Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Eerste Geskrifte

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 13—Die Boodskappers

    Die Here het my dikwels ‘n gesig laat sien van die toestand en behoeftes van die verstrooide juwele wat nog nie gekom het tot die lig van die teenwoordige waarheid nie, en Hy het aan my getoon dat die boodskappers na hulle toe moet haas so vinnig as wat hulle kan om die lig aan hulle te bring. In die geval van vele rondom ons hoef ons maar net die vooroordeel af te breek en die bewyse vir ons standpunt uit die Woord voor hulle te lê, en hulle sal die teenwoordige waarheid met blydskap aanneem. Die boodskappers moet op die uitkyk wees vir siele soos diegene wat rekenskap sal moet gee. Hulle moet met ‘n ernstige gees werk met die besef dat die dierbare en dikwels verkeerd voorgestelde saak van Christus op hulle skouers rus. Hulle sal alle wêreldse belange en gemaksug moet afskud, en hulle eerste doelwit moet wees om alles in hulle mag te doen om die teenwoordige waarheid te bevorder en verlore gaande siele te red.EG 55.1

    Hulle sal ‘n ryke loon ontvang. In hulle krone sal diegene wat deur hulle gered is, soos sterre blink vir ewig en altyd. En deur die ewigheid sal hulle die genot smaak van die wete dat hulle gedoen het wat hulle kon om die waarheid in sy skoonheid en heerlikheid voor te stel sodat siele dit liefgekry het, daardeur geheilig is, daardeur ryk geword het, gewas is in die bloed van die Lam, en vrygekoop is tot God.EG 55.2

    Ek het gesien dat die herders diegene moet raadpleeg in wie hulle vertroue het, diegene wat in al die boodskappe was en vasstaan in die teenwoordige waarheid, voordat hulle nuwe punte van belang verkondig wat, soos hulle dink, deur die Bybel gestaaf word. Dan sal die herders heeltemal eensgesind wees, en die eensgesindheid van die herders sal deur die kerk gevoel word. Ek het gesien dat so ‘n weg ongelukkige verdeeldheid sal uitskakel, en dan sal daar geen gevaar wees dat die dierbare kudde verdeel en die skape verstrooi en herderloos word nie.EG 55.3

    Ook het ek gesien dat God boodskappers het wat Hy in Sy saak wil gebruik, maar hulle was nie gereed nie. Hulle was te lig en onbekwaam om ‘n goeie invloed op die kudde uit te oefen, en hulle het nie die erns van die saak aangevoel en die waarde van siele wat Gods boodskappers behoort te voel nie. Die engel het gesê, “Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here! Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here.” Hulle sal maar min kan uitrig tensy hulle hul heeltemal aan die Here oorgee en onderdie indruk kom van die belangrikheid en erns van die laaste genade boodskap wat nou aan die verstrooide kudde gegee moet word. Sommige wat glad nie deur God geroep is nie is sommer baie gewillig om die boodskap te gaan verkondig. Maar as hulle die gewig en die erns van die verantwoordelikheid van sulke werk kon besef, sou hulle eerder terugdeins en saam met die apostel vra, “Wie is tot hierdie dinge bekwaam.” Een rede waarom hulle so gewillig is om te gaan, is omdat God nie die erns van die saak op hulle gelê het nie. Nie almal wat die eerste en die tweede engel se boodskappe verkondig het, moet die derde engel se boodskap verkondig nie, al het hulle dit self ten volle aangeneem, want sommige het in soveel dwalings verkeer dat hulle maar net hulle eie siele kan red, en as hulle sou onderneem om ander te lei, sou hulle net hulle ondergang bewerkstellig. Ek het gesien dat sommige van diegene wat voorheen geneig was om baie fanatiek te word, ook sommer voortvarend sal wees om te hardloop voordat God hulle gestuur het en voor hulle van hulle vorige dwalings gereinig is; met dwaalleer en waarheid deurmekaar in hulle hart, sal hulle die kudde van God wil voed, en as hulle sou toegelaat word om daarmee voort te gaan, sou die kudde sieklik word, en dwaling en die dood sou volg. Ek het gesien dat hulle gesif en weer gesif sal moet word, totdat hulle bevry is van alle dwaalleer, of hulle sal nie die koninkryk kan binnegaan nie. Die boodskappers kan nie dieselfde vertroue in die oordeel hê van diegene wat eers dwalings verkondig het en fanatiek was as in diegene wat in die waarheid is en nie die slagoffers van groot dwalings was nie. Dan ook is daar baie wat mense wat pas die teenwoordige waarheid aangeneem het, aanpor om in die veld uit te gaan mense wat nog veel het om te leer en baie het om te doen voordat hulle self voor God reg kan wees, en hoe kan hulle die weg vir ander aanwys.EG 55.4

    Ek het gesien hoe nodig dit is, veral vir boodskappers, om op die uitkyk te wees vir fanatisme en dit teen te gaan orals waar hulle dit sien. Die Satan druk aan alle kante, en tensy ons waaksaam is en wakker loop vir sy strikke en planne, en die volle wapenrusting van God aan het, sal die vurige pyle van die Bose ons tref. Daar is baie heerlike waarhede in die Woord van God, maar dit is die “teenwoordige waarheid” wat die kudde nou nodig het. Ek het die gevaar gesien van boodskappers wat afdwaal van die belangrike punte van die teenwoordige waarheid, en onderwerpe beklemtoon wat nie die kudde sal verenig en wat nie tot heiligmaking sal strek nie. Die Satan sal hier elke voordeel uitbuit om die saak van die waarheid te skaad.EG 56.1

    Maar sulke onderwerpe soos die heiligdom in verband met die 2,300 dae, die gebooie van God, en die geloof van Jesus, sal die verlede van die advent beweging verduidelik en aantoon wat ons huidige posisie is; dit sal die geloof bevestig van diegene wat twyfel, en sekerheid gee vir die heerlike toekoms. Hierdie dinge, het ek dikwels gesien, is die vernaamste onderwerpe wat die boodskappers moet beklemtoon.EG 57.1

    As die gekose boodskappers van die Here moes wag totdat elke struikelblok uit hulle pad weggeruim is, sal vele nooit na die verstrooide skape gaan soek nie. Die Satan sal baie besware in hulle hart lê om hulle terug te hou van hulle plig.EG 57.2

    Maar hulle sal in die geloof moet uitgaan, vertrouende op Hom wat hulle tot Sy werk geroep het, en Hy sal die weg voor hulle oopmaak in soverre dit tot hulle beswil en tot Sy heerlikheid mag strek. Jesus, die groot Leraar en Voorbeeld, het geen plek gehad waar Hy Sy hoof kon neerlê nie. Sy lewe was ‘n lewe van werk, verdriet, en lyding; en eindelik het Hy Sy lewe vir ons gegee. Diegene wat as gesante van Christus siele smeek om met God versoen te raak, en wat hoop om saam met Christus in heerlikheid te regeer, moet verwag om ook deelgenote van Sy lyde hier op aarde te wees. “Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.”Ps. 126:5,6. EG 57.3

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents