Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Boodskap

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Ondersoekende Oordeel

    Net soos die sondes van die volk in die ou tyd op die sondoffer geplaas is en dit deur sy bloed, in beeld, in die aardse heiligdom ingebring is, so ook word die sondes van die boetvaardiges onder die nuwe verbond deur geloof op Christus geplaas en in werklikheid in die hemelse heiligdom ingebring. En net soos die sinnebeeldige reiniging van die aardse heiligdom geskied het deur die verwydering van die sondes wat dit besoedel het, so ook word die werklike reiniging van die hemelse heiligdom teweeggebring deur die verwydering of die uitdelging van die sondes wat daar opgeteken is. Maar voor dit kan geskied, moet daar ‘n ondersoek van die boeke wees om vas te stel wie deur belydenis van sondes en geloof in Christus geregtig is op die seëninge van Sy versoening. Die reiniging van die heiligdom bring dus ‘n werk van ondersoek mee - ‘n oordeelswerk. Hierdie werk moet gedoen word voor die wederkoms van Christus om Sy volk te verlos, want wanneer Hy kom, kom Hy met Sy loon om almal te vergeld volgens hulle werke. [Openb. 22:12] [GS 482]DBo 151.2

    In die sinnebeeldige diens het alleen diegene wat hulle sondes bely het en wie se sondes deur die bloed van die sondoffer in die heiligdom ingeneem is, deel gehad. So ook sal daar op daardie groot dag van uiteindelike versoening en die ondersoekende oordeel net die sake van Gods volk in aanmerking kom. Die oordeel van die goddelose is heeltemal ‘n afsonderlike werk en dit vind later plaas. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin, by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” 1 Pet. 4:17. [GS 548]DBo 151.3

    Waar die boeke in die oordeel geopen word, ondersoek God die lewens van almal wat ooit in Jesus geglo het. Beginnende met die lewens van diegene wat eerste op die aardie gelewe het, stel ons voorspraak die sake van elke daaropvolgende geslag voor en Hy sluit af met die sake van diegene wat nog lewe. Elke naam word genoem en elke saak word deeglik ondersoek. Name word goedgekeur en name word verwerp. As enigeen sonde wat nie bely en nie vergewe is nie, in die boeke van die hemel het, sal sy naam uit die boek van die lewe uitgedelg word en sy goeie dade sal uitgewis word uit Gods gedenkboek. Aan Moses het die Here gesê: “Wie teen My gesondig het, die sal Ek uitdelg uit my boek.” Exod. 32:33. En die profeet Esegiël sê: “As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen... aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie.” Esegiël 18:24. [GS 548]DBo 152.1

    Ons leef vandag in die groot versoendag. Terwyl die hoëpriester in die sinnebeeldige diens besig was om versoening te doen vir Israel, moes almal hulle siele in bekering voor die Here verootmoedig sodat hulle nie onder die volk uitgeroei sou word nie. Net so ook behoort almal wat nou hulle name wil laat bly in die boek van die lewe, in die paar dae van genadetyd wat nog oorbly hulle siele voor God te verootmoedig in berou vir hulle sonde en in ware bekering. Daar moet deeglike hartondersoek plaasvind. Die ligsinnige gees wat deur so baie belydende Christene geopenbaar word, moet versaak word. Daar lê ‘n ernstige stryd voor almal om die bose neigings wat hulle wil oormeester, te oorwin. Die voorbereidingswerk is ‘n persoonlike werk. Ons word nie in groepe gered nie. Die reinheid en toewyding van een sal nie die gebreke in die karakter van ‘n ander aanvul nie. Hoewel alle volke in die gereg voor God sal moet verskyn, sal Hy die lewe van elke persoon so deeglik ondersoek asof daar nie nog ‘n ander siel op aarde was nie. Elkeen moet getoets word en sonder vlek of rimpel of iets dergeliks bevind word.DBo 152.2

    Plegtig is die tonele wat in verband staan met die sluitingswerk van die versoening. Die allergewigtigste belange is daarin betrokke. Die oordeel is nou aan die gang in die hemelse heiligdom. Vir jare al is hierdie werk aan die gang. Spoedig - niemand weet hoe gou nie - kom die lewendes aan die beurt. In die vreeslike teenwoordigheid van God sal ons lewens in oënskou geneem word. In hierdie tyd, meer as in enige ander, behoort ons ag te gee op die Heiland se vermaning, “Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.” Mark 13:33. “As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” Openb. 3:3. Wanneer die ondersoekende oordeel afgesluit word, sal die lot van alle mense vir die dood of die lewe beslis wees. Die genadetyd sluit ‘n tyd voor die verskyning van die Here op die wolke van die hemel. In Openbaring, waar Christus vooruit sien na hierdie tyd, verklaar Hy:“Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen en wie vuil is, laat hom nog vuiler word. En kyk, Ek kom gou en My loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” Openb. 22:11,12. . [GS 558]DBo 152.3

    Op dieselfde wyse moet die tipes wat op die tweede koms betrekking het, ook op die tye vervul word wat in die sinnebeeldige diens aangetoon is. Onder die Mosaiese stelsel het die reiniging van die heiligdom of die groot versoendag, op die tiende dag van die sewende Joodse maand geval, toe die hoëpriester, nadat hy versoening vir die hele Israel gedoen en sodoende hulle sondes uit die heiligdom verwyder het, verskyn en die volk geseën het. (Lev.16:29-34). So is daar ook geglo dat Christus, ons groot Hoëpriester sou verskyn om die aarde te reinig deur die uitwissing van sonde en sondaars en om Sy wagtende volk die onsterflikheid te gee. Die tiende dag van die sewende maand, die groot versoendag , die tyd van die reiniging van die heiligdom, wat in die jaar 1844 op die twee-en-twintigste Oktober geval het, is beskou as die datum wanneer die Here sou kom. Dit het ooreengestem met die bewyse alreeds aangevoer, naamlik dat die 2 300 dae sou eindig in die herfs en daardie gevolgtrekking het onweerlegbaar geskyn. [GS458, 459]DBo 153.1

    Beide die profesie van Daniël 8:14, “Tweeduisend driehonderd aande en móres, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word” en die eerste engel se boodskap, “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom,“wys op Christus se bediening in die Allerheiligste plek, naamlik die ondersoekende oordeel en nie op die koms van Christus vir die verlossing van Sy volk en die vernietiging van die goddelose nie. Die fout is begaan, nie in die berekening van die profetiese tydperk nie, maar in verband met die gebeurtenis wat aan die einde van die 2 300 dae moes plaasvind. As gevolg van hierdie fout het die gelowiges teleurstelling ondervind, maar tog is alles wat deur die profesie voorspel is en alles wat hulle volgens die Skrifte verwag het, vervul. Op hierdie selfde tyd toe hulle die mislukking van hulle hoop betreur het, het, die gebeurtenis wat deur die boodskap voorspel is en wat moes vervul word voordat die Here kon kom om sy diensknegte te beloon, plaasgevind.DBo 153.2

    Christus het gekom, nie na die aarde soos hulle verwag het nie, maar soos deur die sinnebeeld voorafgeskadu, na die allerheiligste plek van die tempel van God in die hemel. Daniël stel Hom voor as komende tot die Oue van dae: “Ek het gesien in die naggesigte en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom, soos die Seun van ‘n mens en Hy het gekom, nie na die aarde toe nie, maar tot by die Oue van dae en hulle het Hom nader gebring voor Hom.”Dan. 7:13DBo 154.1

    Hierdie koms is voorspel deur die profeet Maleagi: “Dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare” Mal.3:1. Die koms van die Here na sy tempel was skielik en onverwags vir sy volk. Hulle het Hom nie daar gesoek nie. Hulle het verwag dat Hy na die aarde sou kom “in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.” 2 Thess. 1:8 [GS 486-487]DBo 154.2

    Wanneer die ondersoekingswerk klaar is, wanneer die lewens van almal wat deur die eeue heen bely het dat hulle navolgers van Christus was, ondersoek is, dan en nie voor die tyd nie, sal die genade tyd sluit en die genadedeur toegaan. In daardie een kort sinnetjie,“En die wat gereed was, het saam met Hom ingegaan na die bruilof en die deur is gesluit,” word ons gebring tot die einde van die Heiland se laaste bediening en tot die tyd wanneer die werk vir die verlossing van die mense voleindig is. [GS 491 ]DBo 154.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents