Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    HOOFSTUK AGT-EN-TWINTIG—JALOESIE EN VITTERY VEROORDEEL

    (Deel V, bls. 94-98.)

    DIT doen my leed aan om te sê dat daar onbedwingbare tonge onder die kerklede is. Daar is vals tonge wat op kwaad teer. Hulle is skelm, fluisterende tonge. Daar is skinderpraatjies, afloerdery, en mense wat bemoeisiek is. Onder diegene wat lief is om skinderpraatjies te verkoop, word sommige aangespoor deur nuuskierigheid, sommige deur jaloesie, en baie deur haat teen die deur wie God gespreek het om hulle te bestraf. Al hierdie afbrekende elemente is aan die werk. Sommige bedek hulle gevoelens, terwyl ander weer alles wat hulle teen ander mense weet of bedink, uitbasuin.UG1 191.1

    Ek het gesien dat die gees van meineed, wat die waarheid in ‘n leuen verander, goed in kwaad, en onskuld in misdaad, nou aktief is. Satan verheug hom oor die toestand van Gods sogenaamde volk. Terwyl baie hulle eie siele verwaarloos, is hulle gedurig op die loer vir ‘n kans om ander te kritiseer en te veroordeel. Alle mense het gebreke, en dit is nie moeilik vir jaloerse mense om iets te vind wat hulle kan verdraai tot nadeel van ander nie. “Nou,” sê hierdie selfaangestelde regters, “het ons bewyse. Ons sal ‘n beskuldiging teen hulle inbring wat hulle nie sal kan weerlê nie.” Hulle wag hulle kans af, en dan kom hulle met hulle klomp skinderpraatjies.UG1 191.2

    In hulle pogings om ‘n punt te bewys, loop mense met ‘n sterk verbeeldingskrag gevaar om hulleself te bedrieg, en ook ander. Hulle neem die onbesonne uitdrukkings van ander — woorde wat dikwels inderhaas gespreek is en wat gladnie die ware bedoeling van die spreker weergee nie, en dan beskou hulle dit met die vergrootglas van Satan, hulle oorpeins dit en vertel dit oor totdat die molshope naderhand groot berge is. Afgeskei van God, word die mense wat gedurig kwaad vermoed, die speelbal van versoeking. Hulle besef nie hulle eie gevoelens of die uitwerking wat hulle woorde sal hê nie. En terwyl hulle die foute van ander veroordeel, is hulle self skuldig aan baie groter foute. “Die pot is net so swart as die ketel.”UG1 191.3

    Is daar geen wet van vriendelikheid wat nagekom moet word nie? Het God die reg aan Christene gegee om mekaar te kritiseer en te veroordeel? Is dit eerlik om onder die dekmantel van vriendskap geheime uit ander uit te trek en dan die kennis tot hulle nadeel te gebruik? Is dit Christelike liefde om elke gerug wat die rondte doen en alles wat ander onder verdenking kan bring, saam te hark en dan behae daarin te skep om hulle daarmee te benadeel? Satan is baie bly as hy ‘n navolger van Christus kan beklad of seermaak. Hy is die “aanklaer van ons broeders.” Sal Christene hom in sy werk bystaan?UG1 192.1

    Die alsiende oog van God ontdek die gebreke en die swakhede van almal; maar nogtans is Hy geduldig met ons foute en ontferm Hy Hom oor ons swakhede. Hy gebied Sy volk om dieselfde gees van teerheid en verdraagsaamheid te koester. Opregte Christene sal nie daarin behae skep om die foute en gebreke van ander openbaar te maak nie. Hulle sal hulle oë afwend van alles wat vuil en sleg is, en vestig op die dinge wat aantreklik en lieflik is. Vir Christene is alle vittery en alle veroordeling pynlik.UG1 192.2

    Daar sal altyd manne en vroue wees wat voorgee om die waarheid te glo, maar wie se lewens nog nie deur die heiligmakende invloed daarvan verander is nie; manne wat ontrou is, hulleself bedrieg en voortgaan in die sonde. Ongeloof blyk uit hulle lewe, gedrag en karakter, en die vreeslike kwaad vreet soos ‘n kanker aan hulle siele.UG1 192.3

    As alle sogenaamde Christene hulle ondersoekingsvermoëns sou gebruik om uit te vind watter euwels daar in hulle eie harte skuil, in plaas om van ander se wandade te praat, sou die kerk vandag in ‘n bale gesonder toestand verkeer. Sommige is eerlik wanneer dit hulle niks kos nie, maar as dit in hulle kraam te pas kom, vergeet hulle die eerlikheid baie gou. Eerlikheid en slim streke kannie in dieselfde hart saamwoon nie. Of eerlikheid sal die lewe beheers en alles wat oneerlik is uitdryf, óf oneerlikheid sal botgevier word; maar die twee kan nooit saamwoon nie. Die een is ‘n Baalsprofeet en die ander is ‘n ware profeet van God. Wanneer die Here Sy gunsgenote versamel, sal die opregtes, die waarheidliewendes, en die eerlikes met welbehae bejeën word. Die engele is besig om krone te maak vir diesulkes, en op hierdie krone wat met sterre versier is, sal die heerlike lig wat van die troon van God straal, weerkaats word.UG1 192.4

    Ons diensdoende predikante word te dikwels lastig geval met klagtes van die een gemeentelid teen die ander, en baiemaal praat hulle van die kansel daaroor. Hulle moet nie die gemeentelede aanmoedig om mekaar te verkla nie, maar hulle moet liewer die klaers aansê om op hulleself te spioen. Niemand behoort sy gevoelens te laat opsweep deur te luister na ‘n verhaal van die wandade van ander nie; albei die kante van die saak moet eers deeglik ondersoek word, en daar moet onomstootlike feite wees voor die een of die ander kant geglo word. Die beste beleid is om gladnie na slegte rapporte te luister voordat die Bybelse reël eers stip nagekom is nie. Dit geld veral vir diegene wat op ‘n slinkse manier sake te wete gekom het waarmee hulle niks te doen het nie, en die kennis waarvan hulle ook geen goed sal doen nie.UG1 193.1

    My broeders, ek smeek julle vir die ontwil van julle eie siele, bevorder slegs die heerlikheid van God. Dink so min oor self as moontlik. Ons is naby die einde. Ondersoek julle motiewe in die lig van die ewigheid. Dis nodig dat julle verontrus sal voel, want julle verlaat die ou paaie. Julle sogenaamde wetenskap ondermyn die fondament van die Christelike beginsels. Die weg wat julle sal inslaan as julle van God geskei is, is aan my getoon. Moet nie op julle eie wysheid vertrou nie. Ek se julle, julle siele is in groot gevaar. Ondersoek julleself om Christus wil, en vind uit waarom julle so min liefde het vir die godsdiensoefeninge.UG1 193.2

    Die Here is besig om Sy volk op die proef te stel. Julle kan julle eie karakters net so kras oordeel as julle wil, maar wees vriendelik, verdraagsaam en hoflik teenoor ander. Vra julleself elke dag af: Is ek in murg en been eerlik, of is ek vals? Smeek die Here om julle van alle bedrog in hierdie verband te verlos. Julle ewige belange is op die spel. Terwyl so vele jaag na eer en vuilgewin, smeek julle die Here om ‘n versekering van Sy liefde? en vra julle: Wie sal my wys hoe om my roeping en verkiesing vas te maak?UG1 193.3

    Satan bestudeer gedurig die swak punte van die mens, en dan begin hy om hulle te verlok en te verstrik. Ons verkeer in die grootste versoeking, maar daar is oorwinning vir ons as ons in die stryd van die Here soos manne veg. Almal verkeer in gevaar. Maar as julle ootmoedig en in gebed sou wandel, sou julle uit die beproewing kom soos gelouterde goud. As julle onverskillig is en die gebed verwaarloos, sal julle soos klinkende metaal en ‘n luidende simbaal wees.UG1 194.1

    Sommige het byna verdwaal in die kronkelpaaie van skeptisisme. Aan diesulkes sê ek: Neem julle gedagtes daarvan weg en vestig julle oë op God. Hoe digter geloof en heiligheid julle aan die Ewige Een bring, hoe duideliker sal julle die regverdigheid sien van Sy handelwyse met julle. Maak die lewe, die ewige lewe, die doelwit van julle strewe.UG1 194.2

    Ek ken julle gevaar. As julle vertroue verloor in die getuienisse, sal julle ook van die Bybelse waarhede afvallig word. Ek het gevrees dat vele van julle twyfelaars sou word, en omdat ek oor julle siele besorgd is, waarsku ek julle. Hoeveel sal agslaan op die waarskuwing? Soos julle nou staan teenoor die getuienisse, as daar een sou gegee word wat julle op julle foute wys, sou julle dit aanneem of gedeeltelik of heeltemal verwerp? Die deel wat julle nie aanneem nie, is juis die deel wat julle die nodigste het. God en Satan werk nooit saam nie. Die getuienisse dra óf die teken van God óf van Satan. ‘n Goeie boom kannie slegte vrugte dra nie, en ook kan ‘n slegte boom nie goeie vrugte dra nie. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. God het gespreek, en wie het gebewe vir Sy woord?UG1 194.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents