Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Saaier En Die Saad

    DEUR DIE gelykenis van die saaier verduidelik Christus die dinge van die koninkryk van die hemele en die werk van die groot landbouer vir Sy volk. Soos die’saaier op die land het Hy gekom om die korrels van hemelse waarheid uit te strooi, en die onderrigting wat Hy deur gelykenisse gegee het, was self die saad waarmee die kosbaarste waarhede van Sy genade gesaai is. Omdat die gelykenis van die saaier so eenvoudig is, is dit nie ten voile gewaardeer nie. Van die natuurlike saad wat in die grond gewerp word, wil Christus ons gedagtes na die evangeliesaad lei wat, nadat dit gesaai is, mense weer aan God getrou maak. Hy wat die gelykenis van die klein saadjie geleer het, is die Vors van die hemel, en dieselfde wette wat vir die saai van die aardse saad geld, geld ook die saai van die waarheidsaad.DGC 9.1

    By die see van Galilea het‘n groep byeengekom om Jesus te sien en te hoor - ‘n gretige, afwagtende skare. Die siekes het op hulle matte gelê en wag om Jesus van hulle behoeftes te vertel. Dit was Christus se Godgegewe reg om die ellendes van ‘n sondige mensdom te genees, en nou het Hy die siekte bestraf en lewe en gesondheid en vrede om Hom uitgestraal.DGC 9.2

    Namate die skare aangegroei het, het die mense al nader om Christus saamgedring totdat daar nie meer staanplek was nie. Toe spreek Hy ‘n woordjie met die vissermanne in hulle bote en klim in die boot wat gewag het om Hom oor die meer te neem. Hy versoek dat Sy dissipels ‘n entjie van die oewer af moet wegvaar, en toe spreek Hy daarvandaan met die skare op die wal.DGC 9.3

    Langs die see was die pragtige vlakte van Gennesaret. Daaragter het heuwels uitgestyg en op heuwel en vlakte het saaiers en maaiers gewerk. Een het gesaai en ‘n ander het die vroeë graan geoes. Jesus het na hierdie toneel gekyk en gesê:DGC 9.4

    “‘n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. En ‘n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.”DGC 10.1

    Christus se tydgenote het Sy sending nie verstaan nie. Die wyse van Sy koms het nie met hulle verwagtinge ooreengestem nie. Die Here Jesus was die fondament van die ganse Joodse stelsel. Sy indrukwekkende dienste is deur God ingestel. Hulle was bedoel om die volk te leer dat daar op die vasgestelde tyd Een sou kom na wie hierdie seremonies vooruit gewys het. Maar die Jode het die vorms en seremonies gehuldig en die doel daarvan vergeet. Oorlewerings, spreuke en mensgemaakte wette het die lesse verberg wat God hulle wou leer. Hierdie spreuke en oorlewerings het verhinder dat hulle die ware Godsdiens begryp en beoefen. En toe die Werklikheid in die persoon van Jesus kom, het hulle Hom nie as die vervulling van al hulle sinnebeelde, die wese van hulle skadurites, herken nie. Hulle het die teenbeeld verwerp, en aan hulle beelde en nuttelose seremonies vasgehou. Die Seun van God het gekom, maar hulle het steeds om ‘n teken gevra. Hulle antwoord op die boodskap, “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom,” was ‘n eis om ‘n wonderwerk (Matt.3:2) Die evangelie van Christus was vir hulle ‘n struikelblok omdat hulle tekens pleks van ‘n Saligmaker geëis het. Hulle het verwag dat die Messias Sy aansprake deur groot oorwinningsdade sou bewys, dat Hy Sy ryk op die puin van aardse koninkryke sou oprig. Op hierdie verwagting het Christus met die gelykenis van die saaier geantwoord. Die koninkryk van God sou nie deur wapengeweld, nie kragdadig die oorhand kry nie, maar deurdat‘n nuwe beginsel in menseharte geplant is.DGC 10.2

    “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens.” Matt. 13:37. Christus het gekom, nie as ‘n koning nie, maar as’n saaier; nie om koninkryke tot val te bring nie, maar om die saad rond te strooi; nie om Sy volgelinge op aardse oorwinning of volksroem te wys nie, maar op die oes wat ná geduldige arbeid en deur verliese en teleurstellings ingesamel moet word.DGC 11.1

    Die Fariseërs het die betekenis van Christus se gelykenis begryp, maar vir hulle was die les onwelkom. Hulle het voorgegee dat hulle dit nie verstaan nie. Vir die skare was die doel van die nuwe leermeester nog meer raaiselagtig. Sy woorde het hulle harte op so ‘n vreemde wyse ontroer, maar hulle was bitter teleurgesteld omdat Hy hulle ambisies nie verwesenlik het nie. Die dissipels self het die gelykenis nie verstaan nie, maar hulle belangstelling is geprikkel. Hulle het Jesus later toe hulle alleen was om ‘n verduideliking gevra.DGC 11.2

    Dit was die verlange wat Christus wou opwek, sodat Hy hulle duideliker kon onderrig. Hy het die gelykenis aan hulle verduidelik, net soos Hy Sy Woord aan almal duidelik sal maak wat Hom in opregtheid van hart soek. Diegene wat die Woord van God bestudeer met harte wat ontvanklik is vir die lig van die Heilige Gees, sal nie in die duister gehou word oor die betekenis van die Woord nie. “As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” Joh. 7:17. Almal wat by Christus ‘n duideliker kennis van die waarheid soek, sal dit ontvang. Hy sal die verborgenhede van die koninkryk van die hemele aan hulle openbaar, en die hart wat verlang om die waarheid te ken, sal hierdie verborgenhede verstaan.‘n Hemelse lig sal die sieletempel binnestraal, en dit sal as die helder skynsel van ‘n lamp op ‘n donker pad aan ander geopenbaar word.DGC 11.3

    “‘n Saaier het uitgegaan om te saai.” In die Ooste was sake so onseker, en die gevaar van geweldpleging so groot dat mense hoofsaaklik in ommuurde dorpe gewoon het, en die landbouers het daagliks na hulle arbeid buitekant die mure uitgegaan. So het Christus, die hemelse Saaier, uitgegaan om te saai. Hy het Sy huis, waar veiligheid en vrede was, verlaat; Hy het die heerlikheid verlaat wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld bestaan het; Hy het Sy plek op die troon van die heelal verlaat. Hy het as mens uitgegaan, en lyding en versoeking verduur. Eensaam het Hy uitgegaan om die saad van die lewe vir‘n verlore wêreld met trane te saai, en met Sy bloed te benat.DGC 11.4

    So moet Sy diensknegte ook uitgaan om te saai. Toe Abraham geroep is om ‘n saaier van die saad te word, is hy beveel, “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.” (Gen. 12:1) “En hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.” Heb.11: 8. So het die boodskap van God ook tot Paulus gekom terwyl hy in die tempel in Jerusalem gebid het, “Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene.” (Hand. 22:21) So moet ook hulle wat geroep is om hulle met Christus te verenig alles verlaat om Hom te volg. Ou vriendskapsbande moet verbreek word, toekomsplanne moet prysgegee word, van die hoop op aardse dinge moet afstand gedoen word. Met geswoeg en trane, in eensaamheid en deur opoffering moet die saad gesaai word.DGC 12.1

    “Die saaier saai die woord.” Christus het gekom om die waarheid op die aarde te saai. Sedert die sondeval saai die Satan al die valse saad. Dit was deur ‘n leuen dat hy die mens eers oorrompel het, en so werk hy nog om God se koninkryk op die aarde tot‘n val te bring en om die mens in sy mag te kry. ‘n Saaier van ‘n hoër wêreld, Christus, het gekom om die waarheidsaad te saai. Hy wat in die rade van God gestaan het, wat in die binneste heiligdom van die Almagtige gewoon het, kon die suiwere beginsels van waarheid aan die mensekinders bring. Sedert die sondeval was Christus die Openbaarder van waarheid aan die wêreld. Deur Hom word die onverganklike saad, “die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly,“aan die mensdom oorgedra (1 Pet. 1:23) Met daardie eerste belofte wat in Eden aan die sondige mensdom gegee is, het Christus die evangeliesaad gesaai. Maar die gelykenis van die saaier was veral van toepassing op Sy persoonlike bediening onder die mensdom en op die werk wat Hy daardeur tot stand gebring het.DGC 12.2

    Die Woord van God is die saad. Elke saad bevat‘n ontkiemingsbeginsel. Daarin lê die lewe van die plant opgesluit. So is daar ook lewe in die Woord van God. Christus sê: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” (Joh. 6:63) “Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe.” (Joh. 5:24) In elke bevel en in elke belofte in die Woord van God is die krag, ja, die ware lewe van God, waardeur die bevel uitgevoer, en die belofte verwesenlik kan word. Hy wat die woord deur geloof ontvang, ontvang die lewe en karakter van God self.DGC 12.3

    Elke saad bring volgens sy eie soort vrugte voort. Saai die saad onder gunstige omstandighede, dan ontwikkel dit sy eie lewe in die plant. Ontvang die onverganklike saad van die woord deur geloof in die siel, en dit bring ‘n karakter en lewe voort met die kenmerke van die karakter en die lewe van God.DGC 13.1

    Die leermeesters van Israel het nie die saad van die woord van God gesaai nie. Christus se werk as verkondiger van die waarheid was merkbaar in teenstelling met dié van die rabbi’s van Sy tyd. Hulle het hulle toegelê op oorlewerings, op mensgemaakte teorieë en gissings. Dikwels het hulle die leringe en die geskrifte van mense aangaande die Woord, in die plek van die Woord geplaas. Hulle onderrigting het geen mag gehad om aan die siel lewe te gee nie. Die onderwerp van Christus se onderrigting en prediking was die Woord van God. Hy het vraestellers geantwoord met ‘n duidelike, “Daar is geskrywe.” “Wat sê die Skrif?” “Hoe lees jy?” Met elke geleentheid, waar belangstelling deur vriend of vyand gewek is, het Hy die saad van die Woord gesaai. Hy wat die Weg, die Waarheid, en die Lewe, die lewende Woord self is, verwys na die Skrifte en sê: “En dit is dié wat van My getuig.” “En Hy het begin van Moses en al die profete af,” en vir Sy dissipels “uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Joh. 5:39; Lukas 24:27.)DGC 13.2

    Christus se dienaars moet dieselfde werk doen. Nou, net soos van ouds, word belangrike waarhede uit die Woord van God deur mensgemaakte teorieë en versinsels vervang. Baie wat voorgee dat hulle evangeliedienaars is, beskou nie die hele Bybel as die ingegewe Woord nie. Een slim man verwerp een gedeelte, ‘n ander het ‘n vraag oor ‘n ander gedeelte. Hulle meen hulle eie oordeel is meer werd as die Woord: en die Skrifgedeeltes wat hulle wel leer, word op hulle eie gesag gegrond. Die Goddelike gesag van die Woord word vernietig. So word die saad van ongeloof wyd en syd gesaai, want die mense raak verward en weet nie wat hulle moet glo nie. Daar is baie geloofspunte waaraan die verstand nie die reg het om vas te hou nie. In die dae van Christus het die rabbi’s ‘n onnatuurlike, mistieke uitleg aan menige Skrifgedeeltes toegedig. Omdat die suiwere leer van Gods Woord hulle gebruike veroordeel het, het hulle geprobeer om die krag daarvan te vernietig. Dit gebeur nou nog. Daar word beweer dat die Woord van God duister en onduidelik is, sodat wetsoortreding goedgepraat kan word. Christus het hierdie gebruike in Sy tyd bestraf. Hy het geleer dat almal die Woord van God moet verstaan. Hy het Hom op die Skrifte as onbetwisbare gesag beroep, en ons behoort dieselfde te doen. Die Bybel moet as die woord van die ewige God, as die einde van alle geskille en die grondslag van alle geloof voorgehou word.DGC 13.3

    Die Bybel is sy krag ontroof en die gevolge blyk in die verlaging van die geestelike lewenspeil. Die preke wat deesdae van talle kansels gehoor word, ontbreek aan daardie Goddelike openbaring wat die gewete aanwakkeren lewe tot die siel bring. Die toehoorders kan nie sê: “Was ons hart nie brandendeDGC 14.1

    in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?.” (Lukas 24:32) Daar is vele wat om die lewende God smeek, wat na die Goddelike teenwoordigheid verlang. Wysgerige teorieë of letterkundige essays, hoe briljant ook al, kan die hart nie bevredig nie. Die stellings en uitvindings van die mens is waardeloos. Laat die Woord van God tot die mense spreek. Laat diegene wat nog net oorleweringe en menslike teorieë en spreuke gehoor het, die stem hoor van Hom wie se woord die siel tot die ewige lewe kan vernuwe.DGC 14.2

    Christus se gunstelingtema was die vaderlike teerheid en oorvloedige genade van God. Hy het dikwels uitgewei oor die heiligheid van Sy karakter en Sy wet; Hy het Homself aan die volk voorgehou as die Weg, die Waarheid en die Lewe. Laat Christus se dienaars hulle op hierdie onderwerpe toelê. Bied die waarheid aan soos dit in Jesus is. Maak die vereistes van die wet en die evangelie verstaanbaar. Vertel die mense van Christus se lewe van self-verloëning en opoffering; van Sy vernedering en dood; van Sy opstanding en hemelvaart; van Sy voorspraak vir hulle in die gereg van God; van Sy belofte, “Ek [kom] weer en sal julle na My toe neem.” (Joh. 14:3)DGC 14.3

    Pleks dat u foutiewe teorieë bespreek, of probeer om die teenstanders van die evangelie te opponeer, moet u die voorbeeld van Christus volg. Laat nuwe waarhede uit Gods skatkamers opvlam. “Verkondig die woord.” “[Saai] by alle waters.” “Hou aan tydig en ontydig.” “By wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid. Wat het die strooi met die koring te doen? spreek die Here.” “Elke woord van God is gelouter. ... Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar openbaar word nie.” 2 Tim. 4:2; Jes. 32:20; Jer. 23:28; Spreuke 30:5, 6.DGC 14.4

    “Die saaier saai die woord.” Hier word die groot beginsel voorgehou wat die grondslag moet vorm van alle opvoedingswerk. “Die saad is die woord van God.” Maar in te veel hedendaagse skole word die Woord van God verwerp. Ander vakke neem die aandag in beslag. Die bestudering van ongelowige skrywers se werke geniet voorrang in die onderwysstelsel. Skeptiese gedagterigtings word in die inhoud van skoolboeke ingeweef. Wetenskaplike navorsing word misleidend, omdat sy ontdekkings verkeerd vertolk en verdraai word. Die Woord van God word met die sogenaamde leer van die wetenskap vergelyk, en word as onseker en onbetroubaar voorgehou. So word die saad van twyfel in die gedagtes van die jeug ingeplant, en in tye van versoeking ontkiem dit. Wanneer daar nie meer geloof in die Woord van God is nie, is daar geen gids, geen beskerming, vir die siel nie. Die jeug word na weë aangetrek wat van God en die ewige lewe weglei.DGC 15.1

    Die wydverspreide ongeregtigheid in ons hedendaagse wêreld kan in ‘n groot mate hieraan toegeskryf word. Wanneer mens die Woord van God verwerp, verwerp jy sy krag om bose drange van die aardse hart te verhinder. Mense saai in die vlees, en in die vlees maai hulle verderf.DGC 15.2

    En dit is ook die groot oorsaak van verstandelike swak-heid en onbevoegdheid. As mens die Woord van God verwaarloos om op die geskrifte van onbesielde mense te teer, word jou verstand verdwerg en minderwaardig. Dit kom nie in aanraking met diep, breë beginsels van die ewige waarheid nie. Die verstand pas hom aan by‘n begrip van bekende dinge en in hierdie beheptheid met nietige dinge word dit swak, sy krag krimp en mettertyd is dit nie in staat om uit te brei nie. Dit is valse opvoeding. Elke onderwyser behoort hom daarop toe te lê om die gedagtes van die jeug op die grootse waarhede van die ingegewe Woord te vestig. Dit is die opvoeding wat vir hierdie lewe en vir die hiernamaals noodsaaklik is.DGC 15.3

    Moenie dink dat dit die bestudering van die wetenskappe sal verhinder of ‘n laer peil van opvoeding sal meebring nie. Die kennis van God is so hoog soos die hemel en so ruim soos die heelal. Niks anders is so veredelend en versterkend as’n studie van die groot temas wat die ewige lewe raak nie. Laat die jeug trag om hierdie Godgegewe waarhede aan te gryp; die inspanning sal hulle verstande uitbrei en versterk. Dit sal die denke van elke student wat ‘n dader van die woord is verbreed en vir hom ‘n rykdom van onverganklike kennis verseker.DGC 16.1

    Die opvoeding wat verkry kan word deur ondersoek van die Skrifte is ‘n proefondervindelike kennis van die verlossingsplan. Sodanige opvoeding sal die beeld van God in die siel herstel. Dit sal die verstand teen versoekings versterk en verskans en die leerling geskik maak om ‘n medewerker met Christus te wees in Sy genadesending tot die wêreld. Dit sal hom ‘n lid van die hemelse gesin maak en hom voorberei om in die luisterryke erfdeel van die heiliges te deel.DGC 16.2

    Maar hy wat Goddelike waarhede leer, kan net meedeel wat hy deur eie ondervinding ken. “Die saaier het sy saad gesaai.” Christus het die waarheid geleer omdat Hy die waarheid was. Sy eie gedagte, Sy karakter, Sy lewensondervinding, was in Sy leerstellings beliggaam. So ook wat Sy diensknegte betref: hulle wat die Woord aan andere wil leer, moet dit deur persoonlike ondervinding hulle eie maak. Hulle moet weet wat dit beteken om Christus as hulle wysheid en geregtigheid en heiligmaking en verlossing te hê. Wanneer hulle die Woord van God aan andere voorhou, moet daar geen vermoed-so, of miskien, wees nie. Hulle moet soos die apostel Petrus kan verklaar: “Ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit.” 2 Pet. 1:16. Elke leraar van Christus en elke onderwyser behoort soos die geliefde Johannes te kan sê: “Die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.” 1 Joh. 1:2.DGC 16.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents