sy hulp.” “Ek is ook,” het hy gesê, “voorsien van die liefde van God en my naaste in my hart, en met die Bybel in my hand.”— Adams’ W. H. D., “ln Perils Oft,” bl. 192.Waar hy ookal gegaan het, het hy ‘n Bybel in Hebreeus en Engels saamgedra. Van een van sy latere reise sê hy, “Ek het die Bybel in my hand oopgehou. Ek het gevoel dat my krag in daardie Boek was, en dat sy krag my sou bewaar.”—Idem, bl. 201.GS 413.2

    Op hierdie manier het hy in sy werk volhard totdat die boodskap van die oordeel aan die grootste gedeelte van die aardbol gebring is. Onder Jode, Turke, Parsees, Hindoes, en baie ander nasies en geslagte, het hy die woord van God in verskillende tale versprei, en orals het hy die aanstaande regering van die Messias verkondig.GS 413.3

    In sy reise in Bokhara het hy gevind dat die leerstelling van die spoedige wederkoms van die Here deur ‘n afgeleë volk gehuldig is. Die Arabiere van Jemen, sê hy, “is in besit van ‘n boek genoem ,Sera,’ wat die wederkoms van Christus en Sy regering en heerlikheid verkondig; en hulle verwag dat groot gebeurtenisse in die jaar 1840 sal plaasvind.” “In Jemen . . . het ek ses dae by die kinders van Regab deurgebring. Hulle drink geen wyn nie, plant geen wingerde nie, en saai geen saad nie; hulle woon in tente en onthou nog vir Jonadab, die seun van Regab; en by hulle het ek van die kinders van Israel gevind van die stam van Dan, . . . wat net soos die kinders van Regab, die spoedige koms van die Messias op die wolke verwag.” -—,Journal oj the Rev. Joseph Wolff,” bis. 377, 389.GS 413.4

    ‘n Ander sendeling het dieselfde geloof in Tartarye aangetref. ‘n Tartaarse priester het die sendeling ondervra aangaande die tyd van Christus se wederkoms. Toe die sendeling sê dat hy niks daarvan weet nie, was die priester verbaas oor die onkunde van iemand wat homself uitgegee het as ‘n Bybelleraar; hy het sy eie sienswyse verklaar, gebaseer op profesie, dat Christus in die jaar 1844 sou kom.GS 414.1

    So vroeg reeds as die jaar 1826 is die Adventboodskap in Engeland verkondig. Die beweging daar het nie so ‘n bepaalde vorm aangeneem as die van Amerika nie; die juiste datum van die wederkoms is nie so bepaald verkondig nie, maar die groot waarheid van Christus se spoedige wederkoms in heerlikheid is algemeen verkondig; en dit nie alleen onder die afgeskeides en nonkonformiste nie. Mourant Brock, ‘n Engelse skrywer, verklaar dat daar sowat 700 predikante van die Kerk van Engeland besig was met die verkondiging van hierdie “evangelie van die koninkryk.” Die boodskap wat 1844 aangewys het as die datum van die Here se wederkoms is oor die hele Groot-Brittanje verkondig. Boeke uit Amerika oor die advent is wyd en syd gesirkuleer. Boeke en tydskrifte is in Engeland gepubliseer. In die jaar 1842 het Robert Winter, ‘n Engelsman van geboorte, maar wat die Adventgeloof in Amerika aangeneem het, na sy geboorteland teruggekeer om die koms van die Here te verkondig. Baie het met hom saamgewerk, en die boodskap aangaande die oordeel is in verskeie dele van Engeland verkondig.GS 414.2

    In Suid-Amerika het Lacunza, ‘n Spanjaard en ‘n Jesuïet, ondanks die heersende barbaarsheid en priesterbedrog, sy weg tot die Skrifte gevind, en daar het hy die waarheid geleer van Christus se spoedige wederkoms. Gedwing om die waarskuwing te verkondig, maar terselfdertyd begerig om die veroordeling van Rome te vermy, het hy sy sienswyses gepubliseer onder die skuilnaam van “Rabbi Ben-Israel,” en hy het homself voorgestel as ‘n bekeerde Jood. Lacunza het in die agtiende eeu geleef, maar dit was in die jaar 1825 dat sy boek in Londen in Engels vertaal is. Die verskyning van hierdie boek het die belangstelling wat reeds in Engeland opgewek was in die onderwerp van die wederkoms, vermeerder.GS 414.3

    In Duitsland is die leer in die agtiende eeu verkondig deur Bengel, ‘n predikant van die Lutherse Kerk, en ‘n vermaarde Bybelverklaarder en kritikus. Na hy met sy opvoeding klaar was, het Bengel hom “toegelê op die studie van teologie, waartoe hy aangetrokke gevoel het weens sy godsdienstige aanleg wat vermeerder en versterk is deur sy vroeër opvoeding en dissipline. Soos ander nadinkende jongmense voor en na sy tyd, het hy te kampe gehad met twyfel en moeilikhede van ‘n godsdienstige aard, en hy spreek met groot gevoeligheid van die “baie pyle wat sy arme hart deurboor het, en sy jongelingsjare swaar gemaak het om te dra.’ “— Encyclopedia Britannica, art, Bengel (negende druk).Toe hy ‘n lid van die kerkraad van Wurtemburg was, was hy ‘n voorstander van godsdiensvryheid. “Terwyl hy die regte en die voorregte van die kerk gehandhaaf het, was hy ‘n voorstander van redelike vryheid aan almal wat gedwonge gevoel het om weens gewetensbesware hulle aan die kerk te onttrek.”—Idem. Die goeie gevolge van hierdie beleid word nog gesien in die provinsie waar hy gewoon het.GS 415.1

    Dit was terwyl hy met ‘n preek besig was oor Openbaring 21, vir “Adventsondag” dat die lig van Christus se wederkoms in Bengel se hart opgegaan het. Die profesie van Openbaring het voor hom ontplooi soos nog nooit tevore nie. Oorweldig deur ‘n gevoel van die groot belangrikheid en allesoortreffende heerlikheid van die tonele wat deur die profeet beskryf is, is hy gedwing om vir ‘n tyd van die onderwerp af te stap. In die preekstoel het dit hom weer beetgepak met helderheid en krag. Van daardie tyd af het hy hom toegelê op die ondersoek van die profesieë, veral die van Openbaring, en spoedig het hy tot die oortuiging gekom dat hulle aangedui het dat die wederkoms van Christus naby was. Die datum wat hy vasgestel het vir die wederkoms het met ‘n paar jaar verskil van die wat later deur Miller vasgestel is.GS 415.2

    Bengel se geskrifte is deur die hele Christendom versprei. Sy menings oor die profesieë is algemeen aangeneem in sy eie staat van Wurtemburg, en ook in ander dele van Duitsland. Die beweging het aangehou na sy dood, en die Adventboodskap is in Duitsland gehoor op dieselfde tyd toe dit aandag geniet het in ander lande. Vroeg reeds het sommige van die gelowiges na Rusland gegaan; daar het hulle kolonies gestig, en die geloof in die spoedige koms van Christus word vandag nog gehuldig deur die Duitse kerke in daardie land.GS 416.1

    Die lig het ook in Frankryk en Switserland geskyn. In Geneve, waar Farel en Calvyn die waarhede van die Reformasie verkondig het, het Gaussen die boodskap van die wederkoms verkondig. Terwyl hy ‘n student op skool was, het Gaussen in aanraking gekom met die gees van Rasionalisme waarvan Europa gedurende die laaste helfte van die Egtiende eeu en die begin van die negentiende eeu deurtrokke was; en toe hy predikant geword het, was hy nie alleen onkundig wat die ware geloof betref het nie, maar hy het ook neigings getoon tot skeptisisme. In sy jongelingsjare is sy belang opgewek in die studie van die profesieë. Na hy Rollin se “Outydse Geskiedenis” gelees het, is sy aandag gevestig op die tweede hoofstuk van Daniël, en hy is getref deur die wonderbare juistheid waarmee die profesie vervul is soos deur die geskiedskrywer aangetoon. Hier was ‘n bewys van die ingewing van die Skrifte wat vir hom as anker gedien het te midde van die gevare van later jare. Hy was nie tevrede met die leer van Rasionalisme nie, en deur ‘n studie van die Bybel en ‘n soek na meer lig, is hy, na ‘n tyd, tot ‘n positiewe geloof gebring.GS 416.2

    Namate hy voortgegaan het met sy ondersoek van die profesieë, het hy tot die oortuiging gekom dat die koms van die Here naby was. Onder ‘n besef van die plegtigheid en belangrigheid van hierdie groot waarheid het daar ‘n begeerte by hom ontstaan om dit voor die volk te bring; maar die algemene idee dat die profesieë van Daniel verborgenhede was wat nie kon verstaan word nie, was ‘n groot struikelblok in sy weg. Eindelik het hy besluit — net soos Farel voor hom gedoen het in die evangelisasie van Geneve -— om met die kinders te begin, deur wie hy gehoop het om die belangstelling van die ouers op te wek.GS 416.3

    “Ek wil graag hê dat dit verstaan moet word,” het hy later gesê toe hy van die doel van sy onderneming gespreek het, “dat dit nie weens die onbelangrikheid van die onderwerp nie, maar inteendeel, omdat dit so belangrik is, dat ek dit graag in hierdie bekende vorm wil voorstel en dat ek dit aan die kinders gerig het. My begeerte was om verhoor te word, en ek het gevrees dat dit nie die geval sou wees as ek my tot die volwassenes gerig het nie.” “Ek het dus besluit om na die jongstes te gaan. Ek bring ‘n gehoor van kinders saam; as die groep groter word, en as ek opmerk dat hulle luister en tevrede en belangstellend is, en dat hulle die onderwerp verstaan en kan verduidelik, is ek verseker dat ek spoedig ‘n tweede groep sou hê; op hulle beurt sal die groot mense sien dat dit die moeite werd is om te gaan sit en te studeer. Wanneer dit gedoen is, is die saak gewin.” — Gaussen, L., “Daniel the Prophet,” Deel II, Voorwoord.GS 417.1

    Die poging was suksesvol. Waar hy die kinders toegespreek het, het ouer mense kom luister. Die galerye van sy kerk was gevul met aandagtige hoorders. Onder hulle was daar manne van aansien en geleerdheid, en vreemdelinge en uitlanders wat in Genêve op besoek was; op hierdie manier is die boodskap na ander dele gedra.GS 417.2

    Aangemoedig deur sy sukses, het Gaussen sy lesse in druk uitgegee met die hoop om die studie van die profetiese boek in die Franssprekende gemeentes te bevorder. “Om onderrig te publiseer wat aan kinders gegee is,” het Gaussen gesê, “is om aan volwassenes te sê, wat maar te dikwels sulke boeke verwaarloos op voorwensel dat hulle onverstaanbaar is, ,Hoe kan hulle onverstaanbaar wees aangesien julle kinders hulle kan verstaan?’ ” “Ek het ‘n groot begeerte gehad,” het hy gesê, “om ‘n kennis van die profesieë gewild te maak onder ons gemeentes indien moontlik.” “Daar is geen studie waarvan ek weet wat beter in die behoeftes van die tyd voorsien nie.” “Dit is hierdeur dat ons klaarmaak vir die beproewing wat naby is, en waak en wag vir Jesus Christus.” Hoewel hy een van die beroemdste en gewildste predikers in die Franse taal was, is Gaussen na ‘n tyd van sy predikantskap geskors; die vernaamste klagte teen hom was dat hy die Bybel gebruik het in sy onderrig van die kinders, en nie die kategismus van die kerk nie—‘n droë, rasionalistiese handboek wat byna heeltemal ontbreek het aan positiewe geloof. Later het hy ‘n leraar geword in ‘n teologiese skool terwyl hy ook op Sondae die kinders geleer het uit die Skrifte. Sy werke oor die profesieë het groot belangstelling verwek. Van sy hoogleraarstoel, deur die pers, en in sy geliefde werk as leraar vir die kinders, het hy vir jare ‘n groot invloed laat geld en was hy die middel om die aandag van baie te vestig op ‘n studie van die profesieë wat aangetoon het dat die wederkoms van die Here naby was.GS 417.3

    In Skandinawië ook is die Adventboodskap verkondig, en daar is groot belangstelling opgewek. Baie is opgewek uit hulle sorglose sekerheid, om hulle sondes te bely en te versaak en vergifnis te soek in die naam van Christus. Maar die geestelikes van die kerk het die beweging teengewerk, en deur hulle invloed is sommige wat die boodskap verkondig het in die gevangenis gewerp. Op baie plekke waar die predikers van die Here se spoedige koms op hierdie manier die swye opgelê is, het dit God behaag om die boodskap op wonderbaarlike wyse deur kinders te laat verkondig. Omdat hulle nog nie mondig was nie, kon die wet van die staat hulle nie belet nie, en hulle is toegelaat om ongehinderd te spreek.GS 418.1

    Die beweging het grotendeels onder die laer klasse ontstaan, en dit was in die eenvoudige wonings van arbeiders waar die mense saamgekom het om die waarskuwing te hoor. Die kinderpredikers self was vir die grootste gedeelte uit armoedige huise. Sommige van hulle was nie ouer as ses of agt jaar nie. En terwyl hulle lewens bewys het dat hulle die Heiland liefhet en getrag het om in gehoorsaamheid aan sy wette te lewe, was hulle bekwaamheid en intelligensie maar net wat mens gewoonlik by kinders van daardie ouderdom sou verwag. Wanneer hulle voor die mense gestaan het, was dit egter duidelik dat hulle besiel was met ‘n krag bokant hulle eie natuurlike gawes. Hulle stem en maniere het verander, en met krag het hulle die waar-skuwing van die oordeel gegee, en hulle het die juiste woorde van die Skrifte aangehaal: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.” Hulle het die sondes van die mense bestraf, deur nie alleen hulle onsedelikheid te veroordeel nie, maar ook wêreldsgesindheid en afvalligheid, en hulle hoorders te waarsku om hulle te haas om te vlug vir die grimmigheid wat aankom was.GS 419.1

    Die mense het met vrees geluister. Die oortuigende Gees van God het tot hulle harte gespreek. Baie is daartoe gebring om die Skrifte met nuwe en groter aandag te ondersoek. Die onmatiges en die onsedelikes is hervorm, ander het hulle oneerlike praktyke versaak, en daar is ‘n werk gedoen, so merkwaardig, dat selfs die predikante van die Staatskerk gedwing was om te erken dat die hand van God in die beweging was.GS 419.2

    Dit was Gods wil dat die boodskap van die Heiland se koms in die Skandinawiese lande sou verkondig word; en toe die stem van Sy diensknegte stilgemaak is, het Hy Sy Gees in die kinders laat kom, sodat die werk gedoen kon word. Toe Jesus naby Jerusalem gekom het, vergesel van die juigende skares wat met triomfkrete en swaaiende palmtakke Hom aangekondig het as die Seun van David, het die nydige Fariseërs Hom versoek om hulle die swye op te lê; maar Jesus het geantwoord dat dit alles ‘n vervulling van profesie was, en dat as hierdie mense sou swyg, die klippe sou uitroep. Die volk, banggemaak deur die dreigemente van die priesters en owerstes, het hulle gejuig gestaak toe hulle die poorte van Jerusalem binnegaan; maar die kinders in die tempelhowe het later die gejuig hervat; hulle het hulle palmtakke geswaai, en uitgeroep, “Hosanna vir die Seun van Dawid!” (Matt. 21: 8-16.) Toe die Fariseërs, ontevrede aan Hom gesê het, “Hoor U wat hulle daar sê?” het Jesus geantwoord, “Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van die klein kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” Net soos God deur die kinders gewerk het tydens Christus se eerste koms, so het Hy ook deur hulle gewerk in die verkondiging van die boodskap van Sy tweede koms. Gods woord, dat die boodskap van die Heiland se koms aan hulle volke en tonge en nasies moet verkondig word, moet vervul word.GS 419.3

    Aan William Miller en sy medewerkers is die werk gegee om die boodskap in Amerika te verkondig. Daardie land het die middelpunt geword van die groot Adventbeweging. Dit is daar waar die profesie van die eerste engel se boodskap sy mees regstreekse vervulling gehad het. Die geskrifte van Miller en sy medewerkers is na verafgeleë lande geneem. In alle dele van die wêreld wat deur sendelinge binnegedring is, daarheen is die blye tyding van Christus se spoedige wederkoms geneem. Wyd en syd is die boodskap van die ewige evangelie versprei, “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.”GS 420.1

    Die getuienis van die profesieë wat skynbaar gewys het op die wederkoms van Christus in die lente van 1844, het die harte van die mense beetgepak. Namate die boodskap van die een staat na die ander gegaan het, is daar orals groot belangstelling opgewek. Baie was oortuig dat die argumente, gebaseer op die profetiese tydperke, reg was, en hulle hoogmoed versakende, het hulle die waarheid met blydskap aangeneem. Sommige van die predikante het hulle sektariese sienwyses en gevoelens versaak, hulle het hulle salaris en gemeente opgegee, en saamgewerk in die verkondiging van die koms van Jesus. Daar was maar betreklik min predikante wat gewillig was om die boodskap aan te neem; daarom moes die werk grotendeels deur nederige leke gedoen word. Boere het hulle plase verlaat, vverktuigkundiges hulle gereedskap, handelaars hulle handelsware, en artse hulle werk; maar nogtans was die getal werkers klein vergeleke met die groot werk wat daar gedoen moes word. Die toestand van ‘n goddelose kerk en ‘n wêreld in boosheid, het swaar gedruk op die harte van die ware wagters, en hulle het gewillig geswoeg, ontbering gely en swaar gekry, sodat hulle die mense tot bekering kon bring. Hoewel die werk deur Satan teengestaan is, het dit steeds voorwaarts gegaan, en die Adventwaarheid is deur baie duisende aangeneem.GS 420.2

    Orals is die deurdringende getuienis gehoor wat sondaars, beide wêreldlinge en kerklede, gewaarsku het om te vlug vir die aanstaande grimmigheid. Net soos Johannes die Doper, die voorloper van Christus, het die predikers die byl aan die wortel van die boom gelê en by almal aangedring om vrugte voort te bring wat by die bekering pas. Hierdie aangrypende oproepe was in groot teenstelling met die versekerings van vrede en veiligheid wat van die populêre kansels gehoor is; en orals waar die boodskap verkondig is, het dit die mense beweeg. Die eenvoudige, direkte getuienis van die Skrifte, deur die Heilige Gees bekragtig, het ‘n oortuigende krag gehad wat min mense heeltemal kon weerstaan. Belyers van die godsdiens is opgewek uit hulle gevoel van valse veiligheid. Hulle het hulle afvalligheid, hulle wêreldsgesindheid en ongeloof, hulle hoogmoed en selfsug besef. Baie het die aangesig van die Here met bekering en ootmoed gesoek. Hulle harte, wat solank vasgeklem het aan aardse dinge, is nou na die hemel opgehef. Die Gees van die Here het op hulle gerus, en met versagte harte het hulle aangesluit om die roepstem te laat hoor, “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.”GS 421.1

    Sondaars het wenende uitgeroep, “Wat moet ek doen om gered te word?” Diegene wat oneerlik was, wou graag vergoeding doen. Almal wat vrede in Christus gevind het, was begerig om die seën met ander te deel. Die harte van ouers is tot hulle kinders gewend, en die harte van die kinders tot hulle ouers. Die skeidsmure van hoogmoed en terughoudendheid is weggeruim. Daar is opregte belydenis gedoen, en huisgenote het gearbei vir die redding van hulle dierbares. Dikwels is die stem van vurige voorbidding gehoor. Orals was daar siele wat in groot angs met God gepleit het. Baie het die hele nag in die gebed geworstel om versekering dat hulle sondes vergewe is, en vir die bekering van hulle vriende en bure.GS 422.1

    Alle klasse het na die Adventisbyeenkomste gestroom. Ryk en arm, hoog en laag, was, om verskillende redes, begerig om persoonlik die leerstelling van die wederkoms te hoor. Die Here het die gees van teenstand in bedwang gehou terwyl Sy diensknegte die rede van hulle geloof uiteengesit het. Soms was die werktuig swak, maar die Gees van God het krag gegee aan Sy waarheid. Die teenwoordigheid van heilige engele is in hierdie byeenkomste gevoel, en baie is daeliks tot die gelowiges toegevoeg. Waar die bewyse van Christus se spoedige wederkoms herhaal is, het groot skares in stilte geluister na die plegtige woorde. Dit het geskyn of die hemel en die aarde mekaar genader het. Die krag van God is deur oud en jonk gevoel. Mense is huis-toe met lofliedere op hulle lippe, die weerklank waarvan in die nagtelike stilte gehoor is. Niemand wat hierdie dienste bygewoon het, sal ooit die tonele van groot belangstelling vergeet nie.GS 422.2

    Die verkondiging van ‘n bepaalde tyd vir die koms van Christus het teenstand uitgelok van baie klasse — van die predikant in sy preekstoel tot selfs die roekeloosste sondaar. Die woorde van die profesie is vervul: “Dit moet julle veral weet dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van Sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” 2 Pet. 3:3, 4. Baie wat voorgegee het dat hulle die Heiland liefhet, het verklaar dat hulle nie gekant was teen die leerstelling van die wederkoms nie; maar dat hulle slegs beswaar maak teen die vasstelling van ‘n bepaalde tyd. Maar Gods alsiende oog het hulle harte gelees. Hulle wou nie hoor van Christus se wederkoms om die wêreld in geregtigheid te oordeel nie. Hulle was ontroue diensknegte; hulle werk sou nie die ondersoek van die hartdeursoekende God kon deurstaan nie, en hulle was bevrees om hulle Here te ontmoet. Net soos die Jode tydens Christus se eerste koms, was hulle nie gereed om Jesus te verwelkom nie. Nie alleen het hulle geweier om te luister na die duidelike argumente uit die Bybel nie, maar hulle het diegene wat die Here verwag het, bespot. Satan en sy engele het gejuig, en hulle het Christus en die heilige engele verwyt dat Sy sogenaamde volk so min liefde vir Hom gehad het dat hulle nie Sy koms begeer het nie.GS 423.1

    “Geen mens weet die dag of uur nie,” was die argument wat steeds aangevoer is deur die verwerpers van die Adventgeloof. Die Skrif sê, “Maar van die dag en die uur weet niemand nie, ook die engele van die hemel nie, maar net My Vader alleen.” (Matt. 24: 36.) ‘n Duidelike en steekhoudende verklaring van hierdie teks is gegee deur diegene wat uitgesien het na die koms van die Here, en die verkeerde uitlegging daarvan deur hulle teenstanders is duidelik aangetoon. Die woorde is deur Christus gespreek tydens daardie onvergeetlike gesprek met Sy dissipels op die Olyfberg, nadat Hy die tempel vir die laaste keer verlaat het. Die dissipels het gevra, “Vertel ons wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van U koms en van die voleindiging van die wêreld?” Jesus het tekens aan hulle gegee en gesê, “So weet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Matt. 24: 3, 33. Die, een gesegde van die Heiland moenie gebruik word om die ander te verpletter nie. Hoewel niemand die dag en die uur van Sy koms weet nie, kan ons weet wanneer dit naby is. Verder word ons geleer dat ‘n veronagsaming van Sy waarskuwing en ‘n weiering of nalating om te weet dat Sy koms naby is, net so noodlottig vir ons sal wees as dit was vir diegene in die dae van Noag, wat nie wou weet dat die sondvloed aan kom was nie. Die gelykenis in daardie selfde hoofstuk waar die getroue en ontroue dienskneg teenoormekaar gestel word en waarin die verdoemenis beskryf word van die een wat in sy hart gesê het, “My heer talm om te kom,” toon aan in watter lig Christus diegene sal beskou en beloon wat Hy wagtende aantref, en wat Sy koms verkondig, en diegene wat dit verloën. “Waak dan,” het Hy gesê “Gelukkig is daardie slaaf vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.” Matt. 24: 42-51. “As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” Openb. 3: 3.GS 423.2

    Paulus spreek van ‘n klas op wie die Here se koms onverwags sal kom. “Want julle weet baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ‘n skielike verderf hulle . . . en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.” Maar hy voeg daarby aan diegene wat aggeslaan het op die Heiland se waarskuwing, “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.” 1 Thess. 5: 2-5.GS 424.1

    Op hierdie manier is daar aangetoon dat die Skrifte aan die mens geen rede gee om onkundig te wees aangaande die nabyheid van Christus se koms nie. Maar diegene wat slegs na ‘n ekskuus gesoek het om die waarheid te verwerp, het hulle ore gesluit vir hierdie verduideliking; en die woorde, “van die dag en die uur weet niemand nie,” het steeds weerklink uit die mond van die stoutmoedige spotter, en selfs uit die van die sogenaamde predikante van Christus. Namate die mense opgewek is en navraag begin doen het oor die weg van die saligheid, het godsdienstige leraars tussen hulle en die waarheid getree, en getrag om hulle tot bedaring te bring deur ‘n valse uitleg van die woord van God. Ontroue wagters het aangesluit by die werk van die groot bedrieër, en geroep, Vrede, vrede, wanneer God nie vrede gespreek het nie. Soos die Fariseërs van Christus se tyd, het vele geweier om self die koninkryk van die hemele binne te gaan, en diegene wat wel wou ingaan, is deur hulle verhinder. Die bloed van hierdie siele sal van hulle hand geëis word.GS 424.2

    Die nederigstes en toegewydstes in die kerke was gewoonlik die eerste om die boodskap aan te neem. Diegene wat die Bybel persoonlik ondersoek het, kon nie anders as om die onskriftuurlike aard te sien van die populêre verklarings van die profesieë nie; en orals waar die mense nie deur die geestelikes beïnvloed is nie, en waar hulle die woord van God self ondersoek het, was dit maar net nodig om die Adventleerstelling te vergelyk met die Skrifte om die goddelike gesag daarvan te bewys.GS 425.1

    Vele is deur hulle ongelowige broeders vervolg. Ten einde hulle posisie in die kerk te behou, het sommige besluit om stil te swyg aangaande hulle hoop; maar ander het gevoel dat getrouheid aan God hulle belet het om die waarhede te verswyg wat Hy aan hulle toevertrou het. Vele is lidmaatskap in die kerk ontneem vir geen ander rede as dat hulle geglo het in die koms van Christus nie. Vir diegene wat hierdie geloofsbeproewing moes deurmaak, was die woorde van die profeet baie dierbaar, ,Julle broeders, julle haters wat julle verstoot om My naam ontwil, sê: Laat die Here heerlik word, dat ons julle vreug-de kon aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!” Jes. 66: S.GS 426.1

    Engele van God slaan die uitwerking van die waarskuwing met die grootste belangstelling gade. Toe daar ‘n algemene verwerping van die boodskap was in die kerke, het die engele in droefheid weggegaan. Maar daar was baie wat nog nie getoets was in verband met die Adventwaarheid nie. Vele is mislei deur eggenote, eggenotes, ouers of kinders, en hulle is beweeg om te glo dat dit ‘n sonde was om selfs te luister na die ketterye wat deur die Adventiste verkondig is. Engele is beveel om getrou wag te hou oor hierdie siele; want daar sou nog ander lig op hulle skyn van die troon van God.GS 426.2

    Met onuitspreeklike verlange het diegene wat die boodskap aangeneem het, gewag op die koms van hulle Heiland. Die tyd wat hulle verwag het om Hom te ontmoet het gekom. Hulle het hierdie uur met ‘n kalme erns tegemoetgesien. In soete gemeenskap met God het hulle gerus—‘n pand van die vrede wat hulle s‘n sou wees in die heerlike hiernamaals. Niemand wat hierdie hoop en vertroue gehad het, kon hierdie kostelike ure van wag vergeet nie. Vir etlike weke voor die tyd is wêreldlike besigheid grotendeels opsy gesit. Die opregte gelowiges het sorgvuldig elke gedagte en elke gevoel van hulle harte ondersoek asof hulle op hulle sterfbed gelê het en maar nog slegs ‘n paar uur gehad het voordat hulle hulle oë sou sluit vir alle aardse tonele. Daar was nie “hemelvaartsgewaad” gemaak nie (Sien Aanhangsel); maar almal het die behoefte gevoel aan inwendige getuienis dat hulle gereed was om die Heiland te ontmoet; hulle wit kleed het bestaan uit reinheid van hart — karakters gereinig van die sonde deur die versoeningsbloed van Christus. Mog daar vandag nog onder die belydende volk van God hierdie selfde gees van hartondersoek, en dieselfde vurige, vasberade geloof gesien word. As hulle maar aangehou het om hulle voor die Here te verootmoedig en hulle gebede na die genadetroon op te stuur, sou hulle ‘n baie heerliker ervaring gehad het as wat hulle vandag het. Daar is te min gebed, te min ware oortuiging van sonde, en gebrek aan lewende geloof laat baie sonder die genade wat so ryklik vir hulle voorsien is deur ons Verlosser.GS 426.3

    Dit was Gods plan om Sy volk op die proef te stel. Dit is Sy hand wat die fout bedek het in die berekening van die profetiese tydperke. Die Adventiste het nie die fout ontdek nie, en ook is dit nie ontdek deur die geleerdste van hulle teenstanders nie. Laasgenoemdes het gesê: ,Julle berekening van die profetiese tydperke is juis. Die een of ander groot gebeurtenis is voor die deur; maar dit is nie wat Meneer Miller voorspel nie; dit is die bekering van die wêreld, en nie die tweede koms van Christus nie.” (Sien Aanhangsel.)GS 427.1

    Die tyd van verwagting het verbygegaan, en Christus het nie verskyn om Sy volk te verlos nie. Diegene wat met opregte geloof en liefde uitgesien het na die koms van hulle Heiland, het ‘n bittere teleurstelling ondervind. Maar God was besig om Sy doel uit te werk; Hy was besig om die harte te toets van diegene wat voorgegee het dat hulle op Sy koms gewag het. Daar was baie onder hulle wat deur geen hoër motief aangedryf was as vrees nie. Hulle belydenis van geloof het geen uitwerking gehad op hulle harte of lewens nie. Toe die verwagte gebeurtenis nie plaasgevind het nie, het hierdie mense verklaar dat hulle nie teleurgesteld was nie; hulle het nooit geglo dat Christus sou kom nie. Hulle was die eerstes om die spot te dryf met die droefheid van die ware gelowiges.GS 427.2

    Maar Jesus en al die hemelse leërskare het met liefde en medelye neergesien op die beproefde en getroue, dog teleurgestelde mense. As die sluier wat die sigbare van die onsigbare skei, kon opgelig gewees het, sou daar gesien gewees het hoedat engele hierdie getroue siele genader het en hulle beskerm het teen die pyle van Satan.GS 427.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents