Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 29—“Om die Bruidegom te Ontmoet”

    Na aanleiding van Mattheus 25:1-13

    CHRISTUS sit saam met Sy dissipels op die Olyfberg. Die son het reeds agter die berge weggesak, en die aandskemering hang reeds aan die hemelruim. Hulle sien ‘n woonhuis wat helder verlig is asof daar ‘n fees gaan plaasvind. lig straal uit deure en vensters en ‘n afwagtende skare staan daar rond. Dis duidelik dat ‘n bruilofsoptog aanstons sal verskyn. In baie dele van die Ooste word bruilofsfeeste saans gehou. Die bruidegom gaan uit om sy bruid te ontmoet en dan na sy huis te bring. Die bruidsgeselskap vertrek met fakkels van haar vader se huis na sy eie, waar ‘n fees vir die genooide gaste gereël is. In die toneel waarna Christus kyk, wag ‘n groep op die verskyning van die bruidsgeselskap met die doel om hulle by die gevolg aan te sluit.DGC 295.1

    Naby die bruid se huis wag tien jong meisies in wit geklee. Elkeen dra ‘n brandende lamp en ‘n oliekannetjie. Almal wag gespanne op die verskyning van die bruidegom. Maar daar is ‘n vertraging. Uur na uur gaan verby. Die wagtendes word moeg en raak aan die slaap. Om middernag word daar‘n geroep gehoor, “Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” Dié wat geslaap het, word skielik wakker en spring op. Hulle sien hoe die optog voorwaarts beweeg, deur fakkels verlig en met musiek opgevrolik. Hulle hoor die stem van die bruidegom en die stem van die bruid. Die tien meisies gryp hulle lampe en maak hulle haastig gereed om saam te gaan. Maar vyf het versuim om hulle kanne vol olie te maak. Hulle het nie so‘n groot vertraging verwag nie, en hulle het hulle nie voorberei vir die noodgeval nie. In hulle ontsteltenis doen hulle ‘n beroep op hulle verstandiger vriendinne en sê:DGC 295.2

    “Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.” Maar die wagtende vyf met hulle lampe pas gereed gemaak, het hulle kanne reeds leeggemaak. Hulle het geen olie om af te staan nie en hulle antwoord, “Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.”DGC 295.3

    Terwyl hulle gaan koop het, het die optog voortbeweeg en hulle agtergelaat. Die vyf met die brandende lampe het hulle by die skare aangesluit en die huis saam met die bruidspaar binnegegaan, en toe is die deur gesluit. Toe die dwase meisies die feessaal bereik, is hulle onverwags toegang geweier. Die seremoniemeester het gesê: “Ek ken julle nie.” Hulle is buite op die leë straat in die donker nag gelaat.DGC 296.1

    Terwyl Christus gesit en kyk het na die groep wat op die bruidegom gewag het, het Hy die verhaal van die tien meisies aan Sy dissipels vertel en deur hulle ondervinding die ondervinding van die kerk geïllustreer wat net voor Sy wederkoms sal bestaan.DGC 296.2

    Die twee soorte wagtendes stel die twee klasse voor wat beweer dat hulle op hulle Here wag. Hulle word maagde genoem omdat hulle‘n reine geloof bely. Deur die lampe word die Woord van God voorgestel. Die psalmdigter verklaar: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” Ps. 119:105. Die olie simboliseer die Heilige Gees. Die Gees word dus in die profesie van Sagaria voorgestel. “En die engel wat met my gespreek het,” sê hy, “het teruggekom en my gewek soos ‘n man wat uit die slaap opgewek word. En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek:DGC 296.3

    Ek sien daar‘n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan. Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer? ... Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbabel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare. ... En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud (ander vertalings lees: olie) uit hulle laat uitstroom?... En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.” Sag. 4:1-14.DGC 296.4

    Uit die twee olyfbome het die goue olie deur die goue pype in die houer van die kandelaar ingevloei, en daarvandaan na die goue lampe wat die heiligdom verlig het. So word Gods Gees deur die heilige wesens wat in Sy teenwoordigheid staan, oorgedra aan die menslike werktuie wat aan Sy diens toegewy is. Die sending van die twee gesalfdes is om aan Gods volk daardie hemelse genade te gee wat alleen in staat is om van Sy Woord ‘n lamp vir hulle voet en ‘n lig vir hulle pad te maak. “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare.” Sag. 4:6.DGC 296.5

    In die gelykenis het al tien maagde uitgegaan om die bruidegom te ontmoet. Almal het lampe en oliekanne gehad. ‘n Tyd lank is geen verskil onder hulle opgemerk nie. So ook met die kerk wat net voor Christus se wederkoms bestaan. Almal het ‘n kennis van die Skrifte. Almal het die boodskap van Christus se nabye koms gehoor, en wag met vertroue op Sy verskyning. Maar soos dit in die gelykenis was, so is dit nou. Daar kom ‘n wagtyd tussenin. Die wagtendes se geloof word beproef, en as die geroep: “Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet,” gehoor word, is baie onvoorbereid. Hulle het geen olie in hulle kanne met hulle lampe nie. Hulle is sonder die Heilige Gees.DGC 297.1

    Sonder die Heilige Gees is ‘n kennis van Sy Woord waardeloos. Die teorie van die waarheid sonder die Heilige Gees, kan die siel nie opwek of die hart heilig nie. ‘n Mens kan wel met die gebooie en beloftes van die Bybel bekend wees, maar tensy die Gees van God die waarheid tuisbring, sal die karakter nie verander word nie. Sonder die verligting van die Heilige Gees, sal mense nie in staat wees om tussen waarheid en dwaling te onderskei nie, en hulle sal onder die meesterlike versoekings van die Satan val.DGC 297.2

    Die klas wat deur die dwase maagde voorgestel word, is nie huigelaars nie. Hulle het agting vir die waarheid: hulle het die waarheid verkondig; hulle voel hulle aangetrokke tot diegene wat die waarheid glo; maar hulle het hulle nie aan die werkinge van die Heilige Gees onderwerp nie. Hulle het nie op die Rots, Jesus Christus, geval en toegelaat dat hulle ou natuur verbrokkel word nie. Hierdie klas persone word ook deur die klipperige grond voorgestel. Hulle ontvang die woord graag, maar hulle slaag nie daarin om die beginsels daarvan hulle eie te maak nie. Die invloed daarvan is nie blywend nie. Die Gees werk op die mensehart en plant volgens sy verlange en goedkeuring ‘n nuwe natuur binne-in hom, maar die klas persone wat deur die dwase maagde voorgestel word, is tevrede met ‘n oppervlakkige werk. Hulle ken God nie; hulle het Sy karakter nie bestudeer nie; hulle het nie met Hom gemeenskap gehou nie; daarom weet hulle nie hoe om te vertrou, hoe om te kyk en te lewe nie. Hulle diens vir God ontaard in ‘n vorm. “En hulle kom na jou toe soos ‘n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan.” Eseg. 33:31. Die apostel Paulus wys daarop dat dit die besondere kenmerk sal wees van diegene wat net voor Christus se wederkoms leef. Hy sê:“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.” 2 Tim. 3:1-5.DGC 297.3

    Dit is hierdie soort wat in tye van gevaar uitroep: “Vrede en veiligheid.” Hulle stel hulle gerus en droom nie van gevaar nie. As hulle uit hulle traagheid wakker skrik, gewaar hulle hulle gebrek en vra dat andere moet voorsien wat hulle ontbreek, maar in geestelike dinge kan niemand in ‘n ander se tekortkominge voorsien nie. Die genade van God is vryelik aan elke siel gebied. Die boodskap van die evangelie is verkondig:“En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” (Openb. 22:17) Maar‘n karakter is nie oordraagbaar nie. Niemand kan vir iemand anders glo nie. Niemand kan vir iemand anders die Gees ontvang nie. Niemand kan aan ‘n ander die karakter gee wat die vrug van die werkinge van die Gees is nie. “Al was Noag, Daniël en Job daarin [in die land], so waar as Ek leef, spreek die Here Here, hulle sou geen seun of dogter red nie; hulle sou net hulle eie siel deur hul geregtigheid red.” Eseg. 14:20.DGC 298.1

    Dit is in‘n krisis dat die karakter geopenbaar word.Toe die plegtige stem om middernag uitroep:“Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet,” en die slapende maagde uit hulle sluimer gewek is, het dit duidelik geword wie vir die gebeurtenis voorbereidsels getref het. Albei groepe is verras, maar net een was vir die noodgeval gereed, en die ander was onvoorbereid. So sal ‘n skielike en onverwagte ramp, iets wat die siel direk in aanraking met die dood bring, ook vandag toon of daar ware geloof in die beloftes van God is. Dit sal toon of die siel deur genade onderskraag word. Die groot en finale toets kom aan die einde van die menslike proeftyd wanneer dit reeds te laat is om in die behoeftes van die siel te voorsien!DGC 298.2

    Die tien maagde wag in die aand van die wêreld se geskiedenis. Almal gee voor om Christene te wees. Elkeen het ‘n roeping, ‘n naam en ‘n lamp en almal beweer dat hulle God dien. Almal wag blykbaar op Christus se verskyning. Maar vyf is onvoorbereid. Vyf sal verras en verstom buite die banketsaal gevind word.DGC 299.1

    Op die laaste dag sal baie op toegang tot Christus se koninkryk aanspraak maak met die woorde: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink en U het op ons strate geleer.‘‘ “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?” Maar die antwoord is: “Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My.” (Lukas 13:26,27; Matt.7:22.) In hierdie lewe het hulle geen gemeenskap met Christus aangeknoop nie; daarom ken hulle nie die taal van die hemel nie. Hulle is vreemdelinge vir sy vreugde. “Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.” 1 Kor. 2:11.DGC 299.2

    Die treurigste woorde wat ‘n sterfling ooit kon hoor, is daardie oordeel: “Ek ken julle nie.” Net die gemeenskap van die Gees wat u verontagsaam het, kon verseker het dat u een van die vreugdevolle skare by die bruilofsfees sou wees. In daardie geleentheid kan u nie deel nie. Sy lig sou op verblinde oë en sy musiek op dowe ore val. Sy liefde en vreugde sou geen aanklank van blydskap in die hart verwek wat deur die wêreld verlam is nie. U word deur u eie ongeskiktheid vir hemelse geselskap daar uitgesluit.DGC 299.3

    Ons kan nie gereed wees om die Here te ontmoet deur wakker te skrik wanneer die geroep uitgaan: “Daar kom die bruidegom!” en dan ons leë lampe op te neem om volgemaak te word nie. Ons kan Christus nie hier uit ons lewens weghou en tog geskik wees vir Sy geselskap in die hemel nie.DGC 299.4

    In die gelykenis het die verstandige maagde olie in die kanne by hulle lampe gehad. Heelnag terwyl hulle gewaak het, het hulle lig onverflou gebrand. Dit het bygedra tot die lig waarmee die bruidegom vereer is. Dit het in die duisternis uitgestraal, en gehelp om die pad na die bruidegom se huis, na die bruilofsfees, te verlig.DGC 299.5

    So moet Christus se volgelinge hulle lig ook in die duisternis van die wêreld laat skyn. Deur die Heilige Gees is Gods Woord’ n lig wanneer dit ‘ n veranderende krag in die lewe van die ontvanger word. Deur die beginsels van Sy Woord in hulle harte in te plant, ontwikkel die Heilige Gees in mense die kenmerke van God. Die lig van Sy heerlikheid-Sy karaktermoet in Sy volgelinge skyn. So moet hulle God verheerlik en die pad na die Bruidegom se huis, na die stad van God, na die bruilofsmaal van die Lam, verlig.DGC 300.1

    Die bruidegom het om middernag gekom tydens die donkerste uur. So sal die koms van Christus ook in die donkerste tydperk van die wêreld se geskiedenis geskied. Die dae van Noag en Lot het die toestand van die wêreld net voor die koms van die Seun van die mens uitgebeeld. Die Skrifte wys vooruit na hierdie tyd en verklaar dat die Satan met allerhande kragtige dade en “met allerhande verleiding van ongeregtigheid,” (2Thess.2:9,10) sal werk. Sy werk blyk duidelik uit die spoedig toenemende duisternis, die veelvuldige dwalinge, ketterye en verleidings van hierdie laaste dae. Die Satan is nie net besig om die wêreld gevange te neem nie, maar sy misleiding deursuur die beweerde kerke van onse Here Jesus Christus. Die groot afval sal in ‘n duisternis so swart soos middernag, so ondeurdringbaar soos ‘n harige sak ontwikkel. Vir die volk van God sal dit ‘n nag van beproewing wees, ‘n nag van geween, ‘n nag van vervolging ter wille van die waarheid. Maar uit daardie nag van duisternis sal Gods lig skyn.DGC 300.2

    Hy veroorsaak dat daar “uit duisternis lig moet skyn.” (2 Kor. 4:6) Toe “die aarde ... woes en leeg, en duisternis... op die wêreldvloed [was], ... [het] die Gees van God op die waters [gesweef]. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” (Gen.1:2,3) So word Gods woord in die nag van geestelike duisternis gehoor:DGC 300.3

    “Laat daar lig wees.” Aan Sy volk sê Hy: “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op.” (Jes. 60:1)DGC 300.4

    “Want kyk,” sê die Skrifte, “die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jou sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.” Jes. 60:2.DGC 300.5

    Dit is die duisternis van ‘n wanbegrip van God wat die wêreld omhul. Die mensdom verloor sy kennis van Sy karakter. Dit is verkeerd verstaan en verkeerd vertolk. Juis in hierdie tyd moet‘n boodskap van God verkondig word.‘n boodskap van liggewende invloed en reddende krag. Sy karakter moet bekend gemaak word. Die lig van Sy heerlikheid, die lig van Sy goedheid, genade en waarheid moet in die duisternis van die wêreld skyn.DGC 301.1

    Dit is die werk wat die profeet Jesaja opsom met die woorde: “O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die Here Here sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.” Jes. 40:9,10.DGC 301.2

    Diegene wat op die Bruidegom se koms wag, moet aan die volk sê:“Hier is julle God!” Die laaste strale van die lig van genade, die laaste genadeboodskap wat aan die wêreld gegee moet word, is ‘n openbaring van Sy liefdevolle karakter.DGC 301.3

    Die kinders van God moet Sy heerlikheid openbaar. In hulle eie lewe en karakter moet hulle openbaar wat die genade van God vir hulle gedoen het.DGC 301.4

    Die lig van die Son van Geregtigheid moet in goeie werke uitstraal-in woorde van waarheid en in dade van heiligheid.DGC 301.5

    Christus, die uitstraling van die Vader se heerlikheid, het na die wêreld gekom om dit te verlig. Hy het gekom om God by die mens te verteenwoordig, en van Hom staan geskrywe dat Hy gesalf is “met die Heilige Gees en met krag,” en dat Hy “die land deurgegaan, [en] goed gedoen het.” (Hand. 10:38) In die sinagoge te Nasaret het Hy gesê: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.” (Lukas 4:18, 19) Dit is die werk wat Hy aan Sy dissipels opgedra het. “Julle is die lig van die wêreld,” het Hy gesê. “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matt. 5:14,16)DGC 301.6

    Dit is die werk wat die profeet Jesaja beskrywe as hy sê: “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou “uit gaan, die heerlikheid van die Here jou agterhoede wees.” Jes. 58:7,8.DGC 302.1

    So moet die heerlikheid van God dan in die nag van geestelike duisternis deur middel van Sy kerk skyn, deur die wat neergeboë is op te rig en die wat bedroef is, te vertroos.DGC 302.2

    Rondom ons hoor ons die geweeklaag van ‘n bedroefde wêreld. Aan alle kante is die behoeftiges en noodlydendes. Ons moet help om die moeilikhede en ellende van die lewe te verlig.DGC 302.3

    Praktiese werk sal veel meer uitrig as blote prekery. Ons moet voedsel aan die hongeriges gee, kleding aan die wat nakend is en herberg aan die wat dakloos is. En ons is geroepe om nog meer as dit te doen. Net die liefde van Christus kan die siel versadig. As Christus in ons woon, sal ons harte vol van Goddelike medelyde wees. Die verseëlde fonteine van opregte Christelike liefde sal oopgemaak word.DGC 302.4

    God vra nie net ons gawes vir die behoeftiges nie, maar om ons opgewekte gelaat, ons bemoedigende woorde, ons vriendelike handdruk. Toe Christus die siekes genees het, het Hy Sy hande op hulle gelê. So moet ons ook in noue aanraking kom met diegene wat ons wil help.DGC 302.5

    Daar is baie wat geen hoop meer het nie. Bring die sonskyn na hulle terug. Baie het hulle moed verloor. Spreek woorde van bemoediging tot hulle. Bid vir hulle. Daar is diegene wat die brood van die lewe nodig het. Lees aan hulle voor uit die Woord van God. Op vele rus daar ‘n krankheid van die siel wat geen aardse balsem kan bereik of geneesheer kan genees nie. Bid vir hierdie siele; bring hulle na Jesus. Vertel aan hulle daar is ‘n balsem en ‘n Geneesheer in Gilead.DGC 302.6

    Lig is’n seën,‘n universele seën wat sy skatte op‘n ondankbare, onheilige en moedelose wêreld uitstort. So is dit met die lig van die Son van Geregtigheid. Die hele aarde, wat in die duisternis van sonde, droefheid en pyn gehul is, moet met die kennis van Gods liefde verlig word. Van geen sekte, stand of klas mense mag die lig wat uit die troon van die hemel straal, weerhou word nie.DGC 302.7

    Die boodskap van hoop en genade moet na die uiteindes van die aarde gedra word. Elkeen wat wil, kan sy hand uitsteek en van Gods krag besit neem. Hy kan met Hom vrede maak, en hy sal vrede maak. Die heidene hoef nie langer in middernagtelike duisternis gehul te wees nie. Die duisternis moet voor die helder strale van die Son van Geregtigheid verdwyn. Die mag van die hel is oorwin.DGC 303.1

    Maar geen mens kan uitdeel wat hy self nie ontvang het nie. In die werk van God kan mense niks voortbring nie. Geen mens kan deur sy eie pogings van homself‘n ligdraer vir God maak nie. Dit was die goue olie wat deur die hemelse boodskappers in die goue pype uitgegiet word om van die goue kan na die lampe van die heiligdom gelei te word wat voortdurend ‘n gedurige, helder en skynende lig voortgebring het. Dit is die liefde van God wat voortdurend aan die mens oorgedra word, wat hom in staat stel om lig aan andere te gee. Na die harte van almal wat deur geloof met God verenig is, vloei die goue olie van liefde vryelik, om weer in goeie werke uit te straal, in egte, hartediens vir God.DGC 303.2

    In die groot, onmeetlike gawe van die Heilige Gees word al die hemelse redmiddels saamgevat. Dit is nie omdat God beperk is dat die rykdom van Sy genade nie na die mens op aarde vloei nie. As almal gewillig sou wees om te ontvang, sou almal met die Heilige Gees vervul word.DGC 303.3

    Dit is die voorreg van elke siel om ‘n lewende kanaal te wees waardeur God die rykdom van Sy genade, die onnaspeurlike rykdom van Christus aan die wêreld kan oordra. Daar is niks wat Christus soveel begeer as verteenwoordigers wat Sy Gees en karakter aan die wêreld sal voorhou nie. Daar is niks wat die wêreld soveel nodig het as die openbaring van die Heiland se liefde deur middel van die mens nie. Die ganse hemel wag op kanale waardeur die heilige olie gegiet kan word om ‘n vreugde en ‘n seën vir menseharte te wees.DGC 303.4

    Christus het ruimskoots daarvoor voorsiening gemaak dat Sy kerk ‘n herskape liggaam kan wees, wat deur die Lig van die wêreld verlig word en in besit is van die heerlikheid van Emmanuel. Dit is Sy doel dat elke Christen omring sal wees van ‘n geestelike atmosfeer van lig en vrede. Hy begeer dat ons Sy eie vreugde in ons lewens moet openbaar.DGC 303.5

    Dat die Gees in die hart woon, sal geopenbaar word deur die hemelse liefde wat daaruit vloei. Die Goddelike volheid sal deur die toegewyde menslike verteenwoordiger vloei om aan andere gegee te word.DGC 304.1

    Die Son van Geregtigheid het “genesing onder sy vleuels.” (Mal. 4:2) So moet daar uit elke ware dissipel ‘n lewensinvloed van moed, hulpvaardigheid en ware genesing straal.DGC 304.2

    Die godsdiens van Christus beteken meer as net die vergifnis van sonde; dit beteken om sonde te verwyder en die leegte met die bekoorlikhede van die Heilige Gees te vul. Dit beteken Goddelike verligting, vreugde in God. Dit beteken ‘n hart van die self geledig en deur die blywende teenwoordigheid van Christus geseën. As Christus in die siel heers, is daar reinheid, vryheid van sonde. Die heerlikheid, die volheid, die volledigheid van die evangelieplan word in die lewe vervul. Om die Heiland aan te neem bring ‘n gloed van volmaakte vrede, volmaakte liefde, volmaakte versekering. Die skoonheid en geur van die karakter van Christus wat in die lewe geopenbaar word, getuig dat God in der waarheid Sy Seun na die wêreld gestuur het om sy Saligmaker te wees.DGC 304.3

    Christus sê nie aan Sy volgelinge dat hulle moet swoeg om te skyn nie. Hy sê: Laat julle lig skyn. As julle die genade van God ontvang het, is die lig in julle. Verwyder die hindernisse en die Here se heerlikheid sal geopenbaar word. Die lig sal skyn om deur die duisternis te dring en dit te verdryf. U kan nie anders as om binne die kring van u invloed te skyn nie.DGC 304.4

    Die openbaring van Sy eie heerlikheid in die gedaante van ‘n mens sal die hemel so na aan die mensdom bring dat die skoonheid wat die binneste tempel versier, in elke siel in wie die Heiland woon, gesien sal word. Mense sal deur die heerlikheid van die inwonende Christus aangegryp word. En heerlikheid sal deur die strome van lof en dankbetuiging van die baie siele wat op hierdie wyse vir God gewen is na die groot Gewer terugvloei.DGC 304.5

    “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op.” Jes. 60:1. Aan diegene wat uitgaan om die Bruidegom te ontmoet, word hierdie boodskap gegee. Christus kom met krag en groot heerlikheid. Hy kom met Sy eie heerlikheid en met die heerlikheid van die Vader. Hy kom en al die heilige engele kom saam met Hom. Hoewel die hele wêreld in duisternis gehul word, sal daar lig in elke woning van die heiliges wees. Hulle sal die eerste lig van Sy wederkoms gewaar.DGC 304.6

    Die onbevlekte lig sal uit Sy heerlike luister straal, en Christus die Heiland sal deur almal bewonder word wat Hom gedien het. Terwyl die onregverdiges uit Sy teenwoordigheid sal wegvlug, sal Christus se volgelinge hulle verbly. Die patriarg Job het vooruit na die tyd van Christus se wederkoms gekyk en gesê: “Hom wat ek sal aanskou my ten goede, en my oë-en geen vreemde nie-sal sien.” Job 19:27. Vir Sy getroue volgelinge was Christus ‘n daaglikse metgesel en bekende vriend. Hulle het in noue verbinding, in voortdurende gemeenskap met God gelewe. Die heerlikheid van die Here het oor hulle opgegaan. Die lig van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus is in hulle weerkaats. Nou verheug hulle hulle in die helder strale van die glans en heerlikheid van die Koning in Sy majesteit. Hulle is gereed vir gemeenskap met die hemel, want hulle het die hemel in hulle harte.DGC 305.1

    Met hoofde omhoog, met die helder strale van die Son van Geregtigheid op hulle, met blydskap omdat hulle verlossing naby is, gaan hulle uit om die Bruidegom te ontmoet met die woorde:“Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos.” (Jes. 25:9)DGC 305.2

    “En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. ... Toe sê hy vir my: Skryf-salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.” “Hy is die Here van die here en die Koning van die konings-en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.” Openb. 19:69; 17:14.DGC 305.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents