Die Groot Tyd Van Benoudheid
Wanneer Hy die heiligdom verlaat, bedek donkerheid die aardbewoners. In daardie vreeslike tyd moet die regverdiges voor ‘n heilige God leef sonder ‘n middelaar. Die bedwang wat die goddelose weerhou het, is nou opgehef en Satan het volkome beheer oor die verharde onboetvaardiges. Gods lankmoedigheid is beëindig. Die wêreld het Sy genade verwerp, Sy liefde versmaai en Sy wet vertrap. Die goddelose het die grense van hulle genadetyd oorskry; die Gees van God wat hulle so hardnekkig weerstaan het, is eindelik onttrek. Sonder die beskerming van goddelike genade, is daar vir hulle geen beskerming teen die Bose nie. Satan sal nou die aardbewoners in die laaste groot stryd dompel. Namate die engele van God die woeste winde van menslike drifte los, sal al die elemente van stryd vryelik woed. Die hele wêreld sal gewikkel word in ‘n verwoesting baie erger as die van Jerusalem vanouds. [GS 69,6]DBo 191.1
Diegene wat Gods wet vereer, word beskuldig dat hulle die oorsaak is van die oordele wat die wêreld tref en hulle sal ook beskou word as die oorsaak van die verskriklike stuiptrekkings van die natuur en die stryd en bloedvergieting wat die aarde met ellende vervul. Die krag waarmee die laaste waarskuwing gepaard gaan, maak die goddelose woedend; hulle woede bars los teen die gene wat die boodskap aangeneem het en Satan sal die gees van haat en vervolging tot groter heftigheid aanblaas. [GS 697]DBo 191.2
Die Here het keer op keer aan my getoon dat dit teen die Bybel is om enige voorsorg te maak vir ons stoflike behoeftes. Ek het gesien dat as die heiliges voedsel opgaar of op die lande het in die tyd van benoudheid, wanneer die swaar hongersnood en pessiektes in die land is, sal dit van hulle afgeneem word deur geweldenaars en vreemdelinge sal hulle lande afoes. Dan sal dit die tyd vir ons wees om heeltemal op God te vertrou en Hy sal ons onderhou. Ek het gesien dat ons brood en water in daardie tyd aan ons gegee sal word en dat ons geen gebrek of honger sal ly nie, want God is by magte om vir ons ’n tafel te dek in die woestyn. As dit nodig is, sal Hy kraaie stuur om ons te voed soos Hy vir Elia gevoed het of hy sal manna uit die hemel laat reën soos vir die Israeliete.DBo 191.3
Huise en grond sal in die tyd van benoudheid niks werd wees vir die heiliges nie, want hulle sal dan moet vlug voor die toomige gepeupel en in daardie tyd sal hulle nie hulle eiendom van die hand kan sit om die saak van die waarheid te bevorder nie. Aan my is getoon dat dit Gods wil is dat die heiliges alle bande moet verbreek wat hulle kan belemmer voordat die tyd van benoudheid begin en dat hulle ‘n verbond met God moet maak deur opoffering. As hulle hulle besittings op die altaar sou lê en God ernstig vra wat hulle plig is, sal Hy hulle leer wanneer om hierdie dinge van die hand te sit. Dan, in die tyd van benoudheid, sal hulle vry wees, sonder enige beslommering.DBo 192.1
Ek het gesien dat as daar diegene is wat aan hulle besittings vashou en nie die Here vra wat hulle plig is nie, sal Hy dit nie aan hulle bekend maak nie en hulle sal toegelaat word om hulle besittings te behou en in die tyd van benoudheid sal dit voor hulle staan soos ‘n berg om hulle te verpletter; hulle sal dan probeer om dit van die hand te sit, maar sal nie kan nie. Ek het gehoor hoe sommige hulle lot beklae. “Die saak het skade gely, Gods volk het gesmag na die waarheid en ons het geen poging gemaak om te voorsien in die behoefte nie; nou is ons besittings waardeloos. O, as ons dit maar opgegee en vir ons skatte in die hemel weggelê hetl” Ek het gesien dat ‘n offer nie vermeerder nie, maar steeds verminder totdat dit heeltemal verteer is. Ook het ek gesien dat God nie van al Sy kinders verwag om hulle besittings op dieselfde tyd van die hand te sit nie, maar as hulle geestelik is, sal Hy hulle leer, in ‘n tyd van behoefte, wanneer om te verkoop en hoeveel om te verkoop. Van sommige is in die verlede geverg dat hulle hulle besittings moet verkoop om die advent saak te onderhou, terwyl ander toegelaat is om hulle besittings te behou totdat daar ‘n behoefte is en dan, wanneer die saak dit nodig het, is dit hulle plig om te verkoop. [EG.50,1]DBo 192.2