Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 13—Twee Aanbidders

    Na aanleiding van Lukas 18:9-14

    “MET die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag,” het Christus die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar vertel. Die Fariseër gaan in die tempel aanbid, nie omdat hy besef dat hy ‘n sondaar is wat vergifnis moet hê nie, maar omdat hy meen hy is regverdig en hy wil aangeprys word. Hy beskou sy aanbidding as ‘n verdienstelike daad wat hom by God sal aanbeveel. Terselfdertyd kan hy die mense beïndruk met sy vroomheid. Hy hoop dit sal die guns van God en van die mense verdien. Sy aanbidding spruit uit eiebelang.DGC 99.1

    En hy is vol eielof. Hy lyk so, hy loop so, hy bid so.DGC 99.2

    Hy staan opsy asof hy aan ander wil sê: “Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou.” (Jes. 65:5), en hy bid “by homself.” Hy is heeltemal selfvoldaan en dink dat God en mens hom met dieselfde welgevalle bejeën.DGC 99.3

    Hy sê: “O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie - rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.” Hy meet sy karakter nie aan die heilige karakter van God nie, maar aan dié van ander mense. Hy dink nie aan God nie, maar aan mense. Dis die geheim van sy selfvoldaanheid.DGC 99.4

    Voorts noem hy sy goeie dade op: “Ek vas twee keer in die week, en ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” Die Fariseër se godsdiens is nie ‘n sielsgodsdiens nie. Hy soek nie na ‘n Goddelike karakter, ‘n hart vol liefde en genade nie. Hy is tevrede met ‘n godsdiens wat net die uiterlike lewe raak. Sy geregtigheid is sy eie-die vrug van sy eie dade-en hy meet dit met ‘n menslike maatstaf.DGC 99.5

    Wie op homself vertrou dat hy regverdig is, sal andere verag. Soos die Fariseër homself met andere vergelyk, vergelyk hy andere ook met homself. Hy takseer sy geregtigheid volgens hulle s‘n, en hoe slegter hulle is, hoe regverdiger steek hy by hulle af. Omdat hy eiegeregtig is, beskuldig hy. Hy beskuldig “ander mense” dat hulle oortreders van Gods wet is. So lê hy die einste gees van die Satan, die aanklaer van die broeders, aan die dag. Met so‘n gees is dit vir hom onmoontlik om met God gemeenskap te hou. Hy gaan sonder die seen van God huis toe.DGC 99.6

    Die tollenaar het saam met ander aanbidders tempel toe gegaan, maar hy het hom gou onttrek omdat hy onwaardig gevoel het om saam met hulle te aanbid. Hy het ver weg gestaan “en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het” met bitter sielesmart en selfveragting “op sy bors geslaan.” Hy het besef dat hy teen God gesondig het, dat hy sondig en besoedeld was. Van die omstanders kon hy selfs geen jammerte verwag nie, want hulle het hom verag. Hy wis hy had geen deug om hom by God aan te beveel nie, en hy roep wanhopig uit:“O God, wees my, sondaar, genadig.” Hy het hom nie met ander vergelyk nie. Deur sy skuldgevoel oorweldig, het hy asof alleen voor God gestaan. Hy het net vergifnis en vrede verlang, sy bede was net om die genade van God. En hy is geseën. Christus het gesê: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een.”DGC 100.1

    Die Fariseër en die tollenaar stel twee groot klasse voor waarin die aan-bidders van God verdeel word. Hulle is ‘n weerspieëling van die eerste twee kinders wat in die wêreld gebore is. Kain het gedink hy is regverdig en het net‘n dankoffer aan God gebring. Hy het geen sonde bely en geen behoefte aan genade erken nie. Maar Abel het met die bloed gekom wat na die Lam van God gewys het. Hy het as sondaar gekom en erken dat hy verlore was; sy enigste heil was die onverdiende liefde van God. Die Here het sy offer genadig aangesien, maar Hy het Kain en sy offer nie aangesien nie. Die besef dat ons behoeftig is, erkenning van ons armoede en sonde, is die eerste voorwaarde vir aanneemlikheid by God. “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” Matt. 5:3.DGC 100.2

    Vir elk van die twee groepe wat deur die Fariseër en die tollenaar voor-gestel word, is daar‘n les uit die geskiedenis van die apostel Petrus. As jong dissipel het Petrus gedink hy is sterk. Soos die Fariseër het hy gedink hy is “nie soos die ander mense” nie. Toe Christus Sy dissipels die aand voordat Hy verraai is, gewaarsku het: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My,” het Petrus vol vertroue verklaar: “Al sou almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie.” (Markus 14:27,29) Petrus was onbewus van sy eie gevaar. Selfvertroue het hom mislei. Hy het gedink hy kan versoekings weerstaan, maar die beproewing het binne‘n paar korte ure gekom, en hy het sy Here met vloekwoorde verloën.DGC 100.3

    Toe die hanekraai hom aan Christus se woorde herinner, het hy, verbaas en geskok oor wat hy gedoen het, na sy Meester gekyk. Op dieselfde oomblik het Christus na Petrus gekyk, en onder daardie bedroefde blik vol deernis en liefde vir hom, het Petrus homself verstaan. Hy het uitgegaan en bitterlik geween. Daardie blik van Jesus het sy hart gebreek. Petrus het die keerpunt bereik en hy het bitter berou oor sy sonde gehad. Soos die tollenaar het hy berou gehad en hom bekeer, en soos die tollenaar het hy genade gevind. Christus se blik het hom van vergifnis verseker.DGC 101.1

    Nou was sy selfvertroue weg. Nooit weer het hy groot-gepraat nie. Na Sy opstanding het Christus Petrus drie keer getoets.DGC 101.2

    “Simon, seun van Jona,” het Hy gesê, “het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?” Nou het Petrus hom nie bo sy broeders verhef nie. Hy het hom op Hom beroep wat sy hart kon lees. “Here,” het hy gesê, “U weet alles, Uweet dat ek U liefhet.” (Joh. 21:15, 17)DGC 101.3

    Toe kry hy sy opdrag. ‘n Breër, neteliger werk as wat hy voorheen gedoen het, is aan hom opgedra. Christus het hom beveel om die skape en die lammers te laat wei. Deur hom hiermee as rentmeester aan te stel oor die siele vir wie die Heiland gesterf het, het Christus die sterkste bewys gegee dat Hy vertroue het in Petrus se herstel. Die eens so rustelose, grootpraterige, selfversekerde dissipel het stemmig en ootmoedig geword. Voortaan het hy sy Here in self-verloëning en selfopoffering gevolg. Hy het in Christus se lyding gedeel; en wanneer Christus op Sy heerlike troon sit, sal Petrus in Sy heerlikheid deel.DGC 101.4

    Die sonde wat Petrus tot‘n val gebring en die Fariseër van gemeenskap met God afgesny het, lei deesdae tot die ondergang van duisende. Niks is vir God so aanstootlik of vir die mensesiel so gevaarlik as hoogmoed en selfvoldaanheid nie. Dit is van alle sondes die hopeloosste, die ongeneeslikste.DGC 101.5

    Petrus het nie skielik geval nie, dit het geleidelik gekom. Selfvertroue het hom laat glo hy is gered, en hy is stap vir stap na benede totdat hy sy Meester kon verloën. Ons kan nooit met veiligheid op onsself vertrou of duskant die hemel voel dat ons teen versoekings veilig is nie. Diegene wat die Heiland aanneem, al is hulle bekering ook hoe opreg, moet nooit geleer word om te voel of te sê dat hulle verlos is nie. Dit is misleidend. Elkeen moet geleer word om hoop en geloof te koester; maar selfs wanneer ons ons aan Christus gee en weet dat Hy ons aanneem, is ons nog nie buite die bereik van versoekings nie. Gods Woord verklaar: “Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word.” Dan. 12:10. Net hy wat die versoeking verdra, sal die kroon van die lewe ontvang. (Jak. 1:12)DGC 101.6

    Hulle wat Christus aanneem en in hulle eerste vertroue sê: Ek is verlos, loop gevaar om op hulleself te vertrou. Hulle vergeet hulle eie swakheid en hulle gedurige behoefte aan Goddelike krag. Hulle is ongereed vir die Satan se lis, en onder versoeking val baie, soos Petrus, in die diepte van die sonde. Ons word vermaan: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Kor. 10:12. Ons enigste veiligheid is om die self gedurig te wantrou en op Christus te vertrou.DGC 102.1

    Dit was noodsaaklik dat Petrus die gebreke in sy eie karakter en sy be-hoefte aan krag en genade van Christus leer ken. Die Here kon hom nie uit beproewing red nie, maar Hy kon hom van die neerlaag gered het. As Petrus Christus se waarskuwing gewilliglik aanvaar het, sou hy nugter gewees het om te kan bid.DGC 102.2

    Hy sou met vrees en bewing gewandel het dat sy voete nie struikel nie. En hy sou van God hulp ontvang het sodat die Satan nie die oorwinning sou kon behaal het nie.DGC 102.3

    Dit was weens eiewaan dat Petrus geval het, en dit was deur berou en vernedering dat hy weer op sy voete gekom het. In sy verhaal is daar vir elke boetvaardige sondaar bemoediging. Hoewel Petrus ernstig gesondig het, was hy nie verlate nie. Christus se woorde is in sy siel gegrif: “Ek het vir jou gebid dat jou geloof nie ophou nie.” (Lukas 22:32) In die bittere angs van sy berou het hierdie gebed en die herinnering aan Christus se blik van liefde en deernis hom met hoop vervul. Na Sy opstanding het Christus aan Petrus gedink, en Hy het aan die engel ‘n boodskap vir die vroue gegee: “Gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galilea. Daar sal julle Hom sien.” (Markus 16:7) Die Heiland wat sonde vergewe, het Petrus se berou aanvaar.DGC 102.4

    En dieselfde medelyde wat uitgegaan het om Petrus te red, is vir elke siel beskikbaar wat onder versoeking geval het. Dis die besondere lis van die Satan om mense in sonde in te lei en hulle hulpeloos en bewende daar te laat, bang om vergifnis te vra. Maar waarom dan vrees, aangesien God gesê het: “Hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak”? (Jes.27:5) Daar is elke voorsiening vir ons swakhede, elke bemoediging om na Christus te kom.DGC 103.1

    Christus het Sy gebroke liggaam geoffer om Gods erfenis terug te koop, om aan die mens weer‘n kans te gee. “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” Heb. 7:25. Deur Sy vlekkelose lewe, Sy gehoorsaamheid, Sy kruisdood op Golgota, het Christus vir die verlore geslag ingetree. En nou tree die Bewerker van ons saligheid nie as ‘n blote petisionaris vir ons in nie, maar as Oorwinnaar wat Sy oorwinning opeis. Hy is die volmaakte offer, en as ons Middelaar voer Hy nou Sy solfopgelegde taak uit deur die wierookbak met Sy eie vlekkelose deugde en die gebede, belydenisse en danksegginge van Sy volk daarin voor God te hou. Geurig met die wierook van Sy geregtigheid styg hulle as ‘n soete geur na God op. Die offer is heeltemal aanneemlik, en daar is vergifnis vir elke oortreding.DGC 103.2

    Christus het Hom verpand om ons plaasvervanger en borg te wees en Hy verwaarloos niemand nie. Hy wat nie kon aanskou dat mense aan die ewige verderf blootgestel word sonder om Sy siel tot die dood toe vir hulle uit te stort nie, sal elke siel wat besef dat hy hom nie self kan red nie, met medelyde en deernis bejeën.DGC 103.3

    Hy sal geen bewende smekeling aanskou sonder om hom op te hef nie. Hy wat met Sy eie soendood vir die mens ‘n onuitputlike voorraad sedelike krag voorsien het, sal nie nalaat om hierdie krag tot ons voordeel te gebruik nie. Ons kan ons sondes en ons verdriet na Sy voete neem, want Hy het ons lief. Elke blik en elke woord van Hom lok ons vertroue. Hy sal ons karakters volgens Sy eie wil giet en vorm.DGC 103.4

    In die hele sataniese mag is geen krag om een siel te oorwin wat hom met eenvoudige geloof op Christus werp nie. “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.” Jes. 40:29.DGC 103.5

    “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Die Here sê: “Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die Here jou God oortree het.” “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.” 1 Joh. 1:9; Jer. 3:13; Eseg. 36:25.DGC 104.1

    Maar ons moet onsself ken, ‘n kennis hê wat berou sal meebring, voordat daar vir ons vergifnis en vrede kan wees. Die Fariseër het geen oortuiging van sonde geken nie. Die Heilige Gees kon nie met hom werk nie. Sy siel was met ‘n eiegeregtige pantser geklee waardeur die skerp pyle van God wat deur engele noukeurig afgeskiet is, nie kon dring nie. Christus kan net hom red wat weet dat hy ‘n sondaar is. Hy het gekom “om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur.” (Lukas 4:18, 19) Maar “die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie.” (Lukas 5: 31) Ons moet ons ware toestand ken, anders sal ons nie weet dat ons Christus se hulp nodig het nie. Ons moet die gevaar insien, anders vlug ons nie na veiligheid nie. Ons moet die pyn van ons wonde voel, anders soek ons nie genesing nie.DGC 104.2

    Die Here sê: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.” Openb. 3:1 7, 18. Die goud wat deur vuur gelouter is, is geloof wat deur liefde werk. Dit alleen kan ons in ooreenstemming met God bring. Ons kan bedrywig wees, baie werk doen; maar sonder liefde soos die in die hart van Christus, kan ons nooit onder die hemelse gesin getel word nie.DGC 104.3

    Niemand kan vanself sy foute insien nie. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” Jer. 17:9. Die lippe spreek miskien van armoede in die siel maar die hart erken dit nie. Onderwyl ons God van ons geestelike armoede vertel, kan ons hart verwaand wees oor sy eie meerwaardige nederigheid en verhewe geregtigheid. Daar is net een manier om die self waarlik te leer ken. Ons moet Christus aanskou. Dis onkunde aangaande Hom wat mense so verwaand maak oor hulle eie geregtigheid. Wanneer ons Sy reinheid en uitmuntendheid betrag, sal ons ons eie swakheid en armoede en gebreke sien soos hulle is. Ons sal besef dat ons verlore en sonder hoop is, dat ons nog in eiegeregtigheid geklee is soos elke ander sondaar. Ons sal besef dat as ons ooit gered word dit nie weens ons eie goedheid sal wees nie, maar deur die oneindige genade van God.DGC 104.4

    Die tollenaar se gebed is verhoor omdat dit ‘n vertoning was van afhanklikheid wat uitstrek om die Almag aan te gryp. Vir die tollenaar was die self niks as skande nie. So moet almal wat na God soek dit sien. Deur geloof - geloof wat alle selfvertroue verwerp - moet die behoeftige smekeling die oneindige krag aangryp.DGC 105.1

    Geen uiterlike gebruik kan eenvoudige geloof en algehele selfverloëning vervang nie. Maar geen mens kan hom van die self ontledig nie. Ons kan net toestem dat Christus die werk doen. Dan sal die siel bid:“Here, neem my hart want ek kan dit nie gee nie. Dis U eiendom. Bewaar dit rein want ek kan dit nie vir U bewaar nie. Red my ondanks my swakke, onchristelike self. Giet my, vorm my, hef my op na ‘n suiwere en heilige atmosfeer waar die ryke strome van U liefde deur my siel kan vloei.”DGC 105.2

    Hierdie selfverloëning moet nie net aan die begin van die Christelike lewe geskied nie. Dit moet met elke voor waartse stap na die hemel vernieu word. Al ons goeie werke is afhanklik van ‘n krag buite onsself. Daarom moet die hart gedurig na God reik. Daar moet voortdurende, ernstige, hartverskeurende belydenis van sonde en verootmoediging van die siel voor Hom wees. Alleenlik deur die self voort-durend te verloën en op Christus te steun, kan ons veilig wandel.DGC 105.3

    Hoe nader ons aan Jesus kom en hoe duideliker ons die reinheid van Sy karakter gewaar, hoe duideliker sal ons die uiterste sondigheid van die sonde besef en hoe minder sal ons geneë wees om onsself te verhef. Diegene wat deur die hemel as heiliges erken word, is die laaste om met hulle eie goedheid te spog. Die apostel Petrus het ‘n getroue dienaar van Christus geword en hy is met Goddelike lig en krag hoog vereer; hy het self gehelp om die kerk van Christus op te bou; maar Petrus het sy vreeslike vernedering nooit vergeet nie; sy sonde is vergewe, nogtans het hy goed geweet dat net die genade van Christus kon vergoed vir die karakterswakheid wat hom tot ‘n val gebring het. In homself kon hy geen rede vind om te roem nie.DGC 105.4

    Geeneen van die apostels of die profete het ooit voorgegee dat hy sondeloos is nie. Manne wat die naaste aan God geleef het, wat Newer sou sterf as om willens en wetens’n verkeerde daad te doen, manne wat deur God met Goddelike lig en krag vereer is, het die sondigheid van hulle eie natuur bely. Hulle het nie op die vlees vertrou nie, het op geen eie geregtigheid aanspraak gemaak nie, maar het geheel en al op die geregtigheid van Christus gesteun. So sal dit met almal wees wat Christus aanskou.DGC 106.1

    Met elke voorwaartse stap in die Christelike lewe sal ons dieper berou hé. Juis aan hulle wat Sy vergifnis het, aan hulle wat Hy as Sy volk erken, sê die Here:” Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees.” (Eseg. 36:31) Verder sê Hy: “Ek sal my verbond met jou oprig, en jy sal weet dat Ek die Here is; sodat jy kan nadink en beskaamd staan en jou mond nie meer oopmaak vanweë jou skande nie, as Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het, spreek die Here Here.” (Eseg. 16:62, 63) Dan sal geen selfverheerliking oor ons lippe gaan nie. Ons sal weet dat ons net in Christus toereikend is. Ons sal soos die apostel bely: “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie.” (Rom. 7:18) “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” (Gal. 6:14)DGC 106.2

    Ooreenkomstig hierdie belewenis kom die bevel:“Werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filip.2:12,13) God beveel u nie om te vrees dat Hy Sy beloftes nie sal nakom nie, dat Sy geduld sal opraak of dat Sy medelyde sal ontbreek nie. Vrees dat u wil nie aan die wil van Christus onderworpe sal wees nie, dat u erflike en aangeleerde karaktereienskappe u lewe kan oorheers. “Dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” Vrees dat die self tussen u siel en die groot Meesterwerker kan inkom. Vrees dat eiesinnigheid die verhewe doel kan verydel wat God deur u wil verrig. Vrees om op u eie krag te steun, vrees om u hand uit Christus se hand te neem en alleen die lewensweg, sonder Sy blywende teenwoordigheid te probeer bewandel.DGC 106.3

    Ons moet alles vermy wat hoogmoed en eiewaan in die hand kan werk; daarom moet ons op ons hoede wees om nie lof of vleiery uit te deel of te ontvang nie. Dis die Satan se werk om te vlei. Dis sy werk om te vlei en te beskuldig en te veroordeel. So probeer hy die siel tot ondergang bring.DGC 107.1

    Diegene wat mense prys, word deur die Satan as sy werktuie gebruik. Laat die werkers vir Christus weier om lof te ontvang. Laat die self uit die oog verloor word. Net Christus moet verhoog word. Elke oog moet op Hom gerig word “wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed.” (Openb. 1:5) en elke hart moet Hom loof.DGC 107.2

    Die lewe wat die vrees van die Here koester, sal nie‘n droewige, sombere lewe wees nie. Dis die afwesigheid van Christus wat die aangesig droewig en die lewe‘n vermoeinis maak. Diegene wat vol selfagting en eieliefde is, ken geen behoefte aan ‘n persoonlike, lewende verbintenis met Christus nie. Die hart wat nie op die Rots geval het nie, is trots op sy heelheid. Mense wil ‘n deftige godsdiens hê. Hulle wil ‘n weg bewandel wat so breed is dat hulle hulle eie eienskappe kan saamneem. Hulle eieliefde, hulle liefde vir gewildheid en roem, sluit die Heiland uit hulle harte uit, en sonder Hom is daar somberheid en droefheid. Maar Christus in die siel is ‘n bron van vreugde. Vir elkeen wat Hom ontvang, is die grondtoon van die Woord van God blydskap.DGC 107.3

    “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes. 57:15.DGC 107.4

    Dit was toe Moses in die rotsskeur geskuil het dat hy die heerlikheid van die Here aanskou het. Dit is wanneer ons in die geskeurde Rots skuil dat Christus ons met Sy eie deurboorde hand sal dek en ons sal hoor wat die Here aan Sy dienaars sê. Soos aan Moses sal die Here Hom aan ons toon as “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.” (Exod. 34:6, 7)DGC 107.5

    Die verlossingswerk omvat gevolge wat vir ‘n mens moeilik is om te verstaan. “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” 1 Kor. 2:9. Wanneer die sondaar wat deur die krag van Christus aangetrek word, nader kom en hom voor die verhewe kruis verneder, vind daar ‘n nuwe skepping plaas. Daar word aan hom ‘n nuwe hart gegee. Hy word ‘n nuwe skepsel in Christus Jesus. Heiligheid bevind dat hy niks meer kan eis nie. God self maak regverdig “wie uit die geloof in Jesus is.” (Rom. 3:26) “En die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik.” Rom. 8:30. Al is die skande en vernedering weens die sonde ook hoe groot, die eer en opheffing deur verlossende liefde sal selfs groter wees. Aan mense wat streef om die beeld van God gelykvormig te word, word ‘n voorraad van die hemel se skatte, ‘n oortreffende krag, gegee wat hulle selfs bokant die engele sal verhef wat nooit in sonde verval het nie.DGC 108.1

    “So sê die Here, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat ‘n afsku is by die volk, ... Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die Here wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.” Jes. 49:7.DGC 108.2

    “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.”DGC 108.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents