Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 3—“Eers ‘n Halm, Dan ‘n Aar”

    Na aanleiding van Markus 4:26-29

    DIE gelykenis van die saaier het heelwat vrae uitgelok. Sommige van die toehoorders het daaruit afgelei dat Christus nie ‘n aardse koninkryk sou oprig nie, en vele was nuuskierig en verward. Toe Christus hulle verwarring sien, het Hy ander illustrasies gebruik om hulle gedagtes weg te lei van die hoop op ‘n aardse koninkryk na die werk van Gods genade in die siel.DGC 31.1

    “En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer‘n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot - hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die voile koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.”DGC 31.2

    Die landbouer wat die sekel insteek “omdat die oes daar is,” kan niemand anders as Christus wees nie. Dit is Hy wat op die laaste dag die oes van die aarde sal insamel. Maar die saaier van die saad stel diegene voor wat vir Christus arbei. Van die saad word gesê, dit “spruit uit en word groot - hoe, weet hy self nie,“en dit geld nie vir die Seun van God nie. Christus slaap nie tydens Sy verpligtinge nie, maar waak dag en nag. Hy is nie onkundig aangaande hoe die saad groei nie.DGC 31.3

    Die gelykenis van die saad openbaar dat God in die natuur werk. Die saad het in hom ‘n ontkiemingsbeginsel, ‘n beginsel wat God self daarin geplaas het, tog, as dit aan homself oorgelaat sou word, sou die saad geen mag he om uit te spruit nie. Die mens het‘n rol om te speel om die groei van die saadkorrel te bevorder. Hy moet die grond voorberei en verryk en die saad saai. Hy moet die landerye bewerk. Maar daar is ook‘n punt waarvandaan hy niks kan doen nie. Geen krag of wysheid van die mens kan die lewende plant uit die saad voortbring nie. Laat die mens hom tot die uiterste toe inspan; tog moet hy nog op Hom steun wat die saai en maai met wonderbaarlike skakels van Sy eie almag verbind.DGC 31.4

    Daar is lewe in die saad, daar is lewe in die grond, maar tensy‘n oneindige mag dag en nag uitgeoefen word, sal die saad niks kan oplewer nie. Die stortreëns moet gestuur word om vog aan die dorstige landerye te gee, die son moet warmte verleen, elektrisiteit moet oorgedra word na die begrawe saad. Die lewe wat die Skepper ingeplant het, kan net Hy te voorskyn roep. Elke saadkorrel ontkiem, elke plant groei deur die mag van God.DGC 32.1

    “Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.” Jes. 61:11. Soos in die natuurlike saaiery, so ook in die geestelike; die verkondiger van die waarheid moet trag om die grond van die hart voor te berei; hy moet die saad saai, maar die krag wat alleen in staat is om lewe voort te bring, kom van God. Daar is ‘n perk waarna menslike pogings vergeefs is. Hoewel ons die woord moet preek, kan ons nie die krag voorsien wat aan die siel lewe sal gee, en wat sal veroorsaak dat geregtigheid en aanbidding uitspruit nie. In die prediking van die woord moet‘n middelaar werk wat menslike krag oortref. Alleenlik deur die Gees van God kan die woord lewend en kragtig wees om die siel tot die ewige lewe te vernuwe. Dit is wat Christus Sy dissipels aan die verstand probeer bring het. Hy het geleer dat hulle self niks besit het wat aan hulle werk welslae sou verleen nie, maar dat dit die wonderwerkende krag van God is wat doeltreffendheid aan Sy eie woord verleen.DGC 32.2

    Die werk van die saaier is ‘n geloofsdaad. Hy kan die geheim van die ontkieming en groei van die saad nie verstaan nie. Maar hy het vertroue in die bemiddelinge waardeur God die plante laat gedy. Wanneer hy sy saad in die grond gooi, verkwis hy skynbaar die kosbare graan wat aan sy gesin brood kan voorsien. Maar hy boet net tydelike waardes in om groter wins te maak. Hy gooi die saad weg met die verwagting dat hy dit in die oes oorvloedig sal terugkry. So moet Christus se diensknegte arbei, met die verwagting om ‘n oes in te samel uit die saad wat hulle saai.DGC 32.3

    Die goeie saad lê miskien tydelik onopgemerk in ‘n koue, selfsugtige, wêreldsgesinde hart sonder enige bewys dat dit wortelskiet; maar naderhand, namate die Gees van God die siel beadem, ontkiem die verskuilde saad en uiteindelik dra dit vrugte tot eer van God. In ons lewenswerk weet ons nie watter een sal geluk nie, hierdie of daardie. Dit is nie ‘n vraagstuk vir ons om op te los nie. Ons moet ons werk doen en die gevolge by God laat. “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie.” Pred. 11:6. God se groot verbond verklaar: “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd ... nie ophou nie.” (Gen. 8:22) Die landbouer ploeg en saai in die vertroue van hierdie belofte. Ons moet met ewe veel hoop die geestelike saaiwerk doen en op Sy versekering vertrou: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe ek dit stuur.” (Jes. 55:11 ) “Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.” (Ps. 126:6)DGC 33.1

    Die ontkieming van die saad stel die begin van die geestelike lewe voor en die ontwikkeling van die plant is’n lieflike beeld van die Christelike opwassing. Soos in die natuur, so ook met genade; sonder groei kan daar geen lewe wees nie. Die plant moet of groei of doodgaan. Net soos dit stil en onsigbaar, dog voortdurend groei, so is die ontwikkeling van die Christelike lewe. In elke stadium van sy ontwikkeling kan ons lewe volmaak wees; maar as Gods doel met ons verwesenlik word, sal daar voortdurende vordering wees. Heiligwording is die werk van ‘n leeftyd. Namate ons geleenthede toeneem, sal ons ondervinding en ons kennis toeneem. Ons sal sterk word om verantwoordelikhede te kan dra, en ons volwassenheid sal met ons voorregte ooreenstem.DGC 33.2

    Die plant groei deur te ontvang wat God voorsien het om sy lewe te onderhou. Hy stuur sy wortels in die grond af. Hy drink die sonskyn, die dou en die reën in. Hy ontvang die lewegewende eienskappe uit die lug. So moet dieDGC 33.3

    Christen groei deur met die Goddelike magte saam te werk. Omdat ons besef ons is hulpeloos, moet ons van elke geleentheid gebruik maak om ‘n ryker ondervinding op te doen. Soos die plant in die grond wortelskiet, moet ons in Christus gewortel word. Net soos die plant die sonskyn, die dou en die reent ontvang, moet ons ons harte vir die Heilige Gees oopstel. Die werk moet gedoen word “nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare.” (Sag. 4:6) As ons ons gedagtes op Christus gevestig hou, sal Hy tot ons kom “soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.” (Hos. 6:3) As die Son van Geregtigheid, sal Hy vir ons opgaan “en daar sal genesing onder sy vleuels wees.” (Mal. 4:2) Ons sal “bloei soos’n lelie.” Ons sal “weer koring laat groei; en... bloei soos die wingerdstok.” (Hos. 14:6, 8) Deur voortdurend op Christus as ons persoonlike Saligmaker te steun, sal ons in alle dinge in Hom opwas wat ons Hoof is.DGC 33.4

    Die koring ontwikkel “eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die voile koring in die aar.” Die landbouer saai die saad en versorg die groeiende plant om die graan te produseer. Hy begeer brood vir die hongeriges en saad vir toekomstige oeste. So sien die Goddelike Landbouer uit na die oes as beloning vir Sy arbeid en opoffering. Christus trag om Hom in menseharte uit te leef, en Hy doen dit deur hulle wat in Hom glo. Die doel van die Christelike lewe is om vrugte te dra - om Christus se karakter in die gelowige weer te gee, sodat dit in ander voortgeplant kan word.DGC 34.1

    Die plant ontkiem, groei en bring vrugte voort, nie vir homself nie, maar om saad te gee, “aan die saaier en brood aan die eter.” (Jes. 55:10) So mag geen mens vir homself leef nie. Die Christen is in die wêreld as die verteenwoordiger van Christus vir die redding van ander siele.DGC 34.2

    Daar kan geen groei of vrugbaarheid in die selfgerigte lewe wees nie. As u Christus as u persoonlike Saligmaker aangeneem het, moet u uself vergeet, en probeer om andere te help. Praat van die liefde van Christus; vertel van Sy goedheid. Doen elke plig wat hom voordoen. Dra die las van siele op u hart, en gebruik elke middel in u vermoë om die verlorenes te soek en te red. Namate u die Gees van Christus ontvang - die Gees van onselfsugtige liefde en arbeid vir andere - sal u groei en vrugte dra. Die bevallighede van die Gees sal in u karakter ryp word. U geloof sal toeneem, u oortuigings verdiep, u liefde sal volmaak word. Al hoe meer sal u die beeld van Christus weerkaats in alles wat rein, edel en lieflik is.DGC 34.3

    “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal. 5:22. Hierdie vrug kan nooit vergaan nie, maar sal volgens sy soort ‘n oes lewer wat die ewige lewe meebring.DGC 35.1

    “En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.” Christus wag met reikhalsende verlange om Hom in Sy kerk te openbaar. Wanneer die karakter van Christus ten voile in Sy volk verskyn, dan sal Hy kom om hulle as Sy eie te neem.DGC 35.2

    Dit is die voorreg van elke Christen, nie net om na die koms van die Here Jesus Christus uit te sien nie, maar ook om dit te verhaas. (2 Pet. 3:12) As almal wat Sy Naam bely vir Sy verheerliking vrugte sou dra, hoe gou sou die hele wêreld nie met die evangeliesaad besaai wees nie. Die laaste groot oes sou spoedig ryp wees en Christus sou kom om die kosbare graan in te samel.DGC 35.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents