Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 4—Onkruid

    Na aanleiding van Mattheus 13:24-30, 37-43

    ‘N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.”DGC 37.1

    “Die saailand” het Christus gesê, “is die wêreld.” Maar ons moet verstaan dat dit die kerk van Christus in die wêreld is. Die gelykenis is ‘n beskrywing van iets wat die koninkryk van God raak - Sy verlossingswerk vir die mens - en hierdie werk word deur die kerk gedoen. Dit is waar dat die Heilige Gees na die wêreld uitgegaan het; Hy werk orals op menseharte; maar dit is in die kerk waar ons moet groei en ryp word vir die oes van God.DGC 37.2

    “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. ... Die goeie saad - dit is kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose.” Die goeie saad stel diegene voor wat uit die woord van God, die waarheid, gebore word. Die onkruid stel ‘n klas voor wat die vrugte of wese is van dwaling, van valse beginsels. “Die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel.” Nog God, nog Sy engele het ooit‘n saad gesaai wat een stukkie onkruid sou oplewer. Onkruid word altyd deur die Satan, die vyand van God en mens, gesaai.DGC 37.3

    In die Ooste het mense soms op ‘n vyand wraak geneem deur sy pasgesaaide landerye met die saad van skadelike onkruid te besaai wat gedurende die groeityd baie soos koring lyk. Dit het saam met die koring opgewas, en die oes bederf sodat die eienaar van die land groot skade gely het. Uit vyandigheid teenoor Christus saai die Satan sy bose saad tussen die goeie graan van die koninkryk. Die vrug van sy saaiwerk skryf hy aan die Seun van God toe. Deur diegene in die kerk in te bring wat net in naam aan Christus behoort, maar Sy karakter verloën, veroorsaak die Bose dat God oneer aangedoen, die verlossingswerk verkeerdelik voorgestel en siele in gevaar gestel word.DGC 37.4

    Christus se dienaars word bedroef as hulle sien dat opregte en valse gelowiges saam in die kerk is. Hulle verlang om iets te doen om die kerk te suiwer. Soos die diensknegte van die huisheer is hulle gereed om die onkruid uit te roei. Maar Christus sê aan hulle: “Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe.”DGC 38.1

    Christus het duidelik geleer dat diegene wat openlik in sonde volhard uit die kerk verwyder moet word, maar Hy het nie aan ons die werk toevertrou om ander se karakters en motiewe te oordeel nie. Hy ken ons aard te goed om hierdie werk aan ons toe te vertrou. Sou ons probeer om diegene uit die kerk uit te roei wat na ons mening valse Christene is, sou ons gewis foute begaan. Dikwels beskou ons juis diegene as hopeloos wat Christus besig is om nader tot Hom te trek. Handel ons volgens ons onvolmaakte oordeel met hierdie siele, sou dit miskien hulle laaste hoop blus. Baie wat meen dat hulle Christene is, sal uiteindelik te lig bevind word. Baie sal in die hemel wees wie se bure hulle nie daar verwag nie. Die mens oordeel na die uiterlike, maar God oordeel die hart. Die onkruid en die koring moet saam groei tot die oes toe; en die oes is die einde van die genadetyd.DGC 38.2

    Daar is in die Heiland se woorde ‘n ander les, ‘n les van verdraagsaamheid en tere liefde. Soos die onkruid sy wortels heg verbind met die van die goeie graan, so kan valse broeders in die kerk heg verbind wees met die ware dissipels. Die ware aard van hierdie skyngelowiges is nie ten voile bekend nie. As hulle van die kerk geskei moes word, sou ander miskien tot struikel gebring word wat andersins standvastig sou gebly het.DGC 38.3

    Die leer van hierdie gelykenis word geillustreer deur die manier waarop God self met mense en engele handel. Die Satan is’n bedrieër. Toe hy in die hemel gesondig het, het selfs die getroue engele sy karakter nie ten voile verstaan nie. Daarom het God die Satan nie onmiddellik vernietig nie. As Hy dit gedoen het, sou die heilige engele die regverdigheid en liefde van God nie begryp het nie. Twyfel oor Gods goedheid sou ‘n bose saad gewees het wat die wrange vrug van sonde en ellende sou dra. Daarom is die bewerker van die sonde gespaar om sy karakter ten voile te ontwikkel. Deur die lange eeue verduur God reeds die smart om die werk van ongeregtigheid te aanskou; Hy het die weergalose Gawe van Golgota gegee, eerder as om enigeen deur die wanvoorstellings van die Bose te laat verlei; want onkruid kan nie uitgetrek word sonder die gevaar om kosbare graan te ontwortel nie. Sal ons dan nie net so verdraagsaam jeens ons medemense wees as wat die Here van hemel en aarde teenoor Satan is nie?DGC 38.4

    Die wêreld het geen reg om die waarheid van die Christelike leer te betwyfel omdat daar onwaardige lidmate in die kerk is nie, en Christene moet ook nie weens hierdie valse broeders mismoedig word nie. Hoe was dit met die vroeë kerk gesteld? Ananias en Saffira het hulle by die dissipels aangesluit. Simon Magus is gedoop. Demas, wat Paulus verlaat het, is as gelowige gereken. Judas Iskariot is onder die apostels getel. Die Heiland wil geen siel verloor nie. Sy ondervinding met Judas is opgeteken om Sy lankmoedigheid met die verdorwe menslike natuur te toon; en Hy sê dat ons dit moet verdra soos Hy dit verdra het. Hy het gesê dat valse broeders tot aan die einde toe in die kerk gevind sal word.DGC 39.1

    Ondanks Christus se waarskuwing het mense nogtans geprobeer om die onkruid uit te trek. Om diegene te straf wat oënskynlik kwaaddoeners was, het die kerk hom op die siviele gesag beroep. Diegene wat van die gevestigde leerstellings verskil het, is in die gevangenis gegooi, gefolter en gedood op aandrang van mense wat voorgegee het dat hulle op gesag van Christus handel. Maar dit is die gees van die Satan, nie die Gees van Christus nie, wat sulke dade besiel het. Dit is die Satan se eie metode om die wêreld onder sy beheer te bring. Die kerk het God verkeerd voorgestel deur so met sogenaamde ketters te handel.DGC 39.2

    Nie die veroordeling van andere nie, maar nederigheid en wantroue in die self, is die les uit Christus se gelykenis, Nie alles wat in die land gesaai is, is goeie graan nie. Die feit dat mense in die kerk is, is geen bewys dat hulle Christene is nie.DGC 39.3

    Terwyl die halms nog groen was, het die onkruid baie soos die koring gelyk, maar toe die land wit was vir die oes, het die nuttelose onkruid glad nie soos die koring gelyk wat gebuig het onder die las van die vol, ryp are nie. Sondaars wat voorgee om vroom te wees, verkeer tydelik met die ware volgelinge van Christus, en die skyn van Christelikheid bedrieg vele, maar in die oes van die wêreld sal daar geen ooreenkoms wees tussen goed en kwaad nie. Dan sal hulle wat hulle by die kerk aangesluit het, maar nie by Christus nie, geopenbaar word.DGC 39.4

    Die onkruid word toegelaat om saam met die koring te groei, om die voordele van son en reën ten voile te geniet; maar in die tyd van die oes “sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Mal. 3:18) Christus self sal besluit wie waardig is om saam met die hemelse gesin te woon. Hy sal elke mens oordeel volgens sy woorde en sy werke. Belydenis kom nie in aanmerking nie. Dit is karakter wat die lotsbestemming bepaal.DGC 40.1

    Die Heiland verwys nie na ‘n tyd in die toekoms wanneer al die onkruid koring sal word nie. Die koring en die onkruid groei saam tot die tyd van die oes, die einde van die wêreld. Dan word die onkruid in bondels gebind om verbrand te word en die koring word in die graanskure van God bymekaargebring. “Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader” en “die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”DGC 40.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents