Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Op Soek Na Die Skat

    Ons moet ons toelê op ‘n studie van die Woord van God. Ons moet ons kinders die waarhede leer wat daarin te vinde is. Dit is ‘n onuitputlike skat, maar mense vind hierdie skat nie, omdat hulle nie soek totdat hulle dit besit nie. Sovele is tevrede om te raai wat die waarheid is. Hulle is tevrede om oppervlakkig te werk, en neem dit as vanselfsprekend aan dat hulle alles het wat nodig is. Hulle aanvaar dat wat ander sê, die waarheid is, en is te lui vir die ernstige inspanning wat in die Woord as grawe na ‘n verborge skat beskryf word. Maar die menslike uitvindsels is nie net onbetroubaar nie, hulle is gevaarlik, want hulle stel die mens in die plek van God. Hulle stel die woorde van mense in die plek van ‘n “So sê die Here.”DGC 65.3

    Christus is die waarheid. Sy woorde is waarheid en het ‘n dieper betekenis as wat op die oppervlakte sigbaar is. Al Christus se gesegdes het groter waarde as wat hulle beskeie voorkoms verraai. Verstande wat deur die Heilige Gees aangewakker is, sal die waarde van hierdie woorde insien. Hulle sal die kosbare edelgesteentes van waarheid herken, al is hulle diep begrawe.DGC 66.1

    Menslike teorieë en gissings sal ons nooit help om Gods Woord te verstaan nie. Diegene wat meen dat hulle die wysbegeerte verstaan, dink hulle verduidelikings is nodig om die skatte van kennis oop te sluit en te verhoed dat kettery die kerk betree. Maar dit is juis hierdie verduidelikings wat valse teorieë en ketterye ingebring het. Mense het al wanhopig geprobeer om te verduidelik wat na hulle mening moeilike skrifgedeeltes is, maar alte dikwels het hulle pogings net daarin geslaag om wat hulle probeer verduidelik het, te verduister.DGC 66.2

    Die priesters en die Fariseërs het gedink hulle doen groot dinge as leraars deur hulle eie vertolking aan die Woord van God te heg, maar Christus het van hulle gesê dat hulle “die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie.” (Markus 12:24) Sy klag teen hulle was: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Markus 7:7) Hoewel hulle die godspraak aan die volk moes leer, hoewel hulle veronderstel was om Sy Woord te verstaan, was hulle nie daders van die Woord nie. Die Satan het hulle oë verblind sodat hulle nie die ware betekenis daarvan sou insien nie.DGC 66.3

    Dit geld vele van ons tyd. Baie kerke is skuldig aan hierdie sonde. Daar is gevaar, groot gevaar, dat die sogenaamde wyse manne van ons tyd soos die Joodse leiers sal maak.DGC 66.4

    Hulle vertolk die woorde van God verkeerd, en siele raak verward en word in duisternis gehul omdat hulle Goddelike waarhede verkeerd verstaan.DGC 66.5

    Dis onnodig om die Skrif in die dowwe lig van menslike oorlewerings en gissinge te lees. Ons kan so lief probeer om die son met ‘n fakkel te verlig as om die Skrifte deur middel van die oorleweringe van die mens of deur sy versinsels te verduidelik. Gods heilige Woord het nie ‘n swakke aardse fakkel nodig om sy heerlikheid kenbaar te maak nie. Dit is self lig - die geopenbaarde heerlikheid van God, en in vergelyking daarmee is elke ander lig dof.DGC 67.1

    Maar dit moet ernstig bestudeer en noulettend ondersoek word. Helder en duidelike begrippe van die waarheid sal nooit die loon van luiheid wees nie. Geen aardse seen word sonder ernstige, geduldige, volhardende arbeid verkry nie. As mense in die sakewêreld sukses behaal, moet hulle ‘n wil hê om te doen en ‘n geloof om resultate te verwag. En ons kan nie verwag om sonder ernstige arbeid geestelike kennis te verkry nie. Diegene wat verlang om die skatte van waarheid te vind, moet daarvoor grawe soos die myner na die verborge skatte in die aarde delf. Halfhartige, onverskillige arbeid sal niks baat nie. Dit is noodsaaklik vir oud en jonk om nie net Gods Woord te lees nie, maar om dit met heelhartige erns te bestudeer terwyl hulle om waarheid bid en daarna soek soos na ‘n verborge skat. Wie dit doen, sal beloon word, want Christus sal die verstand aanwakker.DGC 67.2

    Ons saligheid hang van ons kennis van die waarhede van die Skrifte af. Dit is die wil van God dat ons dit moet besit. Deursoek, o deursoek die kosbare Bybel met hongerige harte. Deursoek Gods Woord soos die myner die aarde deursoek om goudare te vind. Moenie die soektog opsê voordat u weet wat u verhouding tot God en van Sy wil vir u is nie. Christus sê: “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Joh. 14:13, 14.DGC 67.3

    Vrome en talentvolle mense kry soms insigte in ewige werklikhede, maar dikwels begryp hulle dit nie omdat die dinge wat gesien word die onsienlike heerlikheid oorskadu. Hy wat die verborge skat wil vind, moet hom op ‘n hoër studie as die dinge van hierdie wêreld toelê. Hy moet sy liefde en al sy vermoëns aan die soektog wy.DGC 67.4

    Ongehoorsaamheid het die deur gesluit teen geweldig baie kennis wat uit die Skrifte geput kon geword het. Om te verstaan, beteken om Gods gebooie te gehoorsaam. Die Skrifte moet nie aangepas word om aan die vooroordeel en jaloesie van mense te voldoen nie. Net diegene kan dit verstaan wat in nederigheid na ‘n kennis van die waarheid soek sodat hulle dit kan gehoorsaam.DGC 67.5

    Vra u: “Wat moet ek doen om gered te word?” U moet u vooropgestelde opinies, u oorgeërfde en aangeleerde idees aan ondersoek onderwerp. As u die Skrifte ondersoek om u eie opinies te staaf, sal u die waarheid nooit vind nie. Soek sodat u kan uitvind wat die Here sê. As u oortuig word terwyl u soek, as u sien dat die opinies wat u koester nie met die waarheid ooreenstem nie, moenie die waarheid verkeerd vertolk om by u eie geloof te pas nie, maar neem die gegewe lig aan. Maak u verstand en hart oop sodat u wonders uit Gods Woord kan sien.DGC 68.1

    Om in Christus as die Verlosser van die wêreld te glo, verg erkentlikheid van ‘n verligte verstand wat deur ‘n hart beheers word wat die hemelse skat kan sien en waardeer. Sodanige geloof kan nie van bekering en karakterverandering geskei word nie. Om geloof te hê beteken om die evangelieskat te vind en aan te neem met al die verpligtinge wat dit oplê.DGC 68.2

    “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Joh.3:3. Hy kan gis en sy verbeelding gebruik, maar sonder die geloofsoog kan hy die skat nie sien nie. Christus het Sy lewe gegee om vir ons hierdie onberekenbare skat te verseker, maar sonder wedergeboorte deur die geloof in Sy bloed is daar geen kwytskelding van sondes, geen skat vir‘n sterwende siel nie.DGC 68.3

    Ons het die verligting van die Heilige Gees nodig om die waarhede van Gods Woord te onderskei. Die mooi dinge van die natuur word nie raakgesien voordat die son, wat die duisternis verdryf, hulle met sy lig bestraal nie. So word die skatte in die Woord van God nie gewaardeer voordat hulle deur die heldere strale van die Son van Geregtigheid geopenbaar word nie.DGC 68.4

    Die Heilige Gees, wat deur die weldadigheid van Gods liefde uit die hemel gestuur word, neem die dinge van God en openbaar hulle aan elke siel wat ‘n onwrikbare geloof in Christus het. Deur Sy krag word die lewende waarhede waarvan die verlossing van die siel afhang, op die verstand afgedruk, en die weg van die lewe word duidelik gemaak sodat niemand daarin hoef te struikel nie. Wanneer ons die Skrifte bestudeer, behoort ons te bid dat die lig van Gods Heilige Gees op die Woord moet skyn, sodat ons die skatte daarvan sal kan sien en waardeer.DGC 68.5

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents