Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 9—Die Pêrel

    Na aanleiding van Mattheüs 13:45, 46,

    ONS Heiland vergelyk die seëninge van reddende liefde met ‘n kosbare pêrel. Hy het Sy les geïllustreer met die gelykenis van die koopman wat mooi pêrels soek “en toe hy een kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.” Christus self is die kosbare pêrel. In Hom is al die heerlikheid van die Vader saamgevat, die volheid van die Godheid. Hy is die afskynsel van die Vader se heerlikheid en die afdruksel van Sy wese. Die heerlikheid van die eienskappe van God word in Sy karakter uitgedruk. Elke bladsy van die Heilige Skrif straal met Sy lig. Die geregtigheid van Christus het, soos ‘n skoon wit pêrel, geen defek of vlek nie. Geen mensedaad kan die groot en kosbare gawe van God verbeter nie. Dit is sonder fout. In Christus is “al die skatte van wysheid en kennis verborge.” (Kol. 2:3) Hy het vir ons geword “wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor. 1:30) Alles wat die behoeftes en verlangens van die menslike siel in hierdie wêreld en in die wêreld wat kom, kan bevredig, word in Christus gevind. Ons Verlosser is die pêrel wat so kosbaar is dat alle ander dinge in vergelyking daarmee as niks beskou kan word.DGC 71.1

    Christus “het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” (Joh. 1:11) Die lig van God het in die duisternis van die wêreld ingeskyn, en “die duisternis het dit nie oorweldig nie.” (Joh. 1:5) Maar nie almal was onverskillig teenoor die hemelse gawe nie. Die koopman in die gelykenis stel ‘n klas voor wat ernstig na waarheid verlang het. Onder verskillende volkere was daar ernstige en denkende mense wat in die letterkunde, in die wetenskap en in die godsdienste van die heidense wêreld na iets gesoek het wat hulle as ‘n sieleskat kon ontvang. Onder die Jode was daar diegene wat na iets gesoek het wat hulle nie besit het nie. Hulle was ontevrede met‘n formele godsdiens en het na iets verlang wat geestelik en opheffend was. Christus se gekose dissipels het aan laasgenoemde klas behoort, Cornelius en die Ethiopiër aan eersgenoemde. Hulle het na lig uit die hemel verlang en het daarvoor gebid, en toe Christus aan hulle geopenbaar is, het hulle Hom met blydskap ontvang.DGC 71.2

    In die gelykenis word die pêrel nie as ‘n geskenk voorgestel nie. Die koopman het dit gekoop ten koste van alles wat hy gehad het. Vele wil weet wat dit beteken aangesien Christus in die Skrifte as ‘n geskenk voorgestel word. Hy is wel ‘n geskenk, maar net aan diegene wat hulle siel, liggaam en gees sonder voorwaarde aan Hom oorgee. Ons moet ons aan Christus oorgee om ‘n lewe van gewillige gehoorsaamheid aan al Sy vereistes te lei. Alles wat ons is, al ons talente en bekwaamhede, is die Here s‘n, om aan Sy diens gewy te word. As ons ons op hierdie wyse geheel en al aan Hom oorgee, gee Christus Hom met al die skatte van die hemel, aan ons. Ons verkry dan die kosbare pêrel.DGC 72.1

    Die saligheid is ‘n vry geskenk, en tog moet dit gekoop en verkoop word. Op die mark, wat onder die bestuur van Goddelike genade staan, word die kosbare pêrel sonder geld en sonder prys gekoop. Op hierdie mark mag almal die hemelse goedere koop. Die skathuis vol waarheidsjuwele staan vir almal oop. “Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee,” sê die Here, “en niemand kan dit sluit nie.” Geen swaard bewaak die weg deur hierdie deur nie. Stemme van binne en by die deur sê: Kom. Die Heiland se stem nooi ons ernstig en liefdevol:“Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word.” (Openb. 3:8,18)DGC 72.2

    Die evangelie van Christus is’n seën wat almal kan besit. Die armste kan die saligheid net so maklik aankoop as die ryke, want die grootste aardse rykdom kan dit nie verkry nie. Dit word deur gewillige gehoorsaamheid verkry, deur ons aan Christus as Sy gekoopte eiendom te gee. Geleerdheid, hoe hoog al, kan ‘n mens nie nader aan God bring nie. Die Fariseërs is met elke tydelike en geestelike voordeel begunstig, en hulle het met trotse roem gesê, Ons is “ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie;” tog was hulle “ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak.” (Openb. 3:17) Christus het hulle die kosbare pêrel aangebied, maar hulle het dit versmaai en Hy het aan hulle gesê: “Die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.” (Matt. 21:31)DGC 72.3

    Ons kan die saligheid nie verdien nie, maar ons moet met soveel be-langstelling en volharding daarna soek asof ons alles in die wêreld sou prysgee om dit te verkry.DGC 72.4

    Ons moet die kosbare pêrel soek, maar nie op wêreldse markte of op wêreldse maniere nie. Die prys wat ons moet betaal, is nie goud of silwer nie, want ook dit behoort aan God. Verwerp die idee dat tydelike of geestelike voordele vir u die saligheid sal verwerf. God verlang u gewillige gehoorsaamheid. Hy vra dat u u sondes moet prysgee. “Aan hom wat oorwin,” sê Christus, “sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” (Openb. 3:21)DGC 73.1

    Daar is sommige wat skynbaar gedurig na die hemelse pêrel soek. Maar hulle gee hulle verkeerde gewoontes nie volkome oor nie. Hulle sterf nie vir die self sodat Christus in hulle kan leef nie. Daarom vind hulle die kosbare pêrel nie. Hulle het hulle onheilige ambisies en hulle liefde vir wêreldse aantreklikhede nie oorwin nie. Hulle neem nie die kruis op om Christus langs die weg van selfverloëning en opoffering te volg nie. Hulle is byna Christene, maar tog nie ten voile nie en is skynbaar tog so naby die koninkryk, maar hulle kan daar nie ingaan nie. Byna, maar nie heeltemal gered nie, beteken om nie byna nie, maar heeltemal verlore te wees.DGC 73.2

    Die gelykenis van die koopman wat goeie pêrels soek, het‘n dubbele betekenis: dit is nie net op mense van toepassing wat die koninkryk van die hemele soek nie, maar op Christus wat Sy verlore erfenis soek. Christus, die hemelse koopman wat goeie pêrels soek, het in die verlore mensdom die kosbare pêrel gesien. In die mens wat deur sonde besoedel en geskend is, het Hy moontlikhede vir verlossing gesien. Harte waar die stryd teen die Satan gewoed het, en wat deur die krag van die liefde gered is, is vir die Verlosser kosbaarder as diegene wat nooit gesondig het nie. God het die mensdom nie vir gemeen en waardeloos aangesien nie; Hy het hulle in Christus beskou, en gesien wat hulle deur reddende liefde kan word. Hy het al die rykdom van die heelal versamel en dit neergelê om die pêrel te koop. En, nadat Hy dit gevind het, monteer Jesus dit weer in Sy kroon. “Want hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor Sy land.” Sag. 9:16. “En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep.” Mal. 3:17.DGC 73.3

    Maar Christus as die kosbare pêrel, en ons voorreg om hierdie hemelse pêrel te besit, is die onderwerp waaroor ons die meeste behoort te dink. Dit is die Heilige Gees wat aan die mens die kosbaarheid van die kosbare pêrel openbaar.DGC 73.4

    Die tyd van die Heilige Gees se krag is die tyd wanneer die hemelse gawe, in ‘n besondere sin, gesoek en gevind word. In die dae van Christus het baie die evangelie gehoor, maar hulle verstand is deur valse leringe verduister, en hulle het die nederige Leermeester van Galilea nie as die Een herken wat deur God gestuur is nie. Maar na Christus se hemelvaart is Sy verheffing tot die troon van Sy Middelaarskoninkryk deur die uitstorting van die Heilige Gees aangedui. Die Gees is op die Pinksterdag gegee. Christus se getuies het die krag van die verrese Heiland verkondig. Die lig van die hemel het deurgedring tot die verduisterde verstand van diegene wat deur die vyande van Christus mislei is. Hulle het Hom nou verhoog gesien “as Leidsman en Verlosser... om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Hand. 5: 31) Hulle het Hom gesien, omring deur die heerlikheid van die hemel en met oneindige skatte in Sy hande om aan almal te skenk wat hulle van hulle opstandigheid sou bekeer. Terwyl die apostels die heerlikheid van die Eniggeborene van die Vader bekend gemaak het, is drieduisend siele oortuig. Hulle het hulself gesien net soos hulle was, sondig en besoedel, en in Christus het hulle hulle Vriend en Saligmaker gesien. Christus is verhef, Christus is verheerlik, deur die krag van die Heilige Gees wat op mense gerus het. Deur die geloof het hierdie gelowiges in Hom die Een gesien wat vernedering, lyding en die dood verdra het sodat hulle nie verlore moes gaan nie, maar die ewige lewe kon hê. Die openbaring van Christus deur die Gees het hulle onder die besef van Sy krag en majesteit gebring, en hulle het hulle hande gelowig tot Hom uitgestrek en gesê, “Ek glo.”DGC 74.1

    Toe is die blye boodskap van ‘n verrese Heiland na die uiteindes van die bewoonde wêreld geneem. Bekeerlinge het uit alle oorde na die kerk toe aangekom. Gelowiges is weer bekeer. Sondaars het saam met Christene die kosbare pêrel gesoek. Die profesie is vervul: Die struikelende sal wees “soos Dawid,” en die huis van Dawid “soos die Engel van die Here.” (Sag. 12:8) Elke Christen het in sy broeder die weldadigheid en liefde van God weerspieël gesien. Daar was net een belang. Een doelwit het al die ander verteer. Alle harte het eensgesind geklop. Die enigste ambisie van die gel-owiges was om dieselfde karakter as Christus aan die dag te lê en om vir die uitbreiding van Sy koninkryk te arbei. “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel.... En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” Hand. 4:32, 33. “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” Hand. 2:47. Die Gees van Christus het aan die hele gemeente lewe gegee, want hulle het die kosbare pêrel gevind.DGC 74.2

    Hierdie tonele sal met groter krag herhaal word. Die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterdag was die vroeë reent, maar die laat reent sal nog oorvloediger wees. Die Gees wag dat ons Hom moet aanvra en ontvang. Christus in Sy volheid sal weer deur die krag van die Heilige Gees geopenbaar word. Mense sal die waarde van die kosbare pêrel insien, en soos die apostel Paulus sal hulle sê: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus ontwil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here.” Filip. 3:7,8.DGC 75.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents