Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Hedendaagse Kerk

    Die gelykenis van die wingerd is nie alleen op die Joodse volk van toepassing nie. Dit hou vir ons ook ‘n les in. Die kerk in hierdie geslag is deur God met groot voorregte en seëninge toegerus en Hy verwag ooreenstemmende wins.DGC 210.5

    Ons is met‘n kosbare losprys vrygekoop. Alleenlikdie grootheid van hierdie losprys gee ons ‘n begrip van sy gevolge. Op hierdie aarde, die aarde wat deur die trane en bloed van die Seun van God benat is, moet die kosbare vrugte van die Paradys voortgebring word. In die lewens van Gods volk moet die waarhede van Sy Woord hulle heerlikheid en uitmuntendheid openbaar Deur Sy volk moet Christus Sy karakter en die beginsels van Sy koninkryk openbaar.DGC 211.1

    Die Satan trag om die werk van God teen te werk, en hy spoor mense gedurig aan om sy beginsels aan te neem. Hy beweer dat die uitverkore volk van God‘n misleide volk is. Hy is’n beskuldiger van die broeders en hy gebruik sy beskuldigende mag teen diegene wat geregtigheid doen. Die Here verlang om die Satan se aantygings te beantwoord deur die gevolge van gehoorsaamheid aan die regte beginsels in Sy volk te openbaar.DGC 211.2

    Hierdie beginsels moet in die Christen persoonlik, in die gesin, in die gemeente en in elke inrigting wat vir die diens van God opgerig is, gesien word. Almal moet simbole wees van wat vir die wêreld gedoen kan word. Hulle moet voorbeelde wees van die reddende krag van die waarhede van die evangelie. Almal is werktuie in die vervulling van Gods groot planne vir die menseras.DGC 211.3

    Die Joodse leiers het hulle pragtige tempel en die imponerende rites van hulle godsdiens met trots aanskou, maar reg, genade en die liefde van God het ontbreek. Die heerlikheid van die tempel, die luister van hulle diens kon hulle nie by God aanbeveel nie; want die enigste ding waaraan Hy waarde heg, het hulle nie aangebied nie. Hulle het Hom nie die offer van ‘n nederige en verslae gees gebring nie. Dit is wanneer die belangrike beginsels van die koninkryk van God verlore gaan dat die seremonies menigvuldig en oordadig word. Dit is wanneer karakterbou verwaarloos word, wanneer die versiering van die siel ontbreek, wanneer die eenvoud van godsvrug uit die oog verloor word, dat hoogmoed en liefde vir vertoon, pragtige kerkgeboue, skitterende versiersels en imponerende seremonies vereis. Nie een hiervan vereer God nie. ‘n Deftige godsdiens wat uit seremonies, skyn en vertoon bestaan, is nie vir Hom aanneemlik nie. Die hemelse boodskappers reageer nie op sulke diens nie.DGC 211.4

    Die kerk is vir God baie kosbaar. Hy waardeer dit nie om die uiterlike bates nie, maar om die opregte vroomheid wat dit van die wêreld onderskei. Hy takseer dit op die lidmate se toename in die kennis van Christus, op hulle vooruitgang in die geestelike lewe.DGC 212.1

    Christus smag daarna om van Sy wingerd die vrugte van heiligheid en onselfsugtigheid te ontvang. Hy soek na die beginsels van liefde en goedheid. Al die skoonheid van die kunste kan nie vergelyk word met die mooi geaardheid en karakter wat Christus se verteenwoordigers aan die dag moet lê nie. Dit is die atmosfeer van welwillendheid wat die siel van die gelowige omring, die werking van die Heilige Gees op sy verstand en sy hart wat van hom ‘n reuk van die lewe tot die lewe maak en God in staat stel om sy werk te seën.DGC 212.2

    ‘n Gemeente kan die armste in die land wees. Daar is miskien geen uiterlike aantreklikheid nie, maar as die lidmate die beginsels van die karakter van Christus besit, sal hulle Sy vreugde in hulle siele hê. Engele sal saam met hulle aanbid. Die lof en danksegging uit dankbare harte sal soos ‘n welriekende offer na God opstyg.DGC 212.3

    Die Here verlang dat ons van Sy goedheid moet praat en van Sy krag moet vertel. Hy word vereer deur lof en danksegging. Hy sê, “Die een wat dank offer, eer My.” (Ps. 50:23) Op hulle reis deur die woestyn het die Israeliete God met heilige lofsange geloof. Die gebooie en die beloftes van die Here is getoonset en deur die pelgrims op hulle reis gesing. En so dikwels hulle in Kanaan vir hulle heilige feeste byeengekom het, moes hulle van die wonderlike werke van God vertel en Sy Naam dankbaar loof. God het verlang dat die hele lewe van Sy volk‘n lewe van danksegging moes wees. So moes Sy weg op die aarde verkondig word, Sy heil “onder al die nasies.” (Ps. 67:3)DGC 212.4

    So hoort dit nou. Die bewoners van die wêreld aanbid valse gode. Hulle moet van hulle valse aanbidding weggelei word, nie deur die veroordeling van hulle afgode aan te hoor nie, maar deur die aanskoue van iets beters. Die goedertierenheid van die Here moet bekend gemaak word. “Julle is my getuies, spreek die Here, en Ek is God.” Jes. 43:12.DGC 212.5

    Die Here verlang dat ons die groot verlossingsplan moet waardeer, dat ons ons verhewe voorreg as kinders van God moet besef, dat ons in gehoorsaamheid, met waardering en danksegging voor Hom moet wandel. Hy verlang dat ons Hom elke dag met blydskap in ‘n nuwe lewe moet dien. Hy verlang om dankbaarheid in ons harte te sien opbruis omdat ons name geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam, omdat ons al ons bekommernis op Hom kan werp wat vir ons sorg. Hy sê dat ons ons moet verheug omdat ons die erfenis van die Here is, omdat die geregtigheid van Christus die wit kleed van die heiliges is, omdat ons die salige hoop het op die spoedige verskyning van ons Verlosser.DGC 212.6

    Om die Here in volheid en opregtheid van hart te loof is net soseer ‘n plig as om te bid. Ons moet aan die wêreld en aan al die hemelse wesens toon dat ons die wonderbare liefde van God vir‘n gevalle mensdom waardeer en dat ons groter en nog groter seëninge van Sy oneindige volheid verwag. Veel meer as wat wel die geval is, moet ons van die kosbare hoofstukke in ons ondervinding praat. Na ‘n spesiale uitstorting van die Heilige Gees sou ons vreugde in die Here en ons bekwaamheid in Sy diens grootliks vermeerder word deur van Sy goedheid en Sy wonderlike werke ten behoewe van Sy kinders te vertel.DGC 213.1

    Hierdie oefeninge dryf die mag van die Satan terug. Hulle verban die gees van murmurering en geklaag, en die versoeker verloor veld. Hulle bevorder die karaktertrekke wat die bewoners van die aarde geskik sal maak vir die hemelse wonings.DGC 213.2

    So ‘n getuienis sal ‘n invfoed op andere hê. Daar kan geen meer effektiewe wyse gebruik word om siele vir Christus te wen nie.DGC 213.3

    Ons moet God deur middel van tasbare diens loof, deur alles in ons vermoë te doen om die heerlikheid van Sy Naam te bevorder. God bedeel ons met Sy gawes sodat ons ook kan gee, en sodoende Sy karakter aan die wêreld bekend kan maak. Onder die Joodse stelsel was geskenke en offers ‘n onmisbare deel van die aanbidding van God. Die Israeliete is geleer om ‘n tiende van hulle hele inkomste aan die diens van die heiligdom te bestee. Boonop moes hulle sondoffers, vrywillige offers en dankoffers bring. Dit was die middele ter ondersteuning van die evangeliedienaars vir daardie tyd. God verwag niks minder van ons as wat Hy van Sy volk van ouds verwag het nie. Die groot werk vir die redding van siele moet voortgesit word. Deur die tiende, geskenke en offers het Hy voorsiening gemaak vir hierdie werk. So, bedoel Hy, moet die evangeliebediening onderhou word. Hy eis die tiende as Sy eie en dit moet altyd vir heilige doeleindes voorbehou word, om tot voordeel van Sy saak in Sy skathuis te kom. Hy vra ook om vrywillige gawes en dankoffers. Alles moet gebruik word om die evangelie na die uiterste eindes van die aarde te stuur.DGC 213.4

    Diens vir God sluit persoonlike bediening in. Deur persoonlike inspanning moet ons met Hom saamwerk vir die redding van die wêreld. Christus se opdrag, “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom,” word tot elkeen van Sy volgelinge gerig. (Markus 16:15) Almal wat tot die lewe van Christus verordineer is, is verordineer om vir die redding van hulle medemense te werk. Hulle harte sal eensgesind saam met die hart van Christus klop. Hulle sal dieselfde verlange na siele hê as Hy. Nie almal kan dieselfde plek in die werk vul nie, maar daar is ‘n plek en ‘n werk vir almal.DGC 214.1

    In die ou dae is Abraham, Isak, Jakob, Moses met sy sagmoedigheid en wysheid, en Josua met sy verskeidenheid van bekwaamhede, almal opgeneem in die diens van God. Die musiek van Mirjam, die moed en vroomheid van Debora, die kinderlike liefde van Rut, die gehoorsaamheid en getrouheid van Samuel, die ernstige getrouheid van Elia, die versagtende, temperende invloed van Elisa - alles was nodig. So is dit nou ook. Almal op wie die seëninge van die Here uitgestort is, moet hulle waardering met daadwerklike diens bewys. Elke gawe moet vir die bevordering van Sy koninkryk en die verheerliking van Sy Naam gebruik word.DGC 214.2

    Almal wat Christus as persoonlike Saligmaker aanneem, moet demonstreer dat die evangelie waar is en dat dit krag het om die lewe te red. God stel geen vereistes sonder om vir die vervulling daarvan voorsiening te maak nie. Deur die genade van Christus kan ons alles verrig wat God verlang. Al die rykdom van die hemel moet deur Gods volk geopenbaar word. “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” Joh. 15:8.DGC 214.3

    God maak op die hele wêreld aanspraak as Sy wingerd.DGC 214.4

    Alhoewel dit tans in die hande van die indringer is, behoort dit aan God; dit is eweseer deur die verlossing, as deur die skepping Syne. Christus het Hom vir die wêreld geoffer. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het.” Joh. 3:16. Dit is deur daardie een gawe dat elke ander gawe aan die mens gegee word. Daagliks ontvang die hele wêreld seëninge van God. Elke reëndruppel, elke sonstraal wat op ons ondankbare mensdom skyn, elke blaar en blom en vrug, getuig van Gods lankmoedigheid en van Sy groot liefde.DGC 214.5

    En wat gee ons in die hand van die groot Gewer terug?DGC 215.1

    Hoe ag die mensdom die aansprake van God? Aan wie gee die mensemassas hulle lewensdiens ? Hulle dien Mammon. Rykdom, status, wêreldse plesier, is hulle groot doel. Rykdom word verkry deur roof, nie van die mens alleen nie, maar van God. Mense gebruik Sy gawes om hulle eie selfsug te bevredig. Alles wat hulle kan kry, word gebruik om hulle hebsug en hulle liefde vir plesier te bevredig.DGC 215.2

    Die sonde van die hedendaagse wêreld is die sonde wat die verwoesting van Israel bewerk het. Ondankbaarheid teenoor God, die verwaarlosing van geleenthede en seëninge, die selfsugtige toeeiening van die gawes van God dit was die sondes wat Gods toorn op Israel gebring het. Hierdie dinge is die ondergang van ons hedendaagse wêreld.DGC 215.3

    Die trane wat Christus op die Olyfberg gestort het toe Hy na die uitverkore stad staan en kyk het, was nie net oor Jerusalem nie. In die noodlot van Jerusalem het Hy die verwoesting van die wêreld gesien.DGC 215.4

    “As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.” Lukas 19:42.DGC 215.5

    “In hierdie dag van jou.” Die dag nader sy einde. Die tyd van genade en bevoorregting is byna verby. Die wolke van wraak pak saam. Die verwerpers van Gods genade sal binnekort in ‘n snelle en onherstelbare verwoesting betrokke wees.DGC 215.6

    Tog is die wêreld aan die slaap. Die volk ken nie die tyd van hulle besoeking nie.DGC 215.7

    Waar sal die kerk in hierdie krisis te vinde wees? Voldoen die lidmate aan Gods vereistes? Voer hulle Sy opdrag uit en stel hulle Sy karakter aan die wêreld voor? Bring hulle die laaste waarskuwende genadeboodskap dringend onder die aandag van hulle medemense?DGC 215.8

    Die mensdom verkeer in gevaar. Menigtes vergaan. Maar hoe min van die belydende volgelinge van Christus voel ‘n las vir hierdie siele! Die lotsbestemming van die wêreld hang in die weegskaal, maar dit beweeg skaars diegene wat beweer dat hulle die vêrreikendste waarheid glo wat ooit aan sterflinge gegee is. Daar is gebrek aan daardie liefde wat Christus gedwing het om Sy hemelwoning te verlaat en die menslike natuur aan te neem sodat mensheid aan mensheid kon raak om die mensdom tot God te trek. Die volk van God is so bedwelmd en verlam dat hulle die plig van die uur nie begryp nie.DGC 216.1

    Toe die Israeliete Kanaan binnegegaan het, het hulle Gods doel nie verwesenlik deur van die hele land besit te neem nie. Nadat hulle‘n gedeeltelike oorwinning behaal het, het hulle hulle gevestig om die vrugte van hulle oorwinnings te geniet. In hulle ongeloof en gemaksug, het hulle in die dele saamgedrom wat reeds oorwin was, pleks dat hulle verder gegaan het om nuwe gebiede te beset. So het hulle begin om van God af te dwaal. Deurdat hulle Sy doel nie verwesenlik het nie, het hulle dit onmoontlik gemaak vir Hom om Sy beloofde seen aan hulle te gee. Doen die hedendaagse kerk nie dieselfde ding nie? Die hele wêreld het behoefte aan die evangelie, maar belydende Christene drom saam waar hulle self die voorregte van die evangelie kan geniet. Hulle is nie bewus van die noodsaaklikheid daarvan om nuwe gebiede in besit te neem deur die verlossingsboodskap na afgeleë plekke te neem nie. Hulle weier om te voldoen aan Christus se opdrag: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” Markus 16:15. Is hulle minder skuldig as wat die Joodse kerk was?DGC 216.2

    Die beweerde volgelinge van Christus is op proef voor die hemel, maar die kilheid van hulle ywer en die swakheid van hulle diens vir God dui aan dat hulle ontrou is. As hulle hulle bes gedoen het, sou daar geen veroordeling op hulle rus nie, maar as hulle harte in die werk was, kon hulle baie meer uitrig. Hulle weet, en die wêreld weet, dat hulle in‘n groot mate die gees van selfverloëning om die kruis te dra, verloor het. Daar is vele teenoor wie se name daar in die boeke van die hemel geskryf sal staan: “Nie produsente nie, maar verbruikers.” Vele wat die Naam van Christus dra, hou Sy heerlikheid dig, bedek Sy skoonheid met‘n sluier, vereer Hom nie.DGC 216.3

    Daar is baie wie se name op die kerkboeke staan, wat nie deur Christus beheer word nie. Hulle gee nie ag op Sy bevele nie en doen nie Sy werk nie. Dus is hulle onder die beheer van die vyand. Hulle doen niks wat positief goed is nie; daarom doen hulle onberekenbare skade. Omdat hulle invloed nie ‘n reuk van die lewe tot die lewe is nie, is dit ‘n reuk van die dood tot die dood.DGC 217.1

    Die Here sê: “Sou ek hieroor geen besoeking doen nie?.” (Jer. 5:9) Omdat hulle nagelaat het om Gods doel te verwesenlik, is die kinders van Israel verwerp en het die roepstem van God na ander volke uitgegaan. As hierdie geslag dan ook ontrou is, sal hulle dan nie ook verwerp word nie?DGC 217.2

    In die gelykenis van die wingerd het Christus die landbouers skuldig verklaar. Dit was hulle wat geweier het om aan hulle heer die vrug van sy grond terug te besorg. Onder die Joodse volk was dit die priesters en leermeesters wat, deurdat hulle die volk mislei het, God van die diens beroof het waarop Hy aanspraak gemaak het. Dit is hulle wat die volk van Christus af weggekeer het.DGC 217.3

    Christus het die wet van God sonder menslike oorleweringe voorgehou as die groot maatstaf van gehoorsaamheid. Dit het die vyandskap van die rabbi’s verwek. Hulle het menslike leerstellings bokant Gods Woord gestel en die volk van Sy voorskrifte afgekeer. Hulle wou hulle mensgemaakte gebooie nie laat vaar om die vereistes van Gods Woord te gehoorsaam nie. Hulle was onwillig om die trots van die rede en die lof van die mense ter wille van die waarheid op te offer. Toe Christus gekom en die eise van God aan die volk voorgehou het, het die priesters en ouderlinge ontken dat Hy die reg het om tussen hulle en die volk te tree. Hulle wou Sy teregwysinge en waarskuwings nie aanneem nie, en hulle het hulle voorgeneem om die volk teen Hom op te sweep en om Sy ondergang te bewerkstellig.DGC 217.4

    Vir die verwerping van Christus, en die gevolge daarvan was hulle verantwoordelik. ‘n Nasie se sonde en ‘n nasie se ondergang was die skuld van die godsdienstige leiers.DGC 217.5

    Is dieselfde invloed nie in ons dag werksaam nie? Volg baie van die land-bouers in die Here se wingerd nie in die voetstappe van die Joodse leiers nie? Is godsdienstige leermeesters nie besig om mense van die duidelike vereistes van die Woord van God weg te keer nie? Pleks dat hulle hulle leer om die wet van God te gehoorsaam, leer hulle hulle nie om dit te oortree nie? In baie kerke word die mense van die preekstoel af geleer dat die wet van God nie vir hulle verpligtend is nie. Mensgemaakte oorleweringe, verordeninge en gebruike word verhef. Hoogmoed en self tevredenheid weens die gawes van God word aangemoedig en Gods eise word geïgnoreer.DGC 217.6

    Mense weet nie wat hulle doen wanneer hulle Gods wet afskaf nie. Die wet van God is ‘n skriftelike weergawe van Sy karakter. Dit beliggaam die beginsels van Sy koninkryk. Hy wat weier om hierdie beginsels aan te neem, bring hom buite die kanaal waar Gods seëninge vloei.DGC 218.1

    Die heerlike moontlikhede wat aan Israel voorgehou is, kon alleenlik deur gehoorsaamheid aan Gods gebooie verwesenlik word. Dieselfde veredeling van die karakter, dieselfde ryke seëninge - seëninge op verstand, siel en liggaam, op huis en landerye, op hierdie lewe en op die lewe wat kom - is alleenlik deur gehoorsaamheid vir ons moontlik.DGC 218.2

    In die geestelike wêreld, net soos in die natuurlike, is gehoorsaamheid aan die wette van God die voorwaarde waarop vrugte gedra word. En as mense die volk leer om Gods gebooie te verontagsaam, verhinder hulle hulle om vrugte tot Sy eer te dra. Hulle gee nie aan die Here die vrugte uit Sy wingerd nie.DGC 218.3

    Gods boodskappers kom op bevel van die Meester na ons toe. Hulle kom, soos Christus gekom het, en vereis gehoorsaamheid aan die Woord van God. Namens Hom eis hulle die vrugte van die wingerd op - die vrugte van liefde en nederigheid en selfopofferende diens. Word baie van die landbouers van die wingerd nie soos die Joodse leiers tot woede beweeg nie? Wanneer die aansprake van die wet van God aan die volk voorgehou word, gebruik hierdie leermeesters nie hulle invloed om mense te beweeg om dit te verwerp nie? God noem sulke leraars ontroue diensknegte.DGC 218.4

    Die woorde van God aan Israel van ouds bevat ‘n plegtige waarskuwing vir die hedendaagse kerk en sy leiers. Van Israel het die Here gesê: “Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag.” (Hosea 8:12) En aan die priesters en leermeesters het Hy verklaar: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, ... omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6)DGC 218.5

    Sal die waarskuwings van God verontagsaam word? Sal die geleenthede vir diens verwaarloos word? Sal die veragting van die wêreld, die roem van rede, gelykvormigheid aan menslike gewoontes en oorleweringe keer dat die belydende volgelinge van Christus Hom dien? Sal hulle die Woord van God verwerp net soos die Joodse leiers Christus verwerp het? Die gevolge van Israel se sonde is voor ons. Sal die hedendaagse kerk die waarskuwing aanneem?DGC 219.1

    “En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie ... roem nie. ... Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.” Rom. 11:17-21.DGC 219.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents