Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 17—“Laat Hom Nog Hierdie Jaar Staan”

    Na aanleiding van Lukas 13: 1-9

    In Sy leer het Christus die oordeelswaarskuwing met die uitnodiging van genade verbind. “Die Seun van die mens het nie gekom,” het Hy gesê, “om die mense se lewe te verderf nie, maar te red.” (Lukas 9:56) “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Joh. 3:17) Die verhouding tussen Sy genadige sending en die regverdigheid en oordeel van God word in die gelykenis van die onvrugbare vyeboom opgehelder.DGC 145.1

    Christus het die mense gewaarsku aangaande die komende koninkryk van God en Hy het hulle streng tereggewys oor hulle onkunde en onverskilligheid. Die tekens aan die lug wat die weer voorspel, kon hulle gou vertolk, maar die tekens van die tye, wat so duidelik op Sy sending gewys het, het hulle nie verstaan nie.DGC 145.2

    Maar mense was toe net so bereid as nou om te dink dat hulle die gunstelinge van die hemel is, en dat die teregwysing vir iemand anders bedoel is. Die toehoorders het Jesus van ‘n gebeurtenis vertel wat kort tevore groot beroering veroorsaak het. Sekere maatreëls wat Pontius Pilatus, die goewerneur van Judea, toegepas het, was vir die mense aanstootlik.DGC 145.3

    Daar was’n volksopstand in Jerusalem, en Pilatus het geprobeer om dit met geweld te onderdruk. Een keer het sy soldate selfs in die tempel ingegaan en ‘n paar Galilese pelgrims gedood terwyl hulle besig was om hulle offerdiere te slag. Die Jode het geglo dat‘n ramp vergelding is vir die sonde van die persoon wat getref is, en die wat daarvan vertel het, het daar heimlik leedvermaak in gevind. Die feit dat hulle ontsnap het, was in hulle oë ‘n bewys dat hulle beter was as die Galileërs en dat God hulle daarom begunstig het. Hulle het verwag dat Jesus daardie mense sou veroordeel wat die straf na hulle mening sonder twyfel terdeë verdien het.DGC 145.4

    Die dissipels het dit nie gewaag om hulle mening te lug voordat hulle hulle Meester se uitspraak gehoor het nie. Hy het hulle duidelik geleer om ‘n ander se karakter nie te haastig te oordeel of vergelding volgens hulle beperkte kennis uit te deel nie. Tog het hulle verwag dat Christus sou sê hierdie manne was groter sondaars as die ander. Groot was hulle verbasing toe Hy antwoord.DGC 145.5

    Die Heiland het die menigte aangespreek en gesê: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die Galileërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” Hierdie skokkende rampe was bedoel om hulle wakker te maak sodat hulle hulle harte sou verootmoedig en hulle hulle van hulle sondes sou bekeer.‘n Storm van wraaksug het gebroei en dit sou spoedig oor almal losbars wat nie in Christus’n toevlug gevind het nie.DGC 146.1

    Terwyl Jesus met die dissipels en die menigte gepraat het, het Hy met ‘n profetiese oog vooruit gekyk en gesien hoe Jerusalem beleër word. Hy het gehoor hoe vreemdelinge teen die uitverkore stad optrek en gesien hoe derduisende in die beleg sterf. Soos daardie Galileërs, is baie Jode in die tempelhowe gedood terwyl hulle juis geoffer het.DGC 146.2

    Die rampe wat die enkelinge getref het, was waarskuwings van God aan ‘n volk wat ewe skuldig was. “As julle jul nie bekeer nie,” het Jesus gesê, “sal julle almal net so omkom.” Die genadetyd is nog vir ‘n kort rukkie vir hulle oopgehou. Daar was nog tyd vir hulle om die dinge te weet wat tot hulle vrede dien.DGC 146.3

    ” ‘n Man,” het Hy vervolg, “het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?”DGC 146.4

    Christus se toehoorders kon die toepassing nie verkeerd verstaan nie. Dawid het van Israel gesing as ‘n wingerdstok wat uit Egipte gebring is. Jesaja het geskryf: “Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging.” Jes. 5:7. Die geslag tot wie die Heiland gekom het, is deur die vyeboom in die Here se wingerd voorgestel - binne die kring van Sy spesiale sorg en seen.DGC 146.5

    Gods doel met Sy volk en die heerlike moontlikhede voor hulle was met die volgende lieflike woorde gestel: “Sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die Here, tot sy verheerliking.” (Jes. 61:3) Die sterwende Jakob het onder ingewing van die Gees van sy gunstelingseun gesê: “Josef is ‘n jong vrugteboom, ‘n jong vrugteboom by ‘n fontein; sy takke klim oor die muur.” En hy het verder gesê: “Die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seen met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê.” (Gen. 49:22, 25) So het God Israel as ‘n pragtige wingerdstok by die lewensbronne geplant. Hy het Sy wingerd op ‘n “vrugbare heuwel”aangebring. “Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke.” Jes. 5:1,2.DGC 146.6

    “En Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring.” Jes. 5:2 Die mense van Christus se tyd het meer met vroomheid te koop geloop as die Jode van vroeër eeue, maar hulle het selfs minder van die soete bevallighede van die Gees van God gehad. Die kosbare karaktervrugte wat die lewe van Josef so geurig en aantreklik gemaak het, was nie onder die Joodse nasie te bespeur nie.DGC 147.1

    God het deur Sy Seun vrugte gesoek, maar niks gevind nie. Israel het die grond onvrugbaar gemaak. Selfs sy bestaan was ‘n vloek, want dit het in die wingerd ruimte gebruik waar ‘n vrugbare boom kon gestaan het. Hy het die wêreld van seëninge beroof wat God van plan was om te gee. Die Israeliete het God voor die nasies verkeerd voorgestel. Hulle was nie net nutteloos nie, maar beslis ‘n hindernis. Hulle godsdiens was in ‘n groot mate misleidend, en het verwoesting pleks van redding meegebring.DGC 147.2

    _______________

    “Oordeel tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?” Jes. 5:5, 4.

    _______________

    In die gelykenis twyfel die tuinier nie daaraan dat die boom, as dit on-vrugbaar bly, uitgeroei moet word nie, maar hy weet die eienaar is begaan oor die onvrugbare boom, en hy is ook besorg. Niks kon hom gelukkiger maak as om te weet dat dit groei en vrugte dra nie. Hy reageer op die verlange van die eienaar en sê: “Laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed.”DGC 147.3

    Die tuinier weier nie om so‘n onbelowende boom te help nie. Hy staan gereed om dit nog beter te versorg. Hy sal sy omgewing uiters gunstig maak en al die nodige aandag daaraan gee.DGC 148.1

    Die eienaar en die tuinier van die wingerd stel ewe veel belang in die die vyeboom. So het die Vader en die Seun hulle volk ewe liefgehad. Christus het aan Sy toehoorders gesê dat hulle meer geleenthede sou kry. Alle middele waaraan die liefde van God kon dink sou in werking gestel word sodat hulle bome van geregtigheid kon word wat vrugte tot seën vir die wêreld voortbring.DGC 148.2

    In die gelykenis het Jesus nie van die gevolge van die tuinier se werk vertel nie. In hierdie stadium is Sy verhaal beëindig. Die slot het by die geslag berus wat Sy woorde gehoor het. Aan hulle is die plegtige waarskuwing gegee:DGC 148.3

    “So nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.” Dit het van hulle afgehang of die onherroeplike woorde uitgespreek moes word. Die dag van wraak was naby. Deur die rampe wat reeds oor Israel gekom het, het die eienaar van die wingerd hulle genadiglik gewaarsku aangaande die vernietiging van die onvrugbare boom.DGC 148.4

    Die waarskuwing klink deur die eeue ook vir hierdie geslag. Is u, o onverskillige hart, ‘n onvrugbare boom in die Here se wingerd? Sal die vonnis eerlank oor u uitgespreek word? Hoe lank ontvang u reeds Sy goeie gawes? Hoe lank wag Hy en sien Hy uit na wederkerende liefde?DGC 148.5

    Watter voorregte geniet u wat in Sy wingerd geplant is onder die wakende sorg van die tuinier! Hoe dikwels het die tere evangelieboodskap u hart ontroer! U het die Naam van Christus aanvaar; uiterlik is u ‘n lid van die kerk wat Sy liggaam is, en tog is u nie bewus van‘n lewende verbinding met die groot hart van liefde nie. Die stroom van Sy lewe vloei nie deur u nie. Die soete innemendheid van Sy karakter,“die vrug van die Gees,” word nie in u lewe gesien nie.DGC 148.6

    Die onvrugbare boom kry die reent en die sonskyn en die tuinier se sorg. Hy haal voedsel uit die grond. Maar sy onvrugbare takke verdonker net die grond, sodat plante wat vrugte dra, nie in sy skaduwee kan aard nie. So bring die oorvloed van Gods gawes wat u ontvang geen seëninge tot die wêreld nie. U beroof andere van voorregte wat hulle kon hê as u nie daar was nie.DGC 148.7

    U besef, al is dit net vaagweg, dat u die grond onvrugbaar maak. Tog het God u in Sy groot genade nie afgekap nie. Hy sien u nie hardvogtig aan nie. Hy keer Hom nie in onverskilligheid weg nie, en laat u nie aan vernietiging oor nie. Hy kyk u aan en roep, soos Hy eeue gelede oor Israel uitgeroep het: “Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel?... Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie‘n mens nie.” (Hos.11:8,9) Die jammerhartige Heiland sê aangaande u: “Laat hom nog hierdie jaar staan totdat Ek om hom gespit en mis gegooi het.”DGC 149.1

    Met watter onvermoeide liefde het Christus Israel nie gedurende die tydperk van verlengde genade bedien nie. Aan die kruis het Hy gebid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34) Na Sy hemelvaart is die evangelie eers in Jerusalem verkondig. Daar is die Heilige Gees uitgestort. Daar het die eerste evangeliekerk die krag van die verrese Heiland geopenbaar. Daar het Stefanus - sy gesig soos die gesig van ‘n engel.” (Hand. 6:15) - sy getuienis gelewer en sy lewe neergelê. Alles wat die hemel self kan gee, is gegee. “Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie?” Jes.5:4. Sy sorg en arbeid vir u word dus nie verminder nie, maar vermeerder. Tog sê Hy: “Ek, die Here, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie.” (Jes. 27:3)DGC 149.2

    “As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan... anderjaar”. Die hart wat nie op die Goddelike werksaamhede reageer nie, word verhard totdat dit nie langer vir die invloed van die Heilige Gees vatbaar is nie. Dan eers word die woord gespreek: “Kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog on-vrugbaar?”DGC 149.3

    Vandag nooi Hy u: “Bekeer jou, Israel, tot die Here jou God. Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê. Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Libanon. ... Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok. Uit My word jou vrug gevind.” (Hos. 14:2-9)DGC 149.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents