Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Verlore Silwerstuk

    Nadat Christus die gelykenis van die verlore skaap gespreek het, het Hy ‘n ander vertel, en gesê: “Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?”DGC 129.1

    In die Ooste het die huise van die armes gewoonlik uit net een vertrek bestaan; dikwels vensterloos en donker. Die vertrek is selde uitgevee en ‘n muntstuk wat op die vloer val, sou gou onder stof en rommel bedek word. Om dit te vind, selfs bedags, moes ‘n kers opgesteek en die huis deeglik uitgevee word.DGC 129.2

    Die vrou se bruidskat het gewoonlik uit geldstukke bestaan wat sy versigtig as haar kosbaarste besitting bewaar het, en wat onder haar dogters verdeel sou word. Om een van hierdie stukke te verloor, sou as’n ernstige ramp beskou word, en om dit weer te vind as ‘n rede tot groot blydskap waarin die buurvroue sou deel.DGC 129.3

    “En as sy dit kry,” het Christus gesê, “roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”DGC 129.4

    Hierdie gelykenis, soos die vorige een, stel die verlies van iets voor wat, as dit sorgvuldig gesoek word, weer met groot vreugde gevind sal word. Maar die twee gelykenisse stel verskillende klasse voor. Die verlore skaap weet dat hy verlore is. Hy het die herder en die kudde verlaat en kan hom nie self red nie. Dit stel diegene voor wat besef dat hulle van God geskei is, en in ‘n wolk van onsekerheid, en in vernedering en groot versoeking verkeer. Die verlore muntstuk stel diegene voor wat verlore is in oortredinge en sonde, maar wat geensins bewus is van hulle toestand nie. Hulle is van God vervreemd, maar hulle weet dit nie. Hulle siele is in gevaar, maar hulle is onbewus daarvan en ongeërg. In hierdie gelykenis leer Christus dat selfs diegene wat onverskillig staan teenoor die aansprake van God, die voorwerpe van Sy bejammerende liefde is. Hulle word gesoek sodat hulle na God teruggebring kan word.DGC 129.5

    _______________

    ” ‘n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.” Jer.50:6. “Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.” Ps. 119:176.

    _______________

    Die skaap het vêr van die kudde weggedwaal. Hy het in die woestyn of op die berge verdwaal. Die silwerstuk was in die huis verlore. Dit was naby, maar dit kon net na ‘n sorgvuldige soektog teruggevind word.DGC 130.1

    Hierdie gelykenis is’n les vir gesinne. In die huisgesin heers daar dikwels groot onverskilligheid wat sy siele betref. Onder hulle kan een wees wat van God vervreemd is, maar hoe min bekommer hulle hulle oor die feit dat een van Gods toevertroude gawes in die gesinsverhouding verlore kan gaan.DGC 130.2

    Die muntstuk bly ‘n silwerstuk al lê dit tussen die stof en die rommel. Die besitter soek dit omdat dit waardevol is. So beskou God elke siel, al is hy hoe in sonde versonke, as kosbaar. Net soos die muntstuk die beeld en opskrif van die regerende mag dra, so het die mens by sy skepping die beeld en opskrif van God gedra, en hoewel dit nou deur die invloed van sonde geskend en verdof is, bly die tekens van hierdie opskrif nog op elke siel. God verlang om daardie siel te herwin en opnuut Sy eie beeld in geregtigheid en heiligheid daarop af te druk.DGC 130.3

    Die vrou in die gelykenis soek naarstiglik na haar verlore muntstuk. Sy steek‘n kers op en vee die huis uit. Sy verwyder alles wat haar soektog kan verhinder. Alhoewel daar net een stuk soek geraak het, sal sy nie ophou om te soek voordat sy daardie geldstuk gevind het nie. So moet daar ook as een lid van die gesin vir God verlore is, van elke middel gebruik gemaak word om hom terug te win. Laat die ander lede van die gesin hulleself deeglik ondersoek. laat die lewensgewoontes nagegaan word. Kyk of daar nie een of ander fout is, enige verkeerde manier waarop die gesin gehanteer word, waardeur die siel in onboetvaardigheid gehard word nie.DGC 130.4

    As daar een kind in die gesin is wat onbewus is van sy sondige toestand, moet die ouers nie rus nie. laat die kers opgesteek word. Ondersoek die Woord van God, en laat alles in die huis met sy lig ondersoek word om uit te vind waarom die kind verlore is. laat die ouers hulle eie harte ondersoek, hulle gewoontes en doen en late. Kinders is die erfenis van die Here en ons moet aan Hom verantwoording doen vir die manier waarop ons Sy eiendom hanteer.DGC 131.1

    Daar is vaders en moeders wat graag in ‘n buitelandse sendingveld wil werk; daar is vele wat aktief aan Christelike werk buite die huis deelneem, terwyl hulle eie kinders vreemdelinge is vir die Heiland en Sy liefde. Die ouers vertrou die werk om hulle kinders vir Christus te wen, aan die predikant of aan die Sabbatskoolonderwyser toe, maar sodoende versuim hulle hul eie Godgegewe verantwoordelikheid. Die hoogste diens wat ouers vir God kan doen, is om hulle eie kinders op te voed en te leer om Christene te wees.DGC 131.2

    _______________

    “Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê:
    Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie:” lukas 18:16, 17.

    _______________

    Dit is werk wat geduldige arbeid vereis, ‘n lewenslange sorgvuldige en volgehoue poging. As ons hierdie verantwoordelikheid verwaarloos, bewys ons dat ons ontroue rentmeesters is. Geen verskoning vir so ‘n versuim is vir God aanneemlik nie.DGC 131.3

    Maar diegene wat skuldig was aan verwaarlosing moet nie wanhopig word nie. Die vrou wie se muntstuk soek geraak het, het gesoek totdat sy dit gevind het. Laat ouers net so deur liefde, geloof en gebed vir hulle huisgesinne werk totdat hulle met vreugde na God kan kom en kan sê:DGC 131.4

    “Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het.” (Jes. 8:18) Dit is ware tuissendingwerk en dit help diegene wat dit doen net soveel as diegene vir wie dit gedoen word. Deur ons getroue belangstelling in die huiskring, berei ons ons voor om vir die lede van die Here se gesin te werk, met wie ons, as ons getrou is, deur die eeue van die ewigheid sal saamwoon. In ons broeders en susters in Christus moet ons dieselfde belangstelling toon as die lede van‘n gesin vir mekaar.DGC 131.5

    En dit is Gods plan dat hierdie werk ons geskik sal maak om vir nog andere te werk. Namate ons simpatie en liefde toeneem, sal ons orals werk vind om te doen. Gods groot huisgesin behels die hele wêreld en nie een lid daarvan mag verontagsaam en verwaarloos word nie.DGC 132.1

    Waar ons ook al is, daar wag die verlore silwerstuk om gesoek te word. Soek ons daarna? Dag na dag ontmoet ons diegene wat niks in godsdienstige sake belang stel nie. Ons praat met hulle, ons besoek hulle. Stel ons belang in hulle geestelike welsyn? Hou ons Christus aan hulle voor as die Heiland wat sonde vergewe? Met ons eie harte warm met die liefde van Christus, vertel ons hulle van daardie liefde? As ons dit nie doen nie, hoe sal ons hierdie siele wat vir ewig verlore is in die oe kan kyk wanneer ons saam met hulle voor die troon van God te staan kom?DGC 132.2

    Die waarde van ‘n siel, wie kan dit bereken? As u dit wil weet, gaan na Getsemane en waak daar saam met Christus deur daardie ure van angs, toe Hy as’t ware groot druppels bloed gesweet het. Aanskou die Heiland aan die kruis opgehef. Luister na daardie wanhopige uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Markus 15:34) Kyk na die gewonde hoof, die deurboorde sy, die gekweste voete. Onthou dat Christus alles gewaag het. Vir ons saligheid is die hemel self in gevaar gestel. Aan die voet van die kruis kan u die waarde van ‘n siel bereken as u onthou dat Christus vir één sondaar Sy lewe sou neergelê het.DGC 132.3

    As u met Christus in gemeenskap is, sal u dieselfde waarde as Hy aan elke mens heg. U sal vir andere dieselfde innige liefde voel wat Christus vir u gevoel het. Dan sal u in staat wees om diegene vir wie Hy gesterf het, te wen, nie te dryf nie, aan te trek, nie af te stoot nie. Geeneen sou ooit na God teruggebring gewees het as Christus nie‘n persoonlike poging vir hulle aangewend het nie; en dit is deur hierdie persoonlike werk dat ons siele kan red. As u diegene sien wat neerdaal na die dood, sal u nie in stille onverskilligheid en gemaksug rus nie. Hoe groter hulle sonde, en hoe dieper hulle ellende, hoe ernstiger en teerder sal u pogings wees om hulle te herwin. U sal die behoefte gewaar van diegene wat ly, wat teen God gesondig het en gebuk gaan onder die las van sonde. U hart sal saam met hulle voel en u sal ‘n helpende hand na hulle uitreik. In u arms van geloof en liefde sal u hulle na Christus bring. U sal oor hulle waak en hulle bemoedig, en u meegevoel en vertroue sal dit vir hulle moeilik maak om onstandvastig te word.DGC 132.4

    Die engele van die hemel staan gereed om u met hierdie werk te help. Al die hulpmiddels van die hemel is tot die beskikking van diegene wat trag om die verlorenes te soek. Engele sal u help om die onverskilligste en gehardste persone te bereik. En as een na God teruggebring word, is die ganse hemel verheug; serafs en gerubs bespeel hulle goue harpe en sing lofliedere tot eer van God en die Lam vir Hulle genade en liefde teenoor die mensekinders.DGC 133.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents