Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 19—Die Maat van Vergifnis

    Na aanleiding van Matt. 18:21-35

    PETRUS het na Christus gekom met die vraag, “Hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?” Die rabbi’s het vergifnis tot drie oortredings beperk. Petrus het gedink dat hy die leer van Christus uitvoer deur dit tot sewe te verleng, die getal wat volmaaktheid aangedui het. Maar Christus het geleer dat ons nooit moet moeg word om te vergewe nie. “Nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.”DGC 167.1

    Toe het Hy die ware grondslag vir vergifnis verstrek en ook gewaarsku teen die gevaar van onvergewensgesindheid. In ‘n gelykenis het Hy vertel van ‘n koning se behandeling van die amptenare wat sy staatsake behartig het. Sommige van hierdie amptenare het groot somme staatsgeld ontvang. Toe die koning hulle administrasie van hierdie trustgelde ondersoek het, is een man voor hom gebring wat die ontsaglike bedrag van tienduisend talente aan sy heer geskuld het. Hy het niks gehad waarmee hy kon betaal nie, en volgens gebruik, het die koning beveel dat hy verkoop moes word saam met alles wat syne was sodat die skuld gedelg kon word. Maar die vreesbevange man het aan sy voete neergeval en gesmeek: “Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal.” En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld.DGC 167.2

    Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: “Betaal my wat jy my skuld.” Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: “Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal.” En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het. En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?” En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was.”DGC 167.3

    Hierdie gelykenis verstrek besonderhede wat nodig is vir die voltooiing van die prent, maar wat in sy geestelike betekenis met niks anders presies ooreenstem nie. Die aandag moet nie daardeur weggelei word nie. Sekere groot waarhede word geïllustreer en hieraan moet ons ons aandag skenk.DGC 168.1

    Die vergifnis wat hierdie koning skenk, stel Goddelike vergifnis van alle sonde voor. Christus word voorgestel deur die koning wat innig jammer gevoel en die skuld van sy dienskneg afgeskryf het. Die mens was onder die veroordeling omdat hy die wet oortree het. Hy kon hom nie self red nie en om hierdie rede het Christus na die wêreld gekom, Sy Godheid met mensheid beklee en Sy lewe gegee, die regverdige vir die onregverdige. Hy het Homself ter wille van ons sonde gegee, en aan elke siel bied Hy die bloedgekoopte vergifnis vryelik aan. “By die Here is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing.” Ps. 130:7.DGC 168.2

    Hier is die grondslag vir ontferming oor ons medesondaars. “As God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.” 1 Joh. 4:11. “Julle het dit verniet ontvang,” sê Christus, “verniet moet julle dit gee.” (Matt. 10:8)DGC 168.3

    In die gelykenis, toe die skuldenaar om uitstel gepleit het en beloof het: “Wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal,” is die vonnis herroep. Die skuld as geheel is uitgewis. En hy is spoedig ‘n geleentheid gegun om die voorbeeld te volg van sy heer wat hom vergewe het. Op sy pad uit het hy‘n mededienskneg teëgekom wat hom ‘n klein bedraggie geskuld het. Hom is tienduisend talente kwytgeskeld; die skuldenaar het hom ‘n honderd pennings geskuld. Maar hy wat met soveel genade behandel is, het sy medearbeider op ‘n heel ander manier behandel. Sy skuldenaar het gepleit net soos hy voor die koning gepleit het, maar sonder dieselfde gevolge. Hy wat so pas vergifnis ontvang het, was nie teergevoelig en jammerhartig nie. Die genade wat aan hom betoon is, het hy self nie beoefen in sy handelwyse met sy mededienskneg nie. Hy het die versoek om geduldig te wees, veronagsaam. Die klein bedraggie wat aan hom ver- skuldig was, was a! waaraan die ondankbare dienskneg wou dink. Hy het alles geëis wat hom na sy mening toegekom het, en het dieselfde vonnis voltrek as dié wat so genadiglik in sy geval herroep is.DGC 168.4

    Hoeveel is daar nie deesdae wat dieselfde gees openbaar nie. Toe die skuldenaar by sy heer om genade gepleit het, het hy nie ‘n ware begrip van die omvang van sy skuld gehad nie. Hy het sy hulpeloosheid nie besef nie. Hy het gehoop om homself te verlos. “Wees lankmoedig met my,” het hy gesê, “en ek sal u alles betaal.” So is daar baie wat hoop om Gods guns deur hulle eie werke te verdien. Hulle besef nie hulle hulpeloosheid nie. Hulle aanvaar nie die genade van God as ‘n vrye gawe nie, maar probeer om hulle in hulle eiegeregtigheid te regverdig. Hulle eie harte is nie gebroke en verootmoedig oor die sonde nie, en hulle is veeleisend en onvergewensgesind teenoor andere. Hulle eie sondes teen God vergeleke met hulle broeder se sondes teen hulle is soos tienduisend talente teen ‘n honderd penningsbyna ‘n miljoen teen een, tog durf hulle onvergewensgesind wees.DGC 169.1

    In die gelykenis laat die heer die onbarmhartige skul-denaar roep, “en sê vir hom: “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?” En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was.” “So sal ook my hemelse Vader,” het Jesus gesê, “aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.” Hy wat weier om te vergewe, verbeur daardeur sy eie hoop op vergifnis.DGC 169.2

    Maar die les wat hierdie gelykenis leer, moet nie verkeerd toegepas word nie. Dat God ons vergewe, verminder geensins ons plig om Hom te gehoorsaam nie. So ook verminder vergewensgesindheid teenoor ons medemense geen sins ons regmatige verpligting nie. In die gebed wat Jesus Sy dissipels geleer het, het Hy gesê: “Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” (Matt. 6:12) Hiermee het Hy nie bedoel dat om vergewe te word, ons nie regmatige skuld van ons skuldenaars mag eis nie. As hulle nie kan betaal nie, al is dit weens swak bestuur, moet hulle nie in die gevangenis gewerp, onderdruk of selfs sleg behandel word nie, maar die gelykenis leer ons nie om luiheid aan te moedig nie. Die woord van God verklaar dat as iemand nie wil werk nie, hy ook nie moet eet nie (2 Thess. 3:10) Die Here verwag nie dat die hardwerkende man ander in hulle luiheid moet sterk nie. By vele tref ons tydverkwisting aan, ‘n gebrek aan inspanning, wat armoede en behoefte meebring. As hierdie foute nie deur die betrokke persone self reggesien word nie, is alles wat vir hulle gedoen word, soos om skatte in ‘n sak met gate te gooi. Tog is daar onvermydelike armoede en ons moet teerheid en meegevoel openbaar teenoor diegene wat nie bevoorreg is nie. Ons moet andere behandel net soos ons, in dergelike omstandighede, sou behandel wil word.DGC 169.3

    Deur die apostel Paulus vermaan die Heilige Gees ons: “As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te he, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s‘n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” Filip. 2:1-5.DGC 170.1

    Maar sonde moenie ligtelik beskou word nie. Die Here het ons beveel dat ons nie die verkeerde in ons broeder moet toelaat nie. Hy sê: “En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom.” (Lukas 17:3) Sonde moet by sy regte naam genoem word en dit moet duidelik voor die oortreder blootgelê word.DGC 170.2

    In sy opdrag aan Timotheus het Paulus deur die Heilige Gees geskrywe: “Hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering.” 2 Tim. 4:2. En aan Titus skrywe hy: “Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is. ... Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees.”Titus 1:10-13.DGC 170.3

    “En as jou broeder teen jou sondig,” het Christus gesê, “gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” (Matt. 18:15-17)DGC 170.4

    Onse Here leer dat onmin tussen Christene binne die gemeente geskik moet word. Hulle behoort nie blootgestel te word voor diegene wat God nie vrees nie. As’n Christen deur sy broeder veronreg word, laat hy hom nie op ongelowiges in ‘n hof beroep nie. Laat hom doen wat Christus geleer het. Pleks dat hy hom wreek, laat hom probeer om sy broeder te red. God sal die belange van diegene beskerm wat Hom liefhet en vrees en ons kan ons saak gerus aan Hom toevertrou wat regverdig oordeel.DGC 171.1

    Alte dikwels as verkeerde dade oor en oor gedoen word, en die oortreder sy skuld bely, word die veronregte persoon moeg, en hy dink hy het al heeltemal genoeg vergewe. Maar die Heiland het ons duidelik vertel hoe ons die een wat ongelyk het, moet behandel: “As jou broeder teen jou sondig; bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.” (Lukas 17:3) Moenie afsydig staan teenoor hom asof hy u vertroue nie werd is nie. Let “op jouself... dat jy ook nie versoek word nie.” (Gal. 6:1).DGC 171.2

    As u broeders sondig, moet u hulle vergewe. As hulle na u toe kom met belydenis, behoort u nie te sê: “Ek dink nie dat hulle nederig genoeg is nie. Ek dink nie hulle voel hulle belydenis nie.” Watter reg het u om hulle te oordeel, asof u die hart kan lees? Die Woord van God sê, “As hy berou kry, vergewe hom. En as hy sewe maal op ‘n dag teen jou sondig en sewe maal op ‘n dag na jou terugkom en sê: “Ek het berou - moet jy hom vergewe.” Lukas 17:3,4. En nie net sewe maal nie, maar sewentig maal sewe - net so dikwels as wat God u vergewe.DGC 171.3

    Ons is self alles verskuldig aan Gods vrye genade. Genade in die verbond het ons aanneming verorden. Genade in die Heiland het ons verlos-sing, ons wedergeboorte en ons verheffing tot medeerfgename van Christus bewerkstellig. Laat hierdie genade aan andere geopenbaar word.DGC 171.4

    Gee aan die een wat sondig geen geleentheid om mismoedig te word nie, U moet nie toelaat dat‘n Farisese hardheid indring en u broeder seermaak nie. Laat geen bittere spotlag in u gedagtes of u hart opwel nie; U moet nie toelaat dat daar ‘n sweempie van veragting in u stem gehoor word nie. As u‘n woord van u eie spreek, as u, u onverskillig hou of agterdog of wantroue aan die dag lê, kan dit die ondergang van ‘n siel beteken. Hy het ‘n broeder nodig, een met die medelyde van die Ouer Broer om sy mensehart aan te raak. Laat hom die sterk druk van ‘n simpatieke hand voel, en die fluistering hoor: “Laat ons bid.” God sal aan u albei ‘n ryke ondervinding skenk. Gebed verenig ons met mekaar en met God. Gebed bring Jesus na ons sy, en gee aan die wankelmoedige, verwarde siel nuwe krag om die wêreld, die vlees en die duiwel te oorwin. Gebed weer die aanvalle van die Satan af.DGC 171.5

    Wanneer mens menslike onvolmaaktheid veronagsaam en Jesus aanskou, kom daar ‘n Goddelike verandering in die karakter. Die Gees van Christus wat op die hart werk, pas dit by Sy beeld aan. Streef dan om Jesus omhoog te hou. Vestig die geestesoog op “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1:29) En terwyl u hierdie werk doen, onthou dat “die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.” (Jak. 5:20).DGC 172.1

    “Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Matt. 6:15. Niks kan onvergewensgesindheid regverdig nie. Hy wat ongenadig is teenoor andere, toon dat hy self geen deel het aan Gods vergewende genade nie. Met die vergifnis wat God skenk, word die hart van die oortreder nader getrek aan die groot hart van Oneindige Liefde. Die stroom Goddelike meegevoel vloei in die siel van die sondaar in, en van hom af na die siele van andere. Die tederheid en genade wat Christus in Sy eie kosbare lewe bewys het, sal in diegene wat in Sy genade gedeel het, gesien word. “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” Rom. 8:9. Hy is van God vervreemd, net geskik om vir ewig van Hom geskei te wees.DGC 172.2

    Hy het miskien wel eenmaal vergifnis ontvang, maar sy onbarmhartigheid toon aan dat hy Gods vergewende liefde nou van die hand wys. Hy het hom van God geskei en is in dieselfde toestand as voordat vergifnis aan hom geskenk is. Hy het sy bekering verloën, en sy sondes rus op hom asof hy hom nooit bekeer het nie.DGC 172.3

    Maar die groot les in die gelykenis is die onderskeid tussen Gods barmhartigheid en die hardheid van die mensehart; die feit dat Gods vergewende genade die maatstaf moet wees van ons eie. “Moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?”DGC 172.4

    Ons word nie vergewe omdat ons vergewe nie, maar soos ons vergewe. Die grondslag van alle vergifnis is die onverdiende liefde van God, maar deur ons houding teenoor andere toon ons of ons daardie liefde ons eie gemaak het. Daarom sê Christus: “Met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Matt. 7:2)DGC 173.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents