Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Boodskap

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Einde Van Die Stryd

    Aan die einde van die duisend jaar kom Christus weer na die aarde toe terug. Hy word vergesel van ‘n leërskare van verlostes, asook deur ‘n gevolg van engele. Terwyl Hy in groot heerlikheid neerdaal, gebied Hy die goddelose dode om op te staan vir die uitvoering van hulle vonnis. Hulle kom voort, ‘n magtige leërskare, “ontelbaar soos die sand aan die see.” Wat ‘n teenstelling is dit met diegene wat in die eerste opstanding opgewek is! Die regverdiges het opgestaan, beklee met ewige jeug en skoonheid. Die goddelose staan op met die tekens van siekte en die dood. [GS 747]DBo 205.2

    Christus daal neer op die Olyfberg vanwaar Hy na Sy opstanding opgevaar het en waar die engele die belofte van Sy wederkoms herhaal het. Die profeet sê:“Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” ” ln die dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant en die Olyfberg sal in twee dele gesplyt word... sodat daar ‘n baie groot dal sal wees; en die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in die dag sal die Here een wees en Sy Naam een.” [Sag. 14:5,4,9] Wanneer die Nuwe Jerusalem in verblindende heerlikheid uit die hemel neerdaal sal dit tot rus kom op die plek wat daarvoor gereinig en gereed gemaak is en Christus met Sy volk en die engele sal die heilige stad binnegaan. [GS 748]DBo 205.3

    Satan bespreek sake met sy engele en daarna met hierdie konings en veroweraars en magtige manne. Hulle aanskou die mag en menigtes aan hulle kant en hulle verklaar dat die leër binne in die stad klein is vergeleke met hulle s'n en dat hulle dit kan oorwin. Hulle beraam planne om die rykdom en heerlikheid van die Nuwe Jerusalem in besit te neem. Dadelik maak almal gereed vir die slag. Bedrewe vakmanne maak oorlogstuig. Militêre leiers, beroemd vir hulle sukses, organiseer die menigtes in regimente en divisies. [GS 749]DBo 205.4

    Christus verskyn nou sodat Sy vyande Hom kan sien. Hoog bokant die stad, op ‘n fondament van blink goud, is ‘n troon, hoog en verhewe. Op hierdie troon sit die Seun van God en rondom Hom is die onderdane van Sy koninkryk. Geen pen kan die mag en majesteit van Christus beskryf nie. Die heerlikheid van die Ewige Vader omring Sy Seun. Die heerlikheid van Sy teenwoordigheid vervul die stad, maar dit strek buitekant die poorte en vervul die hele aarde met Sy glans. [GS750]DBo 206.1

    In die teenwoordigheid van die vergaderde bewoners van die aarde en die hemel vind die finale kroning van die Seun van God plaas. En nou, beklee met die opperste majesteit en krag, spreek die Koning van die konings die vonnis uit oor die rebelle teen Sy regering en daar word regverdige straf uitgedeel aan diegene wat Sy wet oortree en Sy volk verdruk het. Die profeet van God sê: “Ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan en die boeke is geopen en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat geskrywe is in die boeke, volgens hulle werke” (0penb.20:11,12).DBo 206.2

    Bokant die troon verskyn die kruis en panoramies word die tonele vertoon van Adam se versoeking en sondeval en die agtereenvolgende stappe in die groot verlossings plan. Die Heiland se nederige geboorte; Sy kinder-en jongelingsjare van eenvoud en gehoorsaamheid; Sy doop in die rivier Jordaan; Sy vas en versoeking in die woestyn; Sy openbare bediening waarin Hy aan die mense die hemel se kosbaarste seëninge ontvou het; die dae vol dade van liefde en genade; die nagte van gebed en die waking in eensaamheid op die berge; die sameswerings van afguns, haat en kwaadwilligheid waarmee Sy goedheid terugbetaal is; die ontsettende, misterieuse angs van Getsemane onder die verskriklike las van die sondes van die ganse wêreld; Sy oorgawe in die hande van die moordlustige gepeupel; die vreeslike gebeurtenisse van daardie nag van verskrikking - die weerlose gevangene, verlaat deur Sy geliefde dissipels, op meedoënlose wyse deur die strate van Jerusalem voortgesleep; die Seun van God, jubelend voor Annas gebring, in die hoëpriester se paleis verhoor, daarna in die geregsaal van Pilatus, voor die lafhartige en wrede Herodes, bespot, beledig, gemartel en tot die dood veroordeel - al hierdie dinge word duidelik voorgestel. [GS 752]DBo 206.3

    Dan, aan die einde van die duisend jaar, verlaat Jesus, saam met die engele en al die heiliges, die Heilige Stad, en terwyl Hy neerdaal na die aarde met hulle, word die goddelose dode opgewek, en dan sal daardie selfde manne wat Hom deursteek het en wat nou opgewek is, Hom van ver sien in al Sy heerlikheid, vergesel van die engele en die heiliges en hulle sal oor Hom rou bedryf. [EG 53]DBo 207.1

    Die ganse bose wêreld staan nou voor die regbank van God op aanklag van hoogverraad teen die regering van die hemel. Hulle het niemand om hulle saak te bepleit nie; hulle staan sonder verskoning en die vonnis van die ewige dood word oor hulle uitgespreek. [GS 753]DBo 207.2

    Dit skyn of Satan verlam is waar hy die heerlikheid en die majesteit van Christus aanskou. Hy wat eenmaal ‘n beskuttende gerub was, dink nou aan die plek vanwaar hy geval het. ‘n Blinkende seraf, “seun van die môre,” hoe is hy verander en hoe is hy verlaag. Van die raadsitting waaraan hy eenmaal die eer gehad het om deel te neem, is hy nou vir ewig uitgesluit. Hy sien nou ‘n ander een naby die Vader staan, wat sy heerlikheid bedek. Hy het gesien hoedat die kroon op die hoof van Christus geplaas is deur ‘n magtige engel van groot gestalte en majestueuse voorkomste en hy weet dat die verhewe posisie van daardie engel syne kon gewees het. [GS 754]DBo 207.3

    Elke oog in daardie groot skare is gerig op die heerlikheid van die Seun van God. Soos met een stem roep die goddelose menigtes uit: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Dit is nie liefde vir Jesus wat aanleiding gee tot hierdie woorde nie. Die krag van die waarheid dwing die woorde van onwillige lippe. Net soos die goddelose in hulle grafte neergedaal het, so kom hulle voort, met dieselfde vyandigheid teenoor Christus en dieselfde opstandige gees. Vir hulle is daar nie ‘n nuwe genade tyd om die gebreke van die verlede aan te vul nie. Dit sou ook niks help nie. ‘n Lewe van oortreding het nie hulle harte versag nie. As daar ‘n tweede genadetyd aan hulle gegee word, sou hulle dit net soos die eerste bestee - in ‘n ontduiking van die vereistes van God en in opstand teen Hom. [GS 747/8]DBo 207.4

    Satan se werk van verwoesting is vir ewig beëindig. Vir ses duisend jaar lank het hy sy wil uitgevoer, die aarde met ellende vervul en droefheid oor die ganse heelal veroorsaak. Die hele skepping het gesug en tesame in barensnood verkeer. Nou word Gods skepsels vir altyd verlos van sy teenwoordigheid en versoekings. “Die hele aarde rus, is stil; hulle [die regverdiges) breek uit in jubel” [Jes.14: 7] ‘n Kreet van oorwinning en dank styg op van die ganse lojale heelal. “Die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donder slae,” word gehoor, wat sê: “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.” (Openb.19:6)DBo 207.5

    Terwyl die aarde omhul is met die vlamme van verwoesting, is die regverdiges veilig in die heilige stad. Oor diegene wat in die eerste opstanding opgestaan het, het die tweede dood geen mag nie. Terwyl God vir die goddelose soos ‘n verterende vuur is, is Hy vir Sy volk beide ‘n son en ‘n skild. [GS 758]DBo 208.1

    Al die skatte van die heelal sal oop wees vir die studie van die verlostes van God. Ongebonde deur sterflikheid sal hulle na verafgeleë wêrelde vlieg - wêrelde wat met droefheid vervul was by die aanskouing van menslike ellende en wat weergalm het met liedere van blydskap toe hulle verneem het van ‘n siel wat verlos is. Met onuitspreeklike vreugde deel die kinders van die aarde in die blydskap en wysheid van wesens wat nooit geval het nie. Hulle deel in die skatte van kennis en wysheid wat verkry is deur die eeue heen in die oorpeinsing van Gods handewerk. Met ‘n onbelemmerde gesig aanskou hulle die heerlikheid van die skepping - sonne, sterre en stelsels - wat almal op hulle vasgestelde bane rondom die troon van die Godheid beweeg. Op alle dinge, van die geringste tot die grootste, staan die Skepper se Naam geskrywe en in almal word die rykdom van Sy mag tentoongestel.DBo 208.2

    En namate die eeue verloop, sal daar steeds ryker en heerliker openbarings van God en Christus wees. Net soos kennis progressief is, sal ook liefde, eerbied en geluk vermeerder. Hoe meer mense van God leer, hoe groter sal hulle bewondering van Sy karakter wees. Waar Jesus voor hulle die rykdom van die verlossing en die verbasende prestasies in die groot stryd met Satan openbaar, sal die harte van die verlostes met groter toewyding tril en met nog heerliker vreugde sal hulle die siters van goud bespeel en tienduisend maal tienduisend en duisende van duisende stemme sal verenig in die magtige koor van lof.DBo 208.3

    “En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam kom toe die lof die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” Openbaring 5:13.DBo 208.4

    Die groot stryd is beindig. Sonde en sondaars bestaan nie meer nie. Die ganse heelal is skoon. Een pols van eensgesindheid en blydskap klop deur die groot skepping. Van Hom wat almal geskape het, vloei lewe en lig en blydskap deur die onbeperkte ruimtes. Van die kleinste atoom tot die grootste wêreld. Alle dinge, lewendig en leweloos, in hulle volmaakte skoonheid en vreugde, verklaar dat God liefde is. [GS 763/4]DBo 209.1

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents