Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Toepassing Op Die Joodse Volk

    Toe Christus die gelykenis van die ryk man en Lasarus vertel het, was daar baie onder die Joodse volk in die bejammerenswaardige toestand van die ryk man, wat die Here se besittings vir hulle eie selfsugtige bevrediging gebruik en hulle voorberei het om die uitspraak te hoor: “U is op die weegskaal geweeg en te lig bevind.” (Dan. 5: 27) Die ryk man het elke tydelike en geestelike seëning geniet, maar hy het geweier om met God saam te werk in die gebruik van hierdie seëninge. So was dit ook met die Joodse volk. Die Here het aan die Jode die heilige waarheid toevertrou. Hy het hulle aangestel as rentmeesters van Sy genade.DGC 187.2

    Hy het hulle elke geestelike en tydelike voordeel gegee en Hy het hulle geroep om hierdie seëninge uit te deel. Hulle is veral onderrig aangaande hulle behandeling van hulle broeders wat in verval geraak het, aangaande die vreemdeling in hulle poorte en aangaande die armes onder hulle. Hulle moes nie alles vir hulle eie voordeel inpalm nie, maar moes aan diegene dink wat behoeftig was, en met hulle deel. En God het belowe om hulle te seen volgens hulle dade van liefde en genade. Maar soos die ryk man, het hulle geen hand verroer om die tydelike en geestelike behoeftes van die lydende mensdom te verlig nie. Hulle was trots en het gedink hulle is die uitverkore en begunstigde volk van God; tog het hulle God nie gedien of Hom aanbid nie. Hulle het op die feit staatgemaak dat hulle kinders van Abraham was. “Ons is die geslag van Abraham,” het hulle trots gesê (Joh. 8:33) Toe die krisis kom, was dit duidelik dat hulle hulle van God geskei het en dat hulle hulle vertroue in Abraham geplaas het asof hy God was.DGC 187.3

    Christus het verlang om lig in die verduisterde gemoedere van die Joodse volk te laat skyn. Hy het aan hulle gesê: “As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie” (Joh. 8:39, 40)DGC 187.4

    Christus het geen deug in afkoms erken nie. Hy het geleer dat geestelike verbintenis natuurlike verbintenis vervang. Die Jode het beweer dat hulle van Abraham afgestam het, maar deurdat hulle nie Abraham se werke gedoen het nie, het hulle bewys dat hulle nie sy ware kinders was nie. Net diegene wat bewys lewer dat hulle geestelik met Abraham ooreenstem deur die stem van God te gehoorsaam, word as ware afstammelinge gereken. Alhoewel die bedelaar aan die klas behoort het wat mense as minderwaardig beskou het, het Christus in hom een gesien met wie Abraham die intiemste vriendskapsbande sou aanknoop.DGC 188.1

    Hoewel hy van al die weelde van die lewe omring was, was die ryk man so onkundig dat hy Abraham gestel het waar God moes wees. As hy sy verhewe voorregte gewaardeer het, en toegelaat het dat Gods Gees sy denke en sy hart vorm, sou dit met hom heeltemal anders gegaan het. So ook die nasie wat hy verteenwoordig het. As hulle die roepstem van God gehoorsaam het, sou hulle toekoms heeltemal anders gewees het. Hulle sou ware geestelike insig geopenbaar het. Hulle het middele gehad wat God sou vermenigvuldig het en voldoende sou gemaak het om die hele wêreld te seën en te verlig, maar hulle het hulle so ver van God se reëlings geskei dat hulle hele lewe verdorwe was. Hulle het nagelaat om hulle gawes as Gods rentmeesters in ooreenstemming met waarheid en geregtigheid te gebruik. Hulle het nie met die ewigheid rekening gehou nie en die gevolg van hulle ontrouheid was die ondergang van die hele volk.DGC 188.2

    Christus het geweet dat die Jode Sy waarskuwing sou onthou wanneer Jerusalem verwoes word. En dit was so. Toe die onheil Jerusalem tref, toe hongersnood en lyding van elke soort op die volk neerkom, het hulle hierdie woorde van Christus onthou en die gelykenis verstaan. Hulle het hulle lyding self op hulle gebring omdat hulle versuim het om hulle Godgegewe lig in die wêreld te laat skyn.DGC 188.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents