Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Eerste Geskrifte

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 22—Evangelie-Organisasie

    Die Here het gewys dat evangelie-organisasie te veel gevrees en verwaarloos is. 1Die Adventiste het aan alle kerke behoort, en aan die begin het hulle geen plan gehad om nog 'n genootskap te stig me. Ná 1844 was daar groot verwarring, en die meerderheid was gekant teen enige soort organisasie daar hulle gemeen het dat dit teenstrydig was met die volkome vryheid van die evangelie. Die getuienis en werk van Mevrou White het fanatisme altyd teen gegaan, en in die voorligting wat deur haar gekom het, is daar aangedring op die een of ander vorm van organisasie as noodsaaklik om verwarring te vermy. Ons moet bang wees vir vormlikheid, maar ons moet sorg dat orde nie verwaarloos word nie. Daar is orde in die hemel. Daar was orde in die kerk toe Christus hier op aarde was, en ná Sy hemelvaart is orde streng gehandhaaf onder Sy apostels. En nou, in hierdie laaste dae, onderwyl God Sy kinders tot eensgesindheid bring in die geloof, is daar groter behoefte aan orde as ooit tevore; want namate God Sy kinders verenig, is die Satan en sy bose engele druk 0besig om hierdie eensgesindheid te belet en te vernietig. Daarom gebeur dit dat manne haastig in die veld uitgestuur word wat gebrek aan wysheid het en wat onoordeelkundig is-manne wat moontlik hulle eie huise nie goed regeer en nie die orde kan handhaaf oor die paar siele waaroor God hulle in die huis aangestel het nie; maar nogtans voel hulle bekwaam om toesig te hou oor ‘n groot kudde. Hulle doen baie dinge wat verkeerd is, en diegene wat onbekend is met ons geloof meen dat al die boodskappers soos hierdie selfgestuurde manne is. So word die saak van God in onguns gebring, en baie mense verwerp die waarheid wat hulle andersins sou ondersoek het.EG 91.1

    Mense wie se lewens nie heilig is nie, en wat onbekwaam is om die teenwoordige waarheid te leer, gaan in die veld uit sonder dat hulle erken word deur die kerk of die broeders in die algemeen, en die gevolg is verwarring en verdeeldheid.EG 91.2

    Sommige het ‘n teoretiese kennis van die waarheid; hulle kan die argumente lewer, maar daar is gebrek aan geestelikheid, oordeel, en ondervinding; hulle skiet kort in baie dinge wat hulle behoort te verstaan voordat hulle die waarheid kan leer. Ander kan weer nie die argumente lewer nie, maar omdat ‘n paar van die broeders gehoor het dat hulle mooi kan bid, en so nou en dan ook ‘n opwindende toespraak kan lewer, word hulle in die veld uitgestoot om ‘n werk te doen waarvoor God hulle nie toegerus het nie, en waarvoor hulle nie die nodige ondervinding en oordeelkundigheid het nie. Geestelike hoogmoed tree te voorskyn, hulle word hovaardig, en hulle handel onder die wanbegrip dat hulle werkers is. Hulle ken hulleself nie. Daar is gebrek aan oordeelkundigheid, hulle kan nie geduldig redeneer nie, hulle praat groot van hulleself, en beweer baie dinge wat hulle nie kan bewys uit die Woord van God nie. God weet dit; daarom roep Hy nie sulke mense om te werk in hierdie gevaarlike tye nie, en die broeders moet daarteen waak om mense in die veld uit te stuur wat God nie geroep het nie.EG 91.3

    Die manne wat God nie geroep het nie is gewoonlik juis die wat so absoluut seker is dat hulle wel geroep is, en dat hulle werk baie belangrik is. Hulle gaan in die veld uit, en in die algemeen is hulle nie ‘n goeie invloed nie; op sommige plekke is hulle wel suksesvol, en dit laat hulle en ander dink dat hulle gewis deur God geroep is. Omdat ‘n man ‘n bietjie sukses behaal, is dit geen positiewe bewys dat hy deur God geroep is nie, want die engele van God werk nou in die harte van Sy opregte kinders om hulle verstand te verlig om die teenwoordige waarheid te verstaan sodat hulle dit kan aanneem en lewe. En al sou selfgestuurde manne hulle self plaas waar God hulle nie geplaas het nie, en sê dat hulle leraars is, en siele die waarheid aanneem omdat hulle dit verkondig het, is dit geen bewys dat daardie manne deur God gestuur is nie. Die siele wat die waarheid van hulle kry, ontvang dit om in beproewing en slawerny te beland, daar hulle later sal ontdek dat hierdie manne nie deur God gelei is nie. Al sou goddelose manne die waarheid verkondig, mag daar diegene wees wat dit aanneem; maar dit sal nie daardie manne wat dit verkondig het in die guns van God bring nie. Goddelose manne bly nog goddelose manne, en hulle straf sal wees volgens die bedrog wat hulle gepleeg het teenoor die geliefdes van God, en volgens die verwarring wat hulle in die kerk gebring het; hulle sondes sal nie bedek bly nie, maar sal geopenbaar word in die dag van Gods toorn.EG 92.1

    Hierdie selfgestuurde boodskappers is ‘n vloek vir die saak. Opregte siele vertrou hulle, en meen dat hulle onder die leiding van God handel en in harmonie is met die kerk; daarom laat hulle hul toe om die nagmaal te bedien, en namate dit vir hulle duidelik word dat een van hulle eerste pligte is om hulle te laat doop, laat hulle toe dat daardie manne hulle doop. Maar wanneer die lig kom, soos dit sekerlik sal kom, en hulle ontdek dat daardie manne nie is wat hulle gemeen het, naamlik Gods gekose boodskappers nie, begin hulle te twyfel aan die waarheid wat hulle ontvang het, en voel hulle dat hulle alles van nuuts af moet leer; die vyand bring hulle in twyfel in verband met hulle ervaring of hulle deur God gelei was of nie, en hulle is nie tevrede totdat hulle weer ‘n nuwe begin gemaak het en oorgedoop is nie. Dit is baie meer vermoeiend vir die gees van Gods boodskappers om te gaan na plekke waar diegene was wat ‘n verkeerde invloed laat geld het, as om op ‘n heeltemal nuwe plek te gaan werk. Gods dienaars moet duidelik en openlik handel, en nie verkeerde dinge bedek nie, want hulle staan tussen die lewendes en die dode en sal moet rekenskap gee van hulle getrouheid, hulle sending, en die invloed wat hulle gehad het op die kudde van die Here waaroor hulle as opsigters aangestel is.EG 92.2

    Diegene wat die waarheid aanneem en in sulke beproewings beland, sou die waarheid tog gekry het as hierdie manne weggebly en die nederige posisies beklee het wat die Here vir hulle beoog het. God het Sy oog gehou oor Sy juwele, en Hy sou na hulle Sy geroepe en gekose boodskappers gestuur het-manne wat met wysheid sou gehandel het. Die lig van die waarheid sou aan daardie siele hulle ware posisie getoon het, en hulle sou die waarheid op verstandige wyse aangeneem het, en tevrede gewees het met die skoonheid en helderheid daarvan. En namate hulle die kragtige werking daarvan gevoel het, sou hulle sterk geword en ‘n heilige invloed gehad het.EG 93.1

    Nog weer is die gevaar aan my getoon van mense wat gaan reis wanneer God hulle nie geroep het nie. As hulle suksesvol is, sal hulle gebrek aan bekwaamheid gevoel word. Hulle sal onverstandige dinge doen, en deur gebrek aan wysheid mag kosbare siele gedryf word tot die plek waar hulle nie bereik kan word nie. Ek het gesien dat die kerk sy verantwoordelikheid moet besef, en die lewens, kwalifikasies, en algemene gedrag deeglik moet ondersoek van diegene wat hulleself uitgee as leraars. As daar nie onmiskenbare bewyse is dat God hulle geroep het nie, en hulle nie voel dat die”wee my!”op hulle is as hulle nie die roeping gehoorsaam nie, is dit die plig van die kerk om op te tree en reguit te sê dat die kerk hierdie mense nie as leraars erken nie. Dit is die enigste weg wat die kerk kan inslaan om duidelik op te tree in hierdie saak, want die verantwoordelikheid rus op hom.EG 93.2

    Ek het gesien dat hierdie deur waar die vyande inkom om die kudde lastig te val en in verwarring te bring, toegemaak kan word. Ek het aan die engel gevra hoe dit gesluit kon word. Hy het geantwoord, “Die kerk moet vlug na Gods Woord en bevestig word op die evangelie-organisasie, wat oor die hoof gesien en verwaarloos is.” Dit is absoluut nodig om die kerk tot eensgesindheid in die geloof te bring. Ek het gesien dat die kerk in die tyd van die apostels gevaar geloop het om verlei te word deur valse leraars. Daarom het die broeders manne gekies wat voldoende bewys gelewer het dat hulle bekwaam is om hulle eie huise goed te regeer en die orde te handhaaf in hulle eie gesinne, en om diegene te verlig wat in duisternis verkeer het. God is omtrent sulke manne geraadpleeg, en dan, ooreenkomstig die gevoelens van die kerk en Heilige Gees, is hulle afgesonder deur die oplegging van hande. Nadat hulle hul opdrag van God ontvang het, en deur die kerk goedgekeur is, het hulle uitgegaan en gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; hulle het die Avondmaal bedien, en dit dikwels gedoen om die heiliges deur die simbole van die gebroke liggaam en die vergote bloed van die gekruisigde Heiland gedurig te herinner aan Sy lyde en dood.EG 94.1

    Ek het gesien dat die gevaar van valse leraars vandag net so groot is as in die tyd van die apostels, en as ons niks meer doen nie, moet ons net sulke spesiale reëlings tref as hulle getref het om die vrede, harmonie, en eenheid van die kudde te bewaar. Ons het hulle voorbeeld en ons behoort dit te volg. Broeders met gesonde verstand en ervaring moet saamkom, volgens die Woord van God en die leiding van die Heilige Gees, moet hulle, na vurige gebed, die hande lê op diegene wat volkome bewys gelewer het dat hulle van God geroep is, en hulle moet daardie manne afsonder om hulle heeltemal aan Sy werk te wy. Hierdie handelwyse sal toon dat hulle die goedkeuring van die kerk het om uit te gaan as boodskappers van die plegtigste boodskap wat nog ooit aan mense gegee is.EG 94.2

    God sal nie die sorg van Sy kudde opdra aan manne wie se verstand en oordeel verswak is deur hulle vorige dwalings nie, soos byvoorbeeld die leer van perfeksionisme en van Spiritisme; manne wat terwyl hulle so gedwaal het, hulleself en die saak van die waarheid in die skande gebring het. Alhoewel hulle nou mag voel dat hulle vry is van dwaalleer, en bekwaam is om uit te gaan en die laaste boodskap te verkondig, sal God hulle nie aanneem nie. Hy sal nie kosbare siele aan hulle sorg toevertrou nie, want hulle verstand is verdraai toe hulle gedwaal het, en is dus verswak. Die grote en heilige God is ‘n jaloerse God, en dit is Sy wil dat alleen heilige manne Sy waarheid sal verkondig. Die heilige wet wat God van Sinai afgekondig het, is ‘n deel van Homself, en alleen heilige manne wat die wet stip nakom, kan Hom vereer deur dit aan ander te leer.EG 94.3

    Die dienaars van God wat die waarheid leer, behoort oordeelkundige manne te wees. Hulle behoort manne te wees wat teenstand kan verduur sonder om opgewonde te raak, want diegene wat die waarheid weerstaan, sal diegene aanval wat dit verkondig, en hulle sal alle moontlike besware, in die ergste vorms bring teen die waarheid. Die dienaars van God wat die boodskap dra, moet in staat wees om hierdie besware te beantwoord, kalm en nederig in die lig van die waarheid. Dikwels spreek die teenstanders van die waarheid die predikante van God op ‘n uittartende wyse aan om hulle iets te laat sê in dieselfde gees, sodat hulle dit later kan gebruik om hulle bewerings te staaf dat die leraars van die wet ‘n bitter en onverdraagsame gees het. Ek het gesien dat ons gereed moet wees vir besware, en dat ons hulle geduldig, oordeelkundig, en nederig moet oorweeg, en hulle nie sommer moet minag of met positiewe bewerings uit die weg wil ruim deur los te trek of die teenstander en ‘n harde gees teen hom te openbaar nie; die besware moet in die lig en krag van die waarheid beantwoord, en so uit die weg geruim word. Op hierdie manier sal daar ‘n goeie indruk gemaak word, en eerlike teenstanders sal dan erken dat hulle verkeerd was, en dat die bewaarders van die gebooie nie is soos hulle vyande voorstel nie.EG 95.1

    Diegene wat voorgee om dienaars van die lewende God te wees, moet gewillige dienaars van almal wees pleks van hulleself te verhef bokant die broeders; en hulle moet ‘n vriendelike en hoflike gees openbaar. As hulle ‘n fout begaan behoort hulle gewillig te wees om dit deeglik te bely. Eerlike bedoelings moet nie aangevoer word as ekskuus om nie foute te bely nie. So ‘n belydenis sal nie die vertroue van die kerk in sy boodskapper verminder nie, en daardeur sal hy ‘n goeie voorbeeld stel; ook sal dit die gees van belydenis aanmoedig in die kerk, en heerlike eensgesindheid sal die uitwerking wees. Diegene wat voorgee om leraars te wees, behoort die voorbeeld van vroomheid, sagmoedigheid, en nederigheid te stel; hulle moet vriendelik wees om siele te win vir Jesus en die waarheid van die Bybel. ‘n Predikant van Christus moet in woord en daad rein wees. Hy behoort gedurig te onthou dat hy geinspireerde woorde gebruik, die woorde van ‘n heilige God. Hy moet ook onthou dat die kudde aan sy sorg toevertrou is, dat hy hulle lewens voor Jesus moet bring en vir hulle moet bid soos Jesus vir ons by die Vader pleit. Ek is terugverwys na die kinders van Israel, en ek het gesien hoe rein en heilig die dienaars in die heiligdom moes wees, want deur hulle werk is hulle in noue aanraking met God gebring. Hulle wat bedien, moet heilig, rein, en sonder smet wees, of God sal hulle verdelg. God het nie verander nie. Hy is vandag nog net so heilig en rein, en nog net so noulettend as voorheen. Diegene wat voorgee om dienaars van Jesus te wees, moet manne van ondervinding en groot vroomheid wees; dan sal hulle ook ten alle tye en op alle plekke ‘n heilige invloed kan laat geld.EG 95.2

    Ek het gesien dat dit nou tyd is vir die boodskappers om in te dring orals waar daar openinge is, en dat God voor hulle sal uitgaan om die harte van sommige te open om te luister. Nuwe plekke moet binnegedring word, en, orals waar dit gedoen word, sou dit goed wees as twee saam kon werk sodat die een die ander kan ondersteun. ‘n Plan soos die volgende is aan my voorgestel: Dit sal goed wees as twee broeders saam kan gaan en saam kan reis na die donkerste plekke waar daar sterk teenstand is, en waar harde werk nodig is; met gesamentlike pogings en met groot geloof moet hulle dan die waarheid voorstel aan diegene in die duisternis. As dit dan nodig is vir hulle om baie plekke te besoek, kan hulle alleen uitgaan, maar hulle moet dikwels saamkom op toer, om mekaar aan te moedig deur hulle geloof, en so sal hulle mekaar kan sterk. Ook moet hulle beraadslaag oor plekke wat vir hulle oop is, sodat hulle kan besluit watter een van hulle se gawes die beste op ‘n sekere plek kan gebruik word; en op watter wyse hulle die grootste sukses sal behaal om harte te bereik. As hulle dan weer moet skei, sal dit met nuwe krag en moed wees om te stry teen teenstand en duisternis, en te werk vir die redding van verlore gaande siele.EG 96.1

    Ek het gesien dat die dienaars van God nie dieselfde arbeidsveld oor en oor moet bewerk nie; hulle moet op nuwe plekke na siele gaan soek. Diegene wat reeds in die waarheid bevestig is” moet nie soveel aanspraak maak op hulle dienste nie; want hulle behoort nou alleen te kan staan, en ander rondom hulle te kan versterk terwyl die boodskappers van God afgeleë en donker plekke besoek om die waarheid te bring aan diegene wat nog nie verlig is met die teenwoordige waarheid nie.EG 97.1

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents