Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 22—Woorde en Dade

    Na aanleiding van Mattheus 21:23-32

    ” ‘N MAN het twee kinders gehad en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste.”DGC 191.1

    In die bergpredikasie het Christus gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt. 7:21) Die toets vir opregtheid lê nie in woorde nie, maar in dade. Christus sê aan niemand: “Wat besonders sê julle?” nie, maar “Wat besonders doen julle dan?.” (Matt. 5:47) Vol betekenis is Sy woorde: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” (Joh. 13:17) Woorde is van geen waarde nie tensy hulle vergesel word van toepaslike dade. Dit is die les wat in die gelykenis van die twee seuns geleer word.DGC 191.2

    Hierdie gelykenis is tydens Christus se laaste besoek aan Jerusalem voor Sy dood vertel. Hy het reeds die kopers en verkopers uit die tempel verdryf. Sy stem het met die krag van God tot hulle harte gespreek. Verbaas en bevrees het hulle sonder verskoning of weerstand aan Sy bevel gehoor gegee.DGC 191.3

    Toe hulle skrik bedaar het, het die priesters en die ouderlinge na die tempel teruggekeer en Christus gevind waar Hy besig was om siekes en sterwendes te genees. Hulle het die stem van lof en die vreugdelied gehoor, In die tempel self het die kinders wat genees was, palmtakke geswaai en hosannas vir die Seun van Dawid gesing. Babastemmetjies het die magtige Geneesheer met lispelende tong geloof. Maar dit alles was nie genoeg om die vooroordeel en jaloesie van die priesters en ouderlinge te bowe te kom nie.DGC 191.4

    Die volgende dag, terwyl Christus in die tempel geleer het, het die owerpriesters en ouderlinge van die volk na Hom gekom en gesê: “Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee ?”DGC 192.1

    Die priesters en ouderlinge het reeds onmiskenbare bewyse van Christus se krag gehad. Toe Hy die tempel gereinig het, het hulle die gesag van die hemel uit Sy gesig sien flits. Hulle kon die krag waarmee Hy gespreek het, nie weerstaan nie. Met Sy wonderlike genesingsdade het Hy hulle vraag weer eens beantwoord. Hy het onbetwisbare bewyse van Sy gesag gelewer. Maar dit was nie bewyse wat nodig was nie. Die priesters en ouderlinge was gretig dat Jesus Hom as die Messias moes uitroep sodat hulle Sy woorde verkeerd kon toepas om die volk so teen Hom op te hits. Hulle wou Sy invloed graag afbreek en Hom doodmaak.DGC 192.2

    Jesus het geweet dat as hulle God in Hom nie kon herken of in Sy werke die bewyse van Sy Goddelike karakter kon raaksien nie, hulle Sy eie getuienis nie sou glo dat Hy die Christus was nie. Met Sy antwoord ontwyk Hy die vraag wat hulle graag wil aanroer en Hy laat hulle hulle eie oordeel uitspreek.DGC 192.3

    “Ek sal julle ook een ding vra,” het Hy gesê, “en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, waar was dit vandaan - uit die hemel of uit mense?”DGC 192.4

    Die priesters en leiers was verleë. “En hulle het by hulle-self geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel - dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? En as ons sê: Uit mense - dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ‘n profeet. Toe antwoord hulle Jesus en sê: Ons weet nie. Hy sê toe ook vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”DGC 192.5

    “Ons weet nie.” Dit was ‘n valse antwoord. Maar die priesters het gesien in watter penarie hulle was en het vals geantwoord om hulleself te beskerm. Johannes die Doper het gekom en van die Een getuig wie se gesag hulle nou betwis het. Hy het Hom aangewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29) Hy het Hom gedoop, en na die doop, terwyl Christus gebid het, het die hemel oopgegaan, en die Gees van God het soos ‘n duif op Hom gerus, terwyl ‘n stem uit die hemele gehoor is wat sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Matt. 3:17)DGC 192.6

    Hulle het onthou hoe Johannes die profesieë aangaande die Messias aangehaal het; hulle het onthou wat tydens die doop van Jesus gebeur het, daarom het die priesters en owerstes nie durf sé dat Johannes se doop van die hemel was nie. As hulle erken het dat Johannes ‘n profeet was, soos hulle wel geglo het, hoe kon hulle dan die getuienis weerspreek dat Jesus van Nasaret die Seun van God was? En hulle kon nie sé dat Johannes se doop uit die mense was nie vanweë die volk wat geglo het dat Johannes ‘n profeet was. Daarom het hulle gesê, “Ons weet nie.”DGC 193.1

    Toe vertel Christus die gelykenis van die vader en die twee seuns. Toe die vader na die eerste seun gaan en sê, “Gaan werk vandag in my wingerd,” het die seun dadelik geantwoord: “Ek wil nie.” Hy het geweier om te gehoorsaam, en het hom aan slegte dinge en slegte geselskap oorgegee. Maar later het hy tot inkeer gekom en die roepstem gehoorsaam.DGC 193.2

    Die vader het met dieselfde bevel na die tweede seun gegaan. “Gaan werk vandag in my wingerd.” Hierdie seun antwoord toe en sê: “Ja, heer,” maar hy het nie gegaan nie.DGC 193.3

    In hierdie gelykenis stel die vader God voor en die wingerd die kerk. Die twee seuns stel twee klasse mense voor. Die seun wat geweier het om die bevel te gehoorsaam, deur te sê: “Ek wil nie,” stel diegene voor wat openlik in sonde geleef het, wat geen vroomheid bely het nie, wat openlik geweier het om hulle aan die juk van selfbeheersing en gehoorsaamheid wat die wet van God oplê, te onderwerp. Maar baie van hulle het hulle later bekeer en aan die roepstem van God gehoor gegee. Toe die evangelie na hulle toe kom met die boodskap van Johannes die Doper: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom,” het hulle tot inkeer gekom en hulle sondes bely. (Matt. 3:2)DGC 193.4

    In die seun wat gesê het, “Ja, heer,” en nie gegaan het nie, word die karakter van die Fariseërs geopenbaar. Soos hierdie seun, was die Joodse leiers onboetvaardig en selfvoldaan. Die godsdienstige lewe van die Joodse volk het ‘n skyn geword. Toe die wet op die berg Sinai deur die stem van God bekend gemaak is, het die hele volk belowe dat hulle sou gehoorsaam. Hulle het gesê, “Ja, heer,” maar hulle het nie gegaan nie. Toe Christus self gekom het om die beginsels van die wet aan hulle voor te hou, het hulle Hom verwerp. Christus het aan die Joodse leiers van Sy tyd oorvloedige bewyse gegee van Sy gesag en Goddelike krag, maar, hoewel hulle oortuig was, wou hulle die bewyse nie aanneem nie. Christus het aan hulle getoon dat hulle in hulle ongeloof volhard het omdat hulle nie die gees het wat tot gehoorsaamheid lei nie. Hy het aan hulle verklaar: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.” “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” Matt. 15:6, 9.DGC 193.5

    In die groep by Christus was daar skrifgeleerdes, Fariseërs, priesters en owerstes, en nadat Hy die gelykenis van die twee seuns vertel het, het Christus Sy toehoorders gevra: “Wie van die twee het die wil van die vader gedoen?” Die Fariseërs het hulle besinning verloor en geantwoord: “Die eerste.” Dit het hulle gesê sonder om te besef dat hulle hulle eie vonnis uitspreek. Toe kom daar van Christus die aanklag:“Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.”DGC 194.1

    Johannes die Doper het gekom en die waarheid verkondig, en deur sy prediking is sondaars oortuig en bekeer. Hulle sou die koninkryk van die hemele binnegaan voor diegene wat in eiegeregtigheid die plegtige waarskuwing weerstaan het. Die tollenaars en die hoere was onkundig, maar hierdie geleerdes het die weg van die waarheid geken. Tog het hulle geweier om in die weg te wandel wat na die Paradys van God lei. Die waarheid wat vir hulle‘n reuk van die lewe tot die lewe moes gewees het, het‘n reuk van die dood tot die dood geword. Openlike sondaars wat hulleself verag het, is deur Johannes gedoop; maar hierdie leermeesters was skynheiliges. Hulle eie onversetlike harte het verhinder dat hulle die waarheid ontvang. Hulle het die oortuiging van die Gees van God weerstaan. Hulle het geweier om Gods gebooie te gehoorsaam.DGC 194.2

    Christus het nie aan hulle gesê: Julle kan nie die koninkryk van God bin-negaan nie, maar Hy het aangetoon dat hulle self die struikelblok geskep het wat verhinder het dat hulle ingaan. Die deure het nog vir hierdie Joodse leiers oopgestaan. Die uitnodiging was nog geldig verlang dat hulle Christus het oortuig moes word en hulle moes bekeer. Die priesters en die ouderlinge van Israel het hulle lewens in godsdienstige seremonies deurgebring, wat hulle as te heilig beskou het om met alledaagse sake te verbind. Daarom is dit verwag dat hulle lewens geheel en al godsdienstig moes wees. Maar hulle het hulle seremonies beoefen om deur mense gesien te word, sodat die wêreld moes dink dat hulle vroom en toegewyd was. Terwyl hulle voorgegee het om gehoorsaam te wees, het hulle geweier om God te gehoorsaam. Hulle was nie daders van die waarheid wat hulle voorgegee het om te leer nie.DGC 194.3

    _______________

    “So moet jy aan die huis van Jakob sê... As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.” Exodus 19:3-6.

    _______________

    Christus het verklaar dat Johannes die Doper een van die grootste profete was, en Hy het Sy toehoorders laat verstaan dat hulle voldoende bewys gehad het dat Johannes ‘n boodskapper van God was. Die woorde van die prediker in die woestyn het krag gehad. Onverskrokke het hy sy boodskap verkondig, die priesters en owerstes op hulle sondes gewys en hulle beveel om die werke van die koninkryk van die hemele te doen. Hy het hulle daarop gewys dat hulle hulle Vader se gesag op sondige wyse minag deur te weier om die werk te doen wat aan hulle opgedra is. Hy het met die sonde geen vergelyk getref nie en vele het hulle van hulle ongeregtighede bekeer.DGC 195.1

    As die belydenis van die Joodse leiers opreg was, sou hulle Johannes se getuienis ontvang en Jesus as die Messias aangeneem het. Maar hulle het nie die vrugte van bekering en geregtigheid gedra nie. Juis diegene wat hulle verag het, was vinnig besig om voor hulle in die koninkryk van God in te gaan.DGC 195.2

    In die gelykenis het die seun wat gesê het: “Ja, heer,” hom voorgedoen as getrou en gehoorsaam, maar die tyd het bewys dat sy belydenis nie eg was nie. Hy het geen egte liefde vir sy vader gehad nie. So het die Fariseërs ook op hulle heiligheid geroem, maar toe dit beproef is, is dit te lig bevind. As dit in hulle belang was om dit te doen, het hulle die vereistes van die wet baie streng gemaak, maar wanneer gehoorsaamheid van hulle vereis is, het hulle die verpligting teenoor die wet deur bedrewe drogredenering weggeredeneer. Van hulle het Christus verklaar: “Volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.” (Matt. 23:3) Hulle het geen ware liefde vir God of mens gehad nie. God het hulle geroep om tot seen van die wêreld medewerkers saam met Hom te wees, maar hoewel hulle voorgegee het om hierdie beroep aan te neem, het hulle geweier om te gehoorsaam. Hulle het op die self vertrou en hulle op hulle goedheid beroem, maar hulle het hulle teen die gebooie van God verset. Hulle het geweier om die werk te doen waarvoor God hulle aangestel het, en weens hulle oortreding het die Here op die punt gestaan om Hom van die ongehoorsame volk te skei.DGC 195.3

    Eiegeregtigheid is nie ware geregtigheid nie, en die wat daaraan vashou, sal die gevolge van geloof in ‘n dodelike bedrog moet dra. Soveel mense maak deesdae daarop aanspraak dat hulle die gebooie van God gehoorsaam, maar die liefde van God wat na andere uitvloei, is nie in hulle harte nie. Christus roep hulle om met Hom saam te werk tot redding van die wêreld, maar hulle stel hulleself gerus deur te sê: “Ja, heer.” Hulle gaan nie. Hulle werk nie saam met diegene wat vir God werk nie. Hulle is luiaards. Soos die ontroue seun, maak hulle valse beloftes aan God. Deur die plegtige verbond van die kerk op hulleself te neem, het hulle belowe om die Woord van God te ontvang en te gehoorsaam, om hulleself aan die diens van God te wy, maar hulle doen dit nie. Hulle gee voor dat hulle seuns van God is, maar hulle lewe en karakter verloën die verhouding. Hulle gee hulle wil nie aan God oor nie. Hulle lewe‘n leuen.DGC 196.1

    Dit skyn of hulle die belofte tot gehoorsaamheid nakom as dit geen opoffering verg nie, maar wanneer selfverloëning en selfopoffering vereis word, as hulle sien dat die kruis verhoog word, dan trek hulle terug. So kwyn die oortuiging van hulle plig, en bewuste oortreding van die wet van God word ‘n gewoonte. Die oor hoor miskien die woord van God, maar die geestelike begripsvermoë het gewyk. Die hart word verhard, die gewete toegeskroei.DGC 196.2

    Moenie dink dat u Christus dien omdat u Hom nie opsetlik teenstaan nie. So bedrieg ons ons self. Deur iets terug te hou wat God ons gegee het om in Sy diens gebruik te word, het sy tyd of besittings of enige ander van Sy toevertroude gawes, werk ons teen Hom.DGC 197.1

    Die Satan gebruik die lustelose, lomerige luiheid van belydende Christene om sy magte mee te versterk en om siele vir sy kant te wen. Baie wat dink dat, alhoewel hulle geen werklike werk vir Christus doen nie, hulle tog aan Sy kant is, stel die vyand in staat om die grond vooraf in besit te neem en veld te wen. Deur na te laat om ywerige werkers vir die Meester te wees, deur pligte ongedaan te laat en woorde onuitgespreek, het hulle die Satan toegelaat om beheer te kry oor siele wat vir Christus gewen kon geword het.DGC 197.2

    Ons kan nooit gered word as ons lui en onaktief is nie. Daar bestaan nie so iets soos’n waarlik bekeerde persoon wat‘n hulpelose, nuttelose lewe voer nie. Dit is vir ons geensins moontlik om die hemel binne te drywe nie. Geen luiaard kan daar binnegaan nie. As ons nie streef om toegang tot die koninkryk te kry nie, as ons nie ernstig navors om uit te vind waaruit sy wet bestaan nie, is ons nie geskik om ‘n deel daaraan te hê nie. Diegene wat weier om met God op die aarde saam te werk, sal nie in die hemel met Hom saamwerk nie. Dit sal nie veilig wees om hulle hemel toe te neem nie.DGC 197.3

    Daar is meer hoop vir tollenaars en sondaars as vir diegene wat die Woord van God ken, maar weier om dit te gehoorsaam. Hy wat homself as’n sondaar sonder kleed vir sy sonde sien, wat weet dat hy siel, liggaam en gees voor God skend, raak ontsteld uit vrees dat hy vir ewig van die koninkryk van die hemele geskei sal word. Hy besef sy sieklike toestand en soek na genesing by die groot Geneesheer wat gesê het: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Joh. 6:37) Die Here kan hierdie siele as werkers in Sy wingerd gebruik.DGC 197.4

    Christus het die seun wat ‘n tyd lank geweier het om sy vader se bevel te gehoorsaam nie veroordeel nie. Hy het hom ook nie geprys nie. Die klas wat die rol van die eerste seun speel deur te weier om gehoorsaam te wees, verdien geen lof vir hulle houding nie. Hulle rondborstigheid moet nie as’n deug beskou word nie. As dit deur waarheid en vroomheid geheilig word, sal dit van mense dapper getuies vir Christus maak, maar soos die sondaar dit gebruik, is dit beledigend en trotserend en byna lasterlik. Dat‘n mens nie‘n skynheilige is nie, maak hom niks minder‘n werklike sondaar nie. Wanneer die roepstem van die Heilige Gees die hart raak, is ons enigste veiligheid om sonder versuim te gehoorsaam. Wanneer die roepstem kom: “Gaan werk vandag in my wingerd,” moenie die uitnodiging van die hand wys nie. “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” Heb. 4:7. Dit is gevaarlik om gehoorsaamheid uit te stel. U hoor die uitnodiging miskien nooit weer nie.DGC 197.5

    Laat niemand dink dat sondes wat vir‘n tyd lank gekoester is later maklik versaak kan word nie. Dit is nie so nie. Elke sonde wat gekoester word, verswak die karakter en versterk die gewoonte; en liggaamlike, verstandelike en sedelike verdorwenheid is die gevolg. U bekeer u miskien van die kwaad wat u gedoen het en u rig u voete op die regte pad, maar u geestesgesteldheid en u bekendheid met sonde sal dit moeilik maak vir u om tussen reg en verkeerd te onderskei. Deur die verkeerde gewoontes wat gevorm is, sal die Satan u keer op keer aanval.DGC 198.1

    In die bevel: “Gaan werk vandag in my wingerd,” word die toets vir opregtheid op elke siel toegepas. Sal daar dade sowel as woorde wees? Sal die een wat geroep is al die kennis wat hy besit, gebruik en getrou, sonder eie belang, werk vir die Eienaar van die wingerd?DGC 198.2

    Die apostel Petrus onderrig ons aangaande die plan waarvolgens ons moet werk. “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word,” sê hy, “deur die kennis van God en Jesus, onse Here! Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”DGC 198.3

    “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.”2 Petrus 1:2-7.DGC 198.4

    As u die wingerd van u siel getrou bewerk, maak God u‘n medewerker met Hom. En u sal ‘n werk te doen hê, nie net vir uself nie, maar vir andere. Waar Hy die kerk as die wingerd voorstel, leer Christus nie dat ons ons simpatie en arbeid tot ons eie geledere moet beperk nie. Die Here se wingerd moet vergroot word. Hy wil hê dat dit na alle dele van die wêreld uitgebrei moet word. Namate ons die onderrig en genade van God ontvang, moet ons aan andere‘n kennis oordra van hoe om vir die kosbare plante te sorg. So kan ons die wingerd van die Here uitbrei. God let op om die bewyse van ons geloof, liefde en geduld te sien. Hy kyk of ons elke geestelike voordeel gebruik om bedrewe werkers in Sy wingerd op aarde te word, sodat ons kan ingaan in die Paradys van God, daardie Edense tuiste waaruit Adam en Eva deur oortreding uitgesluit is.DGC 198.5

    God staan teenoor Sy volk in die verhouding van ‘n vader, en het ‘n vader se aanspraak op ons getroue diens. Kyk na die lewe van Christus. Waar Hy aan die hoof van die mensdom staan om Sy Vader te dien, is Hy ‘n voorbeeld van wat elke seun behoort te wees. God verwag vandag van mense die gehoorsaamheid wat Hy aan die dag gelê het. Hy het Sy Vader met liefde, gewilligheid en in vryheid gedien. “Ek het lus, O my God, om u welbehae te doen,” het Hy verklaar, “en U wet is binne-in my ingewande.” (Ps.40:9) Christus het geen opoffering as te groot, geen taak as te moeilik beskou om die werk te volbring wat Hy kom doen het nie. Op twaalfjarige ouderdom het Hy gesê:DGC 199.1

    “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:49) Hy het die roepstem gehoor en het die werk aangepak. “My voedsel,” het Hy gesê, “is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” (Joh. 4:34)DGC 199.2

    So moet ons God dien. Net hy dien wat volgens die hoogste standaard van gehoorsaamheid handel Almal wat seuns en dogters van God wil wees, moet bewys lewer dat hulle medewerkers saam met God en Christus en die engele van die hemel is. Hier lê die toets vir elke siel van die gene wat Hom getrou dien, sê die Here, “En hulle sal My tot ‘n eiendom wees ... op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien.” Mal. 3:17.DGC 199.3

    God se groot doel met die volvoering van Sy voorsienigheid is om mense te beproef, om aan hulle‘n geleentheid te gun om hulle karakters te ontwikkel. Sodoende toets Hy hulle om te sien of hulle gehoorsaam of ongehoorsaam aan Sy bevele is. Goeie werke koop nie die liefde van God nie, maar hulle openbaar wel dat ons daardie liefde het. As ons die wil aan God onderwerp, sal ons nie werk om Gods liefde te verdien nie. Sy liefde sal as’n vrye gawe in die siel ontvang word, en uit liefde jeens Hom sal dit ons genot wees om Sy gebooie te gehoorsaam.DGC 199.4

    Daar is tans net twee klasse mense in die wêreld en net twee klasse sal in die oordeel erken word - diegene wat Gods wet oortree en diegene wat dit gehoorsaam. Christus stel die toets waarmee ons getrouheid of ontrouheid op die proef gestel word. Hy sê: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie. ... Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. ... Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.” “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” (Joh. 14:15-24; 15:10.)DGC 200.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents