Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Eerste Geskrifte

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 32—Inleiding

    Die gawe van profesie is geopenbaar in die kerk tydens die Joodse dispensasie. As dit vir ‘n paar eeue gewyk het ten gevolge van die verrotte toestand van die kerk teen die einde van daardie dispensasie, het dit weer aan die einde van daardie tydperk te voorskyn gekom om die Messias aan te kondig. Sagaria, die vader van Johannes die Doper, was vervul met die Heilige Gees “en het geprofeteer.” Simeon, ‘n regverdige en vroom man, “het die vertroosting van Israel verwag,” hy het deur die Heilige Gees in die tempel gekom, en van die Kindjie Jesus geprofeteer dat Hy sal wees ,,‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel” Anna, ‘n profetes, het van Hom “gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.” En daar was geen groter profeet as Johannes die Doper nie, wat deur God gekies is om aan Israel te sê, “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.”EG 131.1

    Die Christelike dispensasie het begin met die uitstorting van die Gees, en ‘n groot verskeidenheid van geestelike gawes is onder die gelowiges geopenbaar. Die gawes was so oorvloedig dat Paulus aan die gemeente te Korinthe geskryf het, “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is”-aan elkeen in die kerk, nie aan elkeen in die wêreld soos vele hierdie teks uitlê nie.EG 131.2

    Sedert die groot afval word hierdie gawes maar selde geopenbaar; en dit is waarskynlik ook die rede waarom belydende Christene oor die algemeen glo dat die gawes beperk was tot die beginstadium van die kerk. Maar moet ons nie die feit dat die gawes opgehou het, toeskryf aan die dwalings en ongeloof van die kerk nie? En wanneer die volk van God weer glo en lewe soos die vroeë kerk, soos hulle gewis sal doen ten gevolge van die verkondiging van die gebooie van God en die geloof in Jesus, sal die “laat reëns”dan nie weer die gawes terugbring nie? Volgens die voorbeeld van die verlede behoort ons dit te verwag. Nieteenstaande die afdwalings in dietyd van die Jode, het daardie tydperk begin en is dit afgesluit met spesiale openbarings van die Gees van God. En is dit nou onredelik om te veronderstel dat die Christelike tydperk-die lig waarvan, in vergelyking met die vorige bedeling, soos die lig van die son is vergeleke met die flou strale van die maanin heerlikheid sou begin en in duisternis sou afsluit? En aangesien die spesiale werk van die Gees nodig was om ‘n volk voor te berei vir die eerste koms van Christus, hoeveel te meer is dit nie nodig om die mense vir die tweede koms te berei nie; veral daar die laaste dae gevaarliker tye sal wees as ooit te vore, en valse profete groot tekens en wonders sal doen, om selfs die uitverkorenes te verlei as dit sou moontlik wees. Maar wat sê die Skrif?EG 131.3

    “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word. En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.”Markus 16:15-18.EG 132.1

    Campbell se vertaling sê,“Hierdie wonderwerkende kragte sal onder die gelowiges wees.”Hierdie gawes was nie beperk tot die apostels nie, maar het ook op die gelowiges gekom. Wie sal hulle ontvang? Diegene wat glo. Hoe lank? Daar is geen bepaling nie; die belofte is gegee saam met die opdrag om die evangelie te verkondig, en dit is vir alle gelowiges.EG 132.2

    Maar daar word beswaar gemaak dat hierdie hulp net aan die apostels belowe is, en aan diegene wat geglo het deur hulle prediking; dat hulle hul opdrag uitgevoer het, die evangelie bevestig het, en dat die gawes opgehou het met daardie geslag. Laat ons sien of die opdrag geëindig het met daardie geslag. Mattheus 28:19, 20 lui:“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”EG 132.3

    Dat die verkondiging van die evangelie onder hierdie opdrag nie geëindig het in die vroeë kerk nie, blyk duidelik uit die belofte, “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Hy sê nie, “Ek is met julle, apostels, orals, tot aan die eindes van die aarde” nie; maar, “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld, of die Christelike era.” Dit sal nie help om te sê dat net die Joodse eeu bedoel was nie, want dit het reeds by die kruis geëindig. Ek kom dus tot die gevolgtrekking dat die prediking en die geloof van die evangelie altyd vergesel sal wees van dieselfde geestelike hulp. Die opdrag aan die apostels behoort aan die Christelike era, en het die hele tydperk ingesluit. Die gawes is verloor deur afvalligheid, en hulle sal weer herstel word met die herlewing van die eertydse geloofen praktyk.EG 132.4

    In 1 Korinthiërs 12:28, word ons meegedeel dat God sekere geestelike gawes in die kerk gestel het. En by die gemis aan enige skriftuurlike bewys dat Hy die gawes teruggetrek of afgeskaf het, moet ons aanneem dat dit die doel was dat hulle sou bly. Waar is dan die bewys dat hulle afgeskaf is? Ons vind dit in dieselfde hoofstuk waar ons lees dat die Joodse Sabbat afgeskaf is en die Christelike daarvoor in die plek gestel is, naamlik, ‘n hoofstuk in die Handelinge van die Verborgenheid van die Ongeregtigheid en die Mens van die Sonde. Maar die beswaarmakers maak aanspraak op Bybelse bewys dat die gawes sou ophou, en hulle meen dat dit die volgende skriftuur is:“Die liefde vergaan nooit nie; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan. Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan. Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek klaar met die dinge van ‘n kind. Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde.” 1 Kor. 13:8-13.EG 133.1

    Hierdie teks voorspel dat die geestelike gawes tot niet sal gaan, ook geloof en hoop. Maar wanneer sou hulle ophou? Ons sien nog uit na die tyd wanneer-EG 133.2

    “Hoop sal oorgaan tot werklikheid, Geloof tot aanskouing, en gebed tot lof.”EG 133.3

    Hulle sal ophou wanneer die volmaaktheid gekom het; wanneer ons nie langer in ‘n spieël soos in ‘n raaisel sien nie, maar van aangesig tot aangesig. Die volmaakte dag, wanneer die regverdiges volmaak sal wees, en sien soos hulle gesien is, is nog in die toekoms. Dit is waar dat die mens van die sonde, toe hy sy manlike jare bereik het, sulke “kinderagtige dinge” soos profesieë, tale, kennis, en ook geloof en hoop en die liefde van die vroeë Christene afgeskaf het. Maar daar is niks in die teks om te wys dat dit Gods plan was om die gawes weg te neem wat Hy in die kerk gestel het, voordatdie kerk die verwesenliking van sy geloofen hoop gesien het, en voordat die alles oortreffende heerlikheid van die onsterflike staat die grootste vertonings van geestelike krag en kennis wat nog ooit in hierdie verganklike wêreld gesien is, in die skaduwee sal stel nie.EG 133.4

    Die beswaar wat aangevoer word uit 2 Timotheus 3: 16, wat vir sommige so gewigtig lyk, verdien werklik nie veel aandag nie. As Paulus, toe hy gesê het dat die Skrifte die mens van God volkome kan toerus, vir elke goeie werk, bedoel het dat niks meer onder ingewing sou geskryf word nie, waarom was hy juis op daardie oomblik besig om stukke by te voeg tot die Skrifte? Of waarom het hy nie, toe hy daardie sin geskryf het, sy pen neergegooi nie? En waarom het Johannes, dertig jaar daarna, die boek van Openbaring geskryf? Ook daardie boek bevat ‘n teks wat gebruik word om te bewys dat die geestelike gawes afgeskaf is.EG 134.1

    “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dingewaarvan in hierdie boekgeskrywe is.”Openb. 22:18,19.EG 134.2

    Uit hierdie tekste word afgelei dat God, wat baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, en in die begin van die evangeliebedeling deur Jesus en Sy apostels, nou op plegtige wyse belowe het om nooit weer enigiets op hierdie wyse aan die mens te openbaar nie. Daarom moet alle profeteerdery ná hierdie datum vals wees. Hierdie skrifgedeelte, so word beweer, het die kanon van die Skrifte voltooi. As dit so is, waarom het Johannes dan sy evangelie geskryf ná sy terugkeer van Patmos na Efese? Het hy, deur dit te doen, bygevoeg tot die profesie van die boek geskrywe op die eiland Patmos? Dit blyk duidelik uit die teksverband dat die waarskuwing in verband met byvoeging tot, en weglating van, nie betrekking het op die saamgestelde Bybelboek nie, maar op die boek van Openbaring, soos dit van die hand van die apostel gekom het. Maar geen mens het die reg om iets by te voeg of weg te laat van enige boek van die Bybel wat onder inspirasie van God geskryf is nie. Het Johannes, toe hy die boek Openbaring geskryf het, iets bygevoeg tot die boek van Daniël se profesie? Nee( hoegenaamd nie. ‘n Profeet het geen reg om die Woord van God te verander nie. Maar die gesigte van Johannes bevestig dié van Daniël, en werp baie bykomstige lig op die onderwerpe wat daar behandel is. Ek besluit dus dat die Here Homself nie gebind het om te swyg nie, maar dit Hom nog vrystaan om te spreek. Laat dit altyd die taal van my hart wees, Spreek Here, deur wie U wil, want U dienskneg luister.EG 134.3

    Die poging dus, om uit die Skrifte te probeer bewys dat die geestelike gawes afgeskaf is, is ‘n volslae mislukking. En aan gesien die poorte van die hel nie geseëvier het teen die kerk nie, en God nog ‘n volk op die aarde het, mag ons ‘n ontwikkeling van die geestelike gawes verwag in verband met die derde engel se boodskap-‘n boodskap wat die kerk terug sal bring op apostoliese grond, en dit inderwaarheid die lig, en nie die duisternis van die wêreld sal maak nie.EG 135.1

    Ons is gewaarsku dat daar in die laaste dae valse profete sal wees, en die Bybel gee ons ‘n toets om hulle leer te beproef of hulle eg of vals is. Die hoof toets is die wet van God waardeur die woorde en die sedelike karakter van die profete getoets moet word. As daar geen egte profesieë in die laaste dae sou wees nie, hoe maklik sou dit gewees het om dit reguit te sê en sodoende die deur te sluit vir alle bedrog, liewer as om ‘n toets te gee om die profete te toets, en wat daarop dui dat daar valse sowel as egte sou wees.EG 135.2

    In Jesaja 8:19,20, is daar ‘n profesie oor die gees wat waarsê, en die toets vir hulle is: “Na die wet en na die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie!” Waarom word daargesê, “As hulle nie ...spreek nie”as daar terselfdertyd geen egte geestelike openbarings of profesieë sal wees nie? Jesus het gesê, “Pas op vir valse profete.... Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.”Matt. 7:15,16. Dit is deel van die bergprediking, en almal kan sien dat hierdie prediking van algemene toepassing is op die kerk van die evangelie bedeling. Valse profete sal aan hulle vrugte geken word, met ander woorde, aan hulle sedelike karakter. Die enigste maatstaf waarby ons kan vasstel of vrugte goed of sleg is, is die wet van God. So word ons gebring tot die wet en tot die getuienis. Ware profete sal nie alleen spreek volgens daardie Woord nie, maar hulle sal ook daarvolgens lewe. En iemand wat so lewe, durf ek nie veroordeel nie.EG 135.3

    Dit was nog altyd kenmerkend van valse profete dat hulle gesigte van vrede sien; en terwyl hulle”vrede, vrede,“roep-dan oorval ‘n skielike verderf hulle. Die ware profete sal sonder vrees alle sonde bestraf, en waarsku van komende toorn.EG 136.1

    Profesieë wat die duidelike en positiewe verklarings van die Woord weerspreek, moet verwerp word. So het ons Heiland Sy dissipels geleer toe Hy hulle gewaarsku het in verband met die wyse van Sy tweede koms. Toe Jesus voor die oë van Sy dissipels na die hemel opgevaar het, het die engele uitdruklik gesê dat dieselfde Jesus wat hulle na die hemel sien opvaar het, weer net so sou kom soos hulle Hom na die hemel sien wegvaar het. Daarom het Jesus, in Sy voorspelling van die werk van die valse profete in die laaste dae, gesê,“As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn-moet nie uitgaan nie. Kyk, Hy is in die binnekamer-moet dit nie glo nie.” Alle ware profesieë in hierdie verband sal dui op Sy sigbare koms uit die hemel. Waarom het Jesus nie gesê, verwerp alle profesieë in daardie tyd, want daar sal dan geen ware profete wees nie?EG 136.2

    “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man en die mate van die volle grootte van Christus.” Efe. 4: 11-13.EG 136.3

    Uit ‘n vorige vers van hierdie skrifgedeelte lees ons dat Christus, toe Hy opgevaar het, gawes aan die mense gegee het. Onder die gawes word genoem apostels, profete, evangeliste, herders, en leraars. Die doel van die gawes was om die heiliges tot die eenheid van die geloof en van die kennis te bring. Sommige wat hulle vandag uitgee as herders en leraars betoog dat hierdie gawes hulle doel volkome bereik het sowat agtienhonderd jaar gelede, en dat hulle opgehou het.EG 136.4

    Hoekom doen hulle dan nie afstand van hulle titels as herders en leraars nie? As die amp van profeet deur hierdie teks beperk is tot die vroeë kerk, dan geld dit ook vir die van evangelis, en al die ander; want daar word geen uitsondering gemaak nie.EG 136.5

    Laat ons ‘n bietjie verder op hierdie punt ingaan. Al die gawes is gegee vir die opbouing van die heiliges totdat almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis, en die gees. Onder hulle invloed het die vroeë kerk daardie eenheid beleef: “Die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel.”Ten gevolge van hierdie eenheid het die apostels “met grote krag ... getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en grote genade was oor hulle almal.”Hand. 4:31-33. Hoe nodig is so ‘n toestand nie vandag nie! Maar afvalligheid het verdeeldheid gebring, die skoonheid van die kerk bederf en haar met sak en as beklee. Verdeeldheid en wanordelikheid was die gevolg. Nog nooit was daar sulke verdeeldheid in die Christendom as vandag nie. As die gawes nodig was om die eenheid van die vroeë kerk te bewaar, hoe nodig is dit dan nie vandag om die eenheid te herstel nie! En dat dit die doel van God is om in die laaste dae die eenheid van die kerk te herstel, blyk baie duidelik uit die profesieë. Ons word verseker dat die wagters eenders sal sien wanneer die Here Sion weer sal herstel. Ook word gesê dat die verstandiges aan die einde sal verstaan. Wanneer dit gebeur sal daar eenheid van geloof wees onder almal wat God as wys beskou; want diegene wat inderwaarheid reg verstaan, moet noodwendig eenders verstaan. Wat sal hierdie eenheid bring as dit nie die gawes is wat vir daardie doel gegee is nie?EG 137.1

    Uit wat ons aangevoer het is dit duidelik dat die volmaakte staat van die kerk wat hier voorspel is, nog in die toekoms is, en dus het hierdie gawes nog nie hulle doel bereik nie. Die brief aan die Efesiërs is geskryf in die jaar 64 n.C. sowat twee jaar voordat Paulus aan Timotheus geskryf het dat hy gereed was om geoffer te word, en dat die tyd van sy heengaan naby was. Die saad van die afval het toe begin opkom in die kerk, want tien jaar tevore het Paulus in sy tweede brief aan die Thessalonicense geskryf,“Die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.”Verskeurende wolwe het op die punt gestaan om die kerk binne te dring, en hulle sou nie die kudde spaar nie. Die kerk was toe nie op weg na daardie volkome eenheid waarna die teks verwys nie, maar daar sou sektes en skeurings ontstaan. Die apostel het dit geweet; maar hy het ook seker verby daardie tydperk van die groot afval gesien, na die tyd van die versameling van die oorblyfsel van Gods volk, toe hy gesê het, “Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof.” Efe. 4:13. Die gawes wat in die kerk geplaas is, het dus nog nie hulle tyd uitgedien nie.EG 137.2

    “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie.” I Thess. 5:19-21.EG 138.1

    In hierdie brief het die apostel die onderwerp van die tweede koms van die Here ingelui. Daarna het hy die toestand van die ongelowige wêreld in daardie tyd beskryf, wat sal sê, “Vrede en veiligheid,” wanneer die dag van die Here skielik op hulle sal kom, en ‘n skielike verderf hulle sal oorval soos ‘n dief in die nag. Toe het hy die kerk, met die oog op hierdie dinge, vermaan om wakker en nugter te wees en te waak. In sy vermaning het hy ook die woorde gebruik wat ons reeds aangehaal het, “Blus die Gees nie uit nie,“ens. Sommige mag dink dat hierdie drie tekste los van mekaar staan wat hulle betekenis betref, maar hulle is natuurlik verbind in hulle volgorde. Die persoon wat die Gees uitblus, sal die profesieë verag wat die wettige vrug is van die Gees. “Daarna sal Ek My Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer.” Joël 2: 28. Die uitdrukking, “Beproef alle dinge,” is beperk tot die onderwerp onder bespreking, naamlik profeteerdery, en ons moet die geeste toets met die maatstaf wat God aan ons gegee het in Sy Woord. Geestelike bedrog en valse profesieë is teenswoordig algemeen; en hierdie teks het ongetwyfeld ‘n spesiale toepassing in hierdie verband. Verstaan goed, die apostel sê nie, Verwerp alle dinge nie, maar: Beproef alle dinge; behou die goeie.EG 138.2

    “En daarna sal Ek My Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en diensmaagde sal Ek in die dae My Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rook pilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed voordat die grote en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die Here gesê het, en onder die vrygemaaktes wat die Here sal roep.”Joël 2:28-32.EG 138.3

    Hierdie profesie van Joël, wat verwys na die uitstorting van die Heilige Gees in die laaste dae, is nie heeltemal vervul aan die begin van die evangelie bedeling nie. Dit blyk duidelik uit die verwysing na die wondertekens aan die hemel en op die aarde, wat die voorlopers sou wees van die “grote en deurlugtige dag van die Here” Alhoewel ons die tekens reeds gehad het, is daardie vreeslike dag nog in die toekoms. Ons kan die hele evangelie bedeling die laaste dae noem, maar om te beweer dat die laaste dae reeds 1,800 jaar in die verlede is, is belaglik. Hulle sal strek tot die dag van die Here en die verlossing van die oorblyfsel van Gods volk: “Want op die berg Sion en in Jerusalem sal daarontkoming wees soos die Here gesê het, en onder die vrygemaaktes wat die Here sal roep.”EG 138.4

    Die oorblyfsel wat daar sal wees in die tyd van die wonder tekens wat die grote en deurlugtige dag van die Here inlui, is ongetwyfeld die oorblyfsel van die saad van die vrou waarna verwys word in Openbaring 12: 17-die laaste geslag van die kerk op aarde. “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te maak met haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”EG 139.1

    Die oorblyfsel van die evangeliekerk sal al hierdie gawes besit. Daar sal oorlog teen hulle gemaak word omdat hulle die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus hou. (Openb. 12:17.) InOpenbaring 19:10, word daar gesê dat die getuienis van Jesus die gees van die profesie is. Die engel het gesê, “Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het.”ln Openbaring 22:9, herhaal hy feitelik dieselfde woorde as volg: “Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete.” As ons die twee tekste vergelyk, sal ons die krag sien van die uitdrukking, “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.” Maar die getuienis van Jesus sluit al die gawes van daardie een Gees in. Paulus het gesê:“Ek dank my God altyd oorjulle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus’gegee is, dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis; soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle, sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus.” 1 Kor. 1: 4-7. Die getuienis van Jesus is bevestig in die kerk te Korinthe; en wat was die gevolg? Hulle het in geen enkele genadegawe agtergestaan nie. Is ons gevolgtrekking dan nie geregverdig nie dat wanneer die oorblyfsel volkome bevestig is in die getuienis van Jesus hulle in geen gawe sal agterstaan terwyl hulle wag op die koms van onse Here Jesus Christus nie?EG 139.2

    R. F. Cottrell.

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents